Lou-Maré Denton

Dra jy by tot patriargie?

Ek het aan die Weskus grootgeword met ’n pa wat lief is vir visvang. Visvang en kraaineste is sino­niem. ’n Kraaines vra baie geduld om los te torring. Dit raak egter ingewikkeld wanneer verskillende visserslyne in ’n boks verstrengel geraak het en jy nie kan sien watter lyn is watter lyn nie. Jy dink jy is met een lyn besig en dan is jy eintlik al die tyd met twee verskillende lyne besig. Of jy trek op een punt om dit los te kry, maar in die proses trek jy ’n knoop op ’n ander punt stywer.

Om oor geweld teen vroue en kinders te praat is soos om ’n kraaines met ’n mengelmoes van verskillende lyne te probeer lostorring. Jy kan nie een lyn trek sonder om terselfdertyd ook met die ander besig te wees nie.

Van die verskillende lyne betrokke in geweld teen vroue en kinders is patriargie, ras, klas, seksualiteit, gender, godsdiens, armoede, gebrekkige infrastruktuur, werkloosheid, kultuur, strafregtelike prosesse, groepsdruk, ’n kultuur van geweld, nalatenskap van apartheid, kolonialisme, ekonomie, polisiëring, MIV/Vigs, dwelmhandel, dwelm- en alkoholmisbruik, familiestrukture, geestesversteurings en die onderwysstelsel.

Lees ook: ‘PATRIARGIE IS SIEKTE VAN DIE SIEL’ – TEOLOË PAK OORSAKE VAN GEWELD TEEN VROUE

Saam skets dié lyne die ineengestrengelde kompleksiteit van geweld teen vroue en kinders. Elkeen van hierdie lyne is opsigself ’n hele kraaines wat ontrafel moet word.

As ’n mens sekere lyne ignoreer is dit maklik om jouself te verontskuldig: Dit is booswigte wat sulke goed doen, nie ek nie. Dit is ’n regeringsprobleem. Ons strafregtelike proses moet uitgesorteer word.

Rigters 19 is ’n ontstellende, maar nodige verhaal om mee te worstel en beeld iets uit van die kompleksiteit van geweld teen vroue. In die Nuwe Afrikaanse Vertaling eindig die teksgedeelte met die woorde: “Ons moet dit ter harte neem. Ons moet ’n plan maak. Ons moet praat!”

En dit los ons met die vraag: Wat kan ons doen?

As kerk is die een “lyn” wat ons in gemeen het godsdiens. Prof Sarojini Nadar, van die Desmond Tutu-leerstoel vir ekumeniese teologie en sosiale transformasie aan die Universiteit van Wes-Kaapland, is een van die vele stemme wat glo ons kan nie godsdiens se bydrae tot die geweld teen vroue en kinders ignoreer nie. Nie in ’n land waar amper 80% mense bely dat hulle Christene is nie, sê sy. Die probleem is nie net dáár nie, maar ook híér, in hoe ons die Bybel lees, interpreteer en verkondig.

Die Bybel het in patriargale kontekste neerslag gevind. Patriargie beteken die heers (arché) van die vaders (pateres) en is ’n denksisteem waar mans oor vroue heers. Wanneer ons die Bybel onkrities lees trek ons die patriargale denksisteem deur na vandag toe.

Patriargie is oor die jare meer ver­teerbaar gemaak. Dit maak dit egter nie minder gevaarlik nie. Die vrou word nie meer gesien as die man se besitting soos in die Bybel nie, maar die man word dikwels nog verkondig as die hoof van die huishouding of dat hy die leiding moet neem in die gesin. Daar doen ge­reeld op Facebook ’n diagram die rondte wat God bo sit, dan die man en onder hom die vrou – as Godgegewe hiërargie. So, wat gebeur nou as die vrou nie optree na die man se wense nie, as sy nie onderdanig is nie? Sy word op haar plek gesit – met woord of daad. En natuurlik vat alle mans dit nie so ver nie, maar as ons die teologie en sisteem in stand hou wat die ruimte hiervoor bied, is ons nie ook aandadig nie?

Patriargie is die status quo en ons taal en gewoontes hou dit in stand. Wanneer ons nie doelbewus let op ons woorde en gedrag nie, handhaaf ons dit. Dra jou teologie, jou taal, jou gewoontes, jou woorde, jou voorbeelde, jou grappies, jou staaltjies by tot die handhawing van patriargie en geweld of daag dit die status quo doelbewus uit?

“If you are neutral in situations of injustice, you have chosen the side of the oppressor,” het emeritusaartsbiskop Desmond Tutu gesê. Watter kant kies jy?

  • Ds Lou-Maré Denton is leraar by die NG gemeente Brackenfell en lid van die Gendertaakspan van die Wes-Kaapse Sinode.

‘Patriargie is siekte van die siel’ – teoloë pak oorsake van geweld teen vroue

Die manier waarop sommige mense die Bybel lees, kan lei tot die instandhouding van geweld teen vroue en kinders eerder as om dit te beveg.

Dis een van die stellings wat ’n groep vroueteoloë voor die deur van “geloofsgemeenskappe se leierskap” gelaat het in ’n 400-woord-verklaring wat op Sondag 8 September, ná ’n week van wye openbare protes oor geweld teen vroue, uitgereik is.

“Man en vrou is na die beeld van God geskep. In die praktyk word verskillende rolle egter aan mans en vroue toegeken – mans in die magsposisie van ‘hoof’ en vroue in die ondergeskikte posisie. So ’n magswanbalans lei maklik tot magsmisbruik en geweld,” lui die verklaring, wat onderteken is deur ’n aantal teoloë, akademici en leraars in die NG Kerk en breër kerk.

“Ons doen ’n beroep op geloofsgemeenskappe se leierskap om daadwerklike aandag te gee aan hoe maniere waarop die Bybel gelees en toegepas word, geweld teen vroue en kinders in stand hou,” word inleidend gesê voor dié punt verder uiteengesit word.

“Vir die kerk is patriargie ten diepste ’n siekte van die siel – dit verhef sommige mense tot ‘meerderwaardig’ en maak ander ‘minderwaardig’. Dit gaan reëlreg in teen die evangelie van Jesus Christus,” lui die verklaring.

  • Lees die volledige verklaring hieronder.

Het mans 'n groter rol te speel om die kultuur van geweld teen vroue om te swaai?

Kyk na die uitslag

Ons, die ondergetekende vroueteoloë en -predikante van verskeie denominasies:

  1. Spreek ons afgryse uit oor die huidige en voortslepende vlaag van geweld teen vroue, kinders en gemarginaliseerde groepe – oor hoe goedkoop hulle lewens gemaak word. Ons weeklaag saam met elke slagoffer van geweld en roep uit: “Hoe lank nog, Here?!”
  2. Ons doen ’n beroep op geloofsgemeenskappe en die gemeenskap in breë om nie langer stil te bly oor geweld teen vroue en kinders nie en om op te hou om die stemme wat wel daaroor praat, stil te maak.
  3. Ons doen ’n beroep op geloofsgemeenskappe se leierskap om daadwerklike aandag te gee aan hoe maniere waarop die Bybel gelees en toegepas word, geweld teen vroue en kinders in stand hou. Dit sluit die volgende in:

3.1 Man en vrou is na die beeld van God geskep. In die praktyk word verskillende rolle egter aan mans en vroue toegeken – mans in die magsposisie van “hoof” en vroue in die ondergeskikte posisie. So ’n magswanbalans lei maklik tot magsmisbruik en geweld.

3.2 God word verteenwoordig deur manlike leierskap in die kerk. Ook hier het mans, die helfte van God se skepping, ongebreidelde mag. Ook hier lei die magswanbalans tot magsmisbruik, dikwels in die vorm van seksuele teistering.

3.3 In ‘n patriargale wêreld word vroue nie gesien as en behandel soos mense met ‘n verskeidenheid God-gegewe gawes nie, maar gereduseer tot liggaam. Hulle waarde word bepaal deur seksuele kuisheid en om kinders in die wêreld te bring. Omdat vroue afgemaak word as “emosioneel”, word die besluitnemingsbevoegdheid deur mans opgeëis.

3.4 Vir die kerk is patriargie ten diepste ’n siekte van die siel – dit verhef sommige mense tot “meerderwaardig” en maak ander “minderwaardig”. Dit gaan reëlreg in teen die evangelie van Jesus Christus.

  1. Ons doen ’n beroep op die kerk om leiding te neem teen die oorsake en praktyke van patriargie wat lei tot geweld teen vroue en kinders. Ons doen ’n beroep op die kerk se leierskap om tydens die komende kerkvergaderings en sinodesittings breedvoerig aan die saak aandag te gee en genoeg tyd tydens die vergaderings in te ruim om die saak te bespreek.
  2. Ons doen ’n beroep op die kerk om opnuut te dink hoe meisies en seuns gesosialiseer word, en om ’n menswaardige alternatief tot die kerk se opvoedingstaak toe te voeg, sodat die lig van die evangelie vir almal kan skyn.
  3. As vroueteoloë en -predikante spreek ons ons dank en waardering uit teenoor mans wat alle medemense, ook vroue, gelykwaardig behandel en ‘n veilige hawe vir vroue en kinders bied.

Onderteken deur:

Prof Claassen, Julie
Prof Dreyer, Yolanda
Prof Mouton, Elna

Dr Bezuidenhout, Ronell
Dr Botha, Annelie
Dr Geyser-Fouché, Ananda
Dr Heymans, Gretha
Dr Hoffman, Lizette
Dr Janse van Rensburg, Hanré
Dr Joubert, Liesl
Dr Marais, Nadia
Dr Meyer, Juanita
Dr van der Walt, Charlene
Dr van Schalkwyk, Carin
Dr van Velden-Muller, Nina
Dr van Wyk, Tanya

Ds Andrag-Meyer, Franziska
Ds Boonzaaier, Michelle
Ds Denton, Lou-Maré
Ds Du Plooy, Anika
Ds Erasmus, Lilian
Ds Fourie, Carli
Ds Hamman-Forrest, Nicole
Ds. Jacobs, Barbara-Mari
Ds. Lintvelt, Mia
Ds Le Roux Weitsz, Quinette
Ds Ludwick, OH
Ds Malan, Santel
Ds Meyer-Morkel, Tilana
Ds Muller, Ghisnene
Ds Nel, Jampie
Ds Pienaar, Elzeth
Ds Redelinghuys, Jorina
Ds Slazus, Annelet
Ds Steenkamp, Yolanda
Ds van der Merwe, Carusta
Ds van der Merwe, Suzanne
Ds van Niekerk, Marinda
Ds van Niekerk, Rethie
Ds van Staden, Neeltje
Ds van Wyk, Audrey
Ds Viljoen, Annarie
Ds Viljoen, Delmarie
Ds Viviers, Lizette
Ds Werner, Andrea
Ds Vosloo-Steyn, Nastasia
Ds Zeeman, Anje
Prop. Kotze, Judith

Boshoff, Anel
Lötter, Lynette
Potgieter, Sariné
Sibanyoni, Charlotte
Smit, Natasha
Van Rooyen-King, Almie

‘Hanteer ander soos wat jy wil hê hulle moet jou hanteer’

Erik Brits van Sabie skryf:

Daar kom vanoggend weer ’n skrywe aan die NGK om terug te keer tot die waarheid by my verby. Meestal is hierdie pleidooie steeds oor die standpunt van die kerk oor selfdegeslagverhou­dings. Wat is dié kernwaarheid waarheen die NGK moet terugkeer? ’n Saak wat ek voel nie oorkom nie is: Sou dit vir diegene wat die aksies teen die NGK loods moontlik wees om te verstaan dat ek ook worstel met gedagtes dat hulle en diegene wat soos hulle redeneer, die kernwaarheid van die Woord versaak, nl. die versoeningswerk van Jesus en dat Hy sy Gees ook aan hulle gee wat buite ons oordeel val. En nog meer dat Hy die gewer van geloof is. Aan daardie gay lidmaat wat met worsteling oor hulle geloofsidentiteit voor die kerk kom staan het en gesê het: “Ek is anders, maar ek glo in Jesus. Is daar plek vir my binne die geloofsgemeenskap?” Waarom die aanval en nie eerder ’n Galasiërs 6:1 en 2 weg waarvolgens ons persoonlik teenoor gelowige gay lidmate gaan sit en teenoor mekaar en ’n pad van sagmoedigheid met mekaar loop nie? Dit gaan nie in die NGK oor promiskuïteit nie, maar oor liefde en trou. Daar is genoeg losbandige lewenstyle onder hete­roseksuele en homoseksuele mense waar ons ’n boodskap het om te bring. Hoekom word daar so vas gekyk teen ’n woord waar daar soveel diverse interpretasies en omstredenheid is ter­wyl daar bv soveel duidelike tekste is oor hoe gelowiges in Jesus met mekaar moet saamlewe? Sal die Gees van waarheid ons langs die voorgeskrewe weg in die steek laat? Het die NGK op ’n onverskillige manier tot sy besluite gekom of was daar erns gemaak met hulle afhanklikheid van God, Jesus se versoe­ningswerk en die leiding van die Heilige Gees? Word dit summier net aanvaar dat as lidmate die kerk hof toe vat dit is vanweë hulle liberale, promiskue ge­dagte­gang of is dit moontlik dat geloof in Jesus Christus ’n dryfveer kan wees? Hier­mee wil ek nie die dryfveer van diegene wat nou die NGK tot bekering wil roep in twyfel trek nie, maar pas die goue reël toe: Doen en hanteer ander soos wat jy wil hê hulle moet jou hanteer. Ons sing in Lied 396:4: “Hom kan ek nou met vreugde dien in ruimte deur sy kruis voorsien.” Hiervoor kan ons, ons voortdurend bekeer en ons inspan (Fil 3).

NG Gemeente Pretoria-Faerie Glen

Met opgewondenheid en in biddende afhanklikheid van die Here stel die kerkraad ’n vakature bekend.

Vakature: Voltydse leraar
Sluitingsdatum: 30 September 2019.


Gemeenteprofiel:

  • Pretoria-Faerie Glen is ’n voorstedelike gemeente, geleë in die ooste van Pretoria met ongeveer 350 belydende en 35 dooplidmate.
  • Die gemeente word tans deur een leraar bedien wat in 2021 aftree. Die suksesvolle aansoeker sal dus in medeleraarskap saam met die huidige leraar dien tot met sy aftrede.
  • Die gemeente word gekenmerk deur hartlikheid en ’n sterk omgeekarakter.
  • Die meeste van die lidmate is reeds afgetree en verkies tradisionele eredienste met orrelbegeleiding.
  • Gesinne met kleuters en laerskoolkinders woon gesinsdienste by.
  • Verskeie uitstekende hoër- en laerskole is in die omgewing, maar val nie binne die gemeentegrense nie.

Leraarprofiel:

Die gelegitimeerde predikant wat die Here in hierdie gemeente kom dien is:

  • Verkieslik tussen 35 en 50 jaar oud.
  • Iemand wat met ywer in spanverband ’n instrument in die hand van die Here is om sy doel vir hierdie gemeente te help uitvoer.
  • Gedrewe deur die suiwer en gereformeerde uitleg van die Woord, soos dit ook in die kerk se amptelike belydenisskrifte vervat is.
  • Iemand wat deur dinamiese prediking in beide die tradisionele en gesinsdiens die Woord uitlê en toepas vir omstandighede van die dag.
  • Gemaklik in die gebruik van multimedia en ander sosiale platforms om die prediking en gemeente-aktiwiteite te ondersteun en te bevorder.
  • ’n Kreatiewe persoon wat sinvolle aktiwiteite as vasleggingsmetode tydens gesins- dienste en seniorkategese kan gebruik.
  • Iemand wat die wysheid en kennis van ouer mense waardeer en wat ’n hart het vir hul spesifieke behoeftes.
  • ’n Herder wat die waarde van huisbesoek en kontak met lidmate in verskillende lewenstadiums en -omstandighede besef en bereid is om met passie daaraan uitvoering te gee.
  • ’n Persoon wat maklik kommunikeer, buitekerklikes kan identifiseer, hulle laat welkom voel en aanmoedig om deel van die gemeente te wees.

Vergoeding:

’n Vergoedingspakket binne die raamwerk van die sinodale skaal word aangebied. Die gemeente beskik nie oor ’n pastorie nie. Die volledige vergoedingspakket word met die suksesvolle kandidaat onderhandel.

Aansoek:

  • Aansoeke word ingewag van gelegitimeerde predikante wat aanpasbaar is ten einde mense van verskillende ouderdomsgroepe en spiritualiteite te bedien en hom/haarself kan vereenselwig met die missie en fokusareas van die gemeente.
  • Aansoekers moet ’n volledige CV indien wat die kontakbesonderhede van drie referente insluit. Die pre-advieskommissie behou die reg voor om self ook inligting aangaande die aansoeker in te win wat ’n psigometriese toets kan insluit.
  • ’n Aanvullende motivering moet die aansoek vergesel waarin aangedui word hoe die kandidaat met sy/haar besondere talente kan bydra tot die groei en uitbou van die gemeente.
  • Kandidate wat oorweeg word, kan genooi word vir ’n onderhoud asook om ’n voordrag te maak en/of ’n erediens binne die gemeente te lei.
  • ’n Onlangse foto van die aansoeker en sy/haar gesin in opsioneel, maar sal waardeer word.

Sluitingsdatum: 30 September 2019.

Diensaanvaarding: 15 Januarie 2020 of so spoedig moontlik daarna.

Navrae:

Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.

Humansdorp: ‘Dis meer as net muffins – ons bou brûe’

’n Ongewone “kommissie” is onlangs deur die kerkraad van die NG gemeente Humansdorp in die Oos-Kaap gevorm. Die Muffinkommissie se doel is om liefde deur dade te bewys uit dank aan die Here nadat hulle gemeente onlangs 170 jaar oud geword het, het Bessie Langenhoven, ’n lidmaat by die gemeente, laat weet.

So is 3000 muffins op 23 Augustus aan petroljoggies, werknemers en pasiënte by hospitale, klinieke, die landdroskantoor, polisiekantoor en persone by taxi-staanplekke op die dorp uitgedeel. Motorwagte, bejaardes, en straatlopers is ook bederf.

Die entoesiastiese plaasskoolspannetjie kom by die kerksaal aan met die leë mandjie nadat hulle mense van Jesus vertel het en boonop iets lekker kon gee.

“Elke muffin is sorgvuldig in ’n plastieksakkie gesit, met ’n mooi kleurvolle lintjie toegebind en afgerond met ’n kaartjie daaraan vasgekram met die woorde: ‘Jesus is lief vir jou!’ in Afrikaans, Engels en Xhosa daarop gedruk,” sê Bessie.

Muffinmengsels is glo teen ’n spesiale prys bekom en aan almal – selfs lidmate van ander kerke – wat bereid was om te bak uitgedeel.

Bessie vertel die uitdelers van die muffins was ook ’n diverse klomp mense. Van die “20-Somethings” tot leerders van ’n plaaslike plaasskooltjie.

“Dit was ’n wonderlike ervaring vir almal, maar seker veral vir die uitdelers – om die vreugde, verbasing, ongeloof en blydskap te ervaar van mense wat dit nie altyd maklik het nie, omdat hulle iets lekkers en ’n wonderlike boodskap daarmee saam kon ontvang, sonder om daarvoor te vra of dit te verdien. Party ouens was skoon in trane. Daar is vir seker heelwat brûe op hierdie dag gebou, maar bowenal glo ons, is ons Here verheerlik,” sê Bessie.

PEILING: Hoe lyk kerk se roeping in samelewing?

Groter betrokkenheid by barmhartigheid of meer tyd aan die verkondiging van die evangelie? Of ’n groter rol in die stryd teen armoede? 

In die derde week van ons konsultasie oor die toekoms van die NG Kerk, wil ons by lesers hoor hoe hulle dink oor die roeping en bediening van die kerk. Hierdie week se vraag gaan dus oor ons betrokkenheid in die samelewing. Neem gerus deel en kliek op die skakels hieronder vir vorige weke se peilings indien jy dit misgeloop het. – Dr Lourens Bosman, Algemene Bestuurder: Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk. 

Vorige peilings in dié reeks

VRAAG 1 – Wat is die belangrikste eksterne veranderinge en uitdagings wat die NG Kerk moet hanteer? 

VRAAG 2: Wat is die grootste interne uitdagings wat die kerk moet hanteer?

NUUT: Nou kan jy ‘n huldeblyk skryf op Kerkbode.co.za

Ons sien meer en meer voeteverkeer op die In Memoriam-afdeling op ons webwerf. Dié afdeling bevat tans doodsberigte oor gewaardeerde rolspe­lers in die kerkverband, soos die mees onlangse huldeblyk aan prof Jannie du Preez.

“Jannie is op 16 Augustus 1927 in die Suid-Kaap gebore – sy gedenkdiens en begrafnis op Vrydag 16 Augustus om 09:30 by Serenitas-aftree-oord in die Strand, vind dus op sy 92ste verjaarsdag plaas,” het prof Martin Pauw geskryf.

Kerkbode nooi nou ons breër le­sersgehoor uit om self huldeblyke vir hulle geliefdes op ons digitale platform te kom lewer. Die een­vou­dige proses is geskoei op dieselfde stappe wat briefskrywers reeds met sukses volg om briewe vir aanlyn- en koe­rant­publikasie voor te lê en ska­kel omslagtige kor­respondensie per e-pos uit. – Red.

NG Simondium Familiekerk

Leraarspos: Twee jaar vastetermyn, met die opsie om dit te verleng
SLUITINGSDATUM: Vrydag 20 September 2019.


GEMEENTEPROFIEL

Die NG gemeente Simondium lê in die mooi Paarlvallei, tussen Franschhoek en die Paarl, langs die R45. Die gemeente is ’n klein, maar groeiende geloofsgemeenskap wat as familiekerk funksioneer. Die kerngroep van die huidige betrokke lidmate is tussen die ouderdom van 30 en 45 jaar.

Die gemeente beleef ’n splinternuwe seisoen en is deel van ’n snelontwikkelende en groeiende gemeenskap. Die gemeente wil loop in die spore van Jesus en daarom staan hulle vir waardes soos eenvoud, egtheid, inklusiwiteit en diensbaarheid.

DIE IDEALE KANDIDAAT:

  1. Energiek, passsievol en toegewyd.
  2. ’n Leier wat die gemeente op ’n groeipad kan neem.
  3. Dinamiese en aktuele prediking.
  4. Gesinsbediening.
  5. Kinderbediening – huidige fokus op laerskool, met die potensiaal van ’n tienerbediening.
  6. Verstaan die leefwêreld van die millenials.
  7. ’n Bouer van verhoudings – met oud en jonk.
  8. Waardes van eenvoud, egtheid, inklusiwiteit en diensbaarheid.

VERGOEDINGSPAKKET:

Onderhandelbaar – tot vlak 5 van die huidige sinodale skaal.
’n Ruim pastorie is beskikbaar.

AANSOEKE:

Stuur asseblief u aansoek en CV, met twee referente aan:

’n Vraelys is op navraag beskikbaar en moet saam met die CV ingestuur word.
Kandidate wat die kortlys haal, sal gekontak word vir ’n onderhoud.

NAVRAE:

  • Ouderling Elsabé Koch (Voorsitter van die kerkraad) sel: 073 301 2425.
  • Ouderling Kobus Pienaar sel: 082 340 9294.

SLUITINGSDATUM: Vrydag 20 September 2019.

Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit enige van die aansoeke te maak nie.

OPINIE: Toe-oog in die tokkamer … maar hoekom?

Met die rugbywêreldbekertoernooi wat op 20 September in Japan begin, bepeins die rugbykommentator MARCO BOTHA die verskynsel van die tokkamergebed.


Kies God werklik kant in ’n rugbywedstryd? Dat die hoop, of geloof, bestaan dat God Hom enigsins met die sportsoort bemoei, is ongetwyfeld te bespeur as ’n mens spelers se gedrag en roetines vir selfs ’n kort tydjie bestudeer.

My indruk is dat gebed beslis vir ’n groot klomp spelers veel meer as net ’n tipe rubberstempel is – iets wat uit gewoonte en byna onnadenkend ingespan word. Vir Bakkies Botha, byvoorbeeld, was dit in 2010 ’n geweldige verleentheid nadat hy vir nege weke geskors is vir ’n kopstamp op die All Black-skrumskakel Jimmy Cowan. Vir Bakkies was rugby ’n manier om die Here te verheerlik en met hierdie openbare feit as konteks, is sy vuilspel teen Cowan veral sterk veroordeel.

Vir die “enforcer” in enige rugbyspan bied die tokkamergebed beduidende uitdagings. Trouens, die tokkamergebed is in geheel ’n interessante verskynsel. Ongeag hoe ongepoets die gebedsleier mag wees, kan die opregtheid van die gebed selde betwyfel word. Maar dit sou moedswillig wees om hoër teologiese begrip aan die gemiddelde gebedsleier toe te skryf. So waarom bid spelers dan hoegenaamd as span voor wedstryde?

Om te “speel tot eer en verheerliking van u naam,” laat ruimte vir teleurstelling solank as wat ons “tot die beste van ons talente” speel.

Dit laat dikwels die ongemaklike moontlikheid dat God aan twee opponerende gebede oorweging moet skenk, want daar word na alle waarskynlik in albei kampe om guns gebid!

Indien jy uit die honderde duisende rugbyspelers in Suid-Afrika onder die 900 beroepspelers tel, kry jy wel op televisie die geleentheid om God na dese beswete en met ’n hoedjie van die borg op jou kop vir jou talente en voorregte te bedank.

Dit kan wees dat die tradisie van die spangebed bloot die handhawing van ’n spantradisie is – ons bid want ons bid (watter derduiwel sal die tradisie doelbewus durf verbreek?). En as ons nie bid nie – soortgelyk aan die berekende risiko om nie te glo nie – laat ons die deur oop vir potensiële teëspoed wat vermy kon word.

Moontlik is “sy hand van beskerming teen ernstige beserings” die sinvolste deel van enige gebed vyf minute voor afskop. Of dalk is dit eenvoudig dat gebroke mense berusting vind in die geloof dat God tog in hulle wel en wee belangstel.

  • Marco Botha is ’n skrywer en Afrikaanse rugbykommentator.

Op reis na ’n versoen(en)de werklikheid in Suid-Afrika

Ds Stefan Malan, leraar van die NG gemeente Empangeni, skryf:

Mag ons nie vasklou aan simbole wat ons weet sommiges se pyn en lyding sal laat herleef nie?

Die totstandkoming van die demokratiese Suid-Afrika na afloop van die historiese verkiesing op 27 April 1994, het daarmee saam die vraag laat ontstaan: In hoe ’n mate kan en behoort geregtigheid te geskied teenoor hulle wat moes lei onder apartheid? Daar was die twee kante van individuele en gemeenskaplike geregtigheid, maar ook die netelige kwessie van watter tipe geregtigheid gepas sou wees. Die vergeldende soort soos die berugte Nürenbergverhore in Duitsland na afloop van die Tweede Wêreldoorlog, of ’n sambreelamnestie, wat in die praktyk sou neerkom op nasionale vergeetagtigheid en die verdere miskenning van die seer van apartheid se slagoffers?

Deur God se genade was daar prominente, wyse leiers aan beide kante van die politieke spektrum, wat die noodsaaklikheid van ’n derde roete ingesien het, by name die soeke na helende geregtigheid. In opdrag van die nuwe regering is hierdie soeke voor die deur van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) gelê.

Individuele slagoffers kon nie nadat amnestie aan oortreders verleen is, ’n siviele eis om kompensasie vir verliese aanhangig maak nie. Daarom is kompensasie deur die regering aan slegs sowat 20 000 individuele slagoffers van apartheid gedra – as uitvloeisel van die kommissie se werksaamhede. Aangesien dit ekonomies en andersins eenvoudig net nie haalbaar was om vergoeding te bied op gemeenskapsvlak aan elkeen wat op een of ander manier negatief deur apartheid geraak is nie, is die hoop wel deur die WVK uitgespreek dat daar tog maniere gevind sou word – wat soos finansiële vergoeding aan individue simbolies van aard sou wees – om die reikwydte van helende geregtigheid in die land te verbreed.

Desmond Tutu, emeritus-aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk, skryf in sy boek, No future without forgiveness (1999, Doubleday), dat dit die kommissie se hoop was – as so ’n simboliese kompensasie op nasionale vlak – dat strate en skole hernoem sou word na slagoffers van apartheid en dat geriewe soos klinieke, ontspanningsareas en gemeenskapsentrums, tot hulle nagedagtenis opgerig sou word. Monumente moes ook opgerig word. Dit alles moes egter so gebeur dat dit nie weer op hulle beurt verdeel nie, maar insluit. Dit moes ’n hele nasie help om op ’n positiewe manier te onthou. Herinneringstekens en simbole moes die kapasiteit hê om by te dra tot die proses van genesing en versoening. Sulke herinnerings, skryf Tutu, “… would bind us together after so long enduring things that were designed to tear us apart and instil hostility and disharmony.” Dan spreek hy sy hoop uit dat “… we would learn to celebrate occasions and events which have brought us together … when we discovered that we were indeed the rainbow nation.

Aan God alleen is die dank dat ons land nie in aanloop tot en na afloop van die eerste vrye en regverdige demokratiese verkiesing in 1994 ’n ander pad geloop het nie, maar vertrek het (en steeds op pad is), na versoenende, helende geregtigheid vir die meerderheid van mense in ons land wat op een of ander manier benadeel is deur die sistemiese ongeregtigheid van apartheid. Aan Hom die dank vir mense wat met wysheid kon optree in belang van ’n beter, gesamentlike toekoms wat tot voordeel van almal sou strek.

Mag ons vandag steeds, ook as gelowiges, die mandaat opneem om gesprekke aan te knoop, verhoudings te bou, en simbole te vestig wat steeds streef na heling en herstel van die gebrokenes. Mag ons só praat en optree dat ons nie verder seermaak en vervreem deur herinneringe op te diep en vas te klou aan simbole wat ons weet sommiges se pyn en lyding sal laat herleef op ’n manier wat nie ten doel het om daardie seer te genees nie.

Ons het die voorreg om in ’n land te bly wat ’n voorbeeld is vir die res van die wêreld wanneer dit kom by die keuse om te werk vir versoening, herstel en heling. Martin Luther King Jnr het een keer gesê: “Unless we learn to live together as brothers we will die together as fools.” Mag ons mekaar meer en meer so leer sien en die pad na môre met waardigheid en integriteit stap op pad na groter en dieper ontdekkings van lewe wat opgroei uit herstelde verhoudings oor alle moontlike grense heen. Hierdie is ’n besonderse reis. In ’n besonderse land. Met besonderse mense. Aan God die dank.

Narsiste in gemeentes: ‘Kerk mag nie onkundig en wêreldvreemd wees nie’

As remediërende aksies nie werk nie, moet narsistiese leiers gehelp word om hul poste te ontruim skryf Francois Preiss.


Narsisme is skerp aan die toeneem in die Westerse samelewing. Literatuur en ervaring bewys dat kerke, geloofsgemeenskappe en teologiese opleidingsentra nie gespaar word nie. Wat staan werknemers in organisasies te doen as hul leier of kollega aan hierdie patologie ly? Wat maak die medeleraar(s) en kerkrade in sulke omstandighede?

Narsiste is dikwels charismatiese leiers wat ’n kerk, groep of organisasie op ’n dinamiese manier na groot hoogtes kan lei. Narsistiese leiers se sterretjies skyn egter nie vir altyd nie. Soos Narsissus, die mitologiese figuur wat gesterf het vanweë sy beheptheid met homself, so is narsisme selfvernietigend. Die grandiose drome van mag en sukses maak dat narsistiese leiers verregaande risiko’s neem en soos Ikarus te na aan die son vlieg. So lei hubris tot ’n katastrofe vir die organisasie en tot die narsistiese leier se val.

Teen die tyd dat organisasies besef dat hulle in die moeilikheid is vanweë siek leierskap, is daar moontlik reeds onberekenbare skade berokken en moet daar ingegryp word. Dit geld veral gevalle waar die narsisistiese leier naas groot sake-foute hom of haar ook aan onetiese gedrag skuldig gemaak het.

Narsiste het ’n swak super-ego en hulle glo dat ander norme vir hulle geld as vir ander. Dit is dan ook die rede waarom hulle, al is daar groot morele oortredinge, steeds geen kapasiteit vir verleentheid toon nie. Narsiste maak hule eie reëls. Voeg dan daarby die geneigdheid van ekstreme narsiste om chaos in ’n organisasie te veroorsaak, dan raak die dringendheid om in te gryp, al hoe groter.

In ’n kerklike omgewing sal die eerste stap gewoonlik wees om met die leier gesprek te voer – individueel of in die teenwoordigheid van getuies. In die geval van ekstreme narsiste, het dit egter weinig waarde. Hulle is selfbehep, het ’n baie sterk wil, luister nie graag na advies nie en glo hulle is altyd reg. Hulle glo dat hulle “spesiaal” is en geregtig op voorkeurbehandeling. Aangesien dit ’n patologie is, is daar nie self-insig nie. Dit is hoogs onwaar-skynlik dat ’n gesprek enige langtermyn verandering teweeg sal bring.

Wanneer narsiste die wind van voor kry, is daar ook tipiese gedrag wat verwag kan word. Die persoon wat die teenstand bied, word verdag gemaak, soms uit die organsisasie uitgewerk, aangeval en verkleineer. Die narsis beroep hom of haar op bestuursliggame, die hof of die menslike hulpbron afdeling.

Alternatiewelik of terselfdertyd verval hulle voortdurend in emosionele uitbarstings van woede, trane, selfbejammering en manipulerende gedrag.

Hoe moet organisasies met hul narsistiese leiers maak?

Dit is belangrik dat narsistiese gedrag herken word. Nie alle selfgesentreerde gedrag dui noodwendig op ’n diagnose van narsisme nie. Kliniese presisie is nodig. As daardie diagnose eers gedoen is, kan verskillende strategieë probeer word om die skadelike impak van die narsistiese leier te minimaliseer.

Manfred Kets de Vries verwys in sy boek The Leader on the Coach na die “downsizing the narcissist”. Voorbeelde hiervan sluit in:

  • Versprei magte

Besluitnemingsmagte moet onder verskillende persone versprei word en maniere moet gevind word om runaway leadership te blok. Deur die nodige strukturele meganismes in plek te sit, kan die narsistiese leier in toom gehou word. Wanneer rolle uitgeklaar word, lei dit tot verdere inperking van die narsistiese leier se ambisie en hongerte na mag.

  • Soek die skadu

Beheerliggame van organisasies moet die skadukant van leierskapsgedrag kan raaksien. Dit veronderstel kennis van ‘n kliniese benadering tot organisatoriese probleme. Deur monitering moet toegesien word dat die narsistiese nie hul organisasies na ‘n afgrond toe lei nie. Dit vra nogal baie van werknemers, want hulle moet hul baas se narsisme erken en daar rondom werk.

  • Probeer help

Bestuursafrigting kan voorgestel word. Dit kan ’n opdraende stryd wees aangesien narsiste nie daarvan hou dat ander hulle mentor nie. Hulle hou daarvan om in beheer te wees. Narsiste kan nie en wil nie die pyn van selfondersoek deurstaan nie. Die gedagte dat hulle nie volmaak is nie, is vir hulle ondraaglik.

  • Die rol van ’n sidekick

Michael Maccoby meen dat sommige narsiste ’n sidekick kan kry. Die ridder, Don Quichot is ’n klassieke voorbeeld van ’n narsis en dromer wat uit voeling was met die werklikheid, maar wat gereeld van rampe gered is deur sy mede-avonturier en agterryer Sancho Panza. Veral narsiste wat grotendeels ’n visioenerende leier is, kan baatvind by ’n sidekick wat goed is met operasionele bestuur en implimentering van die visie. Dit vra egter ’n baie besondere mens om ’n sidekick te wees. Die sidekick moet die narsistiese leier help om in kontak met die realiteit te bly, aangesien narsiste se fantasieë hulle op verre verbeeldingsvlugte neem. Die sidekick moet boonop die insig en wysheid hê om die narsis te bestuur. Die sidekick kan ook meer as een persoon wees.

Die gevaar is egter dat die sidekick saam begin knoei. Narsistiese leiers is geneig om adjudante om hulle te vergader en hul vuilwerk vir hulle te doen.

  • Stuur vir berading

Sielkundige terapie kan aangebied word. Dis egter hoogs onwaarskynlik dat ’n narsis vrywillig vir berading sal gaan. Narsiste sien hulself as onfeilbaar en sien ander mense as die rede vir hulle probleme. Die meeste narsiste sal waarskynlik baie selektief wees in die inligting wat hulle deel of verdraaide waarhede meedeel.

As geen een van bogenoemde remediërende aksies werk nie, is daar eintlik net een ding om te doen. Narsistiese leiers moet gehelp word om hul poste te ontruim. Die hulp van ’n arbeidsprokureur of ’n kerklike regskenner kan ook ingeroep word. Mooi praatjies sal nie help nie. Dit kos gesag sterker en magtiger as die narsistiese leier om sy dienste te beëindig. Dis dan nie ’n tyd vir bang wees vir die narsistiese leier se dreigende houding nie. Dis tyd om op te tree. Hiervoor is wysheid en goeie tydsberekening nodig. Die psigiater Scott Peck sê in sy boek People of the Lie dat hierdie leiers met “raw power” verskuif moet word.

Al die raad hierbo, geld vir beide die kerk en die organisasies daarbuite. Die kerk mag nie onkundig en wêreldvreemd wees nie. Die een groot verskil is egter dat die kerk ook ’n skepping van die Heilige Gees is wat met geloofsonderskeiding, baie gebed en ’n diepe afhanklikheid van God hierdie tipe probleem moet hanteer. Verder moet daar nie vergeet word dat ons in ’n geestelike stryd betrokke is nie. Die moeilikste is om alles met liefde te doen. Die kerk bly immers ’n liefdesgemeenskap.

  • Francois Preiss is opleidingskonsultant: Leierskapsopleiding by HOUSE OF LEARNING.
    Kontak hom by francoispreiss@gmail.com

Die tydelike ekumene van die Camino

Ses verskillende nasionaliteite se pelgrims lê uitgestrek op plankdun matrassies in die bo-kamer van ’n Katolieke katedraal se kantoorruimte in Viana, Spanje. Buite krioel die feesgangers nog ná vanmiddag se optog, deel van die feesverrigtinge rond­om Corpus Christi, en jong Spanjaarde karfoefel rumoerig in die smoorhitte somernaglug op die stadsplein. Dit is luid genoeg om enige persoon uit die slaap te hou en die pelgrims in die bo-kamer is móég. Hulle lywe is seer gestap aan ’n lang ent pad. Rus is broodnodig, maar hoewel die slaapreëlings (met simfonie van snorkgeluide, slaapklanke en die bure se geraas) na ’n onafwendbare plofsituasie lyk, is die tydelike ka­mermaats reeds rustig aan die slaap.

Hulle het vroeër die aand met behulp van handgebare en Google Translate ge­sprek gevoer oor vrede en genade. Hul­le het saamgeëet en gaan môre weer saam hulle stapstewels aantrek.

Daar is soveel wat eintlik die eku­me­ne en vrede teenwerk. Tog, hier op die Camino Frances blyk die blote aktiwiteit van een voet voor die ander sit ’n won­derbaarlike versoenende element te wees in ’n wêreld waar ons-en-hulle-skeids­lyne al hoe meer in die stof getrek word.

As jy smag na stilte in ’n oorvol impuls-wêreld

Ek beplan al sewe jaar lank om die Camino in Spanje aan te durf. Die doel­wit is gestel vóór die wonderlike skrywer Erns Grundling dié skat vir menige Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner in sy boek Elders oopgebreek het. My man het net so knus onder die 1 000 km gaan stap toe ons eersgebore seuntjie een jaar oud geword het. Hy het ’n rustiger, meer tevrede mens teruggekom. Ek wou onmiddellik ook gaan. Vir lank het ek ge­droom oor die tog. Wat gaan dit behels? Wat gaan dit vir my openbaar? Maar onderliggend, veral namate ons huis­houding al hoe besiger geword het ná die geboorte van ons tweede kind, was die oorheersende smagting na stilte.

Wat ek op my Camino (“slegs” 330 km vanaf Saint-Jean-Pied-de-Port tot by Burgos) gevind het, is onbeteuelde genot in die eenvoud en samehorigheid van die ervaring. Honderde mense wat mekaar van geen kant af ken nie, word saamgevoeg in eenhede van gedeelde doel (shared purpose). Pelgrims verwys na hulle “Camino-familie” met ’n deernis en empatiese teerheid wat dikwels in selfs die hegste kernfamilies skort. Jou familie op hierdie soekende staptog word saamgeflans uit die lukrake groep pelgrims wat op min-of-meer dieselfde skedule stap. Tonele van die verlore seun se tuiskoms word uitgespeel as ver­lore “familielede” mekaar toevallig weer in ’n klein Spaanse dorpie raakstap.

’n Sagte “Buen Camino”, die seën­wens wat pelgrims mekaar toewens, spoel maklik oor in opregte belangstellende navraag oor wié jy is en hoekom jy stap. Daar is min oppervlakkigheid. (Ek onthou dat ek as student reeds ’n kru veronderstelling van poësie gepen het oor hoe vlak ’n vloekwoord vir my is.) Gesprekke bokspring sonder enige ge­sukkel bo-oor kletspraatjies (small talk) pens en pootjies in dieper kwessies in. Só vra ek een lid van ’n groep wat saam met ’n jong serebraalgestremde man die roete aanpak – hulle dra hom in ’n sitstoel oor berg en dal – hoekom hy dit doen. Vyf minute later is ons reeds verdiep in die intense roeping wat hy al as tiener er­vaar het om mense by te staan wat anders as ons aanmekaar gesit is. Ek gesels saam oor die uitda­gings van unieke kin­ders in ’n wêreld wat neuro-tipiese denkpatrone as normaal gevestig het. Ons praat oor geloof, sy soeke na stilte en my smagting daarna om ligkolle van hemelse vreugde in ons hier en nou te vestig. Tien minute later groet ons mekaar. Ek gaan hom waarskynlik nie weer sien nie, maar het meer gedeel oor die dinge waarvoor ek met alles in my hoop as met van my naaste vriende.

In haar boek Quiet: The power of introverts in a world that can’t stop talking skryf Susan Cain dat introverte die tendens van oppervlakkige praatjies op sy rug keer. Hulle begin baie keer swaar en diep en sal eers ligter skerts wanneer hulle gemaklik in ’n groep voel.

Ek het nog altyd gereken ek is ’n ambivert – iemand wat mooi in die middel van die introvert/ekstrovert-glyskaal vertoef en heen en weer wieg na gelang van die omstandighede. Op die Camino was dit dieselfde. In die dag was ek stil en het ek op my eie probeer stap waar ek kon. In die aande het ek die vreug­devolle persoonlikhede van my twee Suid-Afrikaanse stapgenote geniet – hulle twee kon pelgrims van heinde en verre aantrek met hulle jovialiteit en vriendelikheid.

Die valse konstruk van ons en hulle

Terug in Suid-Afrika wonder ek nou hoekom die alledaagse wêreld soveel meer kompleks is, hoekom ons so dikwels gewelddadig met mekaar kan vassit. Wanneer jou enigste doelwit vir die dag is om jou aantal kilometers sonder ’n addisionele besering af te lê of voor ’n monsterblaas op jou voet verrys, vind jy eensgesindheid met ander pelgrims wat dieselfde sonderlinge doelwit het. Julle kan eerlik gesels oor julle uitkyke, julle ge­loof, julle menings; erken dat julle verskil sonder om kwaad of geaffronteerd te voel – en weer aanbeweeg.

Is dit die vryheid wat tydelike, ge­dwonge intimiteit bring? Dat jy kan eerlik wees sonder om aanstoot te gee of te neem, juis omdat jy jou nié oor die langtermyn verhouding tussen jou en die ander pelgrim hoef te bekommer nie? Niksseggende banaliteite is onno­dig. Jy kan sê wat jy moet sê en vra wat jy wil vra, met minder kommer oor of dit die ander persoon se persepsie van wie jy is onherroeplik in die verkeerde rigting gaan stoot.

Sou ons met effe meer genade kon omgaan as ons besef dat almal rondom ons ook net soekend is? Soekend na God, soekend na Waarheid, soekend na Vrede. In die Ons en Hulle van dié wat nog soek en dié wat reeds die waarheid het val die ganse mensdom tog maar eintlik aan die een kant van dié skeidslyn – almal is dus deel van ’n “ons” wat eers eendag in die volle teenwoordigheid van God sal weet wat gaan nou eintlik vir wat.

Op die Camino het ek ’n gedeelde doelwit met ander soekers gehad en ons kon sag met mekaar werk. My wens vir ons wêreld ná my eerste pelgrimstog word saamgevat deur ’n aanhaling van wyle Rachel Held-Evans in ’n Work of the People-onderhoud so ’n paar jaar gelede. Sy beskryf die eerste volgelinge van Christus en sê dat niemand van hulle (en ook niemand van ons) na die tafel genooi is omdat ons waardig is nie, of omdat ons dieselfde uitkyk het op alles nie, of omdat ons die regte ras of geslag is nie. Sy sê: “The one thing all of them had in common is that they are hungry … they know that they need.”

Na my eerste Camino-ervaring is ek beslis honger vir nog.

Só wil dié span kinders ‘heelmaak’

“Ons wil nie ’n dak wat lek regmaak nie. Ons wil ons kin­ders heelmaak.”

So beskryf Petro Uren die doel van die “Butterfly-projek” wat hulle bedryf.

Uren is die bemarker van die Herberg-Kinderhuis op Robertson in die Wes-Kaap en volgens haar het sowat 39 van hulle 122 kinders spesiale te­rapie nodig. Dit sluit arbeids­terapie, sielkundige terapie en spraakterapie in. Dáár lê die behoefte, aldus Uren.

“Meeste van ons kinders het by ons beland met ernstige emosionele probleme en fisie­ke trauma. Daar is baie gevalle waar ouers kinders verwerp het, seksuele en emosionele mis­han­deling en verwaarlo­sing. Dit alles lei tot ’n lae self­waarde en gedragspro­bleme. Hul­le het toegang tot drie maat­skaplike wer­kers, maar hul­le be­no­dig siel­kundige terapie,” sê sy.

Jeanne van Niekerk

Om 39 kinders gespesialiseerde terapeutiese behandeling te bied, beloop ’n beraamde bedrag van R348 300, vol­gens Uren.

Uren en die span wat hierdie projek op Robertson be­stuur, tel onder die lys van begunstigdes van Kerkbode se jaarlikse Kersfonds.

Indien jy belangstel om men­se soos Uren se hande sterk te maak, vra ons dat jy ons Kersfonds ondersteun. – Jeanne van Niekerk, Kersfondsbeampte.

BETALINGSOPSIES

Opsie 1: Betaal asseblief die bedrag direk in ons bankre­ke­ning in. Die Kersfonds se bankbesonderhede is: Reke­ning in naam van: Kerkbode-Kersfonds. Bank: Absa. Reke­ningnommer: 044306417. Takkode: 632005.

Opsie 2: Skakel vir Jeanne van Niekerk, tel 021 864 8252, verskaf u bankbesonderhede en sy sal die bedrag van u reke­ning verhaal.

NG Kerk Hanover – Noord-Kaap

Vakature: Vastetermyn leraarspos (kontrakpos)
(Kerkorde reglement 15) vir twee jaar
Sluitingsdatum vir aansoeke: 19 September 2019


In biddende afhanklikheid van die Here nooi die kerkraad van Hanover emeritus (verkieslik) predikante van die NG Kerk uit om vir bogenoemde leraarspos aansoek te doen. Die kerkraad en die (emeritus) predikant kan na twee jaar onderhandel om die termyn te verleng.

GEMEENTEPROFIEL:

  • Hanover is ’n plattelandse gemeente binne die Sinode van die Noord-Kaap. Dit is geleë op die N1 tussen Colesberg en Richmond.
  • Die gemeente bestaan reeds ongeveer 163 jaar en het ongeveer 100 belydende lidmate en 19 dooplidmate. Die gemeente is opgedeel in drie dorpswyke en drie plaaswyke. Besoekpunte is binne ’n radius van ongeveer 100 kilometer en is hoofsaaklik grondpaaie. Skaapboerdery is die hoof ekonomiese aktiwiteit in die omgewing.
  • Die kerkraad bid en streef dat die NG gemeente Hanover ’n koninkryksverskil sal maak. ’n Emeritus leraar (of andersins) wat saam met die kerkraad hierdie droom wil droom en uitleef, in ’n plattelandse konteks, word uitgenooi om aansoek te doen. Die kerkraad het daarom die volgende leraarsprofiel saamgestel.

LERAARSPROFIEL:

  • ’n Leraar met ’n passie vir platteland se mense en wat begrip toon vir hul unieke omstandighede;
  • ’n Leraar wat ingestel is op persoonlike kontak, opbouende kommunikasie, en verhouding bou;
  • ’n Leraar wat lidmate begelei tot dissipelskap en die beoefening van Christelike geloofsgewoontes;
  • ’n Leraar wat lidmate begelei om veral in hul plaaslike konteks ook met ander Christelike
    geloofsgemeenskappe, as gestuurdes te leef; en
  • ’n Leraar wat die gemeente begelei en bedien volgens Artikel 9 van die Kerkorde.

VERGOEDING:

R15 000,00, ’n vaste vervoertoelaag van R1 000,00 en ’n vaste bedrag per kilometer per maand. ’n Ruim gemeubileerde woning word voorsien.

AANSOEKE:

  • Belangstellendes word genooi om hulle persoonlike besonderhede en ’n volledige CV, asook die name en kontakbesonderhede van drie referente te e-pos na: plaashuis@mweb.co.za of piek.barend@gmail.com
  • Kandidate moet beskikbaar wees vir ’n persoonlike onderhoud en ’n moontlike preekbeurt.

Sluitingsdatum vir aansoeke: 19 September 2019.

Diensaanvaarding: Voor einde November 2019, of volgens ooreenkoms.

NAVRAE:

Charlie Brown, waarnemende voorsitter: kerkraad, tel: 053 643 0110, sel: 082 414 9414, e-pos: renebrown47@gmail.com
Barend Piek, brugpredikant, tel: 053 643 0015, sel: 072 185 4297, e-pos: plaashuis@mweb.co.za

Die kerkraad behou homself die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
Maak asseblief hierdie vakature bekend aan leraars wat nie toegang tot die internet het nie.

Amptelike nuus, 30 Augustus 2019

NG Kerk

Beroep

Ds Fouché de Wet van #Imagine na Pretoria-Oos (Ooskerk); ds SP (Faani) Engelbrecht van Goodwoodpark na Melkbosstrand; ds Marnus Geyser van Dennesig na Marchand; prop Bernice Baard na Piet Plessis.

Noord-Kaap

Emeritaat

Ds SW Albertyn van die NG Kerk Orania het op Sondag 14 Julie 2019 emeritaat ontvang. (Schalk W Albertyn, RS, 22.08.2019).

Bevestiging

Ds SW Albertyn is op Sondag 14 Julie bevestig as tentmaker in ’n vastetermynpos in die NG Kerk Orania. (Schalk W Albertyn, RS, 22.08.2019).

Stuur Amptelike Nuus na Lida Viljoen by lida@tydskrifte.co.za

NG Kerk Velddrif

Vakature: Voltydse leraarspos
Sluitingsdatum vir aansoeke: Vrydag 13 September 2019


Gemeenteprofiel:

Ons is ’n plattelandse gemeente met 740 belydende en 122 dooplidmate geleë aan die Weskus. Hier is nuwe woonbuurtontwikkeling, ’n laer- en hoërskool, aftree-oord en die be­kende Port Owen-marina aan die Bergrivier met onder andere ’n seiljaghawe. Die inwoners is uit die hele ouderdomspektrum. Die meerderheid lidmate is direk of indirek verbonde aan die visbedryf, maar met ’n hoër as normale aantal bejaardes.

Leraarsprofiel:

Bereid om pligte vervat in Kerkorde Artikel 9 uit te voer.

Vergoeding:

Volgens sinodale skaal as riglyn, min of meer rondom skaal 5 gebaseer.

Ruim pastorie beskikbaar.

Aansoekprosedure:

Stuur aansoek, CV (twee bladsye) en antwoorde op die volgende vrae aan:
Die Kerkkantoor, Posbus 44, Velddrif 7365 of e-pos: ngkvelddrif@telkomsa.net
(Tel: 022 783 0005).

Merk aansoeke duidelik as: Aansoek om leraarspos.

Vraelys:

  1. Noem die spesiale belangstellingsareas wat u in die bediening besonder vervullend vind.
  2. Noem u besondere gawes en hoe u dit aanwend in die bediening.
  3. U standpunt oor samewerking met ander gemeentes en die herenigingsproses.
  4. Hoe bevorder u goeie spanwerk.

Navrae:

Wessel Vermeulen 082 929 8288 (Gemeentebestuurder).

SLUITINGSDATUM vir aansoeke: Vrydag 13 September 2019.

Die kerkraad behou die reg voor om enige of geen van die aansoekers aan te stel
sonder opgaaf van redes.