Dit is iets besonders wanneer ’n ouer hulle kind as leraar bevestig en so ook wanneer dit andersom gebeur. So is dr Arnau van Wyngaard (66) vanjaar op 18 Januarie deur sy oudste seun, prof Cobus van Wyngaard, as kontrakleraar bevestig by die NG Gemeente Paulpietersburg.
Lees ook: ‘Wonderlike voorreg!’ Dogter bevestig pa as dominee
Dit was ’n diens waarin sy seun heelwat simboliek ingebou het soos om ’n Kanselbybel in sy hande te plaas simbolies van die taak van die leraar as Woordbedienaar.
“Hy het ook water in die doopvont gegooi, ’n stuk brood gebreek, wyn in ’n beker gegooi en ’n kers (simbool vir voorbidding) aangesteek en ons het ook saam na ’n buitedeur gestap as simbool van die gemeente se grense wat buite die kerkgebou lê.”

So vertel Van Wyngaard snr later. Hy begin deur te sê elke bevestiging van ’n leraar is spesiaal, maar vir hulle was hierdie geleentheid selfs meer so omdat hulle pa en seun is. Hy het 2 Korintiërs 2:1-5 as teksvers geneem vir sy intreepreek – dieselfde teks wat hierdie emeritus-leraar 40 jaar gelede gebruik het toe hy as bloedjong leraar sy eerste intreepreek gelewer het in Swaziland.
Vir hom was daardie beroep destyds ’n waarword van sy gebed tydens sy teologiese studies, naamlik dat God hom ’n bediening onder die amaZulu mag gun. Hy het 39 jaar as leraar en kerkleier van die Swaziland Reformed Church Shiselweni onder meer leiding geneem met die vestiging van verskeie hulpbedienings tot hy vroeg verlede jaar tydens ’n “snikhete oggenddiens in ’n groot tent” amptelik geëmeriteer het, soos berig in Kerkbode op 29 Februarie 2024.
Nou staan hy weer in ’n bediening, die keer as deeltydse leraar van die Afrikaanse gemeente van ’n plattelandse dorp in die noorde van KwaZulu-Natal. Hy vertel sy nuwe deeltydse pos stel darem nie dieselfde eise as ’n voltydse een nie. Hy en sy vrou Johanna kan in hulle huis aanbly op Piet Retief. Dit is sowat 60 km van sy nuwe gemeente. Sondae (en soos nodig) pak hulle dan die tog aan na Paulpietersburg deur hierdie gebied se pragtige landskap met die hoop om langs die pad ’n paar roofvoëls te kan uitken (want voëls is ook een van sy passies).

Sy nuwe gemeente was voor sy beroep reeds vir geruime tyd sonder ’n voltydse leraar. Hy sê toe hulle dus uitvind daar is ’n predikant op Piet Retief wat nie op Sondae werk nie, het hulle hom gevra om te kom uithelp. Dit het al meer gebeur dat hy op Sondae die Woord by hulle bedien het. Kort voor lank het die kerkraad besluit om hom te beroep.
Hy meen dit is ’n wen-wen vir hom en die gemeente. Op 66 sê hy voel hy nog jonk en energiek genoeg om ’n verskil te maak terwyl hy en sy vrou beleef die gemeente is opgewonde om weer hulle eie predikantspaar te hê.
- Berig is aangepas na publikasie.