Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die fliek Her (2013) vertel die verhaal van Theodore Twombly, ’n skrywer wat na ’n pynlike egskeiding eers ’n vriendskap en later ’n verhouding aanknoop met ’n KI-persoonlikheid wat haarself Samantha noem. Kunsmatige intelligensie bied aan Theodore geselskap en troos – miskien selfs liefde – juis wanneer hy besonder alleen en depressief voel.
Die fliek vra belangrike vrae, veral in ’n tyd waarin ons gekonfronteer word met die wesenlike gevare en potensiaal van KI-platforms en -instrumente, die aard en waarde van emosionele konneksie, en die betekenis van egtheid in ons verhoudings, ervarings, en lewensuitkyke.
Watter rol behoort hierdie soort tegnologie binne geloofsgemeenskappe te speel? Behoort ons van KI-instrumente gebruik te maak om ons preke te skryf en moontlik selfs tesisse, proefskrifte, en akademiese artikels te skryf (en te beoordeel)? Hoe verstaan ons waarmee ons binne die teologie en die kerk besig is? Kan KI goeie en egte teologie beoefen? Kan dit help vorm aan ons geloofsgrammatika(s)?
In sy boek The grammar of faith (1978) beskryf die Yale-teoloog Paul Holmer teologie as ’n geloofsgrammatika. Hy verduidelik dat, hoewel taalreëls aanvanklik – soos by enige taal – aangeleer en gememoriseer moet word, die einddoel taalvaardigheid eerder as tegniese kennis van taalreëls is. Taalvaardigheid, skryf hy, lê daarin dat ons nie die grammatika self praat nie maar alles anders gesê kan kry met die taalreëls wat ons aanleer. Hoe meer vaardig ons word om in ’n sekere taal te lees, skryf, en praat, hoe meer maak ons gebruik van die grammatika wat ons alreeds aangeleer het.
LEES OOK: Christendom en Islam: Twee gelowe, twee kontrasterende perspektiewe
Uiteindelik praat ons eenvoudig “grammatikaal” sonder om die grammatika hoegenaamd te onthou. Ons beoefening van ’n taal, ons elke dag se praat en skryf, word dan van nature grammatikaal, skryf Holmer. Ons geloofsgrammatika word dus nie juis meer uitdruklik raakgesien nie, maar eerder die lig waarby ons alles ánders raaksien. Geloofsgrammatika is, kortom, ’n geleefde en deurleefde grammatika – oftewel ’n grammatika van die hart:
“This theology of which I speak is infinitely more glorious, though, than the term grammar might suggest. For theology does not parse verbs, arrange thoughts, and conjugate sentences. Its matter is finally the whole of human life itself … [it is] like the teaching that leads to a truly successful, deeply satisfactory, even blessed and happy life.”
’n Kernvereiste vir diegene wat teologie “hanteer”, skryf Holmer – ongeag of dit op podiums of preekstoele is – is verbeelding. Dit is juis deur metafore, gelykenisse, stories en gewone gesprek wat ons geloofsgrammatika op eg menslike maniere verwoord word: Dit is wanneer ons taal óór geloof die taal ván geloof word. Geen verbeelding is té ryk vir die goeie nuus van die evangelie nie, maar ook is dit nie nodig om die evangelie te probeer verander, in ’n poging om dit meer aantreklik te maak nie. Die uitnodiging is eerder: Gebruik jou gawes en jou ervarings om opnuut die goeie nuus te vertel. Ons hoef hierdie nuus nie nuut te probeer máák nie; eerder gaan dit daaroor dat dit ons, die ontvangers daarvan, is wat vernuwe moet word.
Natuurlik is dit moontlik om goedkoop nabootsings van hierdie taal te maak, waaraan alle egtheid ontbreek. Dit gebeur elke dag, met of sonder kunsmatige intelligensie.
Wat wel nie moontlik is nie is dat ons geloofstaal self ’n produk van kunsmatigheid – selfs intelligente kunsmatigheid – word. Geloof behoort ditself altyd te kan herken aan die geloofstaal wat gepraat word in ’n geloofsgemeenskap. So argumenteer die Chicago-teoloog Theodore Jennings in sy Beyond theism (1985), met die veelseggende subtitel A grammar of God-language. Ons geloofsgrammatikas, ons Godstaal, word juis gekenmerk deur eg menslike ervarings en interpretasies, intense debat en meningsverskille, onderhandeling en ontwikkeling van betekenis (dikwels oor eeue heen), en “traditioned creativity” (Robert Vosloo).
Kunsmatige intelligensie kan nie namens ons, plaasvervangend, teologie beoefen nie – ongeag hoe gesofistikeerd kunsmatige intelligensie ook al mag raak. Ons geloofsgrammatikas word immers nie (net) gelees en geskryf en gepraat nie: Dit word gesing en gebid en in die middel van die nag geprewel en gedig. Dit is ’n lewende taal – ’n taal waarin daar gehoop en liefgehê en geglo word. Dit is ’n taal gebore uit menslike ervaring – uit konflik, uit wonde, uit woede, uit weerloosheid, uit wanhoop, uit stilte; uit bloed en derms en gevóél. Dit is ’n taal wat gelééf word.
Die vraag is dus nie (net) of ons KI móét gebruik nie. Dit is dalk eerder of ons KI kán gebruik; of dit enigsins in staat is daartoe om te help om van ons diepste vrae oor lewe en dood, oor verhoudings en geluk en trauma en ellende en God en alles wat ons diep ontstel en ontstig en vertroos en bemoedig, te verwoord en te verantwoord. ’n Steriele, kunsmatige, netjies verpakte en opgesomde geloofstaal is geen geloofstaal nie.
Dalk vra die kunsmatigheid van ons tyd juis dat ons die geskenk van egtheid omarm.
Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.

