“Ds Nico Esterhuyse was Vrydag 17 Januarie 100 jaar oud. Hy was van 1966-1970 leraar by NG Kerk Laaiplek,” so begin ds Charl van Rensburg, hierdie Weskusgemeente se huidige leraar, sy onlangse e-pos aan Kerkbode. Hy sluit ’n paar foto’s in, die eerste twee is foto’s vanuit die gemeente se 1966-jaarboek. Daar is twee wat meer onlangs geneem is.
Hy noem die verjaardagman bly in die ouetehuis op Sutherland. Hy is gesond maar bietjie doof.
By navraag, kom ons uit by Karel Esterhuyse wat graag meer vertel oor sy pa wie se verjaardag hy en sy twee broers saam met familie onlangs gevier het.
Karel skryf sy pa is gebore op 17 Januarie 1925, op die plaas Genegendheid in die Sutherland-distrik. Hy het as jongman eers geboer, maar toe geroepe gevoel om predikant te word. Daarvoor moes hy eers terug skooltoe om standerd 9 (graad 11 vandag) en matriek klaar te maak waarna hy teologie op Universiteit Stellenbosch studeer het. Hy was in 1966 verwelkom as die eerste leraar van die NG gemeente op Laaiplek, wat in 1965 afgestig het van die NG gemeente op Velddrif, maar hierdie was nie sy eerste gemeente nie. Sy eerste gemeente was Pofadder. Daarna het gevolg Leipoldtville in die Sandveld en toe Laaiplek. Hierna volg Kuruman die Oog en laaste Stilfontein.
Sy vrou, Annamarie (nee Marais), was die suster van dr Jan S Marais, die stigter van Trust Bank. Sy is in Desember 2020 op die ouderdom van 93 jaar oorlede. Sedertdien bly hy in die Johenco tehuis vir bejaardes op Sutherland.
Hulle is drie seuns, eers Hannes (meganiese ingenieur), dan hy Karel (navorsingsielkundige) en laaste Eben (belastingkonsultant).
“Behalwe vir sy gehoor, ervaar hy nog goeie gesondheid. Hy loop nog, wel met behulp van ’n loopraam, en lees ook nog boeke met gewone skrif. Dis dan ook waarmee hy hom hoofsaaklik daagliks mee besig hou … ek hoop dit help,” eindig Karel sy skrywe aan Kerkbode af.
Skryf gerus vir ons by kerkbode@tydskrifte.co.za.