Annalise Wiid

Kanga-ouers is God se koester-arms

Verbeel jou julle kry vandag julle aanneembaba. Ná jare se wag en wonder, lê die piepklein pienkvoet uiteindelik in julle arms. Oorstelp ry julle huis toe. Dit word badtyd. Onbeholpe woel julle die lyfie los uit die kombersie. Sukkel met die kleertjies se knopies. En dan sien julle die frokkie! Op julle baba se borskassie pryk die woorde: “Hallo! Ek is tuis!”

Dit is ’n liefdesgeskenk van julle baba se “middel-mamma”. ’n Vrou wat haar, selfloos, blootgestel het om julle weerlose babatjie te koester totdat julle hom kon ontvang.

Wanneer babas vir aanneming wag, verloop ’n vensterperiode van gemiddeld twee tot drie maande voordat die baba aanneembaar verklaar word. Elke aanneming en die gepaardgaande wetlike proses verskil wat hierdie tydperk betref.

Aangesien die baba in hierdie periode nie aanneembaar is nie, is tydelike versorging nodig. Voorheen is sulke babas in hospitale of kinderhuise versorg. Navor­sing toon egter dat hulle meer intensiewe aandag nodig het. Vandaar die konsep van kanga-ouers wat vir sulke babas ’n tydelike liefderyke tuiste bied.

Tania Schultz

Tania Schultz vertel van die opwinding en omwentelings wat ’n huishouding tref wanneer hulle tydelik ’n veilige tuiste vir ’n kanga-baba bied. Die Schultz-gesin het reeds ses babas met liefde versorg en is nog lank nie klaar met hierdie wonderlike werk nie.

Eloise Loots, maatskaplike werker by PROCARE, ’n organisasie wat aannemings fasiliteer, vertel: “’n Baba se eerste traumatiese ervaring is sy geboorte. Die skielike wegskeur uit die donker, warm, veilige baarmoeder en dan die skok-aankoms in ’n koue, raserige wêreld vol verblindende ligte. Gelukkig hou sy ma hom dan dadelik vas en fluister: ‘Toemaar liefie, ek is hier; ek sal jou vertroetel en met my lewe beskerm.’”

Wanneer die baba egter vir aanneming beskikbaar gestel word ontbeer hy hierdie lewensnoodsaaklike koestering.

Daar word natuurlik goed na sy fisiese behoeftes omgesien: Sy doek word gereeld geruil en hy word gewas en gevoed. Maar daar is niemand wat vir ure in verwondering oor hom sit en koer nie.

Weens ’n tekort aan hospitaalpersoneel, gebeur dit ook dat die baba soms noodgedwonge vir ’n ruk lê en huil of ongemak moet verduur, want daar is ander, sieker babas wat dringender aandag nodig het.

Kanga-ouers kan so ’n wag-vir-aanneming-babatjie vashou en troos. Hulle verhoed dat hy in sy eerste lewensweke reeds die allerbelangrikste – ’n ervaring van toegespitste liefde – ontbeer.

Op Saterdag, 7 Mei, die dag voor Moedersdag, het Helderberg Uitreik, die uitreikorganisasie van die NG gemeente Helderberg in Somerset-Wes, ’n babatee met ’n verskil gehou. Die toegangsfooi: ’n pak weggooidoeke. Hiermee is ’n nuwe projek geloods: Kanga&Roo – waarmee hulle fondse insamel om kanga-ouers te onder­steun met formulemelk, doeke en dergelike benodigdhede.

Terselfdertyd het Tania Schultz, ’n gemeentelid, ook haar boek, Memoires van ’n Ma, bekendgestel. Tania en haar man, Werner, is landwyd bekend vir hulle kinderbediening, KidsXpress.

Tania skryf openhartig oor haar veelkantige ervaring van ma-wees: Van haar dogtertjie-drome; die geboorte van hulle drie kinders; ’n onverwagse miskraam in die twaalfde week van ’n ewe onverwagse swangerskap; die verlies van hulle middelste kind in ’n noodlottige ongeluk; en die troos en heling van ses agtereenvolgende kanga-babatjies se versorging.

’n Verhaal met lieflike eggo’s van Jesaja 66 se God-woorde, waarin Hy troos dat Hy ons koester “soos ’n moeder” wat “haar kind laat veilig voel …”

▶ Kontak Tania by tania@kidsxpress.org of 084 717 0660 vir meer inligting.

Laat ons mekaar help – spesiale sorg in spesiale hande

’n Swaar gestremde kind. ’n Ouma met ’n moederhenhart. ’n Afgetrede dominee wat diensbaar bly. Drie mensverhale deurkruis mekaar met ’n verstommende getuienis van selflose liefde. Annalise Wiid het by hulle gaan kuier in een van die armste, gevaarlikste townships buite Kaapstad.


Kindergesiggies loer opgewonde deur die veiligheidshek. Staan nader vir drukkies toe ons inkom. Op die voorstoepie hang rye wasgoed in die skraal sonnetjie. Daaronder staan sewe rolstoele, waaroor klam kombersies gegooi is. Droogkry lol maar in die Kaapse reën.

Marshmallows

Sagte Zoleka deel sagte malvalekkers uit. Links sit die meisie wat dadelik gehelp het toe een van die seuntjies begin verstik. Foto: Annalise Wiid

Masincedane. Dis die huisie se naam. Dit beteken: Laat ons mekaar help. Hier word wonders gedoen. Buite, op die voormuur, is die woorde Special Care And Home geverf. Vrolike prentjies ook. ’n Dogtertjie met ’n tros ballonne. ’n Seuntjie in ’n ruimteskip. Skoon, wit, rooidakhuisies. ’n Bambi-bokkie. Groen gras. Blomme.

’n Mens moet dit maar op die mure verf. Want hier groei nie gras waarop kinders kan speel nie. Dit is Nyanga. Op die vlakte aan die voetenent van die Kaapse lughawe. Suid-Afrika se berugte “moord-hoofstad”. Smal straatjies, sinkwinkeltjies, konkavure. Die mense hier is broodlyn-arm. Kultuur-ryk. Die huise is klein: 80 vierkante meter. Sit óp die straat. Sonder voortuin of spasie. Hierdie spesifieke Masincedane-huis se ruimte lê in die harte van die mense wat hier werk. En in die gelukkige kinders wat hier woon.

Dit is ’n mooi, hartseer storie. Ek besoek Masincedane saam met emeritus ds Tinus van Zyl. Sy bedieningspore lê van die Oos-Kaap tot Stellenbosch. Maar later meer oor hom. Laat ek jou eers van Lihle en haar ma, Nancy Rwexana, vertel …

Lihle en Nancy

Dit is aan Lihle te danke dat Masincedane ontstaan het. Sy is serebraal gestrem gebore. Erg. Sy kon byvoorbeeld nie self eet nie; moes voltyds versorg word. Nancy se ma het Lihle help oppas. Ná haar ma oorlede is, kon Nancy nêrens ’n betroubare oppasser vir Lihle kry nie.

Priscilla

Priscilla Ligwa sing vir die kinders dat hulle kan dans. Haar moederhen-hart het haar nie ’n rustige aftrede veroorloof nie. Sy versorg kinders wat geen ander heenkome het nie. Foto: Annalise Wiid

Die meeste mense sal inmekaarsak van moedeloosheid onder die oorwig van sulke omstandighede. Nie Nancy nie. Sy het regop gebeur. Sy het begin wonder: Wat word van ander gestremde kinders wat niemand het om hulle te versorg nie? En ’n huis gebou: Masincedane. Net vier vertrekkies. Maar dit was haar, én Lihle, én vele ander se behoud.

Nancy versorg tans twintig gestremde kinders van tussen sowat 4 en 20 jaar. Dag en nag. Sonder staatshulp. Sy het slegs ses wonderlike vroue en vir Tinus aan haar sy.

’n Mens kan jou net die bomenslike uitdagings voorstel. Hoeveel moed en deursettingsvermoë dit moes verg om tot hier te kom. Hoeveel deurgehuilde nagte. Hoeveel verstommende moederliefde.

Lihle beteken: Jy is mooi. Lihle is verlede jaar, op haar 23ste verjaardag, oorlede. Masincedane is haar mooi na-latenskap aan ons sukkelende wêreld. Dit bevestig: Sy is nie verniet gebore nie.

Nancy is ’n knap bestuurder. Dit is met die intrapslag duidelik. Die kinders se waslappies hang netjies in ’n ry. Bekertjies met elkeen se naam en tandeborsel staan in gelid op ’n rak. Daar is dag- en weekskedules – vir aktiwiteite en terapie – op ’n skryfbord teen die muur. Die week se spyskaart teen die koskas in die kombuis. In die kantoor is die personeel se foto’s opgeplak. Met daarby ’n nota: “Children need love, care, contact, respect …”

Thinus

Tinus is uitermate trots op Azakhe en Lizeka wat by Priscilla’s Home Care help. Hulle het dit baie geniet toe hy handeklap oor die netjies gepakte kas. Foto: Annalise Wiid

Die huis is rustig. Ons loer in by die groter kinders se stapelbedkamer. Skoon. Netjies. In die ander kamer staan sewe bababedjies styf teen mekaar. Ingedruk. In elkeen lê ’n sukkellyfie onder ’n sagte kombersie. Een seuntjie rek sy nekkie, draai sy kop na my toe. Dit lyk of hy lag. Maar hy lyk altyd so. Ook as hy huil. Sy gesiggie kan nie anders nie. Hy sak tevrede terug op die kussing wanneer ek sy wang streel.

Op die grond, op ’n dik, blou speelmat, stik ’n huilende kleintjie aan ’n malvalekker. ’n Ouer maatjie klop hom moederlik, maar lomp op die rug. Die half-gekoude malvalekker trek doer. Zoleka, een van die oppassers, waak heeltyd. Besorgde arendsoog.

Tinus se rol

Die teëls – op die vloere en in die nuut opgeknapte badkamertjie, die yskas, kombuiskaste, TV, gasstoof, wasmasjiene, duvets en die R3 000 se doeke per maand – álles is tekens van liefde. Weldoeners se werk. Maar hier is nie sprake van ’n goedkoop sodat-ek-kan-beter-voel-oor-myself soort aalmoesuitdelery of ’n julle-skuld-ons soort inpalm nie. Hier is rêrige handevat. Dit spreek uit die goeie verhoudings. En Tinus is die tussenganger.

Nancy Rwexana

Nancy Rwexana, stigter van Masincedane, met een van die kleuters in haar sorg. Foto: Verskaf.

Hy hét dit net, sê sy vriende. Hy het ’n gawe om mense aan die gang te kry. Om die hand wat graag wil help, in kontak te bring met die hand wat die hulp nodig het. En dan gebeur goeie dinge. Mét mense én tussen mense. Die hand wat gee, kry ook. En die hand wat ontvang, gee ook. Weerskante toe verryk hulle mekaar se menswees.

Tinus is baie beskeie daaroor. Hy glimlag net. Ek ken gelukkig meesal iemand wat kan help, sê hy. ’n Boer in die Bokveld wat my rug toehou. ’n Vriend wat weet van wasmasjiene. Of van gasstowe en elektriese drade. Of ’n praktiese pel wat kan teëls lê. Ons benodig nog net iemand wat kan help met die begroting. Wanneer Tinus (nou 75) eendag nie meer verder kan nie, vertrou hy dat daar iemand sal wees wat die aflosstokkie by hom kan aanvat.

Tinus, oorspronklik van Louterwater in die Langkloof, vertel hoe hy as student besluit het om homself beroepbaar te stel vir die NG Kerk in Afrika. Sy loopbaan het as sendeling op Komga in die Oos-Kaap begin. Waar sy evangelis-kollega hom geleer het: Swaarkry is “part of the job”. In agt en ’n half jaar rig hulle veertien plaasskole op, van die grond af. Tinus het daar leer Xhosa praat. Dit help nou baie. Hy gesels gemaklik met Masincedane se personeel, terwyl ek met my mond vol tande staan. Xhosa is die voertaal in Nyanga.

Tinus en sy vrou, Marina, is later na Oos-Londen se moedergemeente beroep. Daarná was dit Somerstrand, in Port Elizabeth. En toe Stellenbosch se moedergemeente, as studenteleraar, vir sy laaste loopbaanskof. ’n Energieke be-diening wat hy besonder baie geniet het. Nou woon hulle in Kuilsrivier.

Lihle Rwexana

Lihle Rwexana, die gestremde meisie by wie se behoeftes Masincedane begin het. Foto: Verskaf.

Sommige mense sê mos jy retire nie, jy retread net, lag Tinus. Ná sy aftrede in 2002, sluit hy hom by die Kingfisher Mobiliseringsentrum (KMS) aan. Kingfisher stel hulleself ten doel om gelowiges te mobiliseer om die evangelie daadwerklik te lééf. Een van sy Kingfisher-kollegas neem hom op ’n dag Nyanga toe en stel hom aan Nancy Rwexhana en Priscilla Ligwa bekend. Mobiliseer was hier nie nodig nie. Hulle wiele was reeds aan die rol.

Priscilla’s Home Care, ’n veilige huis vir vigswesies, is net straat-af van Masincedane. “Ek het gesien die Here is reeds hier aan die werk,” vertel Tinus, “ek kan maar net inval en saamwerk”. En retire word toe re-fire.

Die “inval en saamwerk” behels dat hy aandag gee waar dit nodig is. Die huise se elektrisiteitstelsel was byvoorbeeld onvoldoende. Priscilla se huis het nie ’n badkamer gehad nie. Party kamers het verf nodig gehad. Die vroue wat by beide huise met die versorging help, moes destyds op ’n karige R500 per maand oorleef. Hulle salarisse het sedertdien vervierdubbel.

Een van Tinus se seuns, Auret, ’n prokureur en sakeman in Switserland, help baie met befondsing deur sy liefdadigheidsorganisasie, More 2 Life (www.more-2-life.org.uk).

Priscilla

Priscilla gaan moeisaam sit. Leuen swaar op die kruk in haar regterhand. Haar onwillige beroerte-been sleep effens. Sy is al goed grys. Twee klein kindertjies speel by haar voete. Dans met wikkel-lyfies wanneer ons sing. Dit is ’n prentjie wat ek sal onthou. Hulle is soos die Bybel se weduwees en die wese. Om hulle te help in hulle swaarkry, skryf Jakobus, is suiwer aanbidding.

Priscilla lyk soos ’n doodgewone weduwee-ouma. Maar gewoon is sy beslis nie. En die kleintjies is mos ook nie reg-tig hare nie. Vigs, ellendeling! Sy is hulle noodgedwonge toevlug. Hulle voel veilig onder haar vlerk.

Haar vier eie kinders is lankal groot en uit die huis uit. Priscilla is ook nie regtig ’n weduwee nie. Net alleen. Was nooit getroud nie. So het die lewe nou maar uitgespeel. Haar hart is groot en onmeetbaar goed. ’n Mens sien dit in haar sagtheid. Haar oop-wees vir die verlate kinders. Sy het hulle opreg lief. Onverskrokke en heelhartig.

Die beroerte was in 2010, vertel sy. Van stres oor die kinders se welstand. Sy moes vyf maande in die hospitaal bly. En sy het vreeslik na die kinders verlang. Priscilla het haar huis van veiligheid in 2005 begin. Nadat sy as huishulp afgetree het. Erbarming retire blykbaar ook nie.

Sy het in Komga grootgeword. Waar Tinus se loopbaan toeka-tyd begin het. Ek wonder of sy dalk in een van sy plaasskooltjies was? Gaan sy nog soms terug daarheen? Af en toe, vir vakansie, ja. Laasjaar het sy haar kinders saamgeneem. Anders, wie gaan na hulle kyk? Sy moes tien buskaartjies koop. Darem ’n bietjie afslag gekry.

Haar twee helpers, Azakhe en Lizeka, is net so lieflik soos Nancy se ses. Hulle maak haar hande sterk. Om die huis skoon te hou en al die honger magies vol te kry, is nie kinderspeletjies nie. Smiddae kom Shirley die kinders met huiswerk help. After School Club.

Om dié twee huise saam met Tinus te besoek, is allermins neerdrukkend. Selfs al stem die kinders se swaarkry ’n mens hartseer. Eintlik staan ’n mens verstom. Jy voel klein, nederig. Heeltemal oorweldig deur die weldadigheid van hierdie groepie opregte mense, wat só mekaar se hande vat. Sorgsame hande wat ’n spesiale ketting vorm. Met elke skakel gesmee uit suiwer, sterk liefde, wat sê: Só lyk God se hart.

Hoop – ’n vlugteling se venster op die lewe

Hoewel hy in ’n stadium sy geloof verloor het, beskryf Barnabé Anzuruni Msabah steeds sy lewe as ’n “reis van hoop”. Psalm 118 is sy skuil-gebed. Barnabé beteken: die bemoediger. Die aand voordat hy sy doktorsgraad in Teologie van die Universiteit Stellenbosch ontvang het, het Annalise Wiid hierdie merkwaardige man ontmoet.


Hy probeer die vlugtery sagter stel: Relocate. Tog beskryf hy dit as: “We were literally running – civilians from rebels.”

Op 16, ná jare in ander lande, vlug Barnabé, saam met sy broer (20) en hul ouma oor die Tanganjika-meer na Tanzanië. Sonder sy ouers en sussies. “No destination!” Onverdunde vrees. Saam met hordes ander in ’n klein, gevaarlik oorlaaide houtbootjie ingebondel, vlug hulle in die nag, onder dekking van die donker.

Barnabe en gesin

Barnabé Msabah en sy gesin. Hy het sy Keniaanse vrou, Susan, op Stellenbosch ontmoet waar sy ook studeer het. Hier spog hulle met hul dogtertjie, Tumaini. Dit is ’n Swahili-naam wat “hoop” beteken. Foto: Verskaf

Hy onthou so goed: Op 16 Desember 1996, om twee-uur die middag, klouter hulle iewers in Tanzanië agterop ’n oorvol lorrie – moeg, siek, beangs, gedisoriënteerd. Hulle word 260 km verder in die boendoes by ’n vlugtelingkamp afgelaai. Daar is slange en leeus.

Hulle mag vir hulself ’n grondjie uitmeet: 15 by 25 treë. Hulle kry ’n panga en ’n stuk seil. En ’n koskoepon vir ’n sak mieliemeel, ertjies, sout, olie, seep en (altyd te min) water – net eenmaal elke twee weke.

Hulle kap bome af. Timmer ’n soort van huisie aanmekaar. Barnabé en sy broer sorg vir hul ouma. Mettertyd vul daardie kamp op met 80 000 mense!

Skool onder ’n boom

Later begin hulle ’n skool onder ’n boom. Sy broer het reeds matriek gehad. Hy leer hulle alles wat hy weet. Nog later bou hulle ’n skool van hout. Dit trek aandag. Hulle kry onverwagse en baie welkome hulp van Unicef en Unesco.

In 1998 kom sy ouers en sussies uiteindelik ook by die kamp aan. Hulle kry mekaar sowaar tussen die derduisende mense. Ná twee jaar van absoluut geen kontak nie, is hul hereniging onbeskryflik.

Hemel-weet-hoe kry sy pa, ’n onderwyser, kibali – spesiale toestemming dat Barnabé na Kigoma se ambassade-skool kan gaan vir matriek. Net drie kinders uit die 80 000 mense kry kibali.

Barnabé is sewe tale magtig. Jy leer dit noodgedwonge aan so ver jy vlug. Ná matriek, vertel hy, “we jumped the rivers to South Africa”.

Hy werk in Durban as karwag, haarsalon-assistent, tuinier. Hy stap sekuriteitpatrollie deur die industriële gebied. Verkoop goeters by verkeersligte. Hy wil so graag verder studeer, maar “the challenge of money …” Hy glimlag nou gelate daaroor, met opgetrekte skouers. “It slipped away like that.” Sy droom. Om méér te word!

’n Koreaanse sendeling, dr Kim, word wonderbaarlik sy weldoener. Hy stuur Barnabé Bybelskool en later Fort Hare toe. Barnabé verwerf sy graad in Teologie – die vlugteling-seuntjie wat eens onder ’n boom skool gegaan het. Later verwerf Barnabé sy meestersgraad in Teologie aan die Universiteit Stellenbosch in gemeenskaps­ontwikkeling. Hy bly ses jaar lank in Stellenbosch.

Daar word hy deel van die leierskap van die Stellenbosch International Student Fellowship, ’n bedie­ning van die NG Kerk. Die gemeente word sy familie. Ds Jurie Goo­sen beskryf hom as ’n “briljante student en toegewyde gelowige”.

’n Doktorsgraad

Vanjaar verwerf Barnabé sy PhD in Teologie. Hy fokus op The Empowerment of Hope.

Hoop het vir hom onuitwisbaar werklik geword in 2011, toe hy met lewensbedreigende nierversaking gediagnoseer is. Hoe behou ’n mens lewensmoed as dít jou ook nog tref, ná alles wat jy reeds deurgemaak het?

Ná twee jaar op dialise waarsku die dokters dat hy moontlik nog net ses maande sal oorleef sonder ’n nieroorplanting. Hoe verval ’n mens dan nie in volslae wanhoop en mismoedigheid nie? Hy sê inteendeel: “That was when hope came alive for me.”

Barnabé was, uitsonderlik en onverklaarbaar, die eerste mens met vlugtelingstatus wat op Suid-Afrika se oorplantingslys geplaas is. Hy is nou nog verstom daaroor. Dat hy “nie soos ’n weggooimens behandel is nie”.

Ná ’n lang soektog het hulle ’n geskikte skenker gekry, maar toe die dokters hom weer voor die operasie toets, bevind hulle hom gesond. “By God’s grace,” glimlag Barnabé baie breed. Hy is steeds oorweldig deur die wonder. “It increased my hope. Me … a mere refugee.”

Vlugtelinge verstaan onvoorspelbaarheid. Tydelikheid. Hulpeloosheid. Baie van hulle verloor, ná jare van intense stryd om oorlewing, alle hoop. Nie begenadigde Barnabé nie. Hy wil juis nou, ná sy studies, mense – veral vlugtelinge – bemagtig en bemoedig met hoop.

Barnabé se vriende sê: “Hy het hierdie verrassende joy. Hy staar hom nie met ’n slagoffer-gesindheid blind teen die onoorkomelike nie. Hy laat hom eenvoudig nie van beperkinge onderkry nie. Hy sien nie die muur nie. Hy sien die venster!”

’n Waarde-volle boek oor 7 waardes

DIE WONDER VAN DIE GODDELIKE LIEFDE
Deur Chris van der Merwe
Uitgegee deur Lux Verbi, 2014
Resensie deur Annalise Wiid


Verbeel jou ’n baie mooi blom wat deur ’n sterk wind uitmekaar gewaai is sodat die blare oraloor gestrooi lê. En iemand kom tel die blare een vir een op en bring die wonder weer tot ’n geheel bymekaar. Só het ek Chris van der Merwe se skryf van Die wonder van die Goddelike liefde ervaar.

Die boek handel oor sewe Bybelse waardes wat betekenis aan ons lewe gee: geloof, hoop, geregtigheid, waarheid, blydskap, nederigheid en liefde. Dit is waardes wat deur ’n tydsgees van vervlakking en verval vir baie mense uitmekaar gewaai is. Chris tel hulle een vir een op, herdink en herformuleer elke waarde se sinvolheid vir ons tyd, en bring die afsonderlike elemente só bymekaar dat dit weer ’n kosbare geheel vorm.

Hoewel die skrywer in sy voorwoord noem dat hy opgelei is “as letterkundige, nie as teoloog nie”, is dit duidelik: sy opleiding en ondervinding laat hom diep en krities dink. Elke hoofstuk fokus op ’n ander waarde. Maar niks word in gemaklike klein boksies verpak nie. Niks is simplisties nie. Hy dink en skryf ruim en veelkantig en betrek ook die donker kant. Die fyn en verwikkelde web van die onderskeie waardes se verband met mekaar word voortdurend verreken.

Met goeie hermeneutiek, keurige taal, treffende aanhalings en goeie logika, wys Chris hoe die wonder van die goddelike liefde in elke deug vergestalt word, met die liefde as middelpunt van die Bybelse etiek. Hy verken Christus se rol in die wêreld – ver­al ook in ons land se konteks van onreg, pyn en die groterwordende ryk-arm-kloof. En hy doen dit weldeurdag, nederig, wys, en met ’n duidelike diep verbondenheid aan Christus.

Chris van der Merwe se boek is inderdaad op meer as een manier waarde-vol!

Ockert en Wilhelm gee en ontvang baie meer as ’n nier

Om te gee, lê aan die hart van die evangelie. Ockert Vermeulen (35) het sy een nier geskenk vir Wilhelm Loubser (36). Die twee het hulle – letterlik lewegewende storie – vir Annalise Wiid vertel.


Pas ’n week ná die oorplanting, sterk Ockert aan in ’n strandhuis in Blouberg. Hy is nog effe wan­kelrig en word gou moeg, maar andersins is hy piekfyn. Met Wilhelm, wat nog vir nasorg in die hospitaal is, gaan dit uitstekend.

Waar begin so ’n gee-verhaal? Redes, motivering, verwantskap, uitkoms, emosies? Dit is so ’n komplekse, verwikkelde storie. Is hulle familie? Boesemvriende? Hoekom het Ockert sy nier vir Wilhelm geskenk?

Ockert bestuur ’n druiweplaas op De Doorns wat tafeldruiwe vir die uitvoermark lewer. Wilhelm is ’n finansiële bestuurder by Paarl Coldset. Hulle is aangetroude familie, maar voor die skenking het hulle mekaar net af en toe gesien. Wilhelm is ’n neef van Ockert se vrou, Marna. Sy het as tiener by Wilhelm-hulle in die huis gewoon en is vir hom amper soos ’n suster.

Wilhelm se twee broers moes albei reeds nieroorplantings kry, weens Alport-sindroom. Sy eie gesondheid het verlede jaar vinnig agteruitgaan. Hy moes dringend ’n nuwe nier kry. Hoewel hy op die oorplantingslys was, sou hy weens sy spesifieke bloedgroep, waarskynlik vyf jaar moes wag vir ’n geskikte skenker. Te lank.

Beide Marna en Ockert het dieselfde bloedgroep as Wilhelm. Sy was eerste vir keuringstoetse, maar is afgekeur.

Dis toe dat Ockert instaan. Sommer net so: “Ons is in dieselfde fase van ons lewe – ons kinders is omtrent ewe oud. Ek het my in Wilhelm se posisie ingedink en dadelik geweet ek wil hom help.”

’n Lang proses

Dit was ’n lang proses. ’n Oorplantingskoördineerder verduidelik alles aan jou, vertel Ockert. Hulle maak veral seker dat jy as skenker weet jy het die reg om op enige stadium kop uit te trek as jy wil. Ook dat jy op die ontvanger se mediese fonds geregistreer is. Dan volg ’n intensiewe reeks toetse, waarvan die eerste ’n deurslaggewende weefselaanpasbaarheidstoets is. Daarna: X-strale, sonars, skanderings, bloed-, MIV- en cholesteroltoetse, sowel as nier- en lewerfunksietoetse.

’n Maatskaplike werker stel ’n sielkundige verslag op oor jou emosionele gesondheid en of jou ondersteuningsbasis voldoende is. Sy bevestig dat daar geen dwang of afpersing betrokke is nie. Daarna keur ’n paneel van private mediese praktisyns die oorplanting goed.

Wanneer die skenker nie bloedfamilie van die ontvanger is nie, gaan die hele pakkie dokumente met die privaatpaneel se aanbeveling na die Departement van Gesondheid, wat weer hulle eie paneel mediese spesialiste het. Indien hierdie paneel dit goedkeur, moet die Minister van Gesondheid dit finaal afgeteken.  Dit sloer soms maande. 

“Ironies,” meen Wilhelm later. “Mense se lewe hang van hierdie operasies af.”

Wilhelm en Ockert se toetse het vroeg Mei begin. Dit is begin Julie by die Departement ingedien. Teen middel September het hulle steeds niks van die Departement gehoor nie. Weens Ockert se werksdruk tydens pakseisoen, moes die operasie voor einde September gedoen word. Andersins eers ses maande later. Dit sou Wilhelm se kanse op ’n suksesvolle oorplanting aansienlik verskraal.

Naby die sperdatum stuur Wilhelm se dominee dit as gebedsversoek in sy weeklikse e-pos aan die gemeente (Philadelphia in die Wes-Kaap). Een van hulle lidmate werk vir minister Lindiwe Sisulu. Hy lees toevallig die e-pos in haar kantoor en sê vir haar daarvan. Sy bel onmiddellik die minister van gesondheid. Binne 24 uur was die nodige dokumente onderteken.

’n Wonderwerk

Vier maande later sê Wilhelm: “Ek voel fantasies – dis ’n absolute wonderwerk dat ’n mens so vinnig so anders kan voel!  Drie dae na die operasie was al my bloedtel­lings besig om na normaal terug te keer. Wow!”

Was hulle ooit bang dat Wilhelm se liggaam die nier kon verwerp en alles dalk verniet sou wees? Ockert het vir geen oomblik getwyfel nie. Net die onsekerheid oor die finale toestemming was sleg. Maar op die moeilikste dae, het hy net geweet: “Ons doen die regte ding. Ons veg vir Wilhelm se lewe. En dit,” sê hy, “het my laat moed hou en vasbyt.”

[pullquote class=”left”]Ockert, die skenker, sê: “Ek is ontsaglik verryk daardeur as mens. Net om die kalmte, die bewussyn van God se byna tasbare teenwoordigheid te beleef die dag van die operasie, het alles al oor en oor die moeite werd gemaak. Ek glo die Here het my gebruik om vir Wilhelm sy lewe terug te gee, om vir sy kinders hulle pa terug te gee. Ek is so bevoorreg.”[/pullquote]

Wilhelm was maar deurlopend bekommerd oor allerhande dinge: “Veral oor die mense wat jy potensieel gaan agterlaat.  My pragtige vrou, Phelia, en my twee dierbare seuntjies, Kosie (5) en Pieter (3). Ek kon sien hoe swaar dit ook op my vrou en ouers se hart gedruk het. Maar vriende en familie se ondersteuning, gebed en geloof, en my broers se suksesverhale het my gehelp. Bloot dat daar soveel mense is wat vir jou lief is en vir jou omgee is absoluut ongelooflik. Ek was ook baie bewus dat dit vir Ockert (en sy gesin en familie) sekere risiko’s, ongemak en geweldige opofferings inhou en het gewonder: Wat as hy vorentoe komplikasies beleef as gevolg van sy geskenk aan my?”

Maar Ockert sê daaroor kwel hy hom glad nie. “Ek voel die Here het my gebruik om vir Wilhelm te help. Ek glo met my hele hart dat Hy ons vorentoe sal bewaar. En indien daar probleme kom, sal Hy voorsien.”

Marna onthou dat daar bo die saal se deur ’n plakkaat was met hierdie woorde: “Please don’t take your organs to heaven, we need them here.” Dit is onwettig om betaling te kry of te maak vir orgaanskenking. ’n Mens gee eenvoudig net. Jy ontvang. Daar is niks in ruil nie. Maar veel te wen.

Vir Ockert was die lekkerste van alles die oorweldigende dankbaarheid toe hy hoor sy nier het begin werk die oomblik toe dit in Wilhelm oorgeplant word. Dit was ook lekker om die hospitaalpersoneel en die ander pasiënte se positiewe reaksies te ervaar.

Meer as Superman

Almal in daardie saal hoop op ’n “hero van hulle eie”, maar nie almal is so bevoorreg om hulle skenker te ken nie. Wilhelm se chirurg het Ockert die dag na die operasie kom bedank vir sy bereidheid om te skenk en vir “die mooi groot en gesonde nier”. “En toe gee sy sowaar vir my ’n Superman T-shirt”, lag Ockert. Vir sy twee witkopseuntjies is dit wonderlik om ’n Superman-pappa te hê.

Maar luister jy na Ockert en Wilhelm, hoor jy iets veel wonderliker as die storie van ’n verbeeldingswêreld se superheld. Jy hoor iets van die evangelie self, die evangelie wat lewe gee, wat lewens verander, wat lewe in oorvloed bring.

[pullquote]Wilhelm, die ontvanger, sê: “Ek het iets so enorm ontvang. Nou het ek ’n verantwoordelikheid om weer aan ander te gee; om dit wat ek ontvang het op te pas; om die lewe met durf en moed aan te pak; en om Ockert trots te maak op die lewe wat ek leef. Dink net hoe sleg dit vir Ockert sal wees indien hy op enige stadium sou moes dink: ‘Het ek my nier op hierdie ou gemors?’ ”[/pullquote]

Wilhelm is steeds oorweldig: “Naas jou lewe vir iemand op te offer, is om ’n orgaan te skenk waarskynlik die tweede grootste persent wat jy vir enigiemand kan gee. Dis die mees onselfsugtige gebaar ooit! Hoe sê mens dankie? Dis onmoontlik! Niks kan enigsins die waarde­ring weerspieël wat ek voel nie. Ek salueer vir Ockert. Ek het hope respek gekry vir hom wat soveel opgeoffer het – wetende dat hy niks in ruil kry nie. En dít vir iemand wat nie eens sy beste vriend of broer of iets was nie.  Ek probeer doelbewus nie daaraan dink as ‘om in die skuld te wees nie’. Ek kan die skuld nooit vereffen nie en dit sal my interaksie met Ockert en Marna kunsmatig maak.”

“Kyk,” verweer Ockert, “’n mens doen dit nie om ’n held te wees nie. Jy wil nie hê mense moet agterna ’n ophef van jou maak nie. Dit is iets baie persoonlik. Ek is ontsaglik verryk daardeur as mens. Net om die kalmte, die bewussyn van God se byna tasbare teenwoordigheid te beleef die dag van die operasie, het alles al oor en oor die moeite werd gemaak. Ek glo die Here het my gebruik om vir Wilhelm sy lewe terug te gee, om vir sy kinders hulle pa terug te gee. Ek is so bevoorreg. Boonop kon ek vir my eie twee seuns hierdeur ’n onkoopbare nalatenskap gee. Vir die res van hulle lewe sal hulle kan sê: My Pa was ’n mán, ’n lewegewer.”

Deesdae spot Ockert en Wilhelm dat die twee niere na mekaar verlang en dat hulle weer ’n slag moet saamkuier om hulle smart te verlig.

’n Nuwe uitkyk

Die ervaring het hulle lewensuitkyk en ingesteldheid verander.

Wilhelm was vyf dae in intensief en ’n verdere sewe dae in die hospitaal. “’n Mens het baie tyd om te dink,” sê hy.
“Een ding is seker: Jy besef dat materiële dinge, mag en status niks is nie. Om gesinstyd op te offer vir ambisie om suksesvol te wees, is eenvoudig nie die moeite werd nie.

“Die vreemdste ding van die mensdom is dat die meeste mense bereid is om hulle gesondheid op te offer om geld te maak en dat hulle dan niks daarmee kan maak wanneer hulle nie meer gesond is nie. Noudat ek weer energie het, doen ek baie meer moeite met vriende en familieverhoudings. Ek wil so veel moontlik “herinne­ringe” skep. Vir my gaan die lewe oor jou God, jou familie en jou vriende.

“Ek het iets so enorm ontvang. Nou het ek ’n verantwoordelikheid om weer aan ander te gee; om dit wat ek ontvang het op te pas; om die lewe met durf en moed aan te pak; en om Ockert trots te maak op die lewe wat ek leef. Dink net hoe sleg dit vir Ockert sal wees indien hy op enige stadium sou moes dink: ‘Het ek my nier op hierdie ou gemors?’”   

Albei manne is verstom oor die Here se plan wat al in 1995 begin het, toe Marna by Wilhelm-hulle gaan woon het, en wat strek tot 20 jaar later met Ockert wat vir Wilhelm sy nier skenk.

Hulle bly ook verwonderd oor minister Lindiwe Sisulu se deurslaggewende betrokkenheid. Drie dae na die oorplanting sit Wilhelm se niggie toevallig langs haar op ’n vliegtuig en vertel haar opgewonde dat die oorplanting ’n sukses was. Sy bedank haar vir haar tydige hulp.

Minister Sisulu se antwoord was: “Ek is baie bly ek kon help. Ek het my broer aan nierversaking verloor. Ek kon nie toesien dat nog ’n lewe onnodig in die slag bly nie.”

En as Ockert nou terugkyk, sou hy dit nog steeds gedoen het?

“Ongetwyfeld!” glimlag hy beskeie.

▶ Oorweeg jy orgaanskenking? Gaan na www.odf.org.za of bel Ockert by 084 589 6918.