Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Vir jong lesers: Kyk hierdie lekker verskeidenheid van leesstof

Hallo, Jesus! deur Marinda Engelbrecht

Uitgewer: NB-Uitgewers, 2025

Resensent: Rethie van Niekerk

’n Dagstukkieboek vir kinders! Marinda Engelbrecht bied ’n tipiese dagstukkieboek vir jong lesers – of gesinne om saam te lees. Natuurlik wil ’n mens hê dat kinders die Bybel self lees, maar kinders sal hierdie kleurvolle dagstukkieboek geniet en bemagtigend vind. Daar is vyf dae per week ’n teksvers (uit Bybel@kinders), ’n baie kort inset en ’n gebed. Elke bladsy het ook ’n hartjie wat ingekleur kan word wanneer die dag se gedeelte gelees is. Dae 6 en 7 bied gespreksvrae vir kinders. Die Shutterstock-illustrasies is kleurvol en toepaslik. Kinders sal nie voel hulle word toegegooi onder teks nie, maar opgewonde wees oor hulle eie, aanskoulike dagstukkieboek.

Geborg

Beskikbaar by Wordsworth.


Psalms vir kleingoed deur Wendy Maartens, illustrasies Zinelda McDonald

Uitgewer: Lux Verbi, 2023

Resensent: Rethie van Niekerk

Zinelda McDonald se pragtige illustrasies in Wendy Maartens se Psalms vir kleingoed is toonkrul-lieflik. Om nie eens te praat van Maartens se heerlike verwerkings van die lofpsalms nie! Met speelse, vars woorde word gebed toeganklik gemaak vir kinders. Maartens bied ruim interpretasies van Psalms, sodanig dat ’n mens dalk eerder die Psalm in die Bybel wil lees en dan Maartens se interpretasie daarvan as ’n gebed. Hier en daar neig die interpretasies na moralisme. Oorwegend is dit egter heerlike, uitbundige, toeganklike gebede wat kinders – maar ook tieners en beslis grootmense – graag sal bid.

Beskikbaar by BybelMedia.


Wat is jy, Kartoffel? deur Marga Jonker, illustrasies Alzette Prins

Uitgewer: Lapa, 2025

Resensent: Rethie van Niekerk

Langs ’n woestynkus probeer almal uitvind watter soort dier Kartoffel is. Hierdie herdruk is ’n baie prettige storie wat hardop gelees moet word, met spesiale stemme vir die karakters soos seemeeu, rob, verkleurmannetjie-vroutjie ens. Klanke wat oor jou tong rol sal jong luisteraars se toontjies laat krul van lekker. Ek sou hou van ’n groter formaat, om die oulike illustrasies beter te geniet.

Beskikbaar by Lapa.


Dapper soos ek! deur Zulaikha Patel, illustrasies Nicci Martin

Uitgewer: Pan Macmillan Suid-Afrika, 2025

Resensent: Rethie van Niekerk

In Dapper soos ek vertel die aktivis Zulaikha Patel waar sy haar moed vandaan gekry het. Dit is die verhaal van ’n dogtertjie wat nie inpas nie en geboelie word, maar wat uiteindelik deur die dapper mense in haar familie geïnspireer word om op te staan. Die skattige illustrasies is ’n hoogtepunt. Patel herinner haar jong lesers: “Jy kan die wêreld verander as jy dapper is”.

Beskikbaar by Loot.


Luna’s journey: A tale of grit and courage deur Shareez Bagaria, illustrasies Rouxmia Roest

Uitgewer: Penguin Random House Suid-Afrika, 2025

Geborg

Resensent: Rethie van Niekerk

Bagaria se boek is perfek vir jong lesers wat begin om self Engels te lees. Die groot lettertipe en hoofstukke begelei lesers om selfs die groot woorde baas te raak. Luna se reis is een van veerkragtigheid, wat verskeie emosies insluit. In die proses leer Luna tegnieke soos bevestigings en asemhalingsoefeninge, wat haar help om dapper te wees.

Beskikbaar by Loot.


 

Paris, ’n prinses met ’n missie deur Demi-Leigh Tebow, saam met AJ Gregory; illustrasies Olga en Aleksey Ivaniv

Uitgewer: Lux Verbi, 2025

Resensent: Rethie van Niekerk

Paris die prinses is op pad om die koning te ontmoet! Die koning het egter gereël dat sy eers sy koninkryk verken en die wilde diere ontmoet. Reeds met die intrapslag steel apie Paris se kroon – en hoe kan sy ’n prinses wees sonder ’n kroon? Paris leer dat sy nie ’n prinses is om ’n kroon te dra nie, maar om haar koninklike doel te vervul.

Beskikbaar by Reader’s Warehouse.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top