Le Roux Schoeman

ONTLEDING: Hoe raak die uitdagings van die ‘gig economy’ ’n instelling soos die NG Kerk?

Terwyl die NG Kerk al vir jare dink oor hoe om sinvol te reageer op die afname in lidmaattal, is daar nuwe data wat die kers aan die ander kant brand: ’n vermindering van byna 50 predikante per jaar, of ongeveer een per week, volgens ’n inligtingstuk wat vir die vergadering van die Algemene Sinode wat tans in Benoni plaasvind, voorberei is.

’n Tendens wat blyk uit die verslag (“Veranderende predikanteprofiel en aftree-ouderdom”) is dat dit nie ’n eenvoudige geval van te min dominees vir “die arbeidsmark” is nie, maar dat die arbeidsmark self ingrypend aan ’t verander is.

Die dokument gaan nie so ver om dit op juis dié naam te noem of daaraan toe te skryf nie, maar die scenario herinner aan ’n organisasie wat probeer sin maak van sy plek te midde van die ontwrigting van die sogenaamde “gig economy”.

Laasgenoemde term beskryf die skuif weg van langtermyn, kantoorspesifieke gebondenheid om brood op die tafel te kry na korter termyn werkverhoudings wat dikwels deur middel van digitale hulpmiddels (apps, intydse gebruiksdata) meer buigbaar is. En hoewel elke leser nie juis aan hom/haarself dink as pens-en-pootjies binne die “gig economy” nie, is die gewildheid van toepassings gebore daaruit – van Uber tot AirBnB – al alledaags in Suid-Afrika.

“Full-time employees have become the workers of last choice for many companies and this is even more pronounced in economies with strong labour laws,” skryf Ian Mann in ’n resensie van die boek The Gig Economy: The complete guide to getting better work, taking more time off, and financing the life you want deur Diane Mulcahy.

Lees ook: Kerk krap kop oor leraars wat nie wil aftree

Hy verduidelik die skuif goed deur te onderskei tussen “geleentheidsoekers” en “werksoekers” in ’n skrywe op Fin24.

So hoe lyk die impak wat daardie tendens op die tradisionele bediening en werk van leraars het? Is daar ’n kerklike ekwivalent van die “gig economy”? Is die ou-ou konsep van tentmakers asook termynposte juis dit en is dit dus waar leidrade vir die toekoms lê?

Waaroor die studiestuk wel duidelik praat is “narratiewe rondom jonger predikante en proponente”. Dit is nou dié onder 40 jaar. ’n Peiling onder 117 diesulkes toon dat jong gelegitimeerdes en predikante, beide mans en vroue, aktief besig is om aansoek te doen vir poste (Ook by Kerkbode is Vakatures die mees gewilde afdeling naas die tuisblad – Red). In reaksie op ’n vraag oor hoeveel keer hulle in die afgelope drie jaar aansoek gedoen het, dui ’n groot aantal vyf of meer keer aan. En nie net vir stedelike of voorstedelike poste nie. Sowat 63% van respondente dui aan dat hulle 400 km of verder weg van waar hulle tans gevestig is, aansoek gedoen het in die afgelope drie jaar.

Lees ook: Gemeentes van die toekoms: Waar gaan ons leraars vandaan kom?

Dié jongeres meen – met uitsondering van 3% – dat die NG Kerk nog oor twee dekades met ons gaan wees. Maar hulle het ’n groot “maar” om daarby te voeg. Die NG Kerk sal in ’n “ander vorm” voortbestaan, meen hulle. Én hulle wil daar wees vir dié vooruitsig. “76% van jong predikante dui aan dat hulle die intensie het om vir nog 20 jaar of langer in die bediening te wees.” 

Nelis is weer moderator

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het Sondagaand vir ds Nelis Janse van Rensburg as moderator herkies.

Hy is in ’n finale stemming deur die sinode bo ds Dirkie van der  Spuy verkies. In die voorlaaste stemming was dr André Bartlett die derde kandidaat.

Die oomblik toe Nelis hoor hy is moderator. Foto: Le Roux Schoeman

Janse van Rensburg is predikant van die gemeente Welgemoed in Kaapstad. Hy is in 2015 verkies tot moderator van die Wes-Kaapse Sinode en later die jaar ook as moderator van die Algemene Sinode.

Hy het die afgelope termyn die kerk deur een van sy moeilikste tye in jare gelei. Dit het gekom nadat die Algemene Sinode van 2015 die groen lig vir gay predikante en gay verhoudings gegee het.

’n Storm van protes het in die kerk losgebars wat daarna gelei het tot ’n buitengewone Algemene Sinode waarvan Janse van Rensburg ook die voorsitter was. Dié het die besluite van 2015 omgekeer, maar dit is later nietig verklaar nadat die kerkleiding ’n saak in die Hooggeregshof verloor het.

Op pad na die verhoog na Nelis weer as moderator verkies is. Foto: Le Roux Schoeman

Janse van Rensburg het in sy termyn ook baie gedoen om kerkeenheid in die NG Kerkfamilie te bevorder. Dit het onder meer gelei tot die aanvaarding van ’n tussenorde wat dit moontlik maak vir gemeentes, ringe of sinodes van verskillende kerke van die NG Kerkfamilie, om eenheidstrukture te vorm.

Daarby het Janse van Rensburg hom ook sterk beywer vir versoening, onder meer deur verskeie gesprekke te inisieer. Dit het byvoorbeeld gesprekke ingesluit met die familie van die Cradock 4 wat in die vorige bedeling doodgemaak is.

Janse van Rensburg het na sy verkiesing gesê dis ’n reusevoorreg om voorsitter van die vergadering te wees. “Dit daag jou uit om elke woord te weeg sodat jy nie jou kerk in die steek laat nie,” het hy gesê. 

Hy het gesê die afgelope vier jaar was nie maklik nie. Die kerk se leierskap is tot die uiterste uitgedaag. Daar was egter elke dag mense wat vir hom gesê het hulle bid vir hom.

Die NG Kerk is volgens Janse van Rensburg “oneindig welwillend” teenoor sy leiers. Soms is daar mense wat op sosiale media disrespekvol oor leiers praat, “maar ons wat glo in die Gees praat gelukkig nie so nie”.

Hy het gesê die NG Kerk moet soos in sy geskiedenis ’n lewegewende verskil maak. Hierdie sinode moet besluite neem wat dit moontlik maak. 

Die res van die moderatuur word Maandag verkies.

Dr André Bartlett op pad om Nelis geluk te wens. Foto: Le Roux Schoeman

LEES OOK: KYK: NG Kerk wil ’n ‘lewegewende verskil’ maak

KYK: NG Kerk wil ‘n ‘lewegewende verskil’ maak

Die NG Kerk se sewentiende Algemene Sinode het Sondagaand in Benoni begin met ’n pleidooi dat God sy lewende water deur die NG Kerk sal laat vloei.

Dit sluit aan by die tema van die sinode: “Maak ’n lewegewende verskil.”

Die erediens waarmee die sinode geopen is, het op ’n neerdrukkende noot begin toe afgevaardigdes herinner is aan ’n klomp dinge wat in die samelewing verkeerd loop. Dit wissel van geweld teen vroue en kinders tot by droogte; van korrupsie tot by seelewe wat deur plastiek verstrengel word; van geld wat minder werd word sodat mense nie langer van hulle pensioene kan leef nie, tot by afbrekende konflik.

Hieroor het die sinode hom in gebed en sang tot God gewend met die pleidooi: “Hoor ons bid, o Heer, en gee ons vrede.”

Dr Pieter van Jaarsveld, Vrystaatse moderator, het daarna ’n boodskap gebring aan die hand van Johannes 7. Hy het verduidelik dat die gebeure daar tydens die Jode se huttefees afspeel. 

Dit was ’n fees wat onder meer hulle tog deur die woestyn gedenk het. In die woestyn het die Israeliete in ’n stadium sonder water gesit, maar God het vir hulle water uit ’n rots laat vloei.

Dr Pieter van Jaarsveld, Vrystaatse moderator aan die woord. Hy het gesê in die NG Kerk word daar soms so gefokus op randsake en daaroor gestry, dat mense dink dis al waarmee die kerk hom besig hou. Dit maak lidmate moedeloos.

Dis teen dié agtergrond dat Jesus opstaan en die uitnodiging rig: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ “

Van Jaarsveld het verduidelik hoe dit waar geword het met die uitstoring van die Heilige Gees.

Hy het gesê in die NG Kerk word daar soms so gefokus op randsake en daaroor gestry, dat mense dink dis al waarmee die kerk hom besig hou. Dit maak lidmate moedeloos.

Hy het afgevaardigdes aangemoedig om op Jesus te fokus. Die kerk se boodskap is dat Jesus die Here is. Mense wat dit glo, kan nie dieselfde bly nie, en as hulle dit met ander mense deel, kan hulle ook nie dieselfde bly nie, het Van Jaarsveld gesê.

Hy het sy boodskap afgesluit met die pleidooi dat God die sinode moet help om iets te verstaan van die lewegewende verskil wat God die NG Kerk roep om te gaan maak.

Die sinode het dit in sang beaam met die bede tot God: “Wees die lig wat deur ons skyn.”

Die tema van die sinode: “Maak ’n lewegewende verskil” is sigbaar op die skerm agter van dié afgevaardigdes.

Skuldbelydenis by die Algemene Sinode

Marcel Vosloo van Strand skryf: Mag die Algemene Sinode van 2019 begin met ’n skuldbelydenis. Ons moet bely dat ons toegelaat het dat ons die gebod “Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie” oortree het. Ons het toegelaat dat daar in die kerk – op grond van selektiewe en eensydige wetenskaplike gegewens – gesê is dat dieselfdegeslag oriëntasie (SGO) ’n gawe van God is.

Die grootste studie ooit oor die biologiese oorsprong van SGO is sopas gedoen onder 492,678 persone. Ek haal hul graag aan:

“We established that the underlying genetic architecture is highly complex; there is certainly no single genetic determinant (sometimes referred to as the “gay gene” in the media). Rather, many loci with individually small effects, spread across the whole genome and partly overlapping in females and males, additively contribute to individual differences in predisposition to samesex sexual behavior. All measured common variants together explain only part of the genetic heritability at the population level and do not allow meaningful prediction of an individual’s sexual preference.” “… several of our results point to the importance of sociocultural context as well.“

Wetenskaplikes is dit verder eens dat die lakmoestoets vir of SGO ’n biologiese oorsprong het, sal wees wanneer 100% van gevalle by identiese tweelinge beide dieselfde seksuele oriëntasie het. Die waarheid is dat dit geensins die geval is nie.

Verder moet die kerk bely dat die “sociocultural context”, die “nurture-“gedeelte, die navorsing van die sosiale wetenskappe – totaal geïgnoreer word wanneer daar gesê word SGO is ’n gawe van God.

Insiggewende inligiting kom na vore met die navorsing van O’Keefe et al (2014) en Beard et al (2013). Die inligting is verkry van 1,178 studente, oud-studente, dosente en personeel by twee universiteite in Wes-Virginië. Die studie het gefokus op bloedskande onder broers en susters asook seksuele misbruik deur volwassenes.

Hul het die volgende bevind: “The powerful effect of same-sex sibling incest as a predictor of adult same-sex orientation and of course same-sex CSA (Child sexual abuse) by adult males in our participants reported by Beard et al. and same-sex orientations in victims of sister-sister incest provide critical period learning, sexual imprinting, and conditioning explanations for three phenomena used in the past to support claims that there is a genetic basis or other biological basis for same-sex orientations: concordance of sexual orientations between twins, an increase in same-sex orientations among men with older brothers, and earlier puberty in gay men than in heterosexual men. Concordance of sexual orientations among identical twins is easily explained by the high likelihood of incest between the twins and the effect of same-sex incest on adult orientation. The higher incidence of same-sex orientations in men with older brothers is also easily explained by incest between the two brothers having a more profound effect on the younger brother because of critical period learning.”

Navorsing toon dat seuns wie seksueel gemolesteer is, 4 tot 7 keer meer SGO openbaar – 65% van die slagoffers meld dat dit ’n uitwerking gehad het op hul seksuele identiteit (Bolton, Morris en MacEachron). Sheir en Johnson (1988) se navorsing het hulle by ’n syfer van 58% uitgebring. Wetenskaplikes wie geen ruimte laat vir sosiale/omgewingsinvloede op die ontstaan van SGO, beweer dat die homoseksuele persoon hierdie persone onwillekeurig aantrek. Tog het T Sweet en L S Welles (2012) bevind dat persone met SGO rapporteer dat hulle deur persone van dieselfde geslag seksueel misbruik is deur “…an adult or any other person younger than 18 years when the individual did not want the sexual experience or was too young to know what was happening.”

’n Saak wat voorkom by ’n groot persentasie homoseksuele mans, is die gebrek wat hulle het aan ’n vervullende verhouding met hul vaders. Gerard van den Aardweg (1985) sê dat by 71% van homoseksuele mans “The most important factor was the father’s detachedness or nonparticipation in the son’s upbringing. The fathers of 38 percent of the men were so hypercritical that the sons were made to feel either rejected and/or inferior.” Dis insiggewend dat in ’n 2010 studie onder 7,643 vroue tussen die ouderdomme van 14 en 44, daar bevind is dat vroue wie sonder hul biologiese vaders grootgeword het, drie keer meer lesbiese verhoudinge in die vorige jaar aangeknoop het, as diegene wie by hul biologiese vaders grootgeword het.

  1. Frisch en A. Hviid (2006)het in ’n studie onder 2 miljoen Dene gevind dat SGV baie meer voorkom by mans wie se ouers geskei het en waar die vader afwesig was. By vroue het die dood van hul moeders in die adolessente jare baie hoër SGV tot gevolg gehad.

Ek weet dis riskant om van jou eie waarneming te praat. Dis reg dat ons na verantwoordelike wetenskaplike studies sal gaan kyk. Maar by geleentheid het ek besoek gaan aflê by ’n moeder wat haar volwasse homoseksuele seun aan die dood moes afstaan. So deur haar hartseer vertel sy vir my: “Hy was so ou pragtige seuntjie, selfs mooier as sy sussie. Ek het kleintyd altyd sy ou gesiggie opgemaak en vir hom rokkies aangetrek…”

Ek pleit vir eerlikheid voor die Here. Ek is oortuig dat ’n groot deel van die swak hantering van hierdie sensitiewe saak, spruit direk voort daaruit dat ons nie in opregtheid voor die Here hierdie saak benader nie.

Ek pleit vir nederigheid en erkentlikheid, vir ware liefde vir God en almal betrokke by hierdie saak: “Laat ons met erkentlikheid na die Here gaan met berou oor die hantering van hierdie saak. Kom ons HERBESOEK hierdie saak. Dit gaan om God se eer.”

———————————


In die lig van wye belangstelling in die vergadering van die Algmene Sinode (6-11 Oktober) pas ons Kerkbode se gebruiklike woordperk op lesersbydraes tydelik aan om lesers selfs meer plek te gee om aan die gesprek deel te neem. Stuur bydraes wat die 3 000 karakterperk van ons BRIEWEBLAD oorskry, per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za indien – Red.

Ope brief nooi breër burgerlike stem in by gesprek voor sinode

’n Rits ope briewe is die naweek uitgestuur in aanloop tot die sitting van die Algemene Sinode wat op Sondag 6 Oktober in Benoni begin en tot Vrydag sal duur.

Een so skrywe (met ’n lys van ondertekenaars en hul ampsbeskrywings wat meer as 800 woorde beslaan) is deur dr Frits Gaum aan die media versprei. Die oud-kerkleier sal nie self die saamtrek bywoon nie, maar skryf tesame met bekendes soos die politikus Helen Zille en ander uit die burgerlike samelewing: “Ons is gelowige mense en rig hierdie Ope Brief in ons persoonlike hoedanigheid aan u omdat ons glo dat u tydens die Algemene Sinode van 2019 besluite gaan neem wat vir die  kerk van Jesus Christus in Suid-Afrika en Afrika van besondere belang kan wees.”

Die brief maak vyf punte oor die tema van selfdegeslagverbintenisse, wat wel in die week bespreek sal word, volgens die agenda.

“Die Bybel praat nêrens oor seksuele oriëntasie as sodanig nie. ‘Homoseksualiteit’ is nie ’n Bybelse term nie, maar dateer uit die 19de eeu. Dit is ons oortuiging dat, soos ’n heteroseksuele oriëntasie in sy verskillende vorme nie sonde is nie, so is ’n homoseksuele oriëntasie in sy verskillende vorme nie sonde nie. En soos ’n morele heteroseksuele leefwyse nie sonde is nie, so is ’n morele homoseksuele leefwyse nie sonde nie,” lui ’n uittreksel uit die brief.

In nog ’n wydlopende bydra deur dr Danie Nel van NG Kerk Wynberg word gekyk na die aantal beswaarskrifte wat by die sinode “hanteer” moet word. “Behoort ’n kerklike vergadering voorskriftelike bepalings betreffende seksuele etiek te formuleer om daardeur beheer oor mense se keuses en lewens uit te oefen?” vra die skrywer.

In ’n derde lesersbydra wat Kerkbode sedert die begin van die naweek ontvang het, skryf twee “ampsdraers wat gay is”: “Daar is baie gelowiges wat wel wonde dra, en wat goeie rede het om verward te wees oor God se uitnodiging. Ons is besig om te leer dat die kerk vir sommige ’n vyand is, wat hulle sukkel om lief te hê. Aan God se tafel, word ons ook herinner dat elkeen van ons skuld moet bly bely. Hier kan ons eerlik wees oor ons eie swakheid en die skeiding wat ons skep, want die ‘swakheid van sommiges’ leef in ons elkeen.

Nog ’n briefskrywer, Marcel Vosloo, meen weer daar is “toegelaat dat daar in die kerk – op grond van selektiewe en eensydige wetenskaplike gegewens – gesê is dat dieselfdegeslag oriëntasie (SGO) ’n gawe van God is.” Lees sy volledige brief hier.

  • Kerkbode sal regstreeks verslag doen oor die sinode-sitting. 

In die lig van wye belangstelling in die vergadering van die Algmene Sinode (6-11 Oktober) pas ons Kerkbode se gebruiklike woordperk op lesersbydraes tydelik aan om lesers selfs meer plek te gee om aan die gesprek deel te neem. Stuur bydraes wat die 3 000 karakterperk van ons BRIEWEBLAD oorskry, per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za indien – Red.

Ope brief aan die Algemene Sinode van die NG Kerk

Liewe Susters en Broers

Die meeste van die ondergetekendes is lidmate van die NG Kerk, maar nie almal nie. Ons het egter almal verbintenisse met die NG Kerk – of deur familie, of deur vriende, of deur die geskiedenis. Ons is gelowige mense en rig hierdie Ope Brief in ons persoonlike hoedanigheid aan u omdat ons glo dat u tydens die Algemene Sinode van 2019 besluite gaan neem wat vir die  kerk van Jesus Christus in Suid-Afrika en Afrika van besondere belang kan wees. Ons vra beleefd u aandag vir die volgende.

  1. Verskeie algemene sinodes het sedert 2004 deur hulle beraadslaging en besluite “tekens van hoop” oor die kwessie van homoseksualiteit opgerig. Die 2015-sinode het in hierdie verband vir ’n groot deurbraak gesorg deur ruimte te gee vir selfdegeslagverbintenisse, maar dit is ongelukkig deur die 2016-buitengewone sinode ongedaan gemaak. 2016 se besluite is daarna om prosedurele en substantiewe redes deur die Hooggeregshof ter syde gestel nadat lidmate van die NG Kerk hulle tot die hof gewend het omdat dit die enigste manier was om regsekerheid te kry.
  2. Die 2004-sinode het reeds om verskoning gevra aan gay mense en hulle families wat  in die verlede deur die kerk se optrede diep seergemaak is. Daaropvolgende sinodes het dié verskoning herhaal, maar die besluite van die 2016-sinode het opnuut ou wonde oopgekrap.
  3. Die Bybel praat nêrens oor seksuele oriëntasie as sodanig nie. “Homoseksualiteit” is nie ‘n Bybelse term nie, maar dateer uit die 19de eeu. Dit is ons oortuiging dat, soos ‘n heteroseksuele oriëntasie in sy verskillende vorme nie sonde is nie, so is ‘n homoseksuele oriëntasie in sy verskillende vorme nie sonde nie. En soos ‘n morele heteroseksuele leefwyse nie sonde is nie, so is ‘n morele homoseksuele leefwyse nie sonde nie.
  4. Ons aanbid ’n God van liefde en van geregtigheid. Waar daar haat en onreg is – tussen en teenoor rasse, geslagte, nasies, heteroseksuele en homoseksuele mense – is God bedroef. Alle mense is na God se beeld gemaak en ‘n kerk, veral ‘n kerk, moet elke vorm van onreg afwys. Die NG Kerk het dit, na baie worsteling, ondubbelsinnig oor apartheid gedoen. Die kerk word nou geroep om dit in woord én daad en sonder voorbehoude ten opsigte van LGBTQIA+-mense (lesbies, gay, biseksuele, transgender, queer, interseks, a-seksuele) te doen. En waar die kerk in die verlede in hierdie verband gefouteer het, moet doelgerigte pogings aangewend word om deur herstellende geregtigheid reg te maak wat verkeerd is. Dit beteken onder meer dat LGBTQIA+-gelowiges sonder enige diskriminasie  in al die voorregte van kerklidmaatskap moet kan deel, en dat ‘n gestruktureerde proses van begrip en versoening tussen heteroseksuele en homoseksuele mense in die kerk aan die gang gesit word. So kan kerkmense leer verstaan dat die bydrae van LGBTQIA+-lidmate dringend nodig is in die kerk se uitvoering van haar rol en roeping as die reformerende kerk van die Here.
  5. Laastens vra ons u om nie deur besluite wat nou geneem word, die hoopgewende inhoud van die 2015-besluite ongedaan te maak nie. Die 2015-besluite was op stuk van sake ‘n verset teen onbillike diskriminasie teen LGBTQIA+-mense. Die uitspraak van die Hooggeregshof wys onbillike diskriminasie ook onomwonde af. Dit is egter nie net in stryd met die Grondwet van Suid-Afrika nie, maar in elke opsig ook teenstrydig met die Christelike boodskap van naasteliefde soos uitgedruk in die Groot Gebod. Dit skreeu ten hemele!

Baie dankie vir u aandag.

Dr Kobus Anthonissen, afgetrede predikant, Bellville
Ds Nick Bezuidenhout, afgetrede predikant, Jeffreysbaai
Me Rubaix Bezuidenhout, afgetrede spraakterapeut, Jeffreysbaai
Me Elise Bishop, afgetree, Strand
Me Annemie Bosch, aktivis, Pretoria
Mnr Bouwer Bosch, sanger, akteur en entrepreneur, Randburg
Prof Hendrik Bosman, afgetrede dosent, Fakulteit Teologie, Stellenbosch
Me Adele Botha, onderwyser, Somerset-Wes
Me Anine Botha, ondersteuner, Bloemfontein
Prof Johan Buitendag, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Me Mary Burton, oud-kommissaris, Waarheids-en-Versoeningskommissie, Rondebosch
Mnr Frederik Calitz, ingeneur, Milnerton
Dr Andries Cilliers, predikant, Drieankerbaai, Kaapstad
Prof Juliana Claassens, dosent, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Ds Julian Coetzee, predikant VGKSA, Ocean View
Dr Murray Coetzee, afgetrede predikant, argivaris Beyers Naudé-sentrum, Stellenbosch
Mnr Jan Coetzer, MDiv, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Ds Johan Conradie, predikant, Sonstraal, Durbanville
Mnr Terry Crawford-Browne, afgetrede bankier en wapenskandaal-aktivis, Milnerton
Me Lavinia Crawford-Browne, bemarker: Desmond Tutu-HIV Foundation, Milnerton
Prof John de Gruchy, afgetrede teoloog, Hermanus
Mnr Stefan de Klerk, MDiv, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Dr Gerda de Villiers, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Prop Magriet de Villiers, akademiese ontwikkelingskoordineerder, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Ds Riaan de Villiers, Predikant, Groote Kerk, Kaapstad
Dr Elma de Vries, konsultant, Michell’s Plain-hospitaal, Kaapstad
Prof Yolanda Dreyer, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Prof Stan du Plessis, uitvoerende bedryfshoof, US, Stellenbosch
Me Hilandi du Toit, sanger, Constantia
Prof Dion Forster, dosent en direkteur Beyers Naudé-sentrum, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Dr Leon Fouché, afgetrede predikant, Jeffreysbaai
Me Sara Fouché, afgetrede onderwyseres, Jeffreysbaai
Mnr Danny Fourie, uitgewer, Wellington
Me Aneleh Fourie le Roux, MIV-fasiliteerder en aktivis, Somerset-Wes
Dr Frits Gaum, afgetrede predikant, Durbanville
Me Henda Gaum, tuisteskepper en aktivis, Durbanville
Prop Laurie Gaum, fasiliteerder, Muizenberg
Prof Alphonso Groenewald, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, Pretoria
Me Hanli Groenewald, MDiv, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Dr Pierre Grigor, teoloog, Swakopmunt
Prof Len Hansen, dosent, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Mnr Gielie Hoffmann, konsultant, Pretoria
Me Annalet Hofmeyr, afgetree, Gordonsbaai
Me Olga Human, kunstenaar, Somerset-Wes
Mnr Neels Jackson, joernalis, Pretoria
Me Louise Jackson, fisioterapeut, Pretoria
Dr Hanré Janse van Rensburg, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Dr Chris Jones, Eenheid Morele Leierskap, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Me Rhoda Kadalie, afgetrede akademikus, rubriekskrywer, Menseregtekommissaris, California, VSA
Mnr Siya Khumalo, skrywer, Durban
Prop Judith Kotzé, konsultant, Kaapstad
Ds Willie Kotzé, predikant, Gansbaai
Dr Fiona Kritzinger, pediatriese spesialis, Constantia
Mnr Wilhelm M Kruger, ondersteuner, Stellenbosch
Prof Christina Landman, teoloog, Unisa, Pretoria
Me Janette Larney, dosent, Potchefstroom
Ds Martin Laubscher, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UV, Bloemfontein
Dr Lisa le Roux, navorser EGON, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Mnr Charl-Johan Lingenfelder, musiekregisseur en draaiboekskrywer, Vredehoek
Mnr Deon Lotz, akteur, De Tijger
Dr Gys Loubser, videograaf, Seepunt
Dr Lionel Louw, afgetrede predikant, medeprofessor en departementshoof: Ontwikkeling, UK, Kaapstad
Dr Fanie Marais, predikant, Goodwood
Dr Nadia Marais, dosent, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Prof Johan Maree, afgetrede dosent: Sosiologie, UK, Bloubergstrand
Dr Arno Meiring, predikant, Universiteitsoord, Pretoria
Dr Jacob Meiring, narratiewe teoloog, Tamboerskloof
Prof Piet Meiring, afgetrede dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Dr Juanita Meyer, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UV, Bloemfontein
Prof Sias Meyer, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Ds Tilana Meyer-Morkel, predikant, Paarl-Vallei, Paarl
Dr Marthie Momberg, navorsingsgenoot, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Prof Julian Muller,  afgetrede dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Dr Peter Nagel, dosent, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Me Celeste Naudé, pensioenaris, Pretoria
Ds Schalk Naudé, afgetrede predikant, Pretoria
Dr Willem Nicol, afgetrede predikant en teoloog, Pretoria
Ds Pieter Oberholzer, afgetree, Vishoek
Me Di Oliver, afgetrede maatskaplike werker en anti-apartheidstryder, Muizenberg
Me Emma Pienaar, tuisteskepper en aktivis, Grootbrakrivier
Mnr Hennie Pienaar sr, afgetrede sakeman en boer, Grootbrakrivier
Prop Hennie Pienaar, sakeman, George
Prof Hennie Pieterse, afgetrede dosent: Praktiese Teologie, Unisa, Pretoria
Dr Mary-Anne Potts, afgetrede mediese dokter, Kommetjie
Prof Jeremy Punt, dosent, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Dr Eben Scheffler, afgetrede dosent, Unisa, Pretoria
Mnr Hein Smit, ondersteuner, Table View
Mnr Dana Snyman, skrywer en joernalis, Jacobsbaai
Dr Deon Snyman, direkteur: Restitution Foundation, Kaapstad
Prof Fanie Snyman, emeritus-dekaan, navorsingsgenoot, Fakulteit Teologie en Religie, UV, Bloemfontein
Mnr Marco Spaumer, akteur, Kaapstad
Dr Robert Steiner, predikant, Verenigende Presbiteriaanse Kerk, Rondebosch
Mnr Ashwin Thyssen, MDiv, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Eerw Mpho Tutu Van Furth, Episkopaalse priester, Amstelveen, Nederland
Prof Andries van Aarde, afgetrede dosent, Fakulteit Teologie, UP, Pretoria
Mnr André-Carl van der Merwe, skrywer, kunstenaar en besigheidsman, Seepunt
Ds Carusta van der Merwe, teoloog, UP, Pretoria
Me Dania van der Walt, tuisteskepper en aktivis, Gouritsmond
Dr Albertus van der Westhuizen, pensioenaris, Botrivier
Prof Ernest van Eck, adjunk-dekaan, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Prof LJ van Niekerk, ondersteuner, Centurion
Mnr Daan van Rooyen, ondersteuner, Potchefstroom
Me Lyn van Rooyen, konsultant, Randburg
Dr Tanya van Wyk, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Me Marieke Vermaak, ondersteuner, George
Me Lulani Vermeulen, boer, Philippolis
Prof Cas Vos, afgetrede dekaan, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Prof Robert Vosloo, dosent, Fakulteit Teologie, US, Stellenbosch
Prof Cas Wepener, dosent, Fakulteit Teologie en Religie, UP, Pretoria
Me Bettina Wyngaard, skrywer, Grabouw
Dr Spiwo Xapile, predikant, Verenigende Presbiteriaanse Kerk, Vredehoek
Me Helen Zille, oud-premier van die Wes-Kaap, Bloubergstrand

Was kerk al ooit só beswaard?

Daar wag 111 beswaarskrifte (gravamina) betreffende die besluite oor selfdegeslagverhoudinge wat die Algemene Sinode van 2019 moet hanteer. Was die hoogste liggaam van ons kerk al ooit so belas met besware soos tans? Is daar hoop dat hierdie las ligter gaan word?

Volgens ’n amptelike skrywe (gepubliseer in Kerkbode se webwerf op 13 September 2019) het die Algemene Sinode Moderamen (ASM) besluit om ’n taakspan aan te wys om alle beswaarskrifte wat aan die Algemene Sinode sedert die besluit  van 2015 gerig is, te orden en vir die af­gevaardigdes meer hanteerbaar te maak. Uit die 111 dokumente wat die taakspan as ontvanklik beskou het, is 58 ingedeel as besware op grond van kerkregtelike prosedures en 82 as besware op grond van leerstellige gronde. Die beredenerings handel onder andere oor Skrifgesag, eksegese, hermeneutiek, etiek, dogmatiek, ons belydenisskrifte, die ekume­ne, antropologie, die biologiese wetenskappe en uiteraard ook kerkregtelike besware. Daar is ook 2 dokumente wat ten gunste van die 2015-besluit betoog.

Naas bogenoemde beswaarskrifte het die groep van 12 lidmate wat hulle tot die Hooggeregshof gewend het oor die Algemene Sinode se 2016-besluit, ook ’n voorlegging op 15 Julie 2019 aan verteenwoordigers van die moderatuur van die Algemene Sinode voorgelê. Dit bevat vyf punte waarvan die laaste volgens Kerkbode van 23 Julie 2019 lui dat die Algemene Sinode in Oktober “ernstige oorweging” sal moet gee aan die wyse waarop LGBTQI+-persone betrek kan word om die kerklike strukture te hervorm sodat daar nie langer oor hulle gepraat sal word nie, maar mét hulle.

Hoe lank nog gaan hierdie sterk meningsverskille oor selfdegeslagverhoudinge sy lang skaduwee oor die NG Kerk se Algemene Sinode gooi? Moet ons dit as deel van ‘n noodsaaklike groeiproses beskou of behoort ons dalk dieper vrae te begin vra, soos byvoorbeeld:

  • Wanneer sou ons kan sê dat ’n besluit van ’n sinode “goed” is: wanneer dit aan sekere normatiewe voorskrifte (Bybelse tekste, kerklike belydenis, etiek, biologiese wetenskappe of menseregte) sou voldoen of behoort ons ook na die vrugte daarvan in die kerklike praktyk te kyk?
  • Het woordvoerders aan beide kante van die spektrum nie dalk een of ander fundamentele leemte misgekyk in hul ywer om die NG Kerk te probeer oortuig om volgens hul insigte te handel met mense wat nie ‘n heteroseksuele oriëntasie het nie?

Volgens sekere denkskole in die filosofie van die geesteswetenskappe kan ’n teorie in dissiplines soos sosiologie, psigologie, politieke wetenskappe en die regswetenskappe nie as geldig bewys word wanneer dit slegs aan sekere normatiewe voorskrifte sou voldoen nie. Daar moet ook volgens wetenkapsfilosowe soos Charles Taylor en JB Thompson gekyk word na die aard van die praktyk wat ’n bepaalde teorie deur die selfverstaan van die sosiale akteurs tot stand sou bring.

Hierdie toets klop met wat Paulus aan die Galasiërs skryf wat duidelik te behep met sekere wettiese godsdienstige reëls begin raak het. Hy wat ’n Fariseër en ’n wetgeleerde was, kon nie begryp hoe hulle die identiteit van hul geloof – hul dinamiese verhouding met die lewende Christus – so kon versaak nie. Daarom skryf hy soos volg in hoofstuk 4 vers 9: “Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?” (4:9). Daarna gaan hy voort en wys hulle op die aard van die praktyk wat hulle reëlbehepte godsdiens tot stand bring: “Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie” (5:15). Dan kom hy met die beroemde uitspraak dat die vrugte sal aandui of die sort grond waarin die saad geval het, goed is: “Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge… Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”

Lees ook: Ons bly vertrou dat God álmal by die tafel wil hê

Wanneer ’n besluit van die Algemene Sinode tot ’n praktyk aanleiding gee wat gekenmerk word deur onder andere rusies, verdeeldheid en selfs skeuring – selfs al sou die voorstanders daarvan hulle kan beroep op wat hulle beskou as ’n beter interpretasie van ‘n Bybelse teks – behoort ons dieper vrae te begin vra soos byvoorbeeld: “Op watter soort grond is die sinode hier besig om te saai – die akker van ou verbond waar die interpretasie van tekste en haarklowery oor wettiese reëls weer die pas begin aangee soos by die Galasiërs, of op die akker van die nuwe verbond waarin die dinamiese verhouding met Christus deur sy Gees die bepalende faktor moet wees? Was beide die 2015-besluit en die 2016-besluit dalk onbewustelike en selfs goedbedoelde pogings om beheer oor mense se lewens en keuses uit te oefen, terwyl dit eintlik behoort te gaan oor die greep van die Heilige Gees in hul lewens?

Deur die geskiedenis heen het die kerk dikwels voor die versoeking geswig om deur haar bepalings mag oor mense se lewens te probeer kry. “Die kerk het sonde uitgevind om mense te manipuleer”, verwyt die predikant se vrou hom in die treffende Sweedse film “As it is in heaven”. “Iets bly sonde totdat ‘n kommissie van die kerk besluit het dit is nie meer sonde nie”, het ek ’n student hoor sê wat met ‘n Rhodes beurs aan die Universiteit van Oxford studeer het. Opmerkings soos hierdie behoort die kerk tot diepe selfondersoek en selfs verootmoediging te stem.

Behoort ’n kerklike vergadering voorskriftelike bepalings betreffende seksuele etiek te formuleer om daardeur beheer oor mense se keuses en lewens uit te oefen? Volgens die beroemde Switserse teoloog Karl Barth moet die kerk daarteen waak om op so ’n wyse voor te skryf wat lidmate in spesifieke situasies moet doen of sê dat die kerk as’t ware in die plek van God kom staan wanneer hulle morele keuses maak. Barth noem dit eiewaan (Barth C.D. II/2: hoofstuk 8). Volgens my beskeie mening bied sy etiek van persoonlike gehoorsaamheid ’n geloofwaardige alternatief vir ’n voorskriftelike etiese benadering wat kenmerkend van die ou verbond is. Volgens hom kan die somtotaal van alles wat die Here van ons verwag, in drie woorde opgesom word, naamlik: “Bly in My.” Vanuit hierdie verhouding met die lewende Here weet ons nie alles oor die lewe en ons roeping nie, ons ontdek eerder voortdurend wat sy wil alles inhou in ons gesprek met Hom en met ons geloofsvaders en geloofsmoeders uit die verlede (soos verwoord in die Woord, belydenisskrifte, teologiese werke en godsdienstige of geestelike literatuur) en ons broers en susters in die hede. In die plek van statiese en dikwels onbuigsame reëls kom ’n aktiewe worsteling van gebed, luister en onderskeiding om te ontdek wat die Here van ons in ’n bepaalde situasie verwag. Die doel is deurgaans om gehoorsaam aan die lewende Here wees. Volgens Barth beteken “goed” in die morele sin “om gehoorsaam aan God te wees” (Barth C.D. III/4: afdeling 55).

Barth beklemtoon in hierdie verband dat ons nie vir ’n ander mag voorskryf wat die lewende Here in sy Woord vir hom of haar bepaal nie. Ons kan ook nie bo alle twyfel oordeel of ’n bepaalde daad of keuse sonde was of nie. Dit is iets wat slegs God kan doen. Slegs Hy kan bepaal of iemand in ’n bepaalde keuse of optrede in die praktyk aan Hom gehoorsaam was of nie.

Die volgende formulering uit die 2015-besluit van die Algemene Sinode klop volgens my besonder goed met sowel Barth se insigte as die teologiese raamwerk van die nuwe verbond: “Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.” Dit kommunikeer onder andere dat dit hier spesifiek gaan oor medegelowiges wat in verhouding met Christus en sy Gees hul keuses uitoefen. Myns insiens moes die Algemene Sinode slegs met hierdie een formulering volstaan het.

Wanneer sou daar ’n einde aan die beswaarskrifte of gravamina kom? Dalk wanneer die Algemene Sinode van die NG Kerk sou ophou om by wyse van voorskriftelike besluite beheer oor mense se keuses en lewens te probeer uitoefen, en weer haar ware identiteit as gemeenskap van die nuwe verbond sou herontdek, naamlik dat ons ‘n familie is wat in verhouding met die lewende Here en in die greep van sy Gees sy wil vir elkeen probeer onderskei. Ons lidmate leef in die eerste plek in verhouding met Hom, en nie in verhouding met ons interpretasie van die tekste, wette of reëls nie. Ons mag nooit in die plek van God kom staan met ons interpretasies nie.

Dr Danie Nel
NG Kerk Wynberg

In die lig van wye belangstelling in die vergadering van die Algmene Sinode (6-11 Oktober) pas ons Kerkbode se gebruiklike woordperk op lesersbydraes tydelik aan om lesers selfs meer plek te gee om aan die gesprek deel te neem. Stuur bydraes wat die 3 000 karakterperk van ons BRIEWEBLAD oorskry, per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za indien – Red.

‘Ons bly vertrou dat God álmal by die tafel wil hê’

Beste Afgevaardigde,

Debatte en gesprekvoering oor homoseksualiteit en selfdegeslagverhoudings is teen hierdie tyd minstens verlammend – vir álmal. As ampsdraers wat gay is, wil ons ons getuienis deel.

Ons word herinner aan God se uitnodiging na die nagmaaltafel. As lidmate van die kerk, weet ons dat dit God self is wat ons uitnooi na die nagmaaltafel. Ons is oortuig dat ons mekaar kan ontmoet by ’n nagmaaltafel – nie te danke aan gravamina en beswaarskrifte, of selfs hofsake en ope briewe nie, maar in gehoorsaamheid aan God se uitnodiging.

As ampsdraers, weet ons dat wanneer ons die nagmaal bedien, dit ons taak is om seker te maak dat niemand met die brood of wyn oorgeslaan word nie. Tog is ons as gay persone nie aan tafel saam met julle by die sinodesitting nie, en kan ons nie saam brood breek nie. Baie van ons ander broers en susters het ook nie ’n uitnodiging ontvang nie. Iemand sal vir hulle moet intree.

Dit is sommige se oortuiging dat gay mense niks het om te bied nie. Daarom gaan daar óór en námens ons gepraat en besluit word by vanjaar se Algemene Sinode. God se tafel word egter juis voorberei vir die wat oënskynlik niks het om te bied nie.

Ons aanstellings, as ampsdraers, het ons verras oor wat gebeur wanneer die kerk waag. Dit het uitgekring in ’n reeks eerlike gesprekke. Ons het al baie hieruit begin leer. Ons het ontdek hoe kosbaar mense se geloofsreis saam is. Ons het ontdek hoe empaties en vreesloos ons mense se drome en vrese moet ontvang. Ons is ook besig om taal te probeer vind om met mekaar oor ons verskille te  praat. Hierdie soeke laat ons geloofsgemeenkappe dikwels weerloos.

Ons leer ook dat dit juis gesprekke oor moeilike onderwerpe is wat vir ons die geleentheid skep om mekaar te vind. In die luister-ruimtes leer ons mekaar ken en waardeer. En die geskenk van God se nagmaaltafel is juis dit – dat ons ná mekaar toe draai, eerder as weg van mekaar. Dit is hier waar ons onsself minder ernstig kan opvat en ons voorkeure en vrese ligter kan leer vashou. By God se tafel skep ons taal wat genees en nie verder verwond nie.

Daar is baie gelowiges wat wel wonde dra, en wat goeie rede het om verward te wees oor God se uitnodiging. Ons is besig om te leer dat die kerk vir sommige ’n vyand is, wat hulle sukkel om lief te hê. Aan God se tafel, word ons ook herinner dat elkeen van ons skuld moet bly bely. Hier kan ons eerlik wees oor ons eie swakheid en die skeiding wat ons skep, want die ‘swakheid van sommiges’ leef in ons elkeen.

Die nagmaalstafel help ons ook om te weet dat wanneer ons – juis as gay persone – die brood breek en die wyn uitdeel, ons ruimte kán en wíl maak. Dis nie óns uitnodiging nie. Dit is nie óns tafel nie. Dit is nie óns kerk nie.

Hiermee wil ons ons broers en susters wat regtig worstel met God se Woord oor homoseksualiteit uitnooi. Ons bly vertrou dat God álmal by die tafel wil hê. Ons het die waarde van in gesprek bly só tasbaar beleef in ons gemeentes vanjaar. Ons het die waarde van vertroue stel in mekaar as ’n sigbare teken van ’n onsigbare werklikheid beleef.

Mag vrees plek maak vir liefde. Mag standpunte plek maak vir saam op pad wees. Mag aannames plek maak vir genade. Mag niemand by die sinodesitting met die brood of die wyn oorgeslaan word nie.

Ds Louis van der Riet (Kraaifontein-Parke)
Ds Philipp Dietmann (Stellenberg)

In die lig van wye belangstelling in die vergadering van die Algmene Sinode (6-11 Oktober) pas ons Kerkbode se gebruiklike woordperk op lesersbydraes tydelik aan om lesers selfs meer plek te gee om aan die gesprek deel te neem. Stuur bydraes wat die 3 000 karakterperk van ons BRIEWEBLAD oorskry, per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za indien – Red.

Is die Bybel ’n gevaarlike boek?

Prof Thomas Römer is ’n Duitse Ou Testamentikus wat verbonde is aan die Universiteit van Lausanne in Switserland, en rektor is van die Collége de France, ’n prestigeryke navorsingsentrum in Parys. Hy is ook ’n gasdosent by die Universiteit van Pretoria waar hy onlangs op uitnodiging van die rektor ’n openbare lesing gelewer het oor die vraag of die Bybel ’n gevaarlike boek is. Neels Jackson doen verslag.

Die Bybel is nie bo tyd verhewe nie. ’n Mens moet die omstandighede waarbinne dit ontstaan het, sowel as die omstandighede waarin ons leef in ag neem by die lees daarvan. Doen jy dit nie, word die Bybel gevaarlik, het Römer gesê.

Hy het verskeie voorbeelde genoem van hoe die Bybel in die verlede op skadelike wyse gebruik is. So is die verhaal van Adam en Eva en die verbode vrug gebruik om manlike baasskap oor vroue te regverdig. Die vloek oor Gam se nageslag in die Noagverhaal is gebruik om slawerny te regverdig. En die skeiding tussen God se uitverkore volk en ander volke in Deuteronomium is gebruik om apartheid te regverdig.

Volgens Römer is die beste manier om moeilike tekste in die Ou Testament te hanteer, nie om dit te ignoreer of om die Nuwe Testament te gebruik om dit te troef nie. Die God van die Nuwe Testament is dieselfde God as die God van die Ou Testament.

’n Mens moet die moeilike teskte ernstig opneem en hulle probeer verstaan.

As voorbeeld het hy na die verhaal van Kaïn en Abel in Genesis 4 gekyk om die oorsprong van geweld in die Ou Testament te verstaan. Hy het gesê die teks gee geen aanduiding waarom God Kaïn se offer nie aanvaar het nie. Hy konfronteer Kaïn egter met die ervaring dat die lewe nie altyd regverdig is nie. Dit is iets wat elke dag met mense gebeur. Dit begin al in die kleuterskool.

God verwerp egter nie vir Kaïn nie. Hy maan hom om hom nie deur sonde te laat beheer nie.

Nadat Kaïn vir Abel vermoor het, besef hy dat hy ’n spiraal van geweld begin het. God doen egter twee dinge om dié spiraal te verbreek. Hy belowe dat enigeen wat Kaïn vermoor, sewe maal gestraf sal word en hy gee vir Kaïn ’n teken dat niemand hom sal vermoor nie.

Römer wys daarop dat Kaïn ’n stad gebou het en dat beskawing by hom begin het. Sy nageslag het hierop voortgebou en musikante en metaalwerkers opgelewer. Dis eers sewe geslagte later dat Lameg weer die spiraal van geweld laat herleef.

Volgens Römer is geweld volgens Genesis 4 deel van menswees. Dit is nie vir God iets vreemds nie. God wil, egter hê dat mense moet leer om dit te hanteer pleks daarvan om dit te laat eskaleer.

Nog moeilike tekste is die wraakpsalms, soos Psalm 137 wat eindig met die uitspraak: “Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen ’n klip verbrysel.”

In die Joodse en Christelike tradisies is daar groepe wat hierdie gedeelte eenvoudig weglaat as hulle die psalm lees. Römer het dit egter nie as ’n goeie opsie beskou nie.

Hy het gesê ’n mens moet verstaan dat dit in die antieke tyd deel van oorlogsprakyk was om die vyand se kinders uit te wis.

Daarby moet ’n mens die psalm lees as ’n uitdrukking van intense ontwrigting. Dit kom van Jode in ballingskap wat geen manier het om in opstand te kom nie. Dit kan nie verstaan word as ’n politiek gebalanseerde of eties korrekte uitroep nie.

Dis ’n uiting van hoop dat die onderdrukking sal verdwyn. Dit kan egter misbruik word.

Römer het gesê ’n mens het die reg en die plig om soms te verskil van Bybelse tekste. Dit gebeur ook dat verskillende Bybelse tekste soms teenoorgestelde dinge sê. So skryf Paulus op een plek dat ’n vrou moet stilbly in die samekomste van gelowiges, maar op ’n ander plek skryf hy dat daar in Christus geen verskil is tussen man en vrou nie.

Hy het daarop gewys dat daar ook Bybeltekste is wat wraak ontmoedig. Een daarvan is die opdrag in Levitikus 19:18: “Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teen ’n volksgenoot nie.”

Daarby het Römer na die Noagverhaal verwys en gesê God het aanvanklik op die geweld van die mense gereageer met die geweld van die vloed. Maar dan neem God self die moontlikheid weg dat Hy dit ooit weer sal doen. Hy belowe dat Hy nooit weer so ’n ramp sal laat plaasvind nie.

Hierdie teks beklemtoon die voorrang wat deernis bo geweld moet geniet. Dit relativeer alle ander tekste wat God gewelddadig en wraaksugtig laat lyk.

Römer het ook na die verhaal oor Israel se inname van Kanaän en na tekste oor geslagsongelykheid gekyk om aan te toon hoe ’n goeie interpretasie van hierdie tekste ’n mens kan help om nie van die Bybvel ’n gevaarlike boek te maak nie.

Dit is tyd vir aanbeweeg

Die NG Kerk is stroomop, teen die wêreldkultuur in waarin flink mure gebou en mense met eng definisies afgesluit word van mekaar. Ons is ’n insluitende, meesleurende beweging, waarin elke mens ’n ruimte kan vind om te blom. Ons is oop kanale van God se genade vir alle mense. By die nagmaaltafels van ons kerk rig ons ’n ongekwalifiseerde uitnodiging  aan almal wat glo in Christus as Here om te kom aansit, om saam die brood en die wyn te kom eet en drink, met dankbaarheid en verwondering. Christus het immers kinders en grootmense, vroue en mans, oud en jonk, Jood en Griek, besny en onbesny, “in” en “uit”-mense ingesluit in sy gemeenskap van vriende by wie Hy aan tafel gegaan het. Hy droom van geloofsgemeenskappe wat mense van die strate af innooi na die maaltyd waarvoor baie gesiene mense nie genoeg tyd of aptyt gehad het nie. So droom ons saam met Hom.

Die NG Kerk het die afgelope jare baie tyd spandeer om te dink oor mense met ’n selfdegeslag oriëntasie. Gewoonlik, wanneer kerkmense verskil oor kwessies soos hierdie besluit sinodes om nog navorsing te doen- oor die betrokke verskynsel, oor die Bybel, oor die teologie. Ons hét dit gedoen. Ons kan nie nog navorsing doen nie.

Ons is nou op die punt waar ons nie meer kan toelaat dat mense die slagoffers bly van ons oneindige meningsverskille en teologiese onsekerhede nie. Ons lang gesprek het immers nie in ’n afgeslote laboratorium plaasgevind nie. Mense buite en binne die kerk was pynlik bewus van ons geworstel. Terwyl ons onsself die belangrike geleentheid veroorloof het van teologiese diskussie, het mense binne en buite die kerk die gesprek gehoor. Baie het seergekry. Hulle diepste identiteit was die onderwerp van bespreking. Hulle menswees en karakter is ontleed en ontken asof hulle gewoon nie-vleeslike objekte is. Die gesprekke het dikwels nie rekening gehou met talle gay-gelowiges wie se sogenaamde keuses, toewyding, moraliteit en geloof bevraagteken is nie. Dit gebeur trouens steeds wanneer mense vrae vra soos, ‘kan ’n gay-persoon gelowig wees en die Here dien?’ Die kort en die lank hiervan is dat hierdie debat die lewe in en buite die kerk vir duisende en duisende medegelowiges, insluitende die families en vriende van gay-mense, bitter onaangenaam gemaak het. Die uiteindelike uitkoms van hierdie teologiese gesprek kȧn nie wees dat dit by verstek die lewe van mense met ’n bepaalde seksuele oriëntasie vir altyd misrabel maak nie. Ons kan veel eerder vir mense van alle seksuele oriëntasies ’n lewewyse en lewensruimtes bedink waarin hulle met ’n skoon gewete voor God kan leef. En laat ek maar dadelik sê, die sogenaamde “humanisme” is nie die onderliggende uitgangspunt van hierdie standpunt nie.

Die Bybel vertel immers van Jesus wat al in sy hantering van die skrifgeleerdes se vrae oor die huwelik die diversiteit van mense erken het. “Sommige is so gebore, ander is so gemaak en ander het gekies om so te wees”- dit is nou die wat Hy sê nie kan trou nie (Matteus 19). Watter kategorieë van mense Hy in gedagte het, weet ons nie. Dat Hy duidelik  daaroor is dat alle mense nie inpas in die kategorie vir die “een man, een vrou” bedeling van die huwelik nie, is egter helder. Dit is dieselfde Jesus wat vir hetroseksuele mense sê dat die sonde van seksuele begeertes nie net in hulle dade gesetel is nie, maar in hulle gedagtes. Laat ons die Bybel en dus vir Jesus ernstig neem. Jesus het meer begrip vir die aard van seksualiteit en diversiteit as wat dikwels aan Hom toegedig word.

Lees ook: Jare se besware bekyk 

Daar is ook ander ingeligde afleidings gemaak oor die gesprek binne die kerk oor seksualiteit. Is hierdie mense ernstig oor die Godgegewe menswaardigheid van alle mense? Is dit dan nie die Bybel wat skryf (kontra-kultureel) oor die wederkerige gelyke verhouding tussen man en vrou nie? (1 Kor 7). Is dit dan nie so dat die Bybel praat van een nuwe mensheid van gelowiges in Christus wat ontstaan wat die binêre (tweedelende) skeiding tussen besny en onbesny, ryk en arm, man en vrou te bowe gaan nie (Gal 3). Natuurlik bestaan al hierdie kategorieë van menswees voort, maar in Christus word dit te bowe gegaan. In Christus is almal een, gelykwaardig, nuut, vry.

So leer die Bybel.  

Die Algemene Sinode (6-11 Oktober 2019) moet hierdie gesprek nou vorentoe neem. Regstegniese argumente sal nie antwoorde bied op die legitieme vrae wat gevra word oor ons standpunt oor mense nie. Die minste wat ons kan doen, is om ruimte  te maak vir sinodes en gemeentes wat aan alle mense die vryheid wil bied om Hom met oortuiging te dien, sonder dat hulle hulle diepste menslike identiteit hoef te ontken.

Die NG Kerk het ’n reuse rol om te speel in ons land waar mense se menswaardigheid  ingrypend misken word. Die misbruik van, en geweld teen vroue en kinders, armoede, opleiding van mense en die beliggaming van die evangelie van verlossing behoort binne die helder fokus te val van hierdie mooi kerk om ’n lewegewende verskil in Suid-Afrika te maak. – Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Oor Luther en die huwelik

Dr Nadia Marais doen presies waarteen prof Louis Jonker ons in sy jongste boek (Herinnering & verlange) waarsku, naamlik ’n direkte verbandtrekking tussen die “vertelde tyd” en ons eie werklikheid. So word die Hervormer Martin Luther se woorde deur Marais se eie ideologiese posisie gekaap en laat sy die kerkhervormer buikspreek om haar eie vooropgestelde opinie oor die huwelik aan die hedendaagse konteks en die kerklike publiek oor te dra.

Die probleem met Marais se opiniestuk oor die huwelik, wat as instelling moontlik ’n geheime sakrament in die NG Kerk geword het, begin reeds by ’n verkeerde vertaling en kontekslose interpretasie van die oorspronklike teks. Sy vertaal Luther se openingswoorde in sy Traktaat oor die huwelik van 1522 verkeerd en dit skep ongelukkig die indruk dat haar eie relativering van die huwelik vir vandag se tyd in ooreenstemming sal wees met wat Luther in sy latere lewe oor die huwelik te sê gehad het.

Volgens Marais sou Luther gesê het: “Hoe sien ek nie op daarteen om oor die huwelik te preek nie.” Maar dit is nie wat Luther in sy Von ehelichen Leben (1522) ter aanvang geskryf het nie. Korrek uit die Duits in Afrikaans vertaal, staan daar: “Ek is bang en ek preek nie graag oor die egtelike lewe nie, daarom, terwyl ek vrees: waar ek dit eenmaal regtig aanroer, word daar aan my en aan ander baie werk gegee.”

Die konteks waarbinne Luther sy woorde uiter is ook heel anders as wat Marais wil hê dit moet wees. So werk sy met ’n teks buite konteks en volg sy die weg van ’n kontekslose interpretasie – juis dit waarteen Jonker ons waarsku.

Lees ook: DIE HUWELIK – GEHEIME SAKRAMENT?

Luther gee in sy inleiding self aan ons die konteks vir sy preek oor die huwelik, naamlik die skandelike verwarring wat deur die pouslike wet veroorsaak is en die nalatige handhawing van die geestelike en wêreldlike swaardmag wat aaklige misbruike en foutiewe sake tot gevolg het. Indien Marais, soos Jonker voorstel, die analogiese model van interpretasie gebruik het en erns gemaak het met die seggingskrag van Luther se woorde in hulle konteks van oorsprong, sou sy by presies die teenoorgestelde beskouing oor die huwelik in die hedendaagse konteks uitgekom het.

Dit is opvallend dat Marais die drie hoofpunte van Luther se preek oor die huwelik verswyg het. Dit is juis die dinge wat sy nie self oor die huwelik wil hoor nie. Dit verswak haar eie ideologiese posisie as dit by die huwelik in die huidige Suid-Afrikaanse konteks kom. Wat is, opgesom, Luther se drie hoofpunte oor die huwelik:

  • Volgens Genesis 1 het God die mens in twee dele (zwei Teile) geskep: man en vrou, of hy en sy. God was so gelukkig hiermee dat Hy dit self ’n goeie skeppingswerk genoem het. Ons moet elkeen die liggaam aanvaar wat God aan ons gegee het – ’n man kan homself nie ’n vrou maak nie, en ’n vrou kan haarself nie ’n man maak nie. God wil hê dat ons sy goeie skeppingswerk moet eer en nie verag nie. Dit is nie ’n man of vrou se vrye keuse of besluit nie, maar ’n natuurlike en noodsaaklike ding, dat ’n man ’n vrou moet hê en ’n vrou ’n man. God beveel niemand om ’n man of ’n vrou te wees nie. Hy het ons geskep om man of vrou te wees. God beveel nie die mens om te vermeerder nie. Hy het ons geskep sodat ons vermeerder. Waar die mens ook poog om dit te weerstaan, het dit ontug, owerspel en geheime sondes tot gevolg. Ingevolge God se skeppingsordening is daar drie uitsonderings, soos Matteus 19 dit uitspel: eunugs wat so gebore word, eunugs wat deur mense so gemaak is en eunugs wat hulleself so gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Diegene wat nie in een van hierdie drie groepe val nie, kan niks anders oorweeg as die huwelik nie – anders kan jy nie regverdig bly nie; dit is onmoontlik.
  • Daar is drie, moontlik vier gronde vir egskeiding: waar iemand weens liggaamlike of natuurlike gebreke nie gemaak is vir die huwelik nie; waar egbreuk gepleeg is; waar die een die ander huweliksregte ontneem; waar man en vrou weens ondraaglike wangedrag nie met mekaar oor die weg kan kom nie, waarna man en vrou ongetroud moet bly of weer moet versoen.
  • Die huwelik mag nie deur die mens in onguns gebring word nie. Daar is diegene wat weens hulle eie onvermoë of mislukking ander ontmoedig om in die huwelik te tree – wat aan hulle kinders gemaksrus vir die liggaam en hel vir die siel aanbied deur hulle priesters of nonne te laat word. Diegene wat die huwelik erken is hulle wat ferm daarin glo dat God self die huwelik ingestel het, man en vrou daarvoor bymekaar bring en dit verorden het dat hulle kinders sal voortbring vir wie hulle moet sorg. Die huwelik dra nie net by tot die voordeel van liggaam, eer en siel van ’n individu nie, maar ook tot die voordeel van die stad en die land as geheel. Dit hou die oordeel van God weg. Wie weier om te trou, moet in immoraliteit verval. Slegs met spesiale genade kan iemand ongetroud bly. Wat die huwelik die moeite werd maak, is dat God aan huweliksgenote kinders gee wat grootgemaak word om Hom te aanbid en te dien. Die huwelik is God se werk en Hy beskerm die huwelik.

Marais se a-historiese en kontekslose interpretasie van Luther se sakraments- en huweliksbeskouing bring haar verkeerdelik daarby uit dat die huwelik nie heilig is en nie deur God ingestel is nie. Prof Johan Buitendag, wat ’n kenner van Luther se teologie is, het in ’n artikel in Hervormde Teologiese Studies 63(2) 2007 die volgende samevatting gegee: “Marriage, according to Martin Luther, is an institution both secular and sacred. It is secular because it is an order of this earthly life. But its institution goes back to the beginning of the human race and that makes marriage sacred, a divine and holy order. It does not – like the sacraments – nourish and strengthen faith or prepare people for the life to come; but it is a secular order in which people can prove faith and love, even though they are apt to fail without the help of the Word and the sacraments.”

Hofuitspraak oor lyfstraf: Waar staan NGK?

Die NG Kerk het nog nie ’n standpunt geformuleer rondom die hofuitspraak op 18 September 2019 van die Konstitusionele Hof wat bevestig het dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is nie. Die kerk het nog nie die volle uitspraak onder oë gehad nie. Die NG Kerk was ook nie deel van die versoek deur FORSA en ander waarin aansoek gedoen is dat die hooggeregshofuitspraak van 2017, waarin beslis is dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is, ter syde gestel moet word nie.

Wat lyfstraf betref,die wenslikheid daarvan al dan nie, het die NG Kerk hom egter reeds uitgespreek toe die proses rondom die Wysiging van die Wetgewing op Kindersorg in 2007 aan die gang was. Die NG Kerk het toe gereageer op art.139 wat oor lyfstraf gegaan het in dié Wysingswet.

Die standpunt van die NG Kerk ten opsigte van lyfstraf was toe die volgende:

Die Kerk het haar by die beginsel geskaar wat reeds dekades geld en wat sy nog altyd ondersteun het, dat die belange (insluitend veiligheid) van kinders eerste gestel word, selfs bo ouerlike regte.  Daarom kan kinders uit ouerlike sorg verwyder word en kan ouers selfs hulle ouerlike regte verbeur.

Hiermee het die kerk tot nou toe saamgestem en in kinderhuise, wat deur die kerk opgerig is, is honderde kinders wat uit hulle ouers se sorg verwyder is.  Die beginsel wat nou in die debat na die hofuitspraak deur sommige voorgestaan word dat die ouerlike reg om lyfstraf toe te pas belangriker is as die veiligheid van die kind word nie deur die kerk ondersteun nie.

Die debat in die sosiale media gaan van die veronderstelling uit dat ‘n Bybels- verantwoorde opvoeding redelike en liefdevolle lyfstraf insluit. Feit is dat in die christelike samelewing, sowat 80 persent van die bevolking, daar byna daagliks die erge vorme van vergrype teen kinders plaasvind – dikwels deur ouers wat daarin roem dat hulle christene is en meen dat die gesag om so teen hulle kinders op te tree juis van God kom.

Die bewyse hiervan kry ons in die Kinderhof en die duisende kinders wat van ouers verwyder moet word juis om hulle teen “christelike en liefdevolle” ouers te beskerm.  Christelikheid of godsdienstigheid waarborg nie redelikheid nie en talle misdade is al onder die dekmantel van liefde gepleeg.  Dit is ook so dat talle volwassenes wat geweldadig optree se probleme begin het toe hulle as kinders slagoffers van geweld was – en hulle ouers die toepassing van geweld as lyfstraf gesien het en dit selfs Bybels geregverdig het.

’n Groot gaping skei ons eie tyd met antieke opvattings oor kinderopvoeding, waarvan dissiplinering deel uitmaak. Soos met baie ander dinge kan ‘n mens nie alles wat in die Bybel oor tugtiging voorkom letterlik vandag toepas nie, spesifiek wat lyfstraf betref. Lyfstraf was so deel van die antieke vorm van dissiplinering dat niemand ‘n oog daaroor sou knip nie. Dit was eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar; dis ondenkbaar dat in die antieke tyd opvoeding daarsonder kon plaasvind. En dit is dikwels so dat lyfstraf gevrees is omdat dit buitensporig toegepas is. Iets hiervan slaan deur in die woorde van Spr 19:18, en waar die profeet pleit dat die Here “met mate” sal tugtig (Jer 10:24; vgl 30:11).

Opvoedkundige insigte wat intussen ontwikkel is en baie studies wat gedoen is oor die opvoedkundige waarde van lyfstraf toon aan dat kenners vandag daaroor eens is dat lyfstraf uiters beperkte opvoedkundige waarde het. Kinders leer die spelreëls van die lewe nie soseer deur die vrees vir (lyf)straf nie, maar deur die voorbeeld wat ouers en ander rolmodelle van die samelewing stel.

Die ideaal was nog altyd om lyfstraf sover moontlik te vermy en eerder ander vorme van dissiplinering te gebruik wat meer opvoedkundig verantwoord is. Maar dissiplinering moet daar wees, anders word die kind nie voorberei vir die eise van die lewe nie en kan hy/sy nie sy/haar plek as volwaardige mens en volwassene in die lewe inneem nie.

Die uitspraak teen lyfstraf ontneem nie ouers die reg en verantwoordelikheid vir hulle kinders se opvoeding nie. Die sosiale wetenskappe het heelwat navorsing gedoen wat daarop dui dat gesag en dissipline op ander wyses as met geweld gevestig word.  Dit is ook ‘n ongeldige argument om die verval van dissipline in die skoolstelsel gewoon toe te skryf aan die beperking (verbod) op lyfstraf in skole nie.

Dit is die volgehoue taak van die kerk om ouers te bemagtig om hulle kinders met respek en waardigheid te dissiplineer, deur groter fokus op die huisgesin en christelike waardes vir die familielewe te plaas en om meer deel te neem aan die afkeuring van geweld van watter aard en teen wie ookal. – Uitgereik deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk. 

Beroep op week van Gebed en verootmoediging

Die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat het op 11 September 2019 vergader en reik die volgende persverklaring uit:

1. In die lig van die geweld teen vroue en kinders, roep die Moderamen ’n week van Gebed en verootmoediging uit in die laaste week van Oktober 2019, met die klem hiervan op Woensdag 30 Oktober 2019 (Hervormingsdag), waarin gemeentes en geloofsgemeenskappe versoek word om op dié betrokke dag, bidure te reël om aktief voorbidding en verootmoediging te doen vir die golf van geweld in ons land.

2. Die Moderamen spreek haar ten sterkste uit teen alle vorme van geweld teen vroue en kinders wat insluit,

  • Fisiese geweld
  • Ekonomiese geweld
  • Strukturele geweld
  • Emosionele geweld en,
  • Verbale geweld

Die Moderamen versoek dat gemeentes en geloofsgemeenskappe hulle lidmate daarin sal lei om hierdie vorme van geweld teen te staan, daaroor te praat en die nodige ondersteuning aan die slagoffers van geweld te verleen.

3. Die Moderamen het besluit om die Thursday in Black-beweging aktief te ondersteun en doen ‘n beroep op gemeentes en geloofsgemeenskappe om elke Donderdag swart te dra in solidariteit met slagoffers van geweld.

4. Die Moderamen doen ’n beroep op alle mans om vrouens met respek en agting te behandel en op te staan teen enige vorm van geweld teen vroue en kinders, om sodoende veilige ruimtes te skep.

Vriendelike groete in Christus.

Carin van Schalkwyk
Skriba

Lees ook: GEWELD: ‘GANSE BOODSKAP VAN EVANGELIE KOM IN GEDRANG’

‘Patriargie is siekte van die siel’ – teoloë pak oorsake van geweld teen vroue

Die manier waarop sommige mense die Bybel lees, kan lei tot die instandhouding van geweld teen vroue en kinders eerder as om dit te beveg.

Dis een van die stellings wat ’n groep vroueteoloë voor die deur van “geloofsgemeenskappe se leierskap” gelaat het in ’n 400-woord-verklaring wat op Sondag 8 September, ná ’n week van wye openbare protes oor geweld teen vroue, uitgereik is.

“Man en vrou is na die beeld van God geskep. In die praktyk word verskillende rolle egter aan mans en vroue toegeken – mans in die magsposisie van ‘hoof’ en vroue in die ondergeskikte posisie. So ’n magswanbalans lei maklik tot magsmisbruik en geweld,” lui die verklaring, wat onderteken is deur ’n aantal teoloë, akademici en leraars in die NG Kerk en breër kerk.

“Ons doen ’n beroep op geloofsgemeenskappe se leierskap om daadwerklike aandag te gee aan hoe maniere waarop die Bybel gelees en toegepas word, geweld teen vroue en kinders in stand hou,” word inleidend gesê voor dié punt verder uiteengesit word.

“Vir die kerk is patriargie ten diepste ’n siekte van die siel – dit verhef sommige mense tot ‘meerderwaardig’ en maak ander ‘minderwaardig’. Dit gaan reëlreg in teen die evangelie van Jesus Christus,” lui die verklaring.

  • Lees die volledige verklaring hieronder.

Het mans 'n groter rol te speel om die kultuur van geweld teen vroue om te swaai?

Kyk na die uitslag

Ons, die ondergetekende vroueteoloë en -predikante van verskeie denominasies:

  1. Spreek ons afgryse uit oor die huidige en voortslepende vlaag van geweld teen vroue, kinders en gemarginaliseerde groepe – oor hoe goedkoop hulle lewens gemaak word. Ons weeklaag saam met elke slagoffer van geweld en roep uit: “Hoe lank nog, Here?!”
  2. Ons doen ’n beroep op geloofsgemeenskappe en die gemeenskap in breë om nie langer stil te bly oor geweld teen vroue en kinders nie en om op te hou om die stemme wat wel daaroor praat, stil te maak.
  3. Ons doen ’n beroep op geloofsgemeenskappe se leierskap om daadwerklike aandag te gee aan hoe maniere waarop die Bybel gelees en toegepas word, geweld teen vroue en kinders in stand hou. Dit sluit die volgende in:

3.1 Man en vrou is na die beeld van God geskep. In die praktyk word verskillende rolle egter aan mans en vroue toegeken – mans in die magsposisie van “hoof” en vroue in die ondergeskikte posisie. So ’n magswanbalans lei maklik tot magsmisbruik en geweld.

3.2 God word verteenwoordig deur manlike leierskap in die kerk. Ook hier het mans, die helfte van God se skepping, ongebreidelde mag. Ook hier lei die magswanbalans tot magsmisbruik, dikwels in die vorm van seksuele teistering.

3.3 In ‘n patriargale wêreld word vroue nie gesien as en behandel soos mense met ‘n verskeidenheid God-gegewe gawes nie, maar gereduseer tot liggaam. Hulle waarde word bepaal deur seksuele kuisheid en om kinders in die wêreld te bring. Omdat vroue afgemaak word as “emosioneel”, word die besluitnemingsbevoegdheid deur mans opgeëis.

3.4 Vir die kerk is patriargie ten diepste ’n siekte van die siel – dit verhef sommige mense tot “meerderwaardig” en maak ander “minderwaardig”. Dit gaan reëlreg in teen die evangelie van Jesus Christus.

  1. Ons doen ’n beroep op die kerk om leiding te neem teen die oorsake en praktyke van patriargie wat lei tot geweld teen vroue en kinders. Ons doen ’n beroep op die kerk se leierskap om tydens die komende kerkvergaderings en sinodesittings breedvoerig aan die saak aandag te gee en genoeg tyd tydens die vergaderings in te ruim om die saak te bespreek.
  2. Ons doen ’n beroep op die kerk om opnuut te dink hoe meisies en seuns gesosialiseer word, en om ’n menswaardige alternatief tot die kerk se opvoedingstaak toe te voeg, sodat die lig van die evangelie vir almal kan skyn.
  3. As vroueteoloë en -predikante spreek ons ons dank en waardering uit teenoor mans wat alle medemense, ook vroue, gelykwaardig behandel en ‘n veilige hawe vir vroue en kinders bied.

Onderteken deur:

Prof Claassen, Julie
Prof Dreyer, Yolanda
Prof Mouton, Elna

Dr Bezuidenhout, Ronell
Dr Botha, Annelie
Dr Geyser-Fouché, Ananda
Dr Heymans, Gretha
Dr Hoffman, Lizette
Dr Janse van Rensburg, Hanré
Dr Joubert, Liesl
Dr Marais, Nadia
Dr Meyer, Juanita
Dr van der Walt, Charlene
Dr van Schalkwyk, Carin
Dr van Velden-Muller, Nina
Dr van Wyk, Tanya

Ds Andrag-Meyer, Franziska
Ds Boonzaaier, Michelle
Ds Denton, Lou-Maré
Ds Du Plooy, Anika
Ds Erasmus, Lilian
Ds Fourie, Carli
Ds Hamman-Forrest, Nicole
Ds. Jacobs, Barbara-Mari
Ds. Lintvelt, Mia
Ds Le Roux Weitsz, Quinette
Ds Ludwick, OH
Ds Malan, Santel
Ds Meyer-Morkel, Tilana
Ds Muller, Ghisnene
Ds Nel, Jampie
Ds Pienaar, Elzeth
Ds Redelinghuys, Jorina
Ds Slazus, Annelet
Ds Steenkamp, Yolanda
Ds van der Merwe, Carusta
Ds van der Merwe, Suzanne
Ds van Niekerk, Marinda
Ds van Niekerk, Rethie
Ds van Staden, Neeltje
Ds van Wyk, Audrey
Ds Viljoen, Annarie
Ds Viljoen, Delmarie
Ds Viviers, Lizette
Ds Werner, Andrea
Ds Vosloo-Steyn, Nastasia
Ds Zeeman, Anje
Prop. Kotze, Judith

Boshoff, Anel
Lötter, Lynette
Potgieter, Sariné
Sibanyoni, Charlotte
Smit, Natasha
Van Rooyen-King, Almie

Geweld: ‘Ganse boodskap van Evangelie kom in gedrang’

Die NG Kerk is diep bewus van die kompleksiteit van misdaad en geweld in Suid-Afrika. Internasionaal is dit aan die toeneem en Suid Afrika deel in hierdie tendens. In ons eie situasie vererger faktore soos armoede en werkloosheid die probleem. Begrip vir hierdie faktore beteken egter nie dat ons die omvang en intensiteit van misdaadvlakke wat ons tans sien nie, wil regverdig nie.

Ons sien en ervaar die impak daarvan op passasiers wat op treine beroof en afgegooi word; polisielede wat vermoor word; ’n kind wat vlak voor haar skool uit haar ma se hande geruk en ontvoer word, ’n plaasboer en sy vrou wie se voete in kookwater gedruk en voetsole afgesny word; vragmotors wat aan die brand gesteek word, mense wat die afgelope weke sinloos en wreed vermoor is soos die student wat ’n pakkie by die poskantoor gaan afhaal, gesins- en huishoudelike geweld waar ’n pa sy kinders ophang, grootskaalse geweld teen vroue en kinders. Die spiraal van geweld lyk onomkeerbaar.

Geweld druis direk in teen die menswaardigheid van mense, asook die regte van mense soos dit neerslag vind in ons Grondwet. Die wese van ons demokrasie word ernstig bedreig. Vir ons as Christene kom die ganse boodskap van die Evangelie in gedrang.

Die drastiese toename in geweld en misdaad die afgelope tyd vra vir dringende aksie van die kerk en samewerking met ander rolspelers rondom die saak. Terwyl ons waardering het vir wat gedoen word en begrip het vir die dilemmas waarmee die owerheid en wetstoepassers soms sit, hoor en sien ons nie ’n sterk genoeg “nee” vir misdaad en geweld nie. Die houding van geen-toleransie teen enige vorm van misdaad, hoe groot of klein ookal is nie ferm genoeg nie.

Die kerk is bewus daarvan dat die owerheid nie op hul eie die hele probleem kan oplos nie. Die burgerlike samelewingsverbande, waarvan die kerk deel is, sal verantwoordelikheid vir eie gemeenskappe moet aanvaar.

As NG Kerk wil ons onsself verbind om saam met ander kerke en instansies te werk aan die vorming van ’n samelewing met duidelike en sterk morele en gemeenskapswaardes. Daarom glo ons dat ons nou:

  • Introspektief onsself moet af vra tot watter mate ons onbedoeld deur ons kerklike praktyke, aanames en gewoontes die huidige kultuur van geweld in stand hou.
  • Moet vra of die kerk se teologie van menswaardigheid genoegsaam ontwikkeld is en gepraktiseer word om patriargie teen te staan.
  • Saam met ander kerke strategieë moet bespreek en planne vir optrede moet beraam.
  • Saam met die ander kerke praat oor wyses hoe ons as gelowiges slagoffers kan ondersteun.
  • Saam met die owerhede – nasionaal en plaaslik – oor die saakgesprek moet voer. Saam dringend ’n gesprek met die Minister van Veiligheid en Sekuriteit moet aanvra.
  • Ons gemeentes op plaaslike vlak moet vra om te besin oor strategië om die uitdagings van misdaad daar aan te spreek.
  • Almal moet oproep om ernstige voorbidding te doen vir ons land met die oog op vrede, geregtigheid en vooruitgang.

– Uitgereik deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk. 

NG Kerk spreek hom uit teen vreemdelinghaat

Die NG Kerk het die afgelope paar dae met hartseer kennis geneem van talle gevalle van hoe die kwesbaarste mense in ons samelewing; vroue, kinders en migrante uit buurlande, aan die uiterste vorm van geweld blootgestel is. Die vreemdelingehaat, plundering van eiendom en die moord op immigrante in Suid-Afrika, is slegs die mees onlangse illustrasies van dreigemente teen mense wat ’n eenvoudige en universele menslike soeke na ’n beter lewe vir hulself en hul gesinne het en dikwels gedryf word om gevaarlike risiko’s te neem as gevolg van desperaatheid, konflik en onderdrukking in hul in hul lande van herkoms.

Suid Afrika beleef self in ’n tyd van sosiale en ekonomiese spanning. In sulke tye is daar altyd ’n gevaar van ’n “ons-hulle” polarisering en die blamering die ‘ander’ vir interne probleme. Geen omstandighede kan egter die vervolging en mishandeling van kwesbare mense, wat om verskillende redes uit hul eie lande verplaas is, regverdig nie.

Lees ook: XENOFOBIE: WAT VERWAG DIE HERE VAN ONS AS GESTUURDES?

Die Bybel bevat vele verhale van mense wat aan die beweeg is, vreemdelinge, immigrante of vlugtelinge. Jesus was ook ’n vreemdeling, sonder ’n huis, met nêrens om sy kop te lê nie. Hy vra dat sy dissipels vir vreemdelinge sal sorg. Die Skrif bevat duidelike leringe oor die verantwoordelikheid van gelowiges om gasvryheid aan vreemdelinge te betoon en om kwesbare mense, insluitend vreemdelinge, te beskerm. Die Bybel vra dat : “Wanneer daar ’n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ’n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God. (Levitikus 19: 33-34)

Die gewelddadige uitbarstings van vreemdelingehaat bedreig die sosiale struktuur van die Suid-Afrikaanse samelewing. Geweld en haat is ’n vuur wat homself voed en die geweld teen vreemdelinge spoel reeds oor na burgers van Suid Afrika.

Xenofobie ondermyn ook die politieke en ekonomiese status van ons land en die relevansie en invloed van Suid-Afrika in die streek en die wêreld. Suid Afrika se toekomstige sosio-ekonomiese ontwikkeling hang af van ons vermoë om met ander Afrika-lande te skakel op ’n manier wat eenheid en menswaardigheid bevorder.

Ons hoor reeds stemme wat van oor die kontinent opklink in veroordeling van wat aan die gebeur is. Ons hoor van kunstenaars wat weier om na ons land te reis of teen die Suid-Afrikaanse sokkerspan deel te neem. Die Wêreld Ekonomiese Forum vir 2019 het op 4 September in Kaapstad afgeskop met ’n aantal leiers, waaronder Zambië, Malawi, DRK en Rwanda, wat aangekondig het dat hulle uit protes onttrek.

Die NG Kerk wil ’n ernstige beroep doen op die Suid-Afrikaanse regering om leierskap te demonstreer, om die situasie onder beheer te bring en die nakoming van menseregte te bevorder en die standaarde en norme soos vervat in internasionale ooreenkomste vir menseregte te bevorder.

Die NG Kerk is in solidariteit met al die individue en hul gesinne wat geraak word, en doen ’n beroep op hul beskerming, restitusie en die strafregtelike aanspreeklikheid van diegene wat verantwoordelik is vir die aanvalle op hulle. Die NG Kerk is in solidariteit met ander Suid Afrikaanse kerke, en die oorgrote meerderheid van die mense van Suid-Afrika, wat hul verontwaardiging oor die gebeure in die openbaar uitgespreek het. Die NG Kerk ondersteun oproepe aan die regering om ‘die toenemende gety van rassisme, etnosentrisme en vreemdelingehaat in Suid-Afrika te konfronteer en vir Suid-Afrikaners om ‘ander’ te erken, om vreemdelinge te verwelkom, en om versoening te soek.

Die NG Kerk doen ’n ernstige beroep op die regering om behoorlike instromingsbeheer toe te pas en te voldoen aan internasionale standaarde vir grensbeheer. – Uitgereik deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.