Die Kuratorium van die Vrystaat het op 19 November twee Colloquium Doctum-kandidate en twee diensleraars gelegitimeer, asook aan drie bedienaars met erediensbevoegdheid toelating verleen vir die bediening. Die geleentheid het plaasgevind by NG Gemeente Hugenoot, Bloemfontein.
Na Colloquium Doctum
Izanne Ellis is in 1970 gebore en het in Potchefstroom grootgeword. In 1988 matrikuleer hy aan die Hoër Volkskool Potchefstroom. In 1992 verwerf hy sy BA-Admissiegraad aan die PU vir CHO. In 1996 verwerf hy die BD-graad aan die Universiteit Stellenbosch. Izanne word in 2002 gelegitimeer. In 2003-2006 is hy ’n voltydse predikant by die NG Gemeente Zeerust-Noord. In 2006 bedank hy vrywillig as predikant van die NG Kerk. Vanaf 2015 tot op hede is Izanne betrokke by die NG Kerk Edenville as ’n ouderling met preekbevoegdheid.
Sy belangstellingsveld is Sistematiese Teologie en Missiologie. Sy passie en voorreg is Woordverkondiging en die daaglikse gemeentelewe – spesifiek in die plattelandse konteks. Huisbesoek is vir hom ’n verdere liefde. Izanne is gelukkig getroud met Carina en het twee volwasse seuns – Cezanne en Zanne.
Kontakbesonderhede: 082 097 4488 / izanneellis@gmail.com
Zak Scholtz is in Johannesburg gebore en het sy kinderjare op ’n plaas buite Meyerton deurgebring. Hy matrikuleer in 2003 aan Hoërskool Dr Malan. Ná skool het Zak IT-rekenaarprogrammering studeer. Tydens hierdie studie het hy ’n diepe roeping van die Here na teologie beleef. Hy voltooi ’n BA- en BTh-graad aan die Afrikaanse Protestantse Akademie. In 2013 voltooi Zak sy MTh-graad in Teologie (Apologetiek), aan die Noordwes-Universiteit. Tydens die ses jaar in voltydse bediening in Bloemfontein, skryf Zak in vir ’n MBA-graad wat hy DV in 2024 aan NWU se Besigheidskool sal voltooi.
Zak se hart lê diep gewortel in die bediening aan mense van alle ouderdomme. Sy fokus is egter op jong professionele mense – diégene wat onlangs getroud is of selfs jong kinders het. Deur ervaring het Zak ondervind dat hierdie groep ’n sentrale rol speel in die bou van ’n lewenskragtige gemeente. Zak is gelukkig getroud en is ’n trotse pa van twee seuns, 5 en 7 jaar oud. Hy woon tans in die pragtige Mosselbaai-omgewing in die Wes-Kaap.
Kontakbesonderhede: 064 906 7220 / zakscholtz@gmail.com
Diensleraars
Izak Russell Bekker het ’n lewende verhouding met die lewende God. Hy is geroep deur God om vir sy medemens van God te vertel. Dit is ’n voorreg wat hy nooit vanselfsprekend sal aanvaar nie. Dit is vir hom lekker om van God te leer en praat. Hy resoneer maklik met jeug en werk goed saam met mense. Hy het sy studies geniet en sal ander aanraai om teologie te studeer. Hy wil mense help in hulle geestelike vorming in samewerking met sy Heer en Verlosser, Jesus Christus. Izak bely só: “Alle eer aan God en God alleen”.
John O’Connor preek die afgelope 10 jaar in verskeie NG kerke in die Oos-Vrystaat en is die afgelope ses jaar betrokke by die gemeente op Clocolan. Hy geniet preek, pastoraat en jeug en is voltyds in die onderwys as skoolhoof.
John leef sy roeping uit in die woorde van Paulus: “Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.” – 1 Korintiërs 9:20-23 (AFR83).
Bedienaars met erediensbevoegdheid
Heidi McLaren het ’n liefde vir prediking wat vir haar die hartklop van die gemeente is. Die bediening van gesinne, pastorale terapie en kinder- en jeugbediening lê haar na aan die hart. So ook uitreike na skole en kampe, opleiding en toerusting van kategete en jeugleiers (sy is Direkteur van die Projek: Goeie Nuus vir Kinders) en missionale uitreike tot opbou en versterking van die geloofsgemeenskap. Sy is ook tans gemeentebestuurder (vanaf 2013) en dit is vir haar ’n voorreg om saam met ds Philip McLaren, haar eggenoot, as leraarspaar te bedien.
Andreas Nieuwoudt se naskoolse opleiding behels ’n N6-diploma in Kuns (Motheo Kollege, 1996), Bedienaar in Pastorale Sorg (Hugenote Kollege, 2023) en Bedienaar in erediens en preekvaardigheid (Hugenote Kollege, 2024). Andreas se fokus is op pastorale versorging, die jeug, barmhartigheid en omgeegroepe. Hy is getroud en het twee kinders.
Lulu van der Berg is vir die afgelope 26 jaar voltyds by die VCSV (Verenigende Christen Studentevereniging) betrokke, waar sy veral op die jeug fokus met haar bediening in skole en toerusting aan onderwysers. Sy het jarelange ondervinding met kampe en uitreike (binne- en buitelands). Sy is lief vir skryf en ook program- en materiaal-ontwikkeling. Haar passie is mense en die Woord van God. Sy het onlangs toenemend ’n groot liefde vir prediking ontwikkel en geniet elke oomblik daarvan.