Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dubbeldoor: Werke deur Hans du Plessis en Willem Anker

Resensent Rethie van Niekerk bekyk …

Die skat wat Hans du Plessis agterlaat

 

Klein wonderwerk en Innie skylte vannie Here deur Hans du Plessis

Uitgewer: Lapa, 2025

Resensent: Rethie van Niekerk

Wanneer ’n geliefde skrywer sterf (Du Plessis is in 2024 oorlede), treur lesers nie net oor die verlies aan die skrywer nie, maar ook die skrywer se ganse verbeeldingswêreld. Daarom is Klein wonderwerk, postuum gepubliseer, ’n geskenk vir Hans du Plessis se aanhangers.

Klein wonderwerk vertel die verhaal van Petrus – ’n ou man wat sy kleinseun wil opspoor – en Anina, ’n jong vrou met ’n afsku aan ou mans.

“Skryf wat jy ken,” is bekende raad aan fiksieskrywers. Klein wonderwerk se worsteling met temas soos oudword, eensaamheid en verlies is diep deernisvol en aangrypend. Die verweefdheid met geloof en vergifnis is eg, natuurlik en treffend. Ek het egter moeilik vat gekry aan die jong, vroulike hoofkarakter en haar belewing van haar eie verhaal. Van die verwysings, soos na ’n “sondige lyf”, sou beslis kon baat met meer konteks. Sommige lesers sal waarskynlik ’n waarskuwing vooraf oor bepaalde temas verkies.

Klein wonderwerk vertel ’n verhaal oor identiteit, oor in hoe ’n mate jou storie – en jou eie vertel daarvan – jou vorm.

Hoewel ek met die lees van die boek méér gesoek het, het dit vir dae nadat ek dit klaar gelees het, steeds in my kop geleef. Ek was heeltyd in gesprek met die karakters en die skrywer. Terwyl ek ander fiksie lees, het ek myself betrap dat ek Klein wonderwerk se narratief bo-oor die ander verhaal plaas. In my omgang met mense, het Du Plessis se deernis met sy karakters se broosheid ook deel van my kyk geword.

Nog ’n geskenk vir Hans du Plessis se aanhangers – of dalk veral vir diegene wat sy werk nou ontdek – is dat die Griekwapsalms Innie skylte vannie Jirre vanjaar weer uitgegee is. Hierdie digbundel het al afrikana geraak. Die kanse is goed dat jy ’n reël of twee al iewers raakgelees of gehoor het, dalk sonder om te besef dat dit Hans du Plessis se verwerking is. Waar dit vir lank uit druk was, kan jy hierdie kosbare omdigting van Psalms, Spreuke en enkele ander tekste, nou weer op jou rak hê.

Beskikbaar by Lapa.

 


 

Anker dryf rond tussen genres, maar boei steeds

 

Patmos deur Willem Anker

Uitgewer: NB-Uitgewers, 2025

Resensent: Rethie van Niekerk

Patmos, die novelle gebaseer op die gelyknamige toneelstuk, weier halstarrig om in literêre boksies te pas. Tipies van die postmoderne literatuur is dit gedeeltelik poësie, wetenskapfiksie, kortverhaal, toneelstuk, selfs foto en bladmusiek. Hierdie fragmentasie van genres werk briljant by die fragmentasie van ervarings, hede, verlede en toekoms wat uiteindelik die verhaal vorm.

Anker se vertelling is strak, selfs kortaf. Bykans emosieloos vertel hy ’n verhaal van diep, ondraaglike emosie.

Patmos is nie ’n maklike lees nie. Dit vra van die leser om op elke woord te konsentreer, op elke bladsy die lae te bedink.

Beskikbaar by Loot.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top