Met die orrelklanke van “Die hemele roem” het ’n Bloemfonteinse musiekgroep onlangs die spesiale Kerssangdiens begin waarvoor hulle die vorige dag 430km afgelê het tot op Tarkastad in die Karoo.
Anton Esterhuise, musiekleier van Geloofsentrum Universitas, vertel dit is die verste wat hulle Unimus-musiekgroep nog gery het, maar om in historiese kerk op te tree op Sondag 10 November 2024 was ’n wonderlike ervaring. Vir baie van hulle was dit hulle eerste besoek in hierdie deel van die “Frontier Province”.
Hy sê die kragtige klanke van die orrel in die 142-jarige klipkerk het hom verbaas. Die musiek het ook vir Thea Wait, die gemeente se bedieningskoördineerder, aangegryp wat vertel sy het nie geweet ’n orrel en ’n klawerbord kan so mooi saam klink nie.
Lees ook: ‘Ek was ’n agterbanker in die kerk …’ Oud-polisievrou wat nou op die kansel staan vertel haar storie
Die man agter die plan is ds André Oosthuizen, die afgetrede predikant wat hierdie klein plattelandse gemeente saam met ’n groepie lidmate bedien. Sy seun, André Jnr, was jarelank predikant by Geloofsentrum Universitas (hy is einde laasjaar beroep na Stellenbosch).
Thea sê sy skat hulle was Sondag so 130 mense saam – wat vir hulle gemeente ‘n baie goeie opkoms is. “Die mense het dit baie geniet … dit was net iets anders,” voeg sy by.