Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het op 1 September gehoor organisasies wat sekswerkers help is verdeeld oor die dekriminalisering van prostitusie. Foto's: Heléne Meissenheimer

Regter sê saak oor sekswerkers raak hele samelewing

Regter Andre le Grange van die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Maandag 1 September sy hande vol gehad om aansoeke van meer as 15 organisasies aan te hoor wat wil deelneem aan ’n saak wat hy gesê het die hele samelewing raak en van nasionale, selfs internasionale belang mag wees. Dit handel oor die wettiging van sekswerk in Suid-Afrika.

Seks teen betaling is onwettig in Suid-Afrika. Die organisasie Sex Workers Education and Advocacy (Sweat), saam met ’n groeiende groep menseregteorganisasies, meen dié stand van sake laat sekswerkers kwesbaar as slagoffers van geweld, stigma en bemoeilik hulle toegang tot gesondheidsorg. 

Ander stem nie saam dat die wettiging van prostitusie diegene met trauma gaan help nie. Madri Bruwer lei al vir baie jare Straatwerk, een van die oudste NRO’s van die NG Kerk, se uitreikwerk na vroue in prostitusie in die Kaapse Metropool. Bruwer het vir Kerkbode verduidelik baie van die vroue wat hulle op straat leer ken, is “intens getraumatiseer”, maar nogtans kies hulle prostitusie omdat hulle nie ’n ander uitweg sien om ’n lewe te maak of vir hulle kinders te kan sorg nie. 

Madri Bruwer (tweede van links) het gesê hulle staan Sweat se aansoek teen, want hulle meen dat die seksdaad self skade aan sekswerkers doen. Sy sê “… al kry jy alles squeaky clean die act bly waar die skade gebeur”.

Sy het gesê hulle staan Sweat se aansoek teen, want hulle meen dat die seksdaad self skade aan sekswerkers doen. Sy sê “… al kry jy alles squeaky clean die act bly waar die skade gebeur”. 

Lees ook: Nadia Marais: Geseënd is die geborenes

Straatwerk en nog ’n organisasie, Grace to Love van Pretoria, vorm deel van die aansoek wat deur Cause for Justice, ’n geloofsgebaseerde menseregteorganisasie, gebring word om as respondente op te tree teen Sweat se regsversoek dat prostitusie gewettig word.

Sweat het in Mei vanjaar saam met nog ’n party ’n aansoek na die Wes-Kaapse hooggeregshof gebring dat die wetgewing wat prostitusie onwettig maak, as onkonstitusioneel verklaar word. 

Die staat het hierna aangedui hulle gaan nie Sweat se hofaansoek teenstaan nie. Dit beteken prostitusie sou netso gewettig kon word en dit is wat hulle beweeg het om “in publieke belang” as respondente toe te tree, het Ryan Smit, ’n prokureur en die hoof van Cause for Justice, vir Kerkbode verduidelik.

In Augustus het die nasionale vervolgingsgesag hangende die hofuitspraak ’n moratorium gehef op die vervolging van sekswerkers.

Pam Ntshekula van Sweat meen die dekriminalisering van sekswerk gaan dit vir sekswerkers makliker maak om na die polisie te kan gaan om sake aan te meld asook om na klinieke te kan gaan vir gesondheidsorg.

Maandagoggend was Sweat se ondersteuners vroeg reeds buite die hof hoorbaar en sigbaar in oranje T-hemde met plakate waarop goed staan soos ‘Sex work is work’. Een van hulle was Pam Ntshekula. Dié “lobbyist vir Sweat” het vertel hierdie dag is vir hulle belangrik want hulle hoop hulle kry antwoorde. Sy meen die dekriminalisering van sekswerk gaan dit vir sekswerkers makliker maak om na die polisie te kan gaan om sake aan te meld asook om na klinieke te kan gaan. 

Na regter le Grange die hof verdaag het, was Sweat, Straatwerk en ander organisasies met plakate voor die hofgebou. Tussen hulle was Grizelda Grootboom van die organisasie Survivor Exit Foundation (SEF). Sy het by navraag vertel hoe sy vir agt jaar ’n slagoffer van sekshandel was. Daarom is sy heelhartig teen die wettiging van prostitusie gekant, het sy aan Kerkbode gesê. Grootboom meen dekriminalisering gaan dit vir vroue ook moeiliker maak om te kan bewys dat hulle teen hulle sin in sekshandel vasgevang is. 

Grizelda Grootboom (links), van die organisasie Survivor Exit Foundation (SEF), was vir agt jaar ’n slagoffer van sekshandel. Daarom is sy heelhartig teen die wettiging van prostitusie gekant, het sy aan Kerkbode gesê.

“Ek het klompie survivors in my foundation en sien hoe hartseer en swaar dit vir hulle is om hulle lewe terug te kry … so dis hoekom ek glo dit gaan nie werk vir Suid-Afrika om te sê dat sekswerkers werk nie. Ons kan maar net bid,” het sy bygevoeg.

Maandag het organisasies soos onder meer die Menseregtekommissie van Suid-Afrika, Human Rights Watch en ander aansoek gedoen om ter ondersteuning van Sweat as “vriende van die hof” toegelaat te word. Die hof het gehoor daar is ook organisasies wat migrante sekswerkers verteenwoordig, ander die sonder blyplek asook transgender sekswerkers. Regter Le Grange het Dinsdag 2 September aangedui wie se amicus-aansoeke (“vriende van die hof”) hy aanvaar het.

Agtergrond

  • Die dekriminalisering van sekswerk is sedert 2009 ’n gesprekspunt onder meer by die Suid-Afrikaanse Wetshervormingskommissie. 
  • Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het in 2013 aangedui hulle ondersteun die dekriminalisering van sekswerk.
  • In 2022 het die regering konsepwetgewing gepubliseer om sekswerk te wettig.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top