Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Beroepbare proponente en diensleraars: Ontmoet US se klas van 2024


Die Kuratorium by Universiteit Stellenbosch (US) het op 27 November diensleraars vir die bediening gelegitimeer in die Attie van Wijk Ouditorium en op 28 November leraars in die VG Kerk Scottsdene.

Proponente

Deona Aucamp is op 25 April 1962 in Floridapark, Roodepoort gebore. Sy het haar skooljare in Roodepoort klaargemaak en in 1979 aan die Hoërskool Roodepoort gematrikuleer. In 1980 het sy by NWU-Pukke ingeskryf vir ’n BA met hoofvakke Grieks en Semitiese Tale. In 1983 het sy met ThB begin by die Gereformeerde Kerk se Teologiese skool in Potchefstroom en die graad in 1986 behaal. Gedurende haar studietyd was sy aktief betrokke in die georganiseerde studentelewe en het in 1985 en 1986 op die Studenteraad gedien. Sy het in 1986 die Kanseliersmedalje vir Buitengewone Bydrae tot die Studentelewe ontvang.

Aangesien die Gereformeerde Kerk nie vroue in die bediening toelaat nie het sy daarna verskeie ander beroepe beoefen. Sy het, onder meer, in 1995 ’n regsgraad by die Universiteit van Pretoria behaal. Haar liefde vir tale en skryf het ook gesorg vir uitgebreide ondervinding in die joernalistieke wêreld in TV, radio en koerante. In 2023 het sy by Universiteit Stellenbosch ingeskryf vir ’n MTh-graad. Die onderwerp van haar minitesis fokus op een van haar ander passies, musiek. Die titel van die studie is “Singing the elephant into the light: A study on expressing and enriching spirituality through worship music”. Haar studieleier was dr Lisel Joubert. Sedert Mei 2024 werk sy as deeltydse hulpleraar in Stilbaai se NG gemeente. Deona is getroud met Louis, ’n afgetrede ingenieurs- en besigheidskonsultant.

Kontakbesonderhede: 082 470 8144 / gjjaucamp@gmail.com

Deona Aucamp.

Hanel Thesnaar is gebore op 15 Februarie 2000 en het op Wellington, Wes-Kaap grootgeword. Sy matrikuleer in 2018 aan Hoërskool Hugenote waarna sy begin om Teologie te studeer aan die Universiteit Stellenbosch. In 2022 behaal sy haar BDiv-graad (mini-skripsie onder leiding van prof Claassens) cum laude. In 2023 behaal sy haar MDiv-graad ook cum laude (Meesterskripsie in Homiletiek, Praktiese Teologie onder leiding van prof Cas Wepener). Die titel van haar meesterskripsie is: “Anger in reconciliation processes. A ritual-liturgical study of healing of memories”. Hanel sien haarself as ’n vriendelike persoon vir wie verhoudings en brûe te bou na alle mense baie belangrik is. Hanel is gemotiveerd om hulp aan mense te verleen deur die toon van professionele betrokkenheid by gemeenskappe en individue. Hanel het in 2024 haar praktiese jaar voltooi by Sonstraal-gemeente in Durbanville onder leiding van ds Carika du Plessis. Deel van Hanel se roeping is om die kerk as ’n ruimte te gebruik waar mense jonk en oud kan behoort en saam as gemeenskap van gelowiges vir God te aanbid.

Hanel Thesnaar.

Mia van der Merwe is op 6 Januarie 2000 in Kaapstad gebore en het in Durbanville grootgeword. Sy het in 2018 aan die Hoërskool Durbanville gematrikuleer en in 2019 aan die Universiteit Stellenbosch teologie begin studeer. In 2022 het sy haar BDiv-graad met lof verwerf. Haar BDiv-tesis se tema was: “’n Beweging na ’n meer effektiewe gemeenskapsontwikkelingspraktyk vir kerkuitreike in Suid-Afrika: ’n Gevallestudie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk”. In 2023 het sy haar MDiv-graad met lof behaal. Haar MDiv-tesis se tema was: “Ontwikkeling van ’n teologie van werk vanuit ’n missionale perspektief vir die NG Kerk om die historiese en huidige ongeregtighede aan te spreek”. Sy het in 2024 begin met haar Nagraadse Diploma in Christelike Bediening, ook aan die Universiteit Stellenbosch.

Mia is passievol daaroor om mense volhoubaar te help en glo sterk daaraan om individue te inspireer om hulle gawes en talente te gebruik om saam met God sy koninkryk op aarde uit te bou. Sy het in 2024 haar gemeentejaar by NG Kerk Stellenberg voltooi en is van plan om op 6 Desember 2024 met haar verloofde, Joshua Oliver, ’n aktuariële spesialis, in die huwelik te tree. Mia geniet dit om te draf en tyd saam met geliefdes te spandeer. Sy is tans beroepbaar.

Kontakbesonderhede: 082 713 9998 / miavdmerwe2000@gmail.com

Mia van der Merwe.

Rudiger van Huyssteen is op 2 Februarie 2000 gebore in Vanderbijlpark, Gauteng. Hy gaan daar skool en matrikuleer in 2018 by Hoërskool Transvalia. Hy het in graad 10 sy roeping ontvang om predikant te word. Dus begin 2019 gaan studeer hy teologie by die Universiteit Stellenbosch. Hy ontvang sy BDiv-graad in 2022 en sy MDiv-graad in 2023. Die onderwerp vir sy MDiv-navorsingsprojek in homilitiek, onder die leiding van prof Cas Wepener, was met die titel “Hearing the voice of God through the words of a stutterer? A practical-theological exploration” waarby hy ontdek het wat prediking behels in die lewe van die kerk en hoe dit effektief gedoen kan word. Hy doen sy lisensiaatjaar by NG gemeente Villiersdorp en leer hoe ’n kerk prakties funksioneer. Daar kry hy blootstelling aan al die fasette van wat dit beteken om dominee te wees, en ervaar die liefde en omgee van die gemeente en gemeenskap. Deur sy hele roeping ontdek hy die passie om te preek, om vir mense te vertel wie ons wonderlike God is, en hoe Hy ’n pad met elke persoon stap. Tesame met dit hou hy daarvan om verhoudings met mense te bou en sodoende die koninkryk van God uit te brei. Rudiger sien homself as iemand wat eendag op die Algemene Sinode sal wil dien. In sy vrye tyd hou hy daarvan om te oefen, te lees, of om op “road trips” te gaan. Hy is beroepbaar.

Kontakbesonderhede: 071 302 2776 / rudivh828@gmail.com

Rudiger van Huyssteen.

Diensleraars

Albin Bowler is op 19 Desember 1954 gebore en het in 1972 by Hoërskool De Kuilen, Kuilsrivier matrikuleer. In 1975 het hy ’n B-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy het ook BTh 1 (1977) en BTh 2 (1978) suksesvol by die Teologiese Kweekskool van die Universiteit Stellenbosch voltooi.

Na sy twee jaar diensplig, studeer hy op deeltydse basis en behaal in Maart 1985 die Hons B (Bestuur & Administrasie) by die Bestuurskool, Universiteit Stellenbosch. Hy gee vir vier-en-half jaar onderwys in Heideveld op die Kaapse Vlakte. Hy verwerf tydens die periode met deeltydse studie die Hoër Onderwys Diploma deur Unisa in April 1989.

In 2019 het hy na bykans dertig jaar by College of Cape Town afgetree. Gedurende die periode het hy talle opleidingsprogramme by skole en kolleges aangebied. Hy het ook etlike programme gekurrikuleer en verskeie handleidings geskryf.

In Maart 2024 voltooi hy sy Nagraadse Diploma in Teologie aan die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch (cum laude). Die titel van sy navorsingstudie is: “’n Teoretiese raamwerk vir veerkragtige veroudering vanuit ’n gerontologies-pastorale sorg perspektief”.

Sy roeping is om met ouerwordende persone te werk. Albin fokus op veroudering vanuit ’n pastoraal-gerontologiese perspektief. Hy is lief vir senior volwasse bediening en is tans betrokke by verskeie aksies met senior volwassenes. Hy bied ook ’n kursus, Leke Herdersorg, aan.

Albin is al vir 46 jaar gelukkig getroud met Sanet en woon in Bellville. Hulle het twee getroude dogters en twee kleindogters.

Kontakbesonderhede: 071 608 4700 / albinbowler@gmail.com

Albin Bowler.

Christiaan Burger (Tian) Brand is op 5 Januarie 2001 gebore, en woon al sy lewe lank in Durbanville. In 2019 matrikuleer hy aan die Hoërskool Stellenberg met ’n A-gemiddeld, waarná hy in 2020 teologie aan die Universiteit Stellenbosch begin studeer. In 2023 behaal hy die graad Baccalaureus Divinitatis (cum laude), en in 2024 behaal hy ’n BA Honneurs in Antieke Tale (Grieks en Hebreeus, ook cum laude). Die titels van hierdie grade se navorsingswerkstukke is, afsonderlik: “The ‘Vorlage’ of the Gospel of Matthew: Revisiting the probability of a Semitic original” (BDiv); en “Investigating the relationship between the Syriac and Greek Matthew: A grammatical-semantic comparison of a ‘Sondergut’ pericope in the Peshitta and Byzantine Text” (BA Hons). Tian heg baie waarde aan die studie van die Bybelse brontale, aangesien hy ’n begrip van hierdie antieke tekste – soos hulle gelees word in hulle mees oorspronklike vorme – sien as kardinaal tot ’n verantwoordelike lees en leer van die Bybel in die NG Kerk en die wyer Christenwêreld. Hy heg ook baie waarde aan leierskaps- en gemeenskapsontwikkeling, veral onder die jeug van minderbevoorregte gemeenskappe van Suid-Afrika. Hy lei al van 17-jarige ouderdom jeug- en karakterboukampe en uitreike. Hy het ’n groot liefde vir musiek, dien al van 2019 as lofleier aan die NG Kerk Parowvallei-Oos, en het al selfs oorspronklike Afrikaanse alternatiewe “rock” musiek vrygestel. Tian is met Nadia Ferguson, ’n litigasieprokureur, in ’n vaste verhouding. Tian is beroepbaar.

Kontakbesonderhede: 084 209 1516 / tianbrand@gmail.com

Christiaan Burger (Tian) Brand.

Carina Burger is op 9 Februarie 1980 gebore en het in Springs, Gauteng, grootgeword. Sy matrikuleer in 1998 aan die Hoërskool Hugenote en begin na skool werk by SGS Laboratoriums. Omdat sy nie teologie deeltyds kon swot nie het sy by Unisa ingeskryf vir die BSc Omgewingsbestuur-graad omdat sy iets wou leer wat haar help om die omgewing en die skepping te bewaar. Sy begin ook werk by Impala Platinum en vorder met haar studies en voltooi haar Hons BSc Omgewingsmonitering en modelering en daarna haar MSc in Omgewingsbestuur. Sy werk tans as beroepsveiligheid- en omgewingsbestuurder by Impala Platinum. Sy het in 2021 ingeskryf vir die BTh-graad by Hugenote Kollege en kon toe uiteindelik haar roeping, wat sy reeds op skool ontvang het om ’n dominee te word, begin uitleef. Sy voltooi haar studies in 2023 by Hugenote Kollege en sien daarna uit om te sien waarheen die Here haar volgende gaan lei. Sy is bereid om as deeltydse leraar te werk by gemeentes wat nie ’n voltydse leraar kan bekostig nie. Sy is tans betrokke by NG gemeente Presidentsoord in Springs en leef haar uit by die jeugbediening en is ook op die kerkraad. Carina is beskikbaar om deeltyds te help by gemeentes in Gauteng en ook die Delmas- en Sundra-omgewing.

Kontakbesonderhede: 082 808 5958 / carinaburger33@gmail.com

Carina Burger.

Aneleh Fourie le Roux is op 8 November 1975 gebore en het op Wellington grootgeword. Sy is by NG Wellington-Noord gedoop, gekinderkrans en -KJA, en het ook belydenis van haar geloof afgelê. Haar betrokkenheid by CSV-stranddiensspanne het ’n groot impak op haar geloofsvorming gehad en haar gemotiveer om rasgrense beter te verstaan, en versigtig oor te steek.

Na ’n Diensjaar vir Christus in die Oos-Kaap het Aneleh haar akademiese opleiding op Stellenbosch begin. In 1997 verwerf sy ’n BA-graad en in 1998 ’n BA Honneurs in Sosiale Ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Op UWK het Aneleh iets begin beleef en verstaan van haarself as wit persoon in die groter Suid-Afrika.

Sy werk sedert 2005 vir Cabsa, die Christen-Vigsburo vir Suidelike Afrika, waar haar bediening vir versoening, geregtigheid en menswaardigheid steeds bly groei.

As lidmaat by NG Helderberg is Aneleh betrokke as kerkraadslid, uitreikprojekleier en dien ook op Diaconia se Vigstaakgroep, die Gendergeregtigheidstaakspan en die Algemene Sinode se Taakspan vir Versoening en Geregtigheid.

Intussen het Aneleh as deeltydse student ’n MPhil in Joernalistiek (2003) en die Nagraadse Diploma in Teologie (2024) aan Stellenbosch voltooi. Haar navorsingsopdrag het sy in Sistematiese Teologie olv prof Robert Vosloo gedoen: “Forgive and forget? What relevance can a theological engagement with Miroslav Volf’s understanding of memory and forgetting offer for reconciliation in South Africa?”

Aneleh is dankbaar en opgewonde oor haar dieper reis met teologie.

Kontakbesonderhede: 083 292 5358 / management@cabsa.org.za

Aneleh Fourie le Roux.

Andrea Müller is gebore op 14 Oktober 1997 as Andrea van Antwerpen op die plattelandse dorp Lichtenburg. Sy is die oudste van vier kinders. Na hulle gesin na Potchefstroom verhuis het, het sy haar skoolloopbaan in Bailiepark Laerskool begin. Later het hulle gesin na Klerksdorp verhuis, en was sy in Laerskool La Hoff. Sy matrikuleer by Hoërskool Wesvalia. Na skool het sy by NWU teologie studeer terwyl sy as predikant diensbaar was by die Hervormde Studentegemeente Potchefstroom. In 2023 het sy ingeskryf by Hugenote Kollege vir ’n sertikaatkursus, en ook vir die Seminariumkursus- en program.

Op 5 Januarie 2019 is sy getroud met Michael Mϋller. Hulle het twee dogters, Ariella (22/12/2020) en Marniëlle (26/07/20222) Mϋller. Michael is vanaf Julie 2024 diensbaar by die Hervormde Studentegemeente in Potchefstroom. Sy is vanaf Maart 2023 diensbaar by La Hoff-gemeente in Klerksdorp. Hulle is as gesin betrokke in albei gemeentes en in die gemeenskap. Haar verhouding met die Here is vir haar noodsaaklik, want sonder sy genade en liefde, en hierdie geloofsverhouding, kan sy nie diensbaar wees nie.

Kontakbesonderhede: 062 669 4815 / andrea.muller.27375927@gmail.com

Andrea Müller.

Griffin André Slabbert is op 3 Mei 2001 op George in die Wes-Kaap gebore, waar hy vir die eerste 13 jaar van sy lewe was. Hy het in 2019 matrikuleer aan die Hoër Landbouskool Oakdale, waarna hy in 2020 met die BTh-graad by die Universiteit Stellenbosch begin het. Hy voltooi die graad in 2022. In 2023 het hy ’n PGDip graad in Sistematiese Teologie (onder leiding van prof Robert Vosloo) begin en voltooi. Die title van sy skripsie was: “Temporality and trauma – toward a theology of inhabiting time: In conversation with James KA Smith and John Swinton”. Hy het in 2024 die MTh-graad in Kliniese Pastorale sorg aangepak wat in 2025 voltooi sal word.

Griffin is van tienerjare af passievol oor sielkunde en vertrou God help hom om dit uit te leef en mense te help. Na vele ervarings by Knysnakerk op Knysna onder di Enel en Francois Lambrechts, en Riversdal-Moedergemeente op Riversdal onder ds André Jordaan, het hy ook die geleentheid gehad om in 2024 onder dr André Oosthuizen by Stellenbosch-Sentraal gemeente op Jonkershoek, Stellenbosch sy diensjaar te doen. Liefde, genade, vergifnis en versoening is krities vir Griffin in die benadering tot en uitlewing van sy roeping.

Kontakbesonderhede: 076 726 9527 / 23569727@sun.ac.za / griffinslabbert@gmail.com

Griffin André Slabbert.

Na Colloquium doctum

Chris Johannes Weyers is op 3 Desember 1963 in Kaapstad gebore en het grootgeword met Tafelberg in die agtergrond. Hy het in 1981 aan die Hoërskool Milnerton gematrikuleer waarna hy sy twee jaar diensplig deurloop het. In 1984 het hy met sy studies aan die US begin en behaal sy BA-graad (1986), BTh-graad (1989) en MTh-graad in Kategetiek en Jeugsorg (1992) met die skripsie-titel: “Die fasilitering van geloofsgroei deur diens”. 

Hy is in 1993 met Anja Groenewald getroud en hulle het twee kinders, Beane en Braam.  In 1994 is hy as proponent aangestel in die NG Gemeente Uitenhage-Noord. In 1995 is hy tot daardie gemeente beroep waar hy 28 jaar lank as predikant gedien het met die opdrag Jeug- en Familie Bediening waartydens hy gefokus het op die begeleiding van geloofsgroei van die jeug, ouers en egpare. 

In 2021 het sy huwelik tot ’n einde gekom en het hy die gemeente-bediening verlaat. Hy het sedertdien na Gqeberha verhuis waar hy betrokke is in die NG Kerk Port Elizabeth-De Duin. In hierdie tyd het hy ’n praktyk in berading geopen, asook toerusting in emosionele- en geestelike groei aangebied. Tans beywer hy hom vir die skep van inklusiewe ruimtes binne die kerk waar gemarginaliseerdes en gelowiges wat hulle tans buite die kerk bevind, weer versterk kan word in hul geloof en verhouding met Christus. Hy is beroepbaar

Kontakbesonderhede: 081 270 4240 / cjweyers1203@gmail.com

Chris Johannes Weyers.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.