Op grond van Jesus se opdrag “Laat die kindertjies na My toe kom” het Andrew Murray lewenslank leiding by God gesoek oor sy visie vir Christus-gesentreerde onderwys vir alle kinders. Sedert sy ordening in 1849, en sy aanstelling as die eerste NG-predikant wat die Oranje-Vrystaat en die Boere anderkant die Vaalrivier bedien het, het hy wyd gereis; hy het ouers ontmoet, kinders gedoop en die dringende behoefte aan beter onderwys vir jonk en oud besef. Hy het in aanraking gekom met die afstammelinge van mede-pelgrims uit Skotland, Nederland, Duitsland (die Moraviese sendelinge van Herrnhut), Frankryk, Engeland en uiteindelik die “Nuwe Wêreld”.
Terwyl hulle hul ervarings en hul visie vir Afrika se kinders gedeel het – alles gegrond op die inklusiewe liefde van Christus – is skole, koshuise en opleidingsinstellings vir jonk en oud gestig. Talle sendelinge (mans en vroue) is opgelei en na die platteland en oor die Zambezirivier tot in Sentraal-Afrika gestuur.
Die musiekdrama “De Kinderen voor Jezus: Van Schotland tot over de Zambezi” vier hierdie epiese verhaal en omhels die kinders en jongmense wat vandag nog baat vind by hierdie visioenêre leierskap en inisiatiewe.
Kom vier hierdie opvoedkundige pelgrimsreis met sang, orrelmusiek, stories en die deel van die finansiële verantwoordelikheid om ‘n toekomstige geslag vir Christus groot te maak en op te voed. Kaartjieverkope ten bate van Huis Andrew Murray en die Spitskop-sentrum vir kinders en jeugdiges.
Kunstenaars: Devandré Boonzaaier (Orrel) Laurinda Hofmeyr (Sanger/komponis) Schalk Joubert (Baskitaar) Carlo Louw (Bas Bariton) Cecile Murray Louw (Sopraan) Murray Agenbag (Akteur) Anelia Louw en Andi Louw (Jong gasakteurs), Geleentheids-ensemble: 1970s Stellenbosch Universiteitskoorlede, Isabel Murray (Navorsing/skrywer)