
1 EN 2 KONINGS (BYBELBOEKE)
Skrywer: WS Boshoff

1 EN 2 KONINGS (BYBELBOEKE). Die twee Koningsboeke is die laaste twee boeke van die Deuteronomistiese geskiedwerk*, ’n omvattende geskiedenis van Israel* wat begin by die uittog* uit Egipte* soos dit in Deuteronomium* vertel word en eindig by die val van Jerusalem* aan die einde van 2 Konings. Dit is egter nie geskiedenis ter wille van die geskiedenis nie. ’n Mens kan die Koningsboeke lees as ’n preek wat Israel en Juda* se geskiedenis as preekteks gebruik. Dit kan wees dat die Koningsverhaal op ’n hoopvolle noot eindig met die kort vertelling oor die voorregte wat Jojagin* van koning Ewil-Merodak van Babel* ontvang het (2 Kon 25:27-30). Daar is egter geen teken van ’n moontlike terugkeer uit die ballingskap* nie.
Die Koningsboeke is eintlik ’n geskiedenis van rou. Dit is die treurige geskiedenis van mense wat nie aan God gehoorsaam wou wees nie. Al het die profete* vir hulle gesê wat God wou hê, het hulle nie geluister nie. Uiteindelik het God sy volk oor hulle ontrou gestraf. Hy het toegelaat dat vyande eers vir Israel en later ook vir Juda vernietig. Dit is oor hierdie optrede van God dat die Koningsboeke handel.
1 en 2 Konings kan soos volg ingedeel word (met talle moontlikhede om dit nog fyner in te deel):
1 Kon 1–11 ‑Koning Salomo* se geskiedenis
1 Kon 12–16 ‑Die twee koninkryke, Israel en Juda
1 Kon 17–2 Kon 8 ‑Die profete Elia* en Elisa*
2 Kon 8–17 ‑Die twee koninkryke (vervolg)
2 Kon 18–25 ‑Die geskiedenis van Juda, ná die val van
Israel
Die twee Koningsboeke behandel die geskiedenis van Israel en Juda ná Dawid* se regeringstyd. Dit gaan sonder onderbreking aan waar 2 Samuel* opgehou het. Aan die begin leef Dawid nog, maar hy is baie oud en swak. Hy word deur sy seun Salomo opgevolg. Salomo moes sy posisie op die troon eers bevestig en dit doen hy met meedoënlose vasberadenheid. In die proses raak hy stelselmatig van sy teenstanders ontslae. Daarna bou hy die tempel* en sy paleis in Jerusalem, maar maak hom ook skuldig aan afgodsdiens*.
Ná Salomo se dood skeur die koninkryk wat Dawid verenig het in twee (1 Kon 12). In die Noordryk (Israel*4) plaas Jerobeam* bulbeelde (Kyk by: Kalwerdiens) by die twee heiligdomme in Bet-El* en Dan*. Sy idee was dat die mense van Israel die Here* by hierdie heiligdomme moes vereer. Hy wou hulle keer om na Jerusalem se tempel te gaan om die Here daar te gaan dien. Jerobeam se optrede word regdeur die Koningsboeke gekritiseer. Al die konings van Israel word negatief beoordeel, omdat hulle vereenselwig word met Jerobeam se optrede.
Die parallelle geskiedenis van Israel en Juda word saam vertel. Elkeen van die konings van die twee koninkryke se verhaal word vertel in terme van sy tydgenoot in die ander koninkryk s’n. Nadat die Noordryk (Israel) in 722 vC deur die Assiriërs verower is, gaan die verhaal van die Suidryk (Juda) voort tot by die val van Jerusalem en die begin van die Babiloniese ballingskap. Elke koning se regeringstyd word beoordeel. Die maatstaf is nie hoe goed hy regeer het nie, maar of hy die Here gedien en die afgodsdiens uitgeroei het. Die ernstigste beskuldiging wat teen ’n koning gerig kan word, is dat hy sy mense gelei het om die afgode van die Kanaäniete* te vereer. Van die ergste oortreders in dié verband was Jerobeam, die seun van Nebat, en Agab*, albei konings van Israel, en Manasse* van Juda. Die konings wat die positiefste beoordeel word, is die godsdienshervormers, Hiskia* en Josia*. Hulle groot prestasie was dat hulle die tempel opgeknap en die erediens by die tempel weer herstel het.
Die twee Koningsboeke handel egter nie net oor die konings van Israel en Juda nie. Saam met die verhale van die konings kry ons ook die verhale van ’n aantal profete. Sommige van die profete is bekende figure soos Elia en Elisa. Ander is onbekend en dikwels anoniem. Hulle speel egter ’n belangrike rol in 1 en 2 Konings, want hulle maak die wil van God aan die konings en die volk bekend. Soms het hulle boodskappe oor die godsdiens gehandel en ander kere oor militêre sake of alledaagse politieke besluite. Die groot aantal profeteverhale is die rede dat daar in die Joodse* tradisie na dié deel van die Bybel* as die Vroeë Profete verwys word (teenoor die Later Profete vanaf Jesaja* tot Maleagi*). Dit is merkwaardig dat die enigste Skrifprofeet wat in die Koningsboeke ’n rol speel, Jesaja van Jerusalem is. ’n Groot deel van Jes 36–39 stem ooreen met 2 Kon 18–20.
Verskillende en uiteenlopende bronne is gebruik om die Koningsboeke te skryf. Die belangrikste soorte bronne was kronieke en vertellings oor die konings van Israel en Juda en vertellings oor die lewe en werk van die profete. Die hofkronieke is aan die koninklike hof op datum gehou. Daarna word dikwels verwys as die Annale van die konings van Juda en/of Israel. Die profeteverhale is waarskynlik versamel en ingeweef in die koningsverhaal deur mense wat graag wou sien dat die profete se boodskappe en optrede onthou moes word.
Teen die tyd van koning Josia van Juda (622 vC) was ’n eerste weergawe van die geskiedenis van Israel en Juda waarskynlik reeds geskryf. Die doel sou wees om te verduidelik dat die Noordryk ondergegaan het omdat hulle van die koningshuis van Dawid en die tempel in Jerusalem weggebreek het. Die Judese konings was almal afstammelinge van Dawid, maar die konings van Israel nie.
Later moes die geskiedenis egter oorgeskryf word. Die herskrywing het tydens die ballingskap in Babel gebeur (ná 560 vC toe Jojagin* vrygelaat is). Die vraag om te beantwoord was: Hoe is dit moontlik dat Israel die beloofde land wat hulle ontvang het, weer kon verloor?
Die Koningsboeke, en gevolglik die hele Deuteronomistiese geskiedwerk, is voltooi vóór die Persiese* oorname van Babel, in 539 vC. Dit blyk uit die feit dat daar geen aanduiding is dat die skrywers geweet het van die Persiese reëling dat die Judeërs na Jerusalem kon terugkeer nie. (Kyk by: Kronieke* vir ’n ander interpretasie van dieselfde geskiedenis.)
R250,00
Christelike Kernensiklopedie
Wenner van die Ds Pieter van Drimmelen-medalje! Hierdie unieke ensiklopedie spog met grootse statistieke. Dit het 3250 inskrywings, 1248 volkleur bladsye en 163 medewerkers (waaronder teoloë, historici, literatore en joernaliste). Die medalje is toegeken aan die hoofredakteur, dr. F.M. Gaum
Vriende van Kerkbode
Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus
Vakatures


NG Gemeente Hennenman: Jeugwerker
3 Desember 2025

NG Gemeente Koës, Namibië: Vastetermyn kontrakpos vir twee jaar
3 Desember 2025

NG Kerk Daniëlskuil: Voltydse leraar
2 Desember 2025
Vakatures


NG Gemeente Hennenman: Jeugwerker
3 Desember 2025

NG Gemeente Koës, Namibië: Vastetermyn kontrakpos vir twee jaar
3 Desember 2025

NG Kerk Daniëlskuil: Voltydse leraar
2 Desember 2025