Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Etiek: ‘Verken veral jou eie besluitnemingsproses,’ hoor leraars by webinaar


Hoe vind jy antwoorde op etiese vrae (pluk jy dit net af soos iets vanaf ’n winkelrak?) en wat maak jy indien iemand anders van jou verskil?

Dit is twee van die temas wat deeglik deurgetrap is by ’n onlangse virtuele leergeleentheid deur Excelsus, onder leiding van dr Tom Smith, die predikant in sinodale diens (PSD) vir Voortgesette Opleiding.

’n Belangrike lens wat die fasiliteerder van hierdie webinaar, prof Tanya van Wyk, voor beide bogenoemde temas ingeskuif het, is dié van toekomsgerigtheid in die konteks van ’n snelveranderende wêreld: “Ons (gaan) moet nadink oor die goed wat ons nog nie eens weet ons moet oor nadink nie,” het Van Wyk gesê in aansluiting tot die boek Future morality deur David Edmonds.

Grammatika van etiek

Van Wyk het daarom beklemtoon dat geloofsleiers veral moet nadink oor die etiese besluitnemingsprosesse self. “In die toekoms gaan ons nie ’n resepteboek (vir standaardantwoorde) hê nie, maar sal moet werk met beginsels. Ons sal moet terugval op iets breër as ’n reëlboek,” aldus Van Wyk, hoof van die Departement Sistematiese en Historiese Teologie van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria (UP).

Sowat 15 deelnemers het inge-Zoom vanaf dorpe soos Tarkastad en Jan Kempdorp om te besin oor moraliteit as iets wat rigting gee, orde skep, asook bydra tot betekenis en die gehalte van die lewe verbeter.

Van Wyk het in ’n paar uur ’n “grammatika van etiek” oorgedra om deelnemers te help verwoord wat die raamwerk is waarbinne hulle optree en besluite neem. Bepalende konsepte soos norme, van die smaller soort (reëls) tot die breër soort (beginsels), waardes (dit wat vir jou belangrik is) en deugde (Plato se groot vier: moed, matigheid, wysheid en geregtigheid) is uitgepak, met geleentheid vir geloofsleiers om ook te kan deel hoe hulle konflik en besluite in hulle gemeentes hanteer.

Gewilligheid om te onderhandel

Van Wyk het Anglikaanse asook plaaslike teoloë soos onderskeidelik Rowan Williams en Ernst Conradie betrek om merkers vir die gesprek te skep. Williams wys daarop dat morele debatte inherente risiko bevat, maar tog nodig is vir morele vorming. Van Wyk het ook geleen by die voormalige aartsbiskop van Kantelberg se uitspel van kompromie as ’n gewilligheid om te onderhandel, in teenstelilng met boedel oorgee.

Van Wyk (43), ’n leraar in die Hervormde Kerk, het telkens deelnemers genooi om etiese gereedskap in hulle eie konteks te gebruik. “Hanteer ons keuses asof ons voor ’n winkelrak staan,” wou sy hoor, waar die verbruiker duidelike opsies het om uit te kies en gerieflik af te haal? “En wat (gebeur) as ons moet begin nadink oor mense se venyn op sosiale media? Wat as ons moet begin nadink oor mense se seksualiteit, politieke partye, die teologiese taal, hoe om God te bely, vreemdelinge wat in die land inkom, oor genadedood … Is daai keuses soos om voor ’n winkelrak te staan? En hanteer ons nie soms onbewustelik alle keuses soos om voor ’n winkelrak te staan nie … Ek kan net lekker my hand uitsteek en iets afhaal …” het sy herhaal om haar punt te maak: Ook geloofsleiers moet hulle eie besluitnemingsproses deeglik verstaan. En die “morele agentskap” waaruit dit spruit, ook vir ander gun.

 

 

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Etiek: ‘Verken veral jou eie besluitnemingsproses,’ hoor leraars by webinaar”

  1. ek soek na Dade, en al wat ek kry is woorde en nogalla geleerde woorde. Doen wat Jesus gedoen het, en al julle geleerde diskussies is oorbodig.Gal. 5 21. Geloof is woorde wat na dade oorgegaan. Ek wag nog vir die NGK en VGK om.te verenig. Dan eers sal ek julle mooi woorde glo.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.