Nie net is Henri Meyer van Mosselbaai NG Moedergemeente ’n man wat nie vir woeste water of lang afstande skrik nie, maar hierdie energieke dominee gebruik sy passie vir oefening om geld in te samel om ander te help, skryf Marie van Nierop.
So beplan hy om op 53-jarige leeftyd op 30 Maart in Gqeberha (Port Elizabeth) aan sy tweede volle Ysterman-kompetisie deel te neem. Sy hoop is om genoeg borge te werf sodat hy R150 000 met sy deelname aan die Ysterman vir hulle gemeente se Aksie Samaritaan-studiefonds kan insamel.
Dié fonds help kinders wat uit gesinne kom wat finansieel swaarkry om die geleentheid te kry om na skool verder te kan studeer en so ’n beter toekoms te kan bou.
Hierdie gemeenteleraar het al etlike fondsinsamelings op sy kerfstok. In 2020 tydens die Covid-pandemie, toe die kerk nie basaar kon hou nie, het hy deur 24 uur lank om die kerkgebou fiets te ry daarin geslaag om R250 000 in te samel. Hy het ook al verskeie fietstoere gedoen om fondse in te samel vir onder andere die vervolgde kerk, sendelinge en die kerk se jeugbediening. Hy het ook al die Otter-wandelpad gedraf. In 2024 het hy sy eerste volle Ysterman gedoen om geld in te bring vir die kerk se bediening aan Mosselbaai se haweloses.
Vir Meyer is oefening en veral fietsry ’n passie. Sy weeklikse oefenprogram sluit in drie oggende wat om 05:00 begin met ’n vroegoggendswem; ook drie drafsessies waarvan een ongeveer 30 km lank moet wees en drie keer se fietsry, waarvan een rit ’n lang afstandrit van ongeveer 180 km. Hy het vertel hy is dankbaar dat sy gesin hom ondersteun. Sy oudste seun neem saam met hom deel aan van die talle kompetisies waarvoor hy inskryf terwyl sy vrou sorg dat hy reg eet en genoeg elektroliete inkry.
By die Ysterman-kompetisie tree sy op as sy sekondant.
Die teksvers wat hom deur al hierdie harde oefening staande hou, is Jesaja 40:31: “… maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en word nie afgemat nie”. Hy het jare gelede tydens ’n fietstoer, na ’n harde dag in die saal, ’n stukkie papier met hierdie vers daarop by die oornagplek sien lê. Dit is sedertdien vir hom ’n inspirasie.
Kontak Corné Human in die kerkkantoor by 044 691 2465 vir meer besonderhede oor hoe jy vir Henri Meyer kan ondersteun.
- Marie van Nierop is ’n lidmaat van Mosselbaai NG Moedergemeente wat betrokke is by van hulle uitreikprojekte en lief is vir skryf.