Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

ecke

Met die eCKE ontdek jy meer as 3 500 geloofsinsigte – maklik, vinnig en in Afrikaans. Dié is jou digitale venster na die ryk geskiedenis en hart van die Christelike geloof

AFRIKAANS
Skrywer: FM Gaum

AFRIKAANS. CJ Langenhoven* het oor Afrikaans ’n uitspraak gemaak wat in ’n stadium dikwels aangehaal is: “Afrikaans is die enigste witmanstaal in Suid-Afrika wat nie klaar van oorsee af gekom het nie”. Dis natuurlik nie korrek nie – Afrikaans kan nie ’n “witmanstaal” genoem word nie. NP van Wyk Louw* het dit anders gestel: “Afrikaans is die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.” Van Wyk Louw se “definisie” is klaar beter – maar daar ontbreek ’n belangrike element. Afrikaans se vroegste spore lê in Arabiese letters in die Kaap – toe Kaapse mense uit onder meer Maleisië Afrikaans daar geskryf het. Daarom sou ’n mens kon sê Afrikaans is die taal wat Wes-Europa, Maleisië en Afrika verbind en ’n brug vorm tussen die groot helder Weste, die eksotiese Maleisië en die magiese Afrika. Die taal word deur ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking gepraat en/of verstaan, soos ook elders in die wêreld waar Afrikaanssprekendes hulle in “verstrooiing” bevind. Dit het ontwikkel tot ’n eersterangse taal wat in die kombuis en die sitkamer en die studeerkamer gebruik kan word. Een van die groot bakens in die relatief kort geskiedenis van Afrikaans, was die eerste volledige vertaling van die Bybel* in Afrikaans wat in 1933 verskyn het.

Soos Duits of Engels het Afrikaans ’n politieke “verlede”, wat egter nie toegelaat mag word om sy hede en sy toekoms te belemmer nie. In die hedendaagse Suid-Afrika, met elf amptelike tale dog ’n sluipende verengelsingsproses, word Afrikaans ongetwyfeld bedreig.

Nog sienings:

  • Op die (Kaapse) spoor van Afrikaans” deur Michael le Cordeur, Die Burger, 19 Augustus 2023:

Die eenvoudigste stelling oor die herkoms van Afrikaans, is dat die taal ontstaan het toe die Khoi-Khoi en die slawe Hollands moes aanleer om in ’n groeiende kolonie in interaksie met mekaar en die vryboere te funksioneer. Khoi-woorde soos dagga, kierie, kamma, hoeka, kwagga, aitsa, eina, bietjie-bietjie en nou-nou word vandag steeds in Afrikaans gebruik. Mettertyd is onderskeidelik Kaapse Afrikaans (die slawe), Oranjerivier-Afrikaans (Khoi-Khoi) en Oosgrens-Afrikaans (Vryburgers) gepraat.

Die Koran was een van die eerste Kaapse Afrikaanse geskrifte. Die oudste vertaalde Afrikaanse teks, die Bayan al-Din (uiteensetting van die Moesliem-geloof), is geskryf deur sjeg Abu Bakr Effendi.

Waar variante van Afrikaans vroeër as minderwaardige vorme van die taal gesien is, is dit nie meer die geval nie. “Standaard-Afrikaans” is egter steeds belangrik en noodsaaklik veral bv ten opsigte van akademiese en ook openbare media. Almal moet soms van dieselfde bladsy kan sing. Standaardtaal mag egter nie in beton gegiet wees nie. Taal is dinamies. Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Die taal het ontwikkel uit ’n verskeidenheid bronne en sy wortels lê versprei oor drie vastelande, Europa, Asië en Afrika.

  • “Afrikaaans as geloofstaal” deur Nelis Janse van Rensburg, eKerkbode, 21 Julie 2023:

Geloofshuise word ook in taal gebou. Geloof gebeur immers in taal. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons geloofshuis begin met ’n Woord van God, vir mense.

Afrikaans is gebore in Afrika. Dit het aan mense identiteit gegee.Dit het vir sommige ’n medium van mag en dwang geword.Watter simboliese betekenis het Afrikaans nou vir ons tyd? Is dit ’n taal van vergifnis?

Die agenda van die kerk is nie om ’n taal te bevorder nie. Ons agenda is om diensbaar te wees. Maar daar is geen diensbaarheid sonder ’n taal nie. Afrikaans het reeds die taal van versoening begin word in ons land. Terwyl die Afrikaanse kerke saam met Afrikaans gegroei en ontwikkel het, laat ons nie deel wees van dié wat oor Afrikaans ’n taal- en kultuurpessimisme koester nie. Laat ons nou eerder die krag van hierdie taal benut om wonings op te rig waarin die rykdom van mense in ons land kan tuiskom. Afrikaans moet en kan ’n deurslaggewende rol speel om te genees en te versorg, te herstel en op te rig, vorentoe te gaan, God se toekoms tegemoet.

 

BUTHELEZI, MANGOSUTHU
Skrywer: PGJ Meiring

BUTHELEZI, MANGOSUTHU (1928–2023) is ’n regstreekse afstammeling van die Zoeloe-koning Shaka*. Hy was voorheen as Gatsha bekend, maar moes in terme van Zoeloe-tradisie hierdie naam laat vaar ná die dood van sy ma wat dit vir hom gegee het. Hy het aan die Universiteit van Fort Hare gestudeer. Sy regsberoep is kortgeknip toe hy in 1953 die erflike hoofmanskap van die stam oorgeneem het. Buthelezi het in die staatkundige ontwikkeling van Suid-Afrika diep spore getrap: hy is stigter en president van die Inkatha-Vryheidsparty, was hoof­minister van kwaZulu in die vorige staatkundige bedeling, en was minister van binnelandse sake in Mandela* en Mbeki* se kabinette. As aktiewe en meelewende lidmaat van die Anglikaanse Kerk* en as spreker by talle plaaslike en internasionale kerkvergaderings, het Buthelezi met vrymoedigheid van sy geloof in Christus* getuig, al het hy ook soms hewig van mede-Christenleiers oor praktiese politieke kwessies verskil. By die ope­ning van die veelbesproke, en destyds omstrede, SACLA*-kongres in 1979, was sy bydrae besonder betekenisvol. Buthelezi het dit tydens ’n openbare lesing in 1980 in Berlyn onomwonde gestel: “Dwarsdeur my lewe … het ek op die inspirasie van my geloof en die leiding van my Christelike beginsels staatgemaak. Elke keer as ek ’n belangrike besluit moes neem, het ek op my geloof gesteun.”

VAN HUYSSTEEN, JACOBUS WENT­ZEL VREDE (WENTZEL)
Skrywer: FM Gaum

VAN HUYSSTEEN, JACOBUS WENT­ZEL VREDE (WENTZEL) (1942–2022) het op Stellenbosch en in Amsterdam studeer, was predikant* van die NG Gemeente Noorder-Paarl (nou Paarl Toringkerk), professor in Bybelkunde aan die (destydse) Universiteit van Port Elizabeth, en was vir twee dekades die James McCord-hoogleraar in teologie* en wetenskap aan die Princetonse Teologiese Seminarium in die VSA. Hy hou hom besig met die vraag of en hoe dialoog tussen teologie en wetenskap gevoer kan word. Hy het verskeie belangwekkende boeke gepubliseer, die eerste daarvan Teologie as kritiese geloofsverantwoording wat in 1987 met die Andrew Murrayprys* bekroon is. In 2004 het hy die eerste Suid-Afrikaner en ook die eerste Princetonse teoloog geword wat genooi is om die prestigeryke Gifford-lesings in Edinburgh, Skotland, te hou. Sy lesings, uitgebrei in Alone in the World? Human Uniqueness in Science and Theology (2006), het gehandel oor menslike “uniekheid” soos gesien in die teologie en die wetenskap. Sy slotsom is dat die teologie en die wetenskap wél oor die “uniekheid” van die mens saam kan praat en in hulle dialoog wedersyds mekaar se insigte en beperkings kan erken, grense aanvaar en tog ook kruisbestuiwend kan werk. Met Alone in the World?, in 2007 bekroon met die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys*, bereik Wentzel van Huyssteen se filosofies-teologiese nadenke oor ons mens-wees ’n hoogtepunt.

Ná sy aftrede by Princeton in 2014 (en persoonlike tragedie die vorige jaar toe sy een seun, Daniël, op 42-jarige ouderdom in die VSA sterf), keer Van Huyssteen terug na Suid-Afrika en word buitengewone professor in die sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch. In 2014 ontvang hy ook die toekenning as A-geëvalueerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting. Dié toekenning word gemaak aan top geëvalueerde navorsers wat beskou word as leiers in hulle onderskeie navorsingsvelde.

Wentzel van Huyssteen, een van die knapste teoloë wat die NG Kerk opgelewer het, is na ‘n siekbed op 17 Februarie 2022 oorlede.

VRAAGGESPREK MET WENTZEL VAN HUYSSTEEN

Frits Gaum het in Mei 2003 ‘n onderhoud met Wentzel van Huyssteen gevoer.

Ons bestel herderspastei en witwyn en skuif reg vir ‘n goeie gesprek. My pad en dié van Wentzel van Huyssteen, sedert 1992 die James I McCord-hoogleraar in teologie en wetenskap aan die Teologiese Seminarium van Princeton, VSA, loop van veraf saam. Ons was studentevriende en het daarna oor dekades en soms duisende kilometers met mekaar kontak gehou al het ons in meer as een opsig in verskillende wêrelde gelewe. Deesdae word hy internasionaal beskou as een van die voorste teoloë op sy terrein.

 

FG: Wentzel, jy is ‘n kenner van die terrein wat te doen het met die verhouding tussen wetenskap en godsdiens. Jou boek, “The shaping of rationality”, wat in 1999 verskyn het, is in dié verband ‘n baken. Is daar ‘n wesenlike verskil tussen “wetenskap”, waar dit gaan oor feitelike bewysvoering, en “godsdiens”, wat te doen het met geloof in dinge wat meestal nié feitelik bewys kan word nie?

WvH: Ja, daar is ‘n wesenlike verskil tussen wetenskap en godsdiens. Ons het hier te make met twee verskillende lewensdomeine. In die wetenskap, by name die eksakte wetenskappe, baseer jy jou argumente sover as wat jy kan op bewysbare feite. In die godsdiens soek jy die sin van die lewe onder andere in rituele, geloof, tradisies … Dis nie noodwendig “bewysbare” dinge nie. Maar daar is ook ‘n verskil tussen godsdiens en teologie. In die Christelike teologie het ons ‘n 2000-jaarlange nadenke oor die godsdiens. Wat glo ons? Waarom glo ons so? Sodra ons beweeg van die belewingsvlak van godsdiens na die gesistematiseerde nadenke daaroor, kry ons te doen met die teologie. Dit wil op teologiese wyse nadink en navors oor die verskillende groot temas wat in die godsdiens ter sprake kom. Die kennis wat ons sodoende verkry, is geldige en geloofwaardige kennis. Daar is iets soos “goeie teologie” wat voldoen aan bepaalde kriteria wat ons aan ons kennis stel en wat deel is van die hoofstroomdenke daaroor. Daar is ook “slegte teologie” wat nie aan dié kriteria voldoen nie.

 

FG: Die godsdiens en die wetenskap het tog met mekaar te doen?

WvH: Soos ek gesê het, wetenskap en godsdiens is nie dieselfde nie. Maar hulle beïnvloed mekaar wedersyds en die vlak waar dié beïnvloeding bymekaar kom, is die vlak van teologiese besinning. Die interaksie tussen wetenskap en godsdiens vind plaas via die teologie. Sowel die wetenskap as die godsdiens het sekere grense. Daar is groter vrae wat nie deur feitelike gegewens bewys kan word nie, daar is ook vrae oor die werklikheid wat nie deur die godsdiens beantwoord kan word nie. En dit is oor daardie grenssituasies wat die teologie ‘n bydrae vanuit Christelike perspektief te lewer het. Die teologie het ‘n publieke verantwoordelikheid teenoor die wêreld. Ons het vanuit die teologie iets te sê oor openbare kwessies soos  aborsie of rassisme of noem maar op.

 

FG: Die laaste tyd is in Suid-Afrika debat gevoer oor die “feit” – soos sommige rubriekskrywers dit in die dagbladpers gestel het – dat daar ‘n onoorbrugbare kloof tussen wetenskap en godsdiens bestaan. Jou kommentaar?

WvH: As iemand sê daar is ‘n “onoorbrugbare kloof” tussen wetenskap en godsdiens, het hy of sy klaar begin om een van die twee te verabsoluteer. As die wetenskap buite sy eie grense tree en bepaalde lewensvrae – soos oor die sin van die lewe – probeer beantwoord, dan word die wetenskap self ‘n soort godsdiens! Dan kry ons ‘n fundamentalisme by die wetenskap – dit word “scientism” genoem – waar hy nie bereid is om sy beperkinge te erken nie. Nee, ons kan nie sê daar is ‘n “onoorbrugbare kloof” tussen wetenskap en godsdiens nie. Ons moet eerder sê albei het te doen met sekere vlakke van sin en ons moet erken dat daar vrae is waarmee albei te doene kry en wat oorvleuel. Soos oor die kosmologie, oor die oorsprongsvrae. Waar kom lewe vandaan? Dis vrae wat die grense tussen wetenskap en godsdiens oorsteek en dis onder andere die soort sake waarmee die teologie hom moet besig hou om juis ‘n brug tussen wetenskap en godsdiens te span.

 

FG: Waarom is dit vir jou belangrik dat ons godsdiens ook rede-lik verklaar moet kan word? In “The shaping of rationality” het jy heelwat daaroor te sê …

WvH: Die teologie is ‘n geldige vorm van kennis en daar speel die rede vanselfsprekend ‘n rol. Die teologie werk nie met empiriese kennis soos wat die eksakte wetenskappe dit doen nie, maar die kennis waaroor die teologie en die sosiale wetenskappe beskik, is net so geldig as dié van ander wetenskappe.

 

FG: Jy dra ‘n kruis om jou nek. Dis tog merkwaardig vir ‘n gesofistikeerde postmoderne teoloog soos wat ek jou sou wou beskryf. Wat beteken daardie kruis vir jou?

WvH: “Postmodern” is natuurlik nie so maklik vas te pen nie … dis ‘n manier van dink oor die wêreld, dis ‘n houding … dis in elk geval anders as wat dit in die sogenaamde moderne tyd was toe alle vorme van kennis as gelyk beskou is. Daar is nou ‘n baie groter mate van openheid, ‘n onwilligheid om te verabsoluteer. Postmodernisme het verskillende kante, daar is goeie en slegte aspekte daarvan. Ja goed, ek kan my vereenselswig met ‘n konstruktiewe vorm van postmoderniteit en in daardie opsig is ek miskien ‘n postmoderne teoloog. In hierdie tyd met sy baie groter openheid en wisselwerking en bereidheid om na mekaar te luister, is dit juis baie belangrik om te sê waar jy staan en wie jy is. Jy kan nie neutraal wees nie, in elke gesprek – om so te sê – moet jy al jou kaarte op die tafel sit. Jou gespreksgenoot moet weet in watter stroom jy swem. En ek swem in die Christelike stroom, daaraan hoef niemand te twyfel nie. Die kruis om my nek is ‘n teken van waar ek my bevind, waarmee ek my identifiseer, waar ek tuis voel. Die kruis sê waar ek staan.

 

FG: In jou voorwoord tot Ben du Toit se boek, “God? Geloof in ‘n postmoderne tyd”, het jy geskryf: “God is óf alles óf niks. Hy bestaan of bestaan nie, God is óf oorweldigend belangrik of totaal onbelangrik, relevant vir almal of irrelevant vir alles.” Bestaan die God wat ons in die Christelike dogma ken as Vader, Seun en Heilige Gees, Wentzel?

WvH: Ek glo in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ek het ‘n diepe betrokkenheid by die tradisie waarin ek staan. En omdat ek in God glo, beteken dit dat God bepalend is vir my hele bestaan, vir al my denke. Al is die bestaan van God die Vader, Seun en Heilige Gees nie empiries te bewys nie, bring my geloof in dié God mee dat alles wat wel empiries bewys kan word, daardeur in ‘n bepaalde raamwerk geplaas word.

 

FG: Bestaan Islam se God ook, en die Jode se God, en die Hindoes s’n …?

WvH: Die oorsprong van die Abrahamitiese godsdienste – die Joodse geloof, Islam, die Christendom – is dieselfde. God het Hom aan Abraham bekend gemaak en met hom ‘n verbond gesluit en die Jode, die Moesliems en die Christene beskou almal vir Abraham as die vader van die geloof. Méér kan ek eintlik nie daaroor sê nie. As ek oor God praat, dié God in wie ek glo, praat ek vanuit ‘n bepaalde perspektief oor Hom, die Christelike perspektief. As ons oor die nie-Abrahamitiese godsdiens sou praat – die Hindoeïsme, Boeddhisme – dan kom ander sake ter sprake. Hulle siening van God, of gode, verskil wesenlik van die godsdienste wat in Abraham ‘n verbindingspunt het. Dit moet in die dialoog met ander godsdienste in gedagte gehou word.

 

FG: Jy praat van “dialoog”. Is die tyd van sending dan nou verby?

WvH: Die tyd van aggressiewe, kolonialistiese sendingaksies is seker verby, ja. Die hedendaagse sending behoort ‘n meer dialogiese karakter te hê waarin jy duidelik sê waarom jý ‘n Christen is en dit op geen manier verdoesel en neutraliseer nie. Om dit so te stel: jy kom met jou kruis om die nek na die dialoog en jy voer die gesprek deurentyd vanuit daardie perspektief.

 

FG: Die Amerikaanse “Jesus Seminar” en hulle Suid-Afrikaanse skakel, “Die Nuwe Hervorming”, het die afgelope tyd onder kerkmense in Suid-Afrika opslae gemaak. Hoe sien jy hierdie bewegings … as ‘n mens dit so kan noem?

WvH: Die Amerikaanse “Jesus Seminar” is in die VSA een van baie stemme. Hulle is nie verbind aan die een of ander kerk nie en hou hulle besig met die die vraag wat die historiese Jesus, losgemaak van wat die kerk deur die eeue oor Hom verkondig het, vandag vir ons te sê het. Die Nuwe Hervorming in Suid-Afrika sluit in bepaalde opsigte daarby aan, maar het ook ander beklemtonings.

Die teologie het na my mening twee kante. Dit moet enersyds sorg dat die kontinuïteit in ons godsdiens behou word. Die teologie moet daartoe bydra dat ons godsdiens steeds herkenbaar Christelik is. Aan die ander kant moet die teologie ook krities omgaan met die tradisie en aantoon waar daar verwording plaasgevind het én waar daar progressie is. Maar as die teologie in sy kritiek die Christelike geloof in sy kern begin aantas, het jy ‘n probleem. Dan word die kontinuïteit verbreek en het ons nie meer met Christelike teologie te doen nie, maar met iets anders. As die identiteit van die Christelike geloof deur die teologisering daarvan aangetas word, word oor ‘n grens gegaan wat die teologie self ook in die gedrang moet bring.

So is dit byvoorbeeld met die opstanding van Jesus Christus. As die teologie dit wil ontken, tas die teologie die Christelike geloof in sy kern aan en gaan die teologie óór die grens. Maar die teologie kan natuurlik praat oor die hoe of die wyse van opstanding. Iets het daar gebeur – iets wat ons begrip te bowe gaan. Jesus se opstanding uit die dood kan dalk gesien word as iets groter as ‘n historiese gebeurtenis, maar nie as iets wat kleiner as ‘n historiese gebeurtenis is nie.

Die punt is: die wyse waarop die Evangelies van die opstanding vertel, die getuienis wat getuies daarvoor aanvoer – dit alles dui daarop dat dit ‘n historiese kern het. Só word dit aangedien. Dis anders as byvoorbeeld die skeppingsverhaal in Genesis 1. Dit het nie dieselfde soort segmentasie nie. Ons moet maar altyd onthou dat verskillende dele van die Bybel hulle verskillend aandien – gedigte, verhale, reisbeskrywings – en dat alle dele nie maar op dieselfde manier verklaar en verstaan kan word nie.

Maar op die ou end bly die evangelie vreemd en anders … vir die mense van álle tye, nie net vir postmoderne mense nie! En dit is die verantwoordelikheid van die teologie om, ten spyte van die vreemdheid en andersheid van die evangelie, in gesprek te tree met die mense van ons tyd, met die kulture en wetenskap van ons tyd.

Jy het gevra oor die Nuwe Hervorming. Al wat ek wil vra, is: wat is nou eintlik nuut daaraan? Want die sake wat hulle te berde bring – oor die Bybel en die skepping en die maagdelike geboorte en opstanding van Jesus – is darem alles so oud soos die berge.

 

FG: Jy is die redakteur van ‘n belangrike publikasie wat pas (2003) verskyn het. Sê asseblief iets daaroor.

WvH: Dit is die tweedelige ensiklopedie oor godsdiens en wetenskap wat by MacMillan (New York) verskyn het. Daar is 529 artikel in dié ensiklopedie en meer as 400 wetenskaplikes en godsdiensteoloë van oor die hele wêreld het daaraan meegewerk. Dit vertel gesaghebbend oor die geskiedenis van elkeen van die groot wêreldgodsdienste en bespreek die uitdagings waarmee hulle in ons tyd te doen het. Die ensiklopedie beslaan ‘n halfmiljoen woorde en is so gesaghebbend as wat jy seker kan kry.

 

FG: Die onlangse uitnodiging aan jou om in 2004 ‘n besondere reeks lesings aan die Universiteit van Edenburgh te hou, bevestig jou aansien as internasionale teoloog. Wat is die geskiedenis van dié lesingsreeks?

WvH: In die 1880’s het Lord Gifford geld nagelaat aan die historiese universiteite van Skotland met die opdrag om jaarliks lesings aan te bied oor die verskynsel van “natural theology” – ons sal vandag sê die verhouding van teologie en wetenskap. Die afgelope eeu is bekendes soos Albert Schweitzer, Karl Barth, Rudolf Bultmann, Paul Ricoeur en David Tracey genooi om die lesings te kom hou, die sg “Gifford Lectures”. Ek hou in 2004 ses lesings aan die Universiteit van Edenburgh oor hoe die probleem van die menslike uniekheid verskillend gesien word in die wetenskap en teologie.

 

FG: Kom jy na al die jare in Princeton en jou internasionale blootstelling weer eendag “huis toe”?

WvH: Ja! Ek kom in Suid-Afrika aftree. Maar ek weet nog nie presies wanneer dit sal wees nie. My vrou, Hester, sal sommer nou wil terugkom, maar daar is nog ‘n paar dinge wat ek graag sou wou doen. Ek moet eers my roeping – noem dit maar so – voltooi. Maar ja, uiteindelik wil ons weer huis toe kom.

 

Onderhoud, 14 Mei 2003

Die eCKE – Jou sleutel tot die wêreld van die Christelike geloof
Die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) is ’n unieke, Afrikaanse geloofsbron wat jou help om die kerninsigte van die Christelike geloof – woorde, geskiedenis, mense en bewegings – beter te verstaan. Met meer as 3 500 toeganklike artikels, honderde foto’s, en ’n eenvoudige soekstruktuur, is die eCKE perfek vir almal wat dieper wil delf in geloofsvrae, Bybelse begrippe of kerkgeskiedenis.

Dié blad is ’n verbeterde, opgedateerde en aangevulde elektroniese weergawe van die gedrukte CKE wat in 2008 by Lux Verbi in samewerking met Bybel-Media verskyn het en bekroon is met die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Of jy ’n student, predikant, kategeet, navorser of net ’n nuuskierige gelowige is – die eCKE gee jou vinnige, betroubare antwoorde en help jou om jou geloof in konteks te verstaan. Dit bring eeue van wysheid, debatte, stromings en geestelike insigte saam op een plek – alles in leesbare, verstaanbare Afrikaans.

Wat maak die eCKE uniek?
Omvattend én gefokus: Die eCKE bevat bydraes van meer as 160 kundiges wêreldwyd – onder wie teoloë asook filosowe, sielkundiges, letterkundiges, historici en joernaliste – en bied insigte vanuit verskeie kerklike agtergronde, met ’n sterk fokus op Suid-Afrika.

  • Toeganklik vir almal: Jy hoef nie ’n akademikus te wees nie – die artikels is maklik om te lees, logies georganiseer en help jou om vinnig te vind waarna jy soek.
  • ’n Sleutel tot verstaan: Elke inskrywing help jou om God, sy Woord, die kerk, en jou plek in die wêreld beter te verstaan.
  • Uitgebrei en groeiend: Met toekomstige uitbreidings en ruimte vir gebruikerskommentaar, bly die eCKE vars en relevant.
  • Gebalanseerd en eerlik: Inskrywings is feitelik en eerlik geskryf, met ruimte vir verskillende menings waar dit nodig is.

Die eCKE is nie net ’n ensiklopedie nie – dit is ’n gids, ’n mentor en ’n hulpmiddel vir elke Afrikaanse gelowige.’n Asterisk (*) ná ’n naam of begrip beteken dat daar elders in die eCKE ook ’n aparte artikel oor daardie onderwerp is.
Die kernensiklopedie word gedurig met aanvullings verbreed. Al die gebruikers van die eCKE word daarom uitgenooi om enige voorstelle, kommentaar of wysigings na info@ecke.co.za te stuur

AFRIKAANS
Skrywer: FM Gaum

AFRIKAANS. CJ Langenhoven* het oor Afrikaans ’n uitspraak gemaak wat in ’n stadium dikwels aangehaal is: “Afrikaans is die enigste witmanstaal in Suid-Afrika wat nie klaar van oorsee af gekom het nie”. Dis natuurlik nie korrek nie – Afrikaans kan nie ’n “witmanstaal” genoem word nie. NP van Wyk Louw* het dit anders gestel: “Afrikaans is die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.” Van Wyk Louw se “definisie” is klaar beter – maar daar ontbreek ’n belangrike element. Afrikaans se vroegste spore lê in Arabiese letters in die Kaap – toe Kaapse mense uit onder meer Maleisië Afrikaans daar geskryf het. Daarom sou ’n mens kon sê Afrikaans is die taal wat Wes-Europa, Maleisië en Afrika verbind en ’n brug vorm tussen die groot helder Weste, die eksotiese Maleisië en die magiese Afrika. Die taal word deur ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking gepraat en/of verstaan, soos ook elders in die wêreld waar Afrikaanssprekendes hulle in “verstrooiing” bevind. Dit het ontwikkel tot ’n eersterangse taal wat in die kombuis en die sitkamer en die studeerkamer gebruik kan word. Een van die groot bakens in die relatief kort geskiedenis van Afrikaans, was die eerste volledige vertaling van die Bybel* in Afrikaans wat in 1933 verskyn het.

Soos Duits of Engels het Afrikaans ’n politieke “verlede”, wat egter nie toegelaat mag word om sy hede en sy toekoms te belemmer nie. In die hedendaagse Suid-Afrika, met elf amptelike tale dog ’n sluipende verengelsingsproses, word Afrikaans ongetwyfeld bedreig.

Nog sienings:

  • Op die (Kaapse) spoor van Afrikaans” deur Michael le Cordeur, Die Burger, 19 Augustus 2023:

Die eenvoudigste stelling oor die herkoms van Afrikaans, is dat die taal ontstaan het toe die Khoi-Khoi en die slawe Hollands moes aanleer om in ’n groeiende kolonie in interaksie met mekaar en die vryboere te funksioneer. Khoi-woorde soos dagga, kierie, kamma, hoeka, kwagga, aitsa, eina, bietjie-bietjie en nou-nou word vandag steeds in Afrikaans gebruik. Mettertyd is onderskeidelik Kaapse Afrikaans (die slawe), Oranjerivier-Afrikaans (Khoi-Khoi) en Oosgrens-Afrikaans (Vryburgers) gepraat.

Die Koran was een van die eerste Kaapse Afrikaanse geskrifte. Die oudste vertaalde Afrikaanse teks, die Bayan al-Din (uiteensetting van die Moesliem-geloof), is geskryf deur sjeg Abu Bakr Effendi.

Waar variante van Afrikaans vroeër as minderwaardige vorme van die taal gesien is, is dit nie meer die geval nie. “Standaard-Afrikaans” is egter steeds belangrik en noodsaaklik veral bv ten opsigte van akademiese en ook openbare media. Almal moet soms van dieselfde bladsy kan sing. Standaardtaal mag egter nie in beton gegiet wees nie. Taal is dinamies. Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Die taal het ontwikkel uit ’n verskeidenheid bronne en sy wortels lê versprei oor drie vastelande, Europa, Asië en Afrika.

  • “Afrikaaans as geloofstaal” deur Nelis Janse van Rensburg, eKerkbode, 21 Julie 2023:

Geloofshuise word ook in taal gebou. Geloof gebeur immers in taal. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons geloofshuis begin met ’n Woord van God, vir mense.

Afrikaans is gebore in Afrika. Dit het aan mense identiteit gegee.Dit het vir sommige ’n medium van mag en dwang geword.Watter simboliese betekenis het Afrikaans nou vir ons tyd? Is dit ’n taal van vergifnis?

Die agenda van die kerk is nie om ’n taal te bevorder nie. Ons agenda is om diensbaar te wees. Maar daar is geen diensbaarheid sonder ’n taal nie. Afrikaans het reeds die taal van versoening begin word in ons land. Terwyl die Afrikaanse kerke saam met Afrikaans gegroei en ontwikkel het, laat ons nie deel wees van dié wat oor Afrikaans ’n taal- en kultuurpessimisme koester nie. Laat ons nou eerder die krag van hierdie taal benut om wonings op te rig waarin die rykdom van mense in ons land kan tuiskom. Afrikaans moet en kan ’n deurslaggewende rol speel om te genees en te versorg, te herstel en op te rig, vorentoe te gaan, God se toekoms tegemoet.

 

BUTHELEZI, MANGOSUTHU
Skrywer: PGJ Meiring

BUTHELEZI, MANGOSUTHU (1928–2023) is ’n regstreekse afstammeling van die Zoeloe-koning Shaka*. Hy was voorheen as Gatsha bekend, maar moes in terme van Zoeloe-tradisie hierdie naam laat vaar ná die dood van sy ma wat dit vir hom gegee het. Hy het aan die Universiteit van Fort Hare gestudeer. Sy regsberoep is kortgeknip toe hy in 1953 die erflike hoofmanskap van die stam oorgeneem het. Buthelezi het in die staatkundige ontwikkeling van Suid-Afrika diep spore getrap: hy is stigter en president van die Inkatha-Vryheidsparty, was hoof­minister van kwaZulu in die vorige staatkundige bedeling, en was minister van binnelandse sake in Mandela* en Mbeki* se kabinette. As aktiewe en meelewende lidmaat van die Anglikaanse Kerk* en as spreker by talle plaaslike en internasionale kerkvergaderings, het Buthelezi met vrymoedigheid van sy geloof in Christus* getuig, al het hy ook soms hewig van mede-Christenleiers oor praktiese politieke kwessies verskil. By die ope­ning van die veelbesproke, en destyds omstrede, SACLA*-kongres in 1979, was sy bydrae besonder betekenisvol. Buthelezi het dit tydens ’n openbare lesing in 1980 in Berlyn onomwonde gestel: “Dwarsdeur my lewe … het ek op die inspirasie van my geloof en die leiding van my Christelike beginsels staatgemaak. Elke keer as ek ’n belangrike besluit moes neem, het ek op my geloof gesteun.”

VAN HUYSSTEEN, JACOBUS WENT­ZEL VREDE (WENTZEL)
Skrywer: FM Gaum

VAN HUYSSTEEN, JACOBUS WENT­ZEL VREDE (WENTZEL) (1942–2022) het op Stellenbosch en in Amsterdam studeer, was predikant* van die NG Gemeente Noorder-Paarl (nou Paarl Toringkerk), professor in Bybelkunde aan die (destydse) Universiteit van Port Elizabeth, en was vir twee dekades die James McCord-hoogleraar in teologie* en wetenskap aan die Princetonse Teologiese Seminarium in die VSA. Hy hou hom besig met die vraag of en hoe dialoog tussen teologie en wetenskap gevoer kan word. Hy het verskeie belangwekkende boeke gepubliseer, die eerste daarvan Teologie as kritiese geloofsverantwoording wat in 1987 met die Andrew Murrayprys* bekroon is. In 2004 het hy die eerste Suid-Afrikaner en ook die eerste Princetonse teoloog geword wat genooi is om die prestigeryke Gifford-lesings in Edinburgh, Skotland, te hou. Sy lesings, uitgebrei in Alone in the World? Human Uniqueness in Science and Theology (2006), het gehandel oor menslike “uniekheid” soos gesien in die teologie en die wetenskap. Sy slotsom is dat die teologie en die wetenskap wél oor die “uniekheid” van die mens saam kan praat en in hulle dialoog wedersyds mekaar se insigte en beperkings kan erken, grense aanvaar en tog ook kruisbestuiwend kan werk. Met Alone in the World?, in 2007 bekroon met die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys*, bereik Wentzel van Huyssteen se filosofies-teologiese nadenke oor ons mens-wees ’n hoogtepunt.

Ná sy aftrede by Princeton in 2014 (en persoonlike tragedie die vorige jaar toe sy een seun, Daniël, op 42-jarige ouderdom in die VSA sterf), keer Van Huyssteen terug na Suid-Afrika en word buitengewone professor in die sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch. In 2014 ontvang hy ook die toekenning as A-geëvalueerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting. Dié toekenning word gemaak aan top geëvalueerde navorsers wat beskou word as leiers in hulle onderskeie navorsingsvelde.

Wentzel van Huyssteen, een van die knapste teoloë wat die NG Kerk opgelewer het, is na ‘n siekbed op 17 Februarie 2022 oorlede.

VRAAGGESPREK MET WENTZEL VAN HUYSSTEEN

Frits Gaum het in Mei 2003 ‘n onderhoud met Wentzel van Huyssteen gevoer.

Ons bestel herderspastei en witwyn en skuif reg vir ‘n goeie gesprek. My pad en dié van Wentzel van Huyssteen, sedert 1992 die James I McCord-hoogleraar in teologie en wetenskap aan die Teologiese Seminarium van Princeton, VSA, loop van veraf saam. Ons was studentevriende en het daarna oor dekades en soms duisende kilometers met mekaar kontak gehou al het ons in meer as een opsig in verskillende wêrelde gelewe. Deesdae word hy internasionaal beskou as een van die voorste teoloë op sy terrein.

 

FG: Wentzel, jy is ‘n kenner van die terrein wat te doen het met die verhouding tussen wetenskap en godsdiens. Jou boek, “The shaping of rationality”, wat in 1999 verskyn het, is in dié verband ‘n baken. Is daar ‘n wesenlike verskil tussen “wetenskap”, waar dit gaan oor feitelike bewysvoering, en “godsdiens”, wat te doen het met geloof in dinge wat meestal nié feitelik bewys kan word nie?

WvH: Ja, daar is ‘n wesenlike verskil tussen wetenskap en godsdiens. Ons het hier te make met twee verskillende lewensdomeine. In die wetenskap, by name die eksakte wetenskappe, baseer jy jou argumente sover as wat jy kan op bewysbare feite. In die godsdiens soek jy die sin van die lewe onder andere in rituele, geloof, tradisies … Dis nie noodwendig “bewysbare” dinge nie. Maar daar is ook ‘n verskil tussen godsdiens en teologie. In die Christelike teologie het ons ‘n 2000-jaarlange nadenke oor die godsdiens. Wat glo ons? Waarom glo ons so? Sodra ons beweeg van die belewingsvlak van godsdiens na die gesistematiseerde nadenke daaroor, kry ons te doen met die teologie. Dit wil op teologiese wyse nadink en navors oor die verskillende groot temas wat in die godsdiens ter sprake kom. Die kennis wat ons sodoende verkry, is geldige en geloofwaardige kennis. Daar is iets soos “goeie teologie” wat voldoen aan bepaalde kriteria wat ons aan ons kennis stel en wat deel is van die hoofstroomdenke daaroor. Daar is ook “slegte teologie” wat nie aan dié kriteria voldoen nie.

 

FG: Die godsdiens en die wetenskap het tog met mekaar te doen?

WvH: Soos ek gesê het, wetenskap en godsdiens is nie dieselfde nie. Maar hulle beïnvloed mekaar wedersyds en die vlak waar dié beïnvloeding bymekaar kom, is die vlak van teologiese besinning. Die interaksie tussen wetenskap en godsdiens vind plaas via die teologie. Sowel die wetenskap as die godsdiens het sekere grense. Daar is groter vrae wat nie deur feitelike gegewens bewys kan word nie, daar is ook vrae oor die werklikheid wat nie deur die godsdiens beantwoord kan word nie. En dit is oor daardie grenssituasies wat die teologie ‘n bydrae vanuit Christelike perspektief te lewer het. Die teologie het ‘n publieke verantwoordelikheid teenoor die wêreld. Ons het vanuit die teologie iets te sê oor openbare kwessies soos  aborsie of rassisme of noem maar op.

 

FG: Die laaste tyd is in Suid-Afrika debat gevoer oor die “feit” – soos sommige rubriekskrywers dit in die dagbladpers gestel het – dat daar ‘n onoorbrugbare kloof tussen wetenskap en godsdiens bestaan. Jou kommentaar?

WvH: As iemand sê daar is ‘n “onoorbrugbare kloof” tussen wetenskap en godsdiens, het hy of sy klaar begin om een van die twee te verabsoluteer. As die wetenskap buite sy eie grense tree en bepaalde lewensvrae – soos oor die sin van die lewe – probeer beantwoord, dan word die wetenskap self ‘n soort godsdiens! Dan kry ons ‘n fundamentalisme by die wetenskap – dit word “scientism” genoem – waar hy nie bereid is om sy beperkinge te erken nie. Nee, ons kan nie sê daar is ‘n “onoorbrugbare kloof” tussen wetenskap en godsdiens nie. Ons moet eerder sê albei het te doen met sekere vlakke van sin en ons moet erken dat daar vrae is waarmee albei te doene kry en wat oorvleuel. Soos oor die kosmologie, oor die oorsprongsvrae. Waar kom lewe vandaan? Dis vrae wat die grense tussen wetenskap en godsdiens oorsteek en dis onder andere die soort sake waarmee die teologie hom moet besig hou om juis ‘n brug tussen wetenskap en godsdiens te span.

 

FG: Waarom is dit vir jou belangrik dat ons godsdiens ook rede-lik verklaar moet kan word? In “The shaping of rationality” het jy heelwat daaroor te sê …

WvH: Die teologie is ‘n geldige vorm van kennis en daar speel die rede vanselfsprekend ‘n rol. Die teologie werk nie met empiriese kennis soos wat die eksakte wetenskappe dit doen nie, maar die kennis waaroor die teologie en die sosiale wetenskappe beskik, is net so geldig as dié van ander wetenskappe.

 

FG: Jy dra ‘n kruis om jou nek. Dis tog merkwaardig vir ‘n gesofistikeerde postmoderne teoloog soos wat ek jou sou wou beskryf. Wat beteken daardie kruis vir jou?

WvH: “Postmodern” is natuurlik nie so maklik vas te pen nie … dis ‘n manier van dink oor die wêreld, dis ‘n houding … dis in elk geval anders as wat dit in die sogenaamde moderne tyd was toe alle vorme van kennis as gelyk beskou is. Daar is nou ‘n baie groter mate van openheid, ‘n onwilligheid om te verabsoluteer. Postmodernisme het verskillende kante, daar is goeie en slegte aspekte daarvan. Ja goed, ek kan my vereenselswig met ‘n konstruktiewe vorm van postmoderniteit en in daardie opsig is ek miskien ‘n postmoderne teoloog. In hierdie tyd met sy baie groter openheid en wisselwerking en bereidheid om na mekaar te luister, is dit juis baie belangrik om te sê waar jy staan en wie jy is. Jy kan nie neutraal wees nie, in elke gesprek – om so te sê – moet jy al jou kaarte op die tafel sit. Jou gespreksgenoot moet weet in watter stroom jy swem. En ek swem in die Christelike stroom, daaraan hoef niemand te twyfel nie. Die kruis om my nek is ‘n teken van waar ek my bevind, waarmee ek my identifiseer, waar ek tuis voel. Die kruis sê waar ek staan.

 

FG: In jou voorwoord tot Ben du Toit se boek, “God? Geloof in ‘n postmoderne tyd”, het jy geskryf: “God is óf alles óf niks. Hy bestaan of bestaan nie, God is óf oorweldigend belangrik of totaal onbelangrik, relevant vir almal of irrelevant vir alles.” Bestaan die God wat ons in die Christelike dogma ken as Vader, Seun en Heilige Gees, Wentzel?

WvH: Ek glo in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ek het ‘n diepe betrokkenheid by die tradisie waarin ek staan. En omdat ek in God glo, beteken dit dat God bepalend is vir my hele bestaan, vir al my denke. Al is die bestaan van God die Vader, Seun en Heilige Gees nie empiries te bewys nie, bring my geloof in dié God mee dat alles wat wel empiries bewys kan word, daardeur in ‘n bepaalde raamwerk geplaas word.

 

FG: Bestaan Islam se God ook, en die Jode se God, en die Hindoes s’n …?

WvH: Die oorsprong van die Abrahamitiese godsdienste – die Joodse geloof, Islam, die Christendom – is dieselfde. God het Hom aan Abraham bekend gemaak en met hom ‘n verbond gesluit en die Jode, die Moesliems en die Christene beskou almal vir Abraham as die vader van die geloof. Méér kan ek eintlik nie daaroor sê nie. As ek oor God praat, dié God in wie ek glo, praat ek vanuit ‘n bepaalde perspektief oor Hom, die Christelike perspektief. As ons oor die nie-Abrahamitiese godsdiens sou praat – die Hindoeïsme, Boeddhisme – dan kom ander sake ter sprake. Hulle siening van God, of gode, verskil wesenlik van die godsdienste wat in Abraham ‘n verbindingspunt het. Dit moet in die dialoog met ander godsdienste in gedagte gehou word.

 

FG: Jy praat van “dialoog”. Is die tyd van sending dan nou verby?

WvH: Die tyd van aggressiewe, kolonialistiese sendingaksies is seker verby, ja. Die hedendaagse sending behoort ‘n meer dialogiese karakter te hê waarin jy duidelik sê waarom jý ‘n Christen is en dit op geen manier verdoesel en neutraliseer nie. Om dit so te stel: jy kom met jou kruis om die nek na die dialoog en jy voer die gesprek deurentyd vanuit daardie perspektief.

 

FG: Die Amerikaanse “Jesus Seminar” en hulle Suid-Afrikaanse skakel, “Die Nuwe Hervorming”, het die afgelope tyd onder kerkmense in Suid-Afrika opslae gemaak. Hoe sien jy hierdie bewegings … as ‘n mens dit so kan noem?

WvH: Die Amerikaanse “Jesus Seminar” is in die VSA een van baie stemme. Hulle is nie verbind aan die een of ander kerk nie en hou hulle besig met die die vraag wat die historiese Jesus, losgemaak van wat die kerk deur die eeue oor Hom verkondig het, vandag vir ons te sê het. Die Nuwe Hervorming in Suid-Afrika sluit in bepaalde opsigte daarby aan, maar het ook ander beklemtonings.

Die teologie het na my mening twee kante. Dit moet enersyds sorg dat die kontinuïteit in ons godsdiens behou word. Die teologie moet daartoe bydra dat ons godsdiens steeds herkenbaar Christelik is. Aan die ander kant moet die teologie ook krities omgaan met die tradisie en aantoon waar daar verwording plaasgevind het én waar daar progressie is. Maar as die teologie in sy kritiek die Christelike geloof in sy kern begin aantas, het jy ‘n probleem. Dan word die kontinuïteit verbreek en het ons nie meer met Christelike teologie te doen nie, maar met iets anders. As die identiteit van die Christelike geloof deur die teologisering daarvan aangetas word, word oor ‘n grens gegaan wat die teologie self ook in die gedrang moet bring.

So is dit byvoorbeeld met die opstanding van Jesus Christus. As die teologie dit wil ontken, tas die teologie die Christelike geloof in sy kern aan en gaan die teologie óór die grens. Maar die teologie kan natuurlik praat oor die hoe of die wyse van opstanding. Iets het daar gebeur – iets wat ons begrip te bowe gaan. Jesus se opstanding uit die dood kan dalk gesien word as iets groter as ‘n historiese gebeurtenis, maar nie as iets wat kleiner as ‘n historiese gebeurtenis is nie.

Die punt is: die wyse waarop die Evangelies van die opstanding vertel, die getuienis wat getuies daarvoor aanvoer – dit alles dui daarop dat dit ‘n historiese kern het. Só word dit aangedien. Dis anders as byvoorbeeld die skeppingsverhaal in Genesis 1. Dit het nie dieselfde soort segmentasie nie. Ons moet maar altyd onthou dat verskillende dele van die Bybel hulle verskillend aandien – gedigte, verhale, reisbeskrywings – en dat alle dele nie maar op dieselfde manier verklaar en verstaan kan word nie.

Maar op die ou end bly die evangelie vreemd en anders … vir die mense van álle tye, nie net vir postmoderne mense nie! En dit is die verantwoordelikheid van die teologie om, ten spyte van die vreemdheid en andersheid van die evangelie, in gesprek te tree met die mense van ons tyd, met die kulture en wetenskap van ons tyd.

Jy het gevra oor die Nuwe Hervorming. Al wat ek wil vra, is: wat is nou eintlik nuut daaraan? Want die sake wat hulle te berde bring – oor die Bybel en die skepping en die maagdelike geboorte en opstanding van Jesus – is darem alles so oud soos die berge.

 

FG: Jy is die redakteur van ‘n belangrike publikasie wat pas (2003) verskyn het. Sê asseblief iets daaroor.

WvH: Dit is die tweedelige ensiklopedie oor godsdiens en wetenskap wat by MacMillan (New York) verskyn het. Daar is 529 artikel in dié ensiklopedie en meer as 400 wetenskaplikes en godsdiensteoloë van oor die hele wêreld het daaraan meegewerk. Dit vertel gesaghebbend oor die geskiedenis van elkeen van die groot wêreldgodsdienste en bespreek die uitdagings waarmee hulle in ons tyd te doen het. Die ensiklopedie beslaan ‘n halfmiljoen woorde en is so gesaghebbend as wat jy seker kan kry.

 

FG: Die onlangse uitnodiging aan jou om in 2004 ‘n besondere reeks lesings aan die Universiteit van Edenburgh te hou, bevestig jou aansien as internasionale teoloog. Wat is die geskiedenis van dié lesingsreeks?

WvH: In die 1880’s het Lord Gifford geld nagelaat aan die historiese universiteite van Skotland met die opdrag om jaarliks lesings aan te bied oor die verskynsel van “natural theology” – ons sal vandag sê die verhouding van teologie en wetenskap. Die afgelope eeu is bekendes soos Albert Schweitzer, Karl Barth, Rudolf Bultmann, Paul Ricoeur en David Tracey genooi om die lesings te kom hou, die sg “Gifford Lectures”. Ek hou in 2004 ses lesings aan die Universiteit van Edenburgh oor hoe die probleem van die menslike uniekheid verskillend gesien word in die wetenskap en teologie.

 

FG: Kom jy na al die jare in Princeton en jou internasionale blootstelling weer eendag “huis toe”?

WvH: Ja! Ek kom in Suid-Afrika aftree. Maar ek weet nog nie presies wanneer dit sal wees nie. My vrou, Hester, sal sommer nou wil terugkom, maar daar is nog ‘n paar dinge wat ek graag sou wou doen. Ek moet eers my roeping – noem dit maar so – voltooi. Maar ja, uiteindelik wil ons weer huis toe kom.

 

Onderhoud, 14 Mei 2003

Alphabet Filter
#imagine
Skrywer: CJ Jackson
#imagine is ‘n interkerklike jeugbeweging wat deur 1974 se Jeug-tot-Jeugaksie* geïnspireer en vanuit die NG Kerk* geïnisieeer is. Dié jeugbeweging reël jaarliks verskeie groot saamtrekke op verskillende plekke in Suid-Afrika en Namibië. Die gedagte is om gelowige jong mense te help om hulle ‘n nuwe soort gemeenskap in te dink (te imagine) waar hulle ‘n verskil maak deur só te leef dat mense die beeld van God in hulle beleef. Jong mense wat sulke saamtrekke bywoon, leer ken ‘n vorm van kerk waar ras, taal, kultuur en kleur nie belangrik is nie, maar waar die navolging van Christus mense oor grense heen aan mekaar bind en verbind.
1 EN 2 KONINGS (BYBELBOEKE)
Skrywer: WS Boshoff
1 EN 2 KONINGS (BYBELBOEKE). Die twee Koningsboeke is die laaste twee boeke van die Deuteronomistiese geskied­werk*, ’n omvattende geskiedenis van Is­rael* wat begin by die uittog* uit Egipte* soos dit in Deuteronomium* vertel word en eindig by die val van Jerusalem* aan die einde van 2 Konings. Dit is egter nie ge­skiedenis ter wille van die geskiedenis nie. ’n Mens kan die Koningsboeke lees as ’n preek wat Israel en Juda* se geskiedenis as preekteks gebruik. Dit kan wees dat die Koningsverhaal op ’n hoopvolle noot eindig met die kort vertelling oor die voorregte wat Jojagin* van koning Ewil-Merodak van Babel* ontvang het (2 Kon 25:27-30). Daar is egter geen teken van ’n moontlike terugkeer uit die ballingskap* nie. Die Koningsboeke is eintlik ’n geskiedenis van rou. Dit is die treurige geskiedenis van mense wat nie aan God gehoorsaam wou wees nie. Al het die profete* vir hulle gesê wat God wou hê, het hulle nie geluister nie. Uiteindelik het God sy volk oor hulle ontrou gestraf. Hy het toegelaat dat vyan­de eers vir Israel en later ook vir Juda vernietig. Dit is oor hierdie optrede van God dat die Koningsboeke handel. 1 en 2 Konings kan soos volg ingedeel word (met talle moontlikhede om dit nog fyner in te deel): 1 Kon 1–11                ‑Koning Salomo* se geskiedenis 1 Kon 12–16              ‑Die twee koninkryke, Israel en Juda 1 Kon 17–2 Kon 8     ‑Die profete Elia* en Elisa* 2 Kon 8–17                ‑Die twee koninkryke (vervolg) 2 Kon 18–25              ‑Die geskiedenis van Juda, ná die val van Israel Die twee Koningsboeke behandel die ge­skiedenis van Israel en Juda ná Dawid* se regeringstyd. Dit gaan sonder onderbreking aan waar 2 Samuel* opgehou het. Aan die begin leef Dawid nog, maar hy is baie oud en swak. Hy word deur sy seun Salomo opgevolg. Salomo moes sy posisie op die troon eers bevestig en dit doen hy met meedoënlose vasberadenheid. In die proses raak hy stelselmatig van sy teenstanders ontslae. Daarna bou hy die tempel* en sy paleis in Jerusalem, maar maak hom ook skuldig aan afgodsdiens*. Ná Salomo se dood skeur die koninkryk wat Dawid verenig het in twee (1 Kon 12). In die Noordryk (Israel*4) plaas Jerobeam* bulbeelde (Kyk by: Kalwerdiens) by die twee heiligdomme in Bet-El* en Dan*. Sy idee was dat die mense van Israel die Here* by hierdie heiligdomme moes vereer. Hy wou hulle keer om na Jerusalem se tempel te gaan om die Here daar te gaan dien. Jerobeam se optrede word regdeur die Koningsboeke gekritiseer. Al die konings van Israel word negatief beoordeel, omdat hulle vereenselwig word met Jerobeam se optrede. Die parallelle geskiedenis van Israel en Juda word saam vertel. Elkeen van die ko­nings van die twee koninkryke se verhaal word vertel in terme van sy tydgenoot in die ander koninkryk s’n. Nadat die Noordryk (Israel) in 722 vC deur die Assi­riërs verower is, gaan die verhaal van die Suidryk (Juda) voort tot by die val van Jerusalem en die begin van die Babiloniese ballingskap. Elke koning se regeringstyd word beoordeel. Die maatstaf is nie hoe goed hy regeer het nie, maar of hy die Here gedien en die afgodsdiens uitgeroei het. Die ernstigste beskuldiging wat teen ’n ko­ning gerig kan word, is dat hy sy mense gelei het om die afgode van die Kanaä­nie­te* te vereer. Van die ergste oortreders in dié verband was Jerobeam, die seun van Nebat, en Agab*, albei konings van Israel, en Manas­se* van Juda. Die konings wat die positiefste beoordeel word, is die godsdie­ns­hervor­mers, Hiskia* en Josia*. Hulle groot prestasie was dat hulle die tempel opge­knap en die erediens by die tempel weer herstel het. Die twee Koningsboeke handel egter nie net oor die konings van Israel en Juda nie. Saam met die verhale van die konings kry ons ook die verhale van ’n aantal profete. Sommige van die profete is bekende figure soos Elia en Elisa. Ander is onbekend en dik­wels anoniem. Hulle speel egter ’n belangrike rol in 1 en 2 Konings, want hulle maak die wil van God aan die konings en die volk bekend. Soms het hulle boodskap­pe oor die godsdiens gehandel en ander kere oor militêre sake of alledaagse politieke besluite. Die groot aantal profeteverhale is die rede dat daar in die Joodse* tradisie na dié deel van die Bybel* as die Vroeë Profete verwys word (teenoor die Later Profete vanaf Jesaja* tot Maleagi*). Dit is merkwaardig dat die enigste Skrifprofeet wat in die Koningsboeke ’n rol speel, Jesaja van Jerusalem is. ’n Groot deel van Jes 36–39 stem ooreen met 2 Kon 18–20. Verskillende en uiteenlopende bronne is gebruik om die Koningsboeke te skryf. Die belangrikste soorte bronne was kronieke en vertellings oor die konings van Israel en Juda en vertellings oor die lewe en werk van die profete. Die hofkronieke is aan die koninklike hof op datum gehou. Daarna word dikwels verwys as die Annale van die konings van Juda en/of Israel. Die profete­verhale is waarskynlik versamel en ingeweef in die koningsverhaal deur mense wat graag wou sien dat die profete se boodskappe en optrede onthou moes word. Teen die tyd van koning Josia van Juda (622 vC) was ’n eerste weergawe van die geskiedenis van Israel en Juda waarskynlik reeds geskryf. Die doel sou wees om te verduidelik dat die Noordryk ondergegaan het omdat hulle van die koningshuis van Dawid en die tempel in Jerusalem weggebreek het. Die Judese konings was almal afstammelinge van Dawid, maar die ko­nings van Israel nie. Later moes die geskiedenis egter oorge­skryf word. Die herskrywing het tydens die ballingskap in Babel gebeur (ná 560 vC toe Jojagin* vrygelaat is). Die vraag om te beantwoord was: Hoe is dit moontlik dat Israel die beloofde land wat hulle ontvang het, weer kon verloor? Die Koningsboeke, en gevolglik die hele Deuteronomistiese geskiedwerk, is voltooi vóór die Persiese* oorname van Babel, in 539 vC. Dit blyk uit die feit dat daar geen aanduiding is dat die skrywers geweet het van die Persiese reëling dat die Judeërs na Jerusalem kon terugkeer nie. (Kyk by: Kro­nieke* vir ’n ander interpretasie van dieselfde geskiedenis.)
1 EN 2 KRONIEKE (BYBELBOEKE)
Skrywer: LC Jonker
1 EN 2 KRONIEKE (BYBELBOEKE). Vir baie lank was die Kroniekboeke ’n afgeskeepte deel van die Ou Testament*. Die rede daarvoor is waarskynlik omdat dit oënskynlik ’n herhaling is van die geskiedenis van Ou Israel* wat reeds in die Samuel*- en Koningsboeke* aan die orde gekom het. Alreeds in die laaste twee eeue vC het hierdie persepsie bestaan. Die Septuagin­ta*-vertalers (wat die Ou Testament* in Grieks* vertaal het) het die boeke Para­leipomenon (“die orige dinge”) genoem. Daarmee is gesuggereer dat Kronieke bloot ’n paar byvoegsels tot die ander geskiede­nis­boeke bevat. In die afgelope twee dekades het Bybel­wetenskaplikes al meer ontdek dat hierdie boeke ’n eie aksent wou plaas op die be­skrywing van die geskiedenis. ’n Vergely­king van die Kroniekboeke met die Deute­ro­no­mistiese geskiedwerk* (veral Samuel* en Konings*) lewer interessante variasies op. Hierdie variasies het heel waarskynlik daarmee te maak dat die konteks waarin Kronieke tot stand kom, ’n andersoortige nadenke oor die verlede, en veral oor God se rol in die verlede, hede en toekoms, ge­noodsaak het. Daarom word die ouer geskiedenistradisies nie klakkeloos nage­volg nie, maar word die geskiedenis herskryf met die oog daarop om die hede beter te verstaan, en om die toekoms met meer moed tegemoet te gaan. Kronieke, wat aanvanklik as een boek gefunksioneer het, is een van die jongste boeke in die Ou Testament. In die He­breeuse* Bybel neem dit daarom ook die laaste plek in. Die Septuaginta het dit egter verskuif tot direk ná die Koningsboeke – ’n weerspieëling van die feit dat hierdie vertalers dit as blote toevoegsels tot die vroeëre geskiedenis beskou het. Die Septua­ginta-volgorde word steeds in die meeste vertalings nagevolg. Oorsprong en agtergrond: Kronieke kom tot stand ná die ballingskap* – heel waarskynlik teen die einde van die Persiese periode wat tot ongeveer 332 vC gestrek het. Die boek sluit in 2 Kron 36:22-23 af met ’n beskrywing van die proklamasie van Kores* waardeur die Joodse* ballinge toegelaat is om na hulle land terug te keer. (Hierdie gegewens ontbreek aan die einde van die Koningsboeke, omdat dié boeke waarskynlik tot stand gekom het vóór die einde van die ballingskap.) Daaruit kan afgelei word dat die periode van herstel en heropbou ná die ballingskap die agtergrond vorm waarteen die boek gelees moet word. Kores van Persië het in 539 vC die mag­tige Babilon* verower en beheer oorgeneem oor die destydse Ou Nabye Ooste. In 538 vC het hy sy proklamasie uitgevaardig en kon die Joodse ballinge begin terugkeer. Die Persiese oorheersing sou vir ongeveer 200 jaar voortduur totdat die Grieke met Aleksander* die Grote se veldtogte in 332 vC die beheer sou oorneem. Die Persiese beleid oor hulle verowerde gebiede was baie anders as dié van hulle voorgangers, die Babiloniërs* en Assiriërs*. Die Persiese heersers het groter verdraag­saamheid gehad vir die verskillende etniese groeperings en godsdienstige oortuigings wat in die magtige ryk verteenwoordig was. Daarom dat die Joodse* ballinge na hulle land kon terugkeer, en selfs met Persiese finansiële ondersteuning kon begin om die tempel* in Jerusalem* te herbou. Die Persiese Ryk is in provinsies (“satrapieë”) georganiseer. Die Persiese pro­vinsie Jehud is geproklameer in die om­ge­wing van Jerusalem – ongeveer in dieselfde gebied waar die koninkryk van Juda* voorheen bestaan het. Hierdie provinsie vorm die geografiese agtergrond vir die Kroniekboeke. In die tydperk van heropbou ná die ballingskap het die konflik tussen die verskillende dele van die Joodse priesterskap verskerp, en het die Sadokiete weer hulle magsmonopolie teenoor die Leviete* pro­beer vestig. Die Kroniekboeke se ontstaan is ook deeglik deur hierdie kultiese omstan­dig­hede beïnvloed. Inhoud: Die Kroniekboeke val in ’n paar duidelike dele uiteen:
  1. 1 Kron 1–10: Hierdie gedeelte bestaan hoofsaaklik uit geslagsregisters waarmee die hele voorgeskiedenis van die Jode opgesom word. Interessant genoeg begin die geslagslyste met Adam*. Dit is dus duidelik dat die geskiedenis van die Jode ingebed word in die geskiedenis van die mensdom. Daarom meen uitleggers dat Kronieke nie net ’n herskrywing van die geskiedenisboeke Samuel en Konings is nie, maar dat dit eintlik die hele Pentateug* met die ge­slagsregisters in hoofstuk 1–10 wil opsom. Die posisie van die Levitiese families word baie duidelik deur die geslagslyste beklemtoon. Daar word duidelik gemaak dat hulle kragtens hulle familie-oorsprong ’n legi­tieme deel van die priesterskap is. Hoofstuk 10 handel oor Saul*, en vorm ’n oorgang na die geskiedenis van Dawid* wat hierna volg.
  2. 1 Kron 11–29: Hierdie gedeelte word aan die regering van koning Dawid gewy. Dit is duidelik dat Dawid as ’n ideaalko­ning geag word. Nie net in die uitgebreidheid van die beskrywing is dit na te speur nie, maar ook in die inhoud. Wanneer Kronieke se beeld van Dawid met die beeld in Samuel en Konings vergelyk word, word dit duidelik dat die Kroniekskrywers doelbewus ’n positiewe beeld van hom wou voor­hou deur die donker dele van sy ge­skie­denis (bv die episode met Batseba*) weg te laat.
  3. 2 Kron 1–9: Die volgende gedeelte handel volledig oor koning Salomo*. Dit is eweneens duidelik dat Salomo as ’n belang­rike koning geag is. Die vertelling oor die tempelbou tydens sy regering funksioneer baie prominent.
  4. 2 Kron 10–36: Die geskiedenis van die verdeelde koninkryke Juda*4 en Israel*4 word in hierdie gedeelte vertel. ’n Beteke­nisvolle verskil met die beskrywing in die Koningsboeke kan egter opgemerk word. Die geskiedenis van hierdie tydperk word uit ’n suidelike perspektief vertel, dit wil sê: die koninkryk van Juda se koningshuise vorm die basis van die vertelling. Daar word wel na die konings van die noordelike ryk, Israel, verwys, maar altyd binne die konteks van die vertellings oor suidelike konings. Hoewel die beskrywing van die onderskeie Judese konings meestal ooreenstem met die beskrywings wat in die Koningsboeke gevind kan word, is daar tog ook merkbare verskille. Veral die beskrywings van Hiskia* en Josia* bevat heelwat veranderings. Dit is duidelik dat hierdie twee konings belangrik geag is. Hierdie gedeelte sluit af – anders as die Koningsboeke – met ’n vermelding van die proklamasie van Kores.
Teologiese temas: Dit blyk dat die wen­ding in die geskiedenis wat met die Persiese oorheersing gekom het, vir die Jode* onverwags was. Tydens die ballingskap was hulle toekomshoop baie sterk daarop gevestig dat ’n koning uit die geslag van Dawid sou opstaan om die koninkryk van Juda/Israel weer te vestig. Hulle het glad nie kon dink dat ’n vreemde heidenkoning uiteindelik die instrument sou wees waardeur hulle bevryding en herstel sou plaasvind nie. Vóór die ballingskap het daar ’n teologie hoogty gevier wat die identiteit van die Godsvolk baie sterk gekoppel het aan die koningshuis van Dawid. ’n Teologiese heroriëntering was dus nodig in die tydperk ná die ballingskap. Hierdie omstan­dig­hede het daarom ook die temas wat in die Kroniekboeke behandel word, sterk beïnvloed. Die volgende voorbeelde kan genoem word:
  1. Dit is duidelik dat die Kroniekboeke ’n universalistiese siening van God en hulle geskiedenis wil voorhou. Die boek begin met Adam, en sluit af met ’n proklamasie van die Persiese koning, Kores. In hierdie proklamasie word onder andere die volgende vermeld: “Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here, die God van die hemel, het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou” (2 Kron 36:23). Hierdeur word duidelik gemaak dat die Here God nie slegs jurisdiksie het oor Juda/Israel en hulle konings nie, maar ook oor die Persiese koning. Selfs die Persiese koning tree op in gehoorsaamheid aan hierdie God. Die redding wat uit die Dawidshuis verwag is, kom nou van ’n Persiese koning af wat God erken. (Die tweede gedeelte van die boek Jesaja* noem selfs vir Kores die Messias* – die gesalfde van die Here!) Kronieke maak dus duidelik dat die Jode ’n universele God dien.
  2. Die identiteit van God se volk ondergaan in hierdie tyd ’n drastiese aanpassing. Die Kroniekboeke kan gesien word as ’n poging om die geskiedenis te beskryf van­uit die hede van die Persiese tydperk, met die oog daarop om ’n nuwe identiteit onder God se volk te help skep. Voor die bal­lingskap is hulle identiteit as God se volk ten nouste gekoppel aan die bestaan van die tempel in Jerusalem en die Dawidiese koningshuis. Nou, in die Persiese tydperk, word hulle identiteit deur die Kroniek­boeke omvorm tot ’n gemeenskap wat gebou is op die tora*, die wet van die Here*. As tora-gemeenskap vind hulle bestaansreg binne die Persiese koninkryk.
  3. Die Kroniekboeke bied ook ’n nuwe perspektief op die eenheid van God se volk. Voor die ballingskap was die volk in twee geskeur met die koninkryke van Juda en Israel. Hoewel die geskiedenis in Kronieke uit ’n suidelike perspektief beskryf word (en die posisie van die tempel in Jerusalem daardeur beklemtoon word), word die noordelike bevolking nie uitgesluit as van God se volk sprake is nie. Die begrip “die hele Israel” kom telkens voor. Daarmee word uitgedruk dat die ware, hele Israel weer ’n herstel beteken van die verskeurde Godsvolk.
  4. Kronieke verteenwoordig ’n versoenende houding oor die priesterskap. Hoe­wel die Kroniekskrywers geen geleentheid verby laat gaan het om die belangrikheid van die Leviete te beklemtoon nie, word dit nooit gedoen ten koste van die ander deel van die priesterskap nie. Kronieke probeer daarmee om versoening te bewerkstellig binne die godsdienstige leierskap te midde van die veranderde sosio-politieke omstan­dighede.
Dit is duidelik dat die Kroniekboeke verskillende gehore in gedagte gehad het. Enersyds wil dit die teruggekeerde Joodse volk help om ’n nuwe identiteit te vorm te midde van die veranderde omstandighede. Tegelykertyd wil dit egter ook die gods­dienstige leierskap aanspreek. Waarskynlik kan ’n mens aanvaar dat dit ook ’n verskuilde boodskap vir die Persiese heersers ingehou het om steeds in gedagte te hou dat hulle die volk van die universele God is. Hieruit is dit duidelik dat die Kroniek­boeke ’n besondere boodskap vir geloofsgemeenskappe in oorgangstye het. Hierdie boek help sulke gemeenskappe om hulle verlede nuut in oënskou te neem met die oog op ’n nuwe identiteit in nuwe omstan­dig­hede. Dit bied ’n nuwe basis van hoop vir die toekoms. Vir verdere lees: LC Jonker 2003. “The Rhetorics of Finding a New Identity in a Multi-cultural and Multi-religious Society” in: Verbum et Ecclesia 24(2), 396-416. SL McKenzie 2004. 1–2 Chronicles (Abingdon Old Testament Commentaries). Nashville: Abingdon Press.
1 EN 2 MAKKABEËRS
Skrywer: LH Joubert
1 EN 2 MAKKABEËRS. Kyk by: Apo­kriewe boeke.   MAKPELA. Abraham* het ’n stuk land waarop ’n grot was, by die Hetiet Efron gekoop as plek om Sara* te begrawe (Gen 23). Sara, en later Abraham, Rebekka*, Lea* en Jakob* is daar begrawe. Die grot van Makpela was geleë oos van Mamre in Hebron*. Dié grond was die enigste vaste eiendom wat Abraham besit het.  
1 EN 2 PETRUS (BYBELBOEKE)
Skrywer: GJ Steyn
1 EN 2 PETRUS (BYBELBOEKE). Hierdie twee briewe* is deel van die groep “algemene sendbriewe” in die Nuwe Testa­ment*. Volgens die aanhef en slot is die twee Petrusbriewe tipiese antieke briewe. 2 Petrus (saam met Judas*) vertoon egter sterk kenmerke van ’n preek. Daar was vroeg reeds groot onsekerheid of dié briewe deel van die Christelike Bybel* moet wees of nie. Teen die vierde eeu is beide egter as gesagvolle geskrifte aanvaar. Daar is ’n noue verwantskap tussen 2 Petrus (veral hoofstuk 2) en die Judasbrief. Na alle waarskynlikheid het die een skrywer van die ander se werk gebruik gemaak en daar word gewoonlik aanvaar dat 2 Petrus vir Judas gebruik en daarop uitgebrei het. 1 Petrus Skrywer: Die getuienis oor die outeur­skap van 1 Petrus is sedert die vroegste tye redelik eenstemmig en oortuigend dat dit geskryf is deur die apostel Petrus*. Maar ’n aantal sake dui moontlik op ’n ander skrywer: 1. Daar is twyfel of ’n Galilese* visserman in hierdie goeie taal en styl sou kon skryf en die Griekse* weergawe van die Ou Testament* sou verkies. 2. Die brief dateer moontlik uit ’n later tydperk as die apostel se lewe weens die omvang van die vervolging (4:12-19) en die blote feit dat Christen-wees (4:16) tot vervolging gelei het. 3. Petrus het waarskynlik nie verbintenisse gehad met die streke wat in 1 Pet 1:1 genoem word nie. 4. Die brief vertoon nie gegewens wat gebaseer is op ’n mondelinge tradisie van die tyd toe Petrus saam met die aardse Jesus* beweeg het nie. 1 Petrus se teologie* weerspieël eerder talryke elemente van Paulus* se briewe in die konteks van Klein-Asië*. 5. Daar is nie verwysings na gebeure tydens die aardse Jesus se leeftyd nie. Klink­klaar-oortuigende bewyse téén die outeur­skap van die apostel Petrus ontbreek egter en baie van bg argumente kan verklaar word deurdat 1 Petrus opgestel is met die hulp van Silas* (Silvanus), ’n Joodse* Chris­ten* met Grieks* as moedertaal (5:12). (“Silas” is die Griekse en “Silvanus” die Latynse weergawe van dieselfde naam.) Lesers: Volgens die briefaanhef is 1 Petrus gerig aan Griekssprekende Christene (1:14, 18, 20; 2:9-10; 3:6; 4:3-4) in Klein-Asië, in Pontus, Galasië*, Kappadosië, Asië en Bitinië. Ontstaansplek: Na aanleiding van die verwysing na “Babilon” (5:13), wat ’n simboliese naam vir Rome* was, word aanvaar dat dit in Rome geskryf is. Datering: Indien die apostel Petrus be­trok­ke was by die skryf van 1 Petrus, moes dit ontstaan het kort voor sy marteldood in 64 nC tydens die vervolgings deur Hero­des*3. Taal en styl: Hierdie brief is in goeie Grieks geskryf en waarskynlik met Silvanus/Silas (1 Pet 5:12) se hulp opgestel. Dit bevat minstens 35 verwysings uit hoofsaaklik die Septuaginta*. Boodskap: 1 Petrus se boodskap handel oor die Christelike hoop*. Dit is bedoel om Christene in die noordelike streke te be­moedig in die vervolging en lyding wat hulle moes verduur vanweë hulle Christe­like geloof* (1:2-10). Dit wil voorkom asof hierdie vervolging nie soseer fisiek was nie, maar eerder op sosiale druk en diskriminasie neergekom het. 1 Petrus sê hulle be­hoort in hulle geloof en lewensgedrag te volhard (2:11–3:12; 5:1-11). Hulle moet hulle hoop vind in Jesus se voorbeeld (3:13–4:19). 2 Petrus Skrywer: Dit is duidelik uit die taal, styl en teologie* van hierdie brief dat dieselfde skrywer wat 1 Petrus geskryf het, nie ook 2 Petrus kon geskryf het nie. Soos Calvyn* later opgemerk het, bestaan daar ’n moontlikheid dat dit dalk deur een van Petrus se dissipels* geskryf is. Lesers: Daar is geen duidelike aanwysing wie die lesers van 2 Petrus was vir wie die brief in die eerste plek bedoel was nie. Dit is wel aan ’n spesifieke groep Christene gerig (moontlik in Sirië) waarmee die skrywer moontlik al vroeër kontak gehad het (1:16). Hulle was waarskynlik Jode* vanweë die gebruik van die Joodse naam Simeon, sterk ooreenkomste met die Judas*-brief en ook die taal en stylgebruik. Ontstaansplek: Daar word redelik algemeen aanvaar dat 2 Petrus in Rome* ont­staan het, alhoewel dit moeilik is om te bewys. Datering: 2 Petrus is moontlik in onge­veer 110 nC geskryf. Taal en styl: Hier is geen besondere kennis van Grieks of vaardige stylgebruik soos in 1 Petrus te vind nie. Dit bevat ongeveer 11 verwysings na die Ou Testament* asook na Paulus* se briewe (3:15-16). Boodskap: Die skrywer deel die geskie­denis in drie tydperke in (3:5-13). Hy waar­sku teen dwaalleraars en ’n dwaalleer* wat Joods gekleur is. Dis soortgelyk aan dié waarteen Timoteus* en Titus* waarsku. Chris­­tene word herinner aan hulle geloof en bemoedig om daarin te groei.  
1 EN 2 SAMUEL (BYBELBOEKE)
Skrywer: WS Boshoff
1 EN 2 SAMUEL (BYBELBOEKE). Samuel* was nie die skrywer van die twee Samuelboeke nie en hy is ook nie die hoofkarakter daarin nie. 1 Samuel begin wel met sy ma, Hanna*, se hartseer oor haar kinderloosheid. By die heiligdom in Silo* smeek sy vir ’n kind. Die priester Eli* verseker haar dat haar gebed beantwoord sal word. Dit gebeur met die geboorte van Samuel. Sy geboorteverhaal is een van drie wat by die aanvang van groot epogte in Israel* se geskiedenis staan: Isak* s’n aan die begin van die aartsvadergeskiedenis, Moses* s’n aan die begin van die nasionale geskiedenis en Samuel s’n aan die begin van die koningsgeskiedenis. Inhoud: Die Samuelboeke bevat verhale oor ’n periode van groot veranderings in Israel. Dit is die oorgang van die rigterstydperk na die era van die konings. Trouens, in die Septuaginta* (die ou Griekse* vertaling van die Ou Testament*) en die Vulgaat* (die ou Latynse vertaling) word dit “1 en 2 Koninkryke” genoem, en wat ons vandag as 1 en 2 Konings* ken, is daar “3 en 4 Koninkryke”. In die driedelige samestelling van die Hebreeuse* Bybel wat uit die wet*, profete* en geskrifte* bestaan, is dit deel van die profete. Die groot rol wat profete in hierdie boeke speel, maak dit verstaanbaar waarom die Jode* dit onder die Vroeë Profete gegroepeer het. Die verhale van Samuel, Saul* en Dawid* oorheers die inhoud van 1 Samuel, terwyl 2 Samuel volledig oor Dawid handel. Die verhaalkomplekse van die drie is nie afgeronde en afsonderlike eenhede nie, maar oorvleuel met mekaar en elkeen van die drie figure speel ’n groot rol in die geskiedenis van die ander twee. Die drie verhaalsiklusse is die volgende:
  1. Samuel: 1 Sam 1–25 (sy gees word weer in hoofstuk 28 opgeroep)
  2. Saul: 1 Sam 9–31
  3. Dawid: 1 Sam 16–31 en 2 Sam 1–24
Samuel was ’n belangrike figuur in die vroeë geskiedenis van Israel. Hy was ’n profeet* (1 Sam 3:20), asook leier, priester* en regter (1 Sam 7:15-17). Die Samuelverhale in 1 Sam 1–3 en 7 omraam die verhale oor die ark* van die verbond in 1 Sam 4:1–7:1. (Die tema van die ark word eers weer in 2 Sam 6 opgeneem.) 1 Sam 8–12 handel oor die ontstaan van die koningskap in Israel. Samuel beskou dit as ’n verwerping van sy leierskap, maar die Here verseker hom: “Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle” (1 Sam 8:7). Samuel het die eerste twee konings, Saul en Dawid, albei aangewys en gesalf, voordat hulle later in die openbaar koning gemaak is (Saul: 10:1 en 10:24; Dawid: 16:13 en 2 Sam 2:4). Daar is ’n anti-koningskap- én ’n pro-koningskap-tradisie in hierdie verhale, wat mekaar afwissel: 1 Sam              8:1-22                 anti-koningskap 9:1–10:16           pro-koningskap 10:17-27             anti-koningskap 1:1-15                 pro-koningskap 2:1-15                 anti-koningskap Saul is die eerste koning wat die Here vir Israel aangewys het. Ook in verband met Saul se koningskap is daar twee tendense. Daar is ’n positiewer tendens, wat soms as ’n ouer tradisie beskou word, en ’n jonger, meer negatiewe tendens, moontlik geskryf deur ’n skrywer wat Dawid gunstig met Saul wou vergelyk. Samuel het Saul byna deur sy hele regeringstyd begelei. Hy het Saul aangewys as eerste koning (1 Sam 10:1), maar het ook aangekondig dat God Saul verwerp het (1 Sam 15:22-23). Dawid is die derde hooffiguur in die twee Samuelboeke. Nadat Samuel aan Saul bekend gemaak het dat die Here hom as koning verwerp het, is Samuel na Betlehem* toe om daar een van Isai* se seuns as Saul se opvolger aan te wys (1 Sam 16:1-13). Van toe af het Saul en Dawid se paaie gereeld gekruis. Die parallelle geskiedenis van Saul en Dawid beslaan 1 Sam 16–31. Dawid het in Saul se huis vir hom musiek gemaak om hom te kalmeer (16:14-23). Dawid verslaan die reuse Filistynse* soldaat Goliat*, wat Saul se soldate uitgedaag het (17:1-58). Dawid raak ten nouste betrokke by Saul se huis- en gesinsake: hy bly in Saul se huis, trou met Saul se dogter Mikal, word boesemvriende met sy seun Jonatan* en word uiteindelik ’n vyand van Saul (18:1–20:43). As vlugteling het Dawid ’n bende vegters om hom versamel en in die suide en oorkant die Jordaan* rondgeswerf. By geleentheid het hy Saul se lewe gespaar toe hy hom kon doodmaak, maar Saul het hom steeds vervolg (21:1–26:25). In ’n stadium het Dawid by die Filistyne in Gat* gebly en die dorp Siklag as tuiste ontvang. Toe het Saul opgehou om hom te vervolg (27:1–30:31). Saul sterf uiteindelik in ’n geveg teen die Filistyne op Gilboa* (31:1-13). Ná Saul se dood word Dawid eers in Hebron* koning van Juda2*. Saul se seun, Is-Boset* word koning van die noordelike stamme, maar word ná twee jaar vermoor. Dit lei tot Dawid se kroning as koning oor die hele Israel (2 Sam 5:1-5). Hy verower die Kanaänitiese stad Jerusalem* met sy eie soldate en maak dit die nuwe hoofstad van die Verenigde Koninkryk. As teken dat dit ook die plek is waar God Hom vestig, verskuif Dawid die ark* van die verbond na Jerusalem* (2 Sam 6). Na heelwat militêre sukses regeer Dawid oor ’n groot gebied wat Edom*, Moab* en Aram* ingesluit het. Dit was die goue era van Dawid se regering (2 Sam 8). Ná sy owerspel met Batseba*, die vrou van Urija*, een van sy militêre offisiere, en die moord op Urija, verander baie dinge vir Dawid (2 Sam 11). Die profeet Natan* lei Dawid om ’n oordeel oor homself uit te spreek en deel hom mee: “So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring” (2 Sam 12:11). 2 Sam 9–20 beskryf hoe Dawid se sonde rampspoed oor sy gesinslewe en koningskap bring. Hy moes selfs tydelik uit Jerusalem vlug, terwyl sy seun Absalom* effektief ’n staatsgreep uitgevoer het (15:1-37). Afsluiting: 2 Sam 21–24 handel oor die afsluiting van Dawid se regering en eindig op ’n laagtepunt, waar Dawid ’n offer moes bring om te vergoed vir sy sonde van ’n volksensus. Vir verdere lees: HL Bosman en JA Loader (red) 1987. Vertellers van die Ou Testament: Die literatuur van die Ou Testament. Deel 2. Kaapstad: Tafelberg. C Westermann 1967. Handbook to the Old Testament. Londen: SPCK. WS Boshoff, EH Scheffler en IJJ Spangenberg 2000. Ancient Israelite Literature in Context. Pretoria: Protea.

 

1 EN 2 TESSALONISENSE/THESSALONISENSE (BYBELBOEKE)
Skrywer: J Punt
1 EN 2 TESSALONISENSE/THESSALONISENSE (BYBELBOEKE). Tessalonika was die hoofstad van die Romeinse provinsie Masedonië* (Kyk by: Romeinse Ryk), en Paulus* het daar aangekom uit Filippi* met die Via Egnatia (Hand 17:1-9). Paulus se prediking* van Jesus* as gesalfde (Kyk by: Salf) Here*, het positiewe reaksie gehad en gelei tot die bekering* van veral talle heidene*, tot ont­steltenis van die Jode*. Die skerp woorde teen Jode (1 Tess 2:13-16) moet verstaan word binne die konteks van vurige teenstand teen Paulus se werk in hierdie gebied (vgl Hand 17:5) en nie as tydlose verdoeming van Jode nie. Immers, sommige Jode word van spesifieke oortredings beskuldig wat nie teenoor Rom 11:25-32 staan nie. In teenstelling met Hand 17:4 het die gemeente* wat in Tessalonika ontstaan het, hoofsaaklik uit heidense bekeerlinge bestaan (1 Tess 2:14). 1 Tessalonisense is waarskynlik Paulus se heel vroegste brief* – en dus een van die vroegste Christelike geskrifte – en kan teen 50/51 nC gedateer word. Die opsomming in 1 Tess 1:9-10 is waarskynlik die oudste Christelike verkondiging aan heidene* wat vandag beskikbaar is. Alhoewel Silvanus (Kyk by: Silas) en Timoteus* saam met Paulus as outeurs aangedui word (1 Tess 1:1), is Paulus duidelik die skrywer en hooffiguur in 1 Tessa­lonisense met verwysings na sy aanvanklike prediking* en hande-arbeid (2:1-11), sy behoefte om die gelowiges* in Tessalonika te besoek (2:18), en sy verblyf in Atene* (3:1). 1 Tessalonisense kommunikeer as ’n regte brief* en nie ’n tegniese rede nie, en bestaan naas ’n kort inleidende (1:1-5) en slotgedeelte (5:25-28) uit twee hoof­ge­deeltes wat die brief min of meer in twee verdeel. In 1:6–3:13 bespreek Paulus sy verhouding met die gemeente* en verdedig sy integriteit, terwyl hy in 4:1–5:24 die gelo­wiges aanmoedig om volgens die wil* van God te lewe in die wete dat Christus* se wederkoms* enige oomblik kan gebeur. Die brief roep heidene op tot geloof* in die lewende God eerder as om gode se afbeel­dings te dien, vermaan hulle om op gepaste wyse te lewe, en vertoon elemente wat ti­pies is van bemoedigende en teregwysende briewe van daardie tyd. Dit kan na aanlei­ding van die antieke retoriek as delibe­ratiewe of besluitnemingsliteratuur geklassifiseer word. Paulus se gedagtegang moet liefs aan die hand van Tessalonika se konteks verstaan word. Meer spesifiek: Die invloed van filosowe* belig Paulus se outobiografiese beskrywing (2:1-12) en die paranese (4:1-12); Dionisius* en Kabirus se kultusse plaas Paulus se aanwysings oor seksuele etiek (4:1-9) in konteks, en die openbare kultusse help om die eiesoortigheid van die eskatologiese* aanduidings (4:13-18) te verstaan. Alhoewel daar drie belangrike Christologiese* gedeeltes voor­kom (in 1:10, 4:14 en 5:9-10), ontbreek Paulus se teologiese en linguistiese materiaal wat in die later briewe gevind word, soos die gebruik van die Ou Testament* of verwysings na Ou-Testamentiese persone, verwysings na die tora*,  regverdiging* deur die geloof*, en die doop* en nag­maal*. Die gemeente* het skynbaar nog ’n heel informele leierskap gehad (1 Tess 5:12). 2 Tessalonisense is volgens sommige navorsers deur ’n onbekende gelowige en ’n ondersteuner uit die Paulus- groep geskryf. Waarskynlik gebruik hy 1 Tessalo­nisense as grondpatroon vir sy brief, beide wat struktuur en inhoud betref, om met ’n spesifieke situasie van vervolging in Mase­donië* (2 Tess 1:4, 6-7) te handel. Die brief se hoofgedeelte bestaan uit drie afdelings wat onderskeidelik ’n danksegging vir standvastigheid van die gelowiges is (1:1-10), die opgewondenheid oor die openbaring van die nabye wederkoms bespreek (2:1– 3:5), en ’n oproep tot die lesers rig om nie ledig en sonder dissipline te lewe nie, maar eerder Paulus se voorbeeld tydens sy verblyf daar na te volg (3:6-16). Pogings om Paulus se outeurskap van 2 Tessalonisense te verdedig, berus meestal op die aanname van sosio-historiese veranderings in Tessa­lonika, of selfs dat verskillende groepe aan­gespreek word in die twee briewe. Die outeurskap van Paulus self kan egter moeilik ge­handhaaf word in die lig van linguïsties-literêre gegewens (woordeskat, styl, gebrek aan persoonlike warmte) en teologiese argumente (andersoortige eskatologie, Christologie, teologie, en die klem op die navolging van tradisie*). Die verwysing na Paulus se onder­tekening (2 Tess 3:17) as teken van egtheid strook nie met ander gevalle waar Paulus doelbewus sy merk laat nie (1 Kor 16:21; Gal 6:11; Filem 19). Die outeur van 2 Tessalonisense herinterpreteer die Paulus-tradisie in terme van die apoka­liptiese* eskatologie* ter ondersteuning van die getrouheid van Christene wat vervolg word.
1 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK).
Skrywer: J Punt
1 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK). Pau­lus* het hierdie brief* waarskynlik geskryf tydens die lente (net voor Pinkster*, en met die oog op sy reis na Korinte* om daar te oorwinter, 1 Kor 16:6) tussen 53-55 nC (Hand 18:1-2, 12-17) vanuit Efese* (1 Kor 16:8) aan die gemeentes* wat hy in Korinte/Korinthe ge­stig het. Paulus word met ’n unieke situasie gekonfronteer, aangesien Korinte ’n groot, welvarende en kosmopolitiese handelstad en een van die sentrums van Hellenistiese* kultuur was, en omdat sy werk klaarblyklik daarin geslaag het om hoogs gekultiveerde bekeerlinge na die gemeentes* aan te trek. Terwyl die gelowiges toegang tot die stad se materiële en geestelike rykdomme gehad het, het hulle ook benewens hulle onderlinge diversiteit te kampe gehad met vreemde invloede van buite as gevolg van reisigers wat die stad aangedoen het. Die stad se gees het aanleiding gegee tot die breek met tradisie en konvensie, eksperimentering met nuwe gedagtes, en opgewondenheid oor geestelike ervarings. Pau­lus se evangelie*-boodskap is beide in ter­me van Hellenistiese godsdienste (1 Kor 1:13-17; 15:29; 11:17-34) en ’n Joodse* etos (1 Kor 5:9-11; 6:9-10) verstaan. 1 Korintiërs is waarskynlik deel van ’n groter korpus van briewe wat Paulus aan hierdie gemeentes gerig het (vgl die “vorige brief”, 1 Kor 5:9, waarvan ander dele in 2 Korintiërs gevind kan word). 1 Korintiërs werp heelwat lig op die situasie in die vroeë Christe­like kerk*, sowel as Paulus se lewe en werk in die gemeentes, alhoewel die inligting wat oor die vals* leraars gegee word, nie hulle identiteit of teologiese oortuigings duidelik bepaal nie. Ten spyte van vele studies oor 1 Korintiërs, is daar nog steeds onduidelikheid oor die literêre genre, funksie en samestelling en oor hoe die brief binne die korrespondensie as ’n geheel funksioneer. Kenmerke: Een van die belangrikste kenmerke van 1 Korintiërs is Paulus se teologiese verantwoording oor Griekse* kutuur- en godsdienswaardes. Hy skryf oor sake soos retoriek, wysheid* en kennis* en oor die belewenis van die Christelike geloof* as intellektuele verligting en inspirasie wat selfs ekstatiese belewenisse insluit, en is primêr daaroor begaan dat die Christelike aard van die nuwe lewe in Christus* behou moet word. Vryheid* word beskryf in terme van die Christelike gemeenskaps- en persoonlike lewe (1 Kor 6:12; 8:9; 9:19-23; 10:23–11:1), terwyl Paulus riglyne formuleer vir Christelike optrede te midde van die heersende politeïstiese (Kyk by: Politeïsme) en pluralistiese omgewing. ’n Tweede belangrike kenmerk van 1 Korintiërs is die styl waarmee Paulus sy teologie* bedryf het. In reaksie op beskuldigings dat 1 Korintiërs min of geen teologie, of hoogstens toe­ge­paste of praktiese teologie, bevat, illustreer die brief as onderdeel van ’n wyer reeks interaksies tussen Paulus en die gemeentes, sy deelnemende teologiese styl. Benewens gesagvolle lering en instruksies oor gepaste morele optrede, betrek Paulus die gelowi­ges in ’n teologiese debat wat trekke van die Sokratiese tradisie vertoon. Die gelowi­ges word gestimuleer om self ook teologies na te dink en antwoorde op hulle eie pro­bleme te help vind, veral ook omdat Chris­telike optrede op rasionele (rede-like) manier beskryf kan word, met ’n rasionaliteit wat deur die Gees* gelei is.
1 TIMOTEUS/TIMOTHEUS (BYBELBOEK)
Skrywer: PGR de Villiers
1 TIMOTEUS/TIMOTHEUS (BYBELBOEK), een van Paulus* se Pastorale briewe*, is gerig aan Timoteus*, Paulus se “ware kind in die geloof” wat as gemeenteleier in Efese opgetree het toe die brief geskryf is. Die brief word omraam deur ’n inleiding (1:1-20) en ’n kort, tipiese briefslot (6:21b). In die middel is daar opdragte aan Timoteus oor: gebede*, veral vir die owerhede (2:1-7); mans en vroue in die erediens* (2:8-15); vereistes vir die ampte* (3:1-13); die kerk (3:14-16); die dwaalleraars (4:1–5:2); groepe in die ge­meente* (5:3–6:2). ’n Belangrike tema is geld, want 1 Tim 6:3-19 word feitlik volledig daar­aan gewy. Die dwaalleer in 1 Timoteus het te doen met die een of ander vorm van askese*: die dwaalleraars verbied mense om te trou en om sekere kosse te eet (1 Tim 4:3). Die skrywer worstel ook veral met die probleem van vroue se gedrag en hulle beïnvloeding deur die dwaalleraars. Die morele verval wat ter sprake is, herinner aan soortgelyke kwessies waaroor veral die morele filosowe* in die Hel­lenistiese* tyd gepraat het. ’n Sober leefstyl wat nie die staat* of die familie bedreig nie, was ’n geliefde tema by hulle. Terwyl die skrywer van 1 Timoteus hierdie filosowe se etiek* oorneem, integreer hy dit nietemin in ’n Christelike konteks. Wie in Christus* is, leef sy of haar geloof* prakties in goeie werke uit. ’n Mens kan nie die een ding preek en die ander ding doen nie (1 Tim 1:3-11). In dié sin is die etiek* tog uniek, want dit word geïnspireer en bekragtig deur die lewe en voorbeeld van Christus (1:12-17; 6:3). Die twee aspekte van die dwaalleer en die morele verval kom bymekaar deurdat die dwaalleraars in hulle haarklowery oor hulle leer, die praktiese uitlewing van die evangelie* verwaarloos. Indien aanvaar word dat Paulus die outeur van 1 Timoteus was, is dit na alle waarskynlikheid in 62-63 nC vanuit Masedonië geskryf ná Paulus se vrylating uit sy eerste gevangenskap in Rome (1:3).  
2 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK).
Skrywer: AF Nel
2 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK). Hoe­wel die gemeente* in Korinte/Korinthe die produk van Paulus* se prediking* in die plaaslike sinagoge* was (Hand 18:1-11), word algemeen aanvaar dat die meerderheid van die gemeente bekeerlinge uit die heidense* wêreld* was. ’n Gedeelte van die gemeente het aan ’n Joodse kolonie in die hawestad behoort. Die brief* is waarskynlik tussen 55 en 56 nC geskryf. Korinte was ’n hawestad met gepaard­gaande heterogene standaarde en gedrag. Daarom waarsku Paulus ook teen die ge­vaar dat hulle hulle unieke identiteit as tempel* van God kan prysgee deur met die heidene* te vermeng (6:14-18). Hy roep die gemeente op om finansiële ondersteuning vir die armes in Jerusalem* te gee (8–9). 2 Korintiërs is een van ten minste drie briewe wat Paulus aan dié gemeente ge­skryf het. Een van hierdie briewe het verlore gegaan. Ná sy eerste brief aan die Ko­rinte het daar ernstige spanning in die gemeente ontstaan oor Paulus se gesag* as apostel*. Iemand het ’n persoonlike aanval op Paulus gemaak (2:5-11). Daarna bring hy ’n pynlike besoek aan Korinte (2:1). Sy sg “tranebrief”, wat verlore gegaan het, was die gevolg van hierdie besoek (2:4; 7:8). Nadat hy by Titus* gehoor het dat die ergste krisis verby is (7:6-16), skryf hy 2 Korintiërs 1–9, waarin hy met die gemeente praat. Hy antwoord op beskuldigings van traagheid en onopregtheid en dat hy nie geestelik genoeg is nie (2:17; 3:1-18; 4:2-6). Ongelukkig breek daar weer onenigheid uit. Sommige van hierdie teenstanders was Jode* (11:22). Paulus antwoord sy teenstanders direk in 2 Kor 10–13. Die duidelike toonverandering tussen 2 Kor 1–9 en 10–13 het tot die idee gelei dat 2 Korintiërs dalk ’n samevoeging van ’n paar briewe is. Die verdediging van Paulus se apostel­skap* is een van die sentrale temas in die brief – indien nie dié sentrale onderlig­gende tema nie (2:14–7:16; 10:1–13:10). Pau­lus se eie verstaan van sy apostelskap is ’n venster waardeur die brief gelees kan word. Paulus het sy apostelskap verstaan as dat God hom as apostel* aangewys het. Dit het sy teenstanders nie aanvaar nie. Hoewel Paulus as ’n buitengewone leier in die kerk* bekend was (12:12), was hy fisiek swak (10:10). Sy teenstanders kon van mening gewees het dat sy fisieke swakheid juis illustreer dat hy nie ’n kragtige apostel is nie. Die doel van die brief is duidelik: Paulus wil die vertroue in hom herstel en die ver­deeldheid heelmaak. In die proses gebruik hy verskillende beelde om die gemeente se eenheid* te benadruk. Die metafoor van ’n huishouding is een daarvan. Hy het die ge­sag van God ontvang om hierdie huishou­ding op te bou (12:19), nie af te breek nie. Hy plaas hierdie tema vóór en ná die verdediging van sy apostelskap (10:8; 13:10). Binne hierdie huishouding is Paulus ’n dienaar* (3:3, 6-9; 4:1; 5:18; 6:3-4; 11:23). Sy gesag word egter ook bevestig deurdat hulle soos sy kinders in hierdie huishou­ding is (6:13; 12:14). Daarom moes hulle aan hom gehoorsaam wees (2:9; 10:6).
2 TIMOTEUS/TIMOTHEUS (BYBELBOEK)
Skrywer: PGR de Villiers
2 TIMOTEUS/TIMOTHEUS (BYBELBOEK), een van Paulus* se Pastorale briewe*, is heelwat korter as 1 Timoteus*, en adem ’n ander a­t­mos­feer. Dit bespreek bv nie groepe (mans, vroue en slawe*) of die ampte* nie. Die dwaalleer van die opponente verwerp nie die huwelik* of die eet van kos nie, maar ontken die opstanding* (2 Tim 2:18). Dit lyk boonop asof ’n ouer persoon hier aan die skryf is: die skrywer praat oor verleidings van die jeug (2:22) en Paulus wag hier in die tronk op sy dood (4:6). Die inhoud lyk ook minder gestruktureerd. Ná die inleiding (1:1-2) volg ’n danksegging oor Timoteus* (1:3-6) en ’n uitgebreide aanmoediging vir Timoteus oor sake van die bediening (1:8–2:26). Na ’n kort uiteensetting oor die dwaalleraars (3:1-9), volg daar weer voorskrifte aan Timoteus, maar nou aangebied in teenstelling met die werk van die opponente in die gemeente (3:10–4:8). Die brief eindig met persoonlike opmerkings (4:6-21) en die tipiese briefslot (4:22). Tradisioneel word aanvaar dat Paulus hierdie brief kort voor sy dood in ongeveer 64 nC geskryf het, hoewel heelwat geleerdes meen dat dit in ’n later stadium deur ’n toegewyde volgeling van Paulus in die naam van sy leermeester geskryf is. Nietemin is daar goeie oorwegings vir die aanvaarding van die tradisionele standpunt dat Paulus die outeur van hierdie brief is.
À BRAKEL, WILHELMUS
Skrywer: GA van der Merwe
À BRAKEL, WILHELMUS (1635–1711) is die seun van ds Theodorus à Brakel, ’n 17de-eeuse leraar wat besonder klem lê op piëtisme* en godsvrug. Nadat À Brakel aan die universiteite van Franeker en Utrecht studeer het, word hy tot die amp van predikant* toegelaat en bedien Exmorra (1662), Stavoren (1665), Harlingen (1670), Leeuwarden (1673) en Rotterdam (1683). In al dié gemeentes* staan hy bekend as ’n stryder vir die saak van die kerk*, selfs teen die stadsregering van Rotterdam. Hy was ’n leerling van en is sterk beïnvloed deur Gisbertus Voetius*, ’n Nederlandse en Calvinistiese* teoloog en voorstander van ’n ortodokse (Kyk by: Ortodoksie) en Calvinistiese teologie*. Hy skryf verskeie boeke, waarvan sy belangrikste werk De Redelijke Godsdienst is. Dit verskyn in 1700 en beleef in die 18de eeu twintig herdrukke. Dit is in 2003 opnuut in Nederland uitgegee en beleef drie herdrukke in twee jaar. Dit is nie ’n akademiese/teologiese boek nie, maar ’n eenvoudige handboek oor die Christelike lewe vir die gewone gelowige. Dit was gewild in Suid-Afrika en naas die Statebybel* ’n belangrike leerboek in die wakis van elke Voortrekker*. Vir verdere lees: FJ Los 1892. Wilhelmus à Brakel. Proefskrif. J Overduin 1959. “À Brakel, W” in: FW Grosheide en GP Itterzon, Christelijke Encyclopedie, deel 2. Kampen: Kok.
À KEMPIS, THOMAS HEMERKEN (HAMERTJIE)
Skrywer: PW Bingle

À KEMPIS, THOMAS HEMERKEN (HAMERTJIE) (circa 1380–1471) is in Kempen in Rijnland gebore (die À Kempis beteken letterlik: Van Kempen). Hy is ’n bekende skrywer uit die kring van die moderne toewyding. Hy het beïnvloeding van die Broeders van die Gemene Lewe in sy skooltyd in Deventer ondergaan, met name van F Radewijns. In hierdie kring is sy voorkeur vir asketiese lektuur gewek en verdiep. Hy is in 1399 na die klooster* in St Agnietenberg. Die nugtere sin vir die eenvoudige praktyk wat kenmerkend van die kloosterbestaan was, het by hom ontbreek. In totaal staan 39 boeke in die Pohl-uitgawe van 7 dele onder sy naam. Die meeste daarvan is van asketies-mistieke aard, waarvan titels soos Alleenspraak van die siel, Die rosetuintjie en Dal van die lelies getuig. Die geskrif wat aan À Kempis ’n wêreldnaam besorg het, is De Imitatione Christi (Die navolging van Christus). Hierin is vier traktate saamgevat: Vermanings nuttig vir die geestelike lewe; Opwekking tot innerlikheid; Die boek van innerlike vertroosting; Eerbiedige opwekking tot die heilige nagmaal. Saam met Bunyan* se Die Pelgrim se reis na die ewigheid is hierdie werk in ’n stadium beskou as die mees gedrukte en gelese boek ter wêreld naas die Bybel*.

Vir verdere lees: MJ Pohl (red) 1904. Thomae Hemerken à Kempis canonici regularis ordinis S Augustini Opera omnia, 7 dele. St Louis: Herder. Thomas à Kempis 2004. Die navolging van Christus. Wellington: Lux Verbi.BM.

AALWYN
Skrywer:
AALWYN. Kyk by: Plante in die Bybel.
AANBIDDING
Skrywer: PGR de Villiers
AANBIDDING beteken om uitsluitlik aan God as Skepper, Verlosser en Regter eerbied te betoon (kyk onder andere na Eks 12:27; Op 4:11; 14:7). Die monoteïstiese (dit wil sê: geloof in net een God) en Christendom het verheerliking van ander gode en mense uitgesluit (Rom 1:23, 25; Hand 10:25 en volgende verse). Daarom word geen afbeelding van God toegelaat nie. In die Ou Testament* beklemtoon Deut 6:14 dat Israel*2 bestaan as volk om God te dien en te eer. Jesus* siteer dié vers ook tydens sy versoeking* deur Satan* en onderstreep daarmee dat God alleen aanbid word (Luk 4:7-8). Vir Nuwe-Testamentiese* skrywers beteken die aanbidding van Jesus (bv Op 5:12, 16) nie ’n aantasting van die monoteïsme* nie. Jesus is die Seun van God met Goddelike volmag en in wie God handel (Matt 14:33). Jesus word veral uitdruklik ná die opstanding1* as teken van God se magshandeling aanbid (Matt 28:9, 17; Luk 24:52). Aanbidding word veral deur ’n houding van gebed* uitgedruk. Dat aanbidding iets besonders is en ’n innerlike houding van verwondering en van aanvaarding van die wil* van God impliseer, word geïllustreer deur fisieke praktyke: iemand kniel (Fil 2:5-11), val plat op die grond (Hand 10:25-26; Op 22:8-9) of slaan die oë neer. Dit wys op ’n houding van ontsag, afhanklikheid en selfs van intimiteit. Die aanbidder is tot in die fisieke betrokke by die verhouding met God wat die menslike en die geskapene transendeer. Aanbidding beteken ook deelname aan die erediens* (Joh 12:20). In die eerste bedeling vind dit veral in die tempel*4 plaas. Die eerste Christene* het wel nog vir hulle diens aan God die tempelgebruike nagekom (Hand 3:1) en daarin die familie van Jesus se voorbeeld gevolg (Luk 2:41). Nadat die tempel vernietig is, het hulle, soos hulle Joodse medegelowiges, ’n diens gehad wat aan die diens in die sinagoge* herinner het. Dit was ondenkbaar dat hulle in heidense* tempels met heidense rituele en offerandes* sou aanbid (Hand 7:48). Hulle aanbidding vind in ’n byeenkoms, meestal op ’n Sondag* as die dag van die opstanding, plaas. Dit het Skriflesing ingesluit (Luk 4:16), waarna ’n Skrifuitleg gevolg het (Luk 4:21). Daar was ook liedere, geloofsbelydenisse*, doksologieë*, spreek in tale* en profesieë* (bv 1 Kor 14:19). Daarbenewens is die sakramente* van die doop* (as reiniging van dit wat aanbidding verhinder) en nagmaal* (as gedagtenis aan wat aanbidding moontlik maak en behels) ’n wesentlike deel van die openbare aanbiddingsgeleenthede.  
AANKNOPINGSPUNT
Skrywer: AS van Niekerk
AANKNOPINGSPUNT. Die vraag is of daar buite die Christelike geloof*, byvoorbeeld in nie-Christelike religieë, iets is waarby die Christelike sending* kan aanknoop om van daar af by Christus* uit te kom. Is dit dalk die algemene openbaring*, of die besef dat daar ’n God is, of die verlange na verlossing, of ’n sekere waarheid, of die “saad van die godsdiens” wat ná die sondeval* as deel van die menslike natuur in die mens oorgebly het? Daar is verskillende antwoorde op hierdie vraag gegee. In 1934 het Karl Barth* kortweg Nee! geantwoord. Ander teoloë redeneer dat God tog met die nie-Christen besig is, en dat die geskiedenis wat God met die mens het, iets aan die mens doen, al is hy of sy hoe verdwaald. ’n Mens kan iets van God ook uit die skepping* leer ken, word gesê. Al verdraai mense hierdie kennis, is daar wel die besef dat God bestaan (Rom 1). In die jonger tyd word die “gemeenskaplikheid” tussen godsdienste egter soms só beklemtoon dat dit klink asof verlossing deur alle godsdienste verkry kan word en bekering* tot Christus nie regtig meer nodig is nie. Tog is dit waar dat vir effektiewe kommunikasie die een of ander aanknopingspunt belangrik is. Daar is geen gelyk pad na Christus toe nie: êrens is daar ’n krisis, ’n konfrontasie, ’n bekering en ’n wedergeboorte* nodig. (Kyk ook: Kommunikasie en sending*.)  
AANNEMING TOT KINDERS
Skrywer: DF Tolmie
AANNEMING TOT KINDERS was ’n gebruik in die Grieks-Romeinse wêreld waardeur iemand wat nie biologies ’n mens se eie kind is nie, in terme van die heersende wette of gebruike van ’n land as ’n mens se eie kind beskou is. Dit was dus min of meer dieselfde as die gebruik wat ons tans “aanneming” noem. In die Bybel* word die verhouding tussen God en sy mense gereeld deur middel van die beeld van ’n vader en sy kinders beskryf, maar dit is veral Paulus* wat “aanneming tot kinders” as ’n beeld gebruik. Israel is deur God as sy kinders “aangeneem” (Rom 9:4). In ander gevalle (Rom 8:14-15, 23; Gal 4:5 en Ef 1:5) gebruik Paulus dit egter as ’n beeld om die verhouding tussen God en Christene te beskryf. Met hierdie beeld word veral drie gedagtes beklemtoon. 1. Dit verduidelik die verandering wat God in mense se geestelike status bring: hulle word sy kinders en Hy word hulle Vader*. 2. Om ’n kind van God te wees, is nie iets wat ’n mens op ’n natuurlike manier verkry of self verdien nie, maar dit is uitsluitlik die gevolg van God se genade*. Dit is Hy wat mense sy kinders maak sonder dat hulle dit verdien. Daarom is dit ook iets wat deur die geloof ervaar word. 3. Daar is ’n verskil tussen gelowiges se kindskap van God en Christus se Seunskap van God. Hy is die “Seun” van God, maar gelowiges is God se aangenome “seuns (= kinders)”.  
AANSTOOT
Skrywer: J Punt
AANSTOOT. In die Bybel* hou “aanstoot” verband met eer* en skande as sentrale waardes binne die destydse samelewing. Aanstoot vind plaas wanneer sosiale konvensies, waardes* en norme* soos gereguleer deur opvattings oor eer en skaamte, oortree word. Aangesien eer (en skaamte) primêr binne groepsverband bepaal word, berokken aanstoot beide die betrokke indiwidue en die groepe waaraan hulle behoort, skade (Rom 16:17; Fil 1:10). Aanstoot kan verwys na die gevolge van aksies wat lei tot benadeling van ander (Rom 14:20), of na die oorsaak van dit wat aanstoot gee (Rom 9:32). In die Evangelie-verhale word Jesus* en sy optrede dikwels met aanstoot in verband gebring (byvoorbeeld Matt 13:57; Mark 6:3; Luk 7:23; Joh 6:61). Christus* se kruis* was vir die Jode* ’n bron van aanstoot (Gal 5:11) omdat dit hulle nasionalistiese verstaan van God en die kultiese inkleding van hulle geloof* op losse skroewe gestel het.  
AARDE
Skrywer: LC Jonker
AARDE. In Hebreeus is daar twee woorde wat as “aarde” vertaal kan word: 1. Eretz, wat ook vertaal kan word as land/landstreek, word byvoorbeeld in Gen 1 en ander skeppingstekste gebruik om te verwys na die aarde as God se skepping*. Die aarde word gesien as die bewoonbare skepping. 2. Adamah kan ook as “aarde” vertaal word, maar verwys primêr na (bewerkbare) grond. In die Nuwe Testament* word beide hierdie terme as vertaal, met soortgelyke betekenisskakerings. Volgens die Israelitiese kosmologie* is die aarde daardie ruimte wat God tot stand gebring het. Die aarde verskaf daarom ook lewensmiddele aan die mens wat daarop leef. Die Ou-Testamentiese* mense het die skepping as ’n drieverdieping-werklikheid gesien, met die plat aardskyf as die belangrikste deel, maar verder ook met waters bokant en onderkant die aarde, en die verlate gebied van die doderyk onder die aarde. Hoewel die hemele (meestal in meervoud) en aarde (meestal in enkelvoud) ook die kwalitatiewe onderskeid tussen God se domein en die mens se domein aandui, is dit veral in die Nuwe Testament* dat hierdie siening vollediger uitgewerk word. Daar word die aarde algaande geassosieer met die menslike en feilbare, terwyl die hemel verwys na die Goddelike en volmaakte. Uiteindelik is die hoop van Christen-gelowiges daarop gevestig dat die huidige hemel en aarde sal verdwyn (byvoorbeeld Op 20:11), en dat die nuwe hemel en aarde sal verskyn (Op 21:1). Dan sal die nuwe aarde ook volledig die gebied van God se teenwoordigheid wees.  
AÄRON
Skrywer: EE Meyer
AÄRON was die seun van Amram* en Jogebed* (Eks 6:19) en die broer van Moses* en Mirjam*. Hy maak vir die eerste keer sy verskyning in Eks 4:14 as “Aäron die Leviet*” en hy word aangesê om vir Moses te help aangesien hy “sy woord goed kan doen”. Hy speel by geleentheid die rol van towenaar* (Eks 7:9-13), maar sy vernaamste rol is om vir Moses by te staan. So hou hy bv saam met Hur* Moses se hande hoog in die oorlog teen die Amalekiete* (Eks 17:8-16) en klim hy saam met Moses Sinai*2 uit (Eks 19:24). Wanneer Moses later saam met Josua* weer die berg uitklim (Eks 24:13), breek die laagtepunt van Aäron se “loopbaan” aan met die goue kalf*-episode in Eks 32. Nog ’n laagtepunt was beslis die dood van sy twee seuns, Nadab* en Abihu*, omdat hulle “ongeoorloofde vuur” vir die Here aangebied het (Lev 10). In die priesterlike wetgewing van die Pentateug* dien Aäron altyd as die hoëpriester* en sy seuns as priesters*1 (Eks 28 en Lev 8) in die tabernakel*. Hy en sy seuns ontvang spesiale klere met bv twaalf stene in die borsplaat* (Eks 28:21) en met sakke vir die urim en tummim* (Eks 28:30). Die hoogtepunt van Aäron se priesterlike pligte was wanneer hy een maal per jaar die Allerheiligste* kon ingaan op die Groot Versoendag* (Lev 16). Soos Moses, kon Aäron nie die beloofde land binnegaan nie. Hy het gesterf en is begrawe op Hor*-berg en sy seun Eleasar*2 het sy pligte oorgeneem (Num 20:22-29).  
AARTSBISKOP
Skrywer:
AARTSBISKOP. Kyk by: Kardinaal.
AARTSENGEL
Skrywer:
AARTSENGEL. Kyk by: Migael.
AARTSVADERS
Skrywer:
AARTSVADERS. Kyk by: Pentateug; kyk ook: Abraham, Isak en Jakob.
AASVOËLS
Skrywer:
AASVOËLS. Kyk by: Diere van die Bybel.
AB
Skrywer: A Daniels

AB het twee betekenisse. Dis eerstens die naam vir die vyfde maand in die Joodse godsdienstige kalender* en stem ooreen met die elfde maand in die Joodse burgerlike kalender. Dit dek dele van Julie en Augustus. Dié naam word nie in die Bybel* vermeld nie. Op die negende van die maand vas en rou die Jode* en word die eerste sowel as die tweede verwoesting van die tempel* gedenk. (Kyk ook by: Feeste*.)

Ab is tweedens in die Katolieke Kerk* die benaming vir die owerste van ’n (monnike-)klooster* of -orde*.

 

ABAKA
Skrywer:
ABAKA. Kyk by: Kigozi, Blasio.
ABANA
Skrywer: A Daniels
ABANA is ’n rivier by Damaskus* in Sirië waar nog ’n rivier, die Parpar, na die suide daarvan voorkom. In sy toorn wou Naäman* eerder in die Abana was as in die vuil Jordaan* (soos beveel deur Elia* – 2 Kon 5:12) om van sy melaatsheid genees te word. Die rivier se moderne naam is Barada. Die Abana en Parpar sorg grootliks vir die vrugbaarheid waarvoor dié streek van Damaskus beroemd is.
ABBA
Skrywer: A Daniels

ABBA is ’n Aramese* woord wat op drie plekke in die Nuwe Testament* voorkom: Mark 14:36, Rom 8:15 en Gal 4:6. Die woord beteken “vader”, en word deur Jesus* gebruik om te praat van sy eie verhouding met God, ’n verhouding wat ander deur die geloof* kan betree.

 

ABBÉS
Skrywer:
ABBÉS. Kyk by: Sekulêre geestelikes.
ABEDNEGO
Skrywer: HJM van Deventer
ABEDNEGO is die hofnaam van Asarja* (“Jahwe* het gehelp”), een van Daniël* se vriende, wat Nebukadnesar se hoofpaleisbeampte, Aspenas*, volgens destydse gebruik (vgl Gen 41:45) aan hom gegee het (Dan 1:7). Die naam beteken “dienaar van (die god) Nabu”. Die hofname van hierdie karakters word eers teen die einde van Dan 2 en in Dan 3 gebruik. Hulle tree altyd as groep op en word nie weer in Dan 4–12 genoem nie.  
ABEL
Skrywer: A Daniels
ABEL is die tweede seun van Adam* en Eva1*. Abel was ’n skaapboer en het ’n meer aanvaarbare offer aan God* gebring as Kain*, wat ’n vrugteboer was. Hiervoor het Kain vir Abel doodgemaak. Heb 11:4 dui onvanpaste geestelike motivering aan as die rede waarom Kain se offer verwerp is. Abel beteken “asem” of “onbeduidend”. Sy naam word geassosieer met die kortheid/vlugtigheid van die lewe. Sy naam is verwant aan die woord wat in die boek Prediker* gebruik word en wat normaalweg met “tevergeefs” of “kom tot niks” vertaal word.  
ABELARDUS, PETRUS
Skrywer: JW Hofmeyr
ABELARDUS, PETRUS (1079–1142). Pierre Abélard kan tereg saam met enkele ander Middeleeuse teoloë beskou word as van die mees invloedryke figure in die Middeleeuse kerkgeskiedenis*. Hy was ’n Fransman en het deel uitgemaak van die vroeë Franse skolastici (Kyk by: Skolastiek). Ná ’n oorhaastige huwelik* met een van sy leerlinge, Heloise*, wat op baie probleme vir haar en vir hom uitgeloop het, stig hy die klooster* van Paracletum. Hy vind daar geen rus vir sy siel nie en wend hom na Petrus Venerabilis van die klooster van Cluny. Abélard was ’n knap teoloog maar selfs nog bekwamer as filosoof. Verder het hy as digter verskeie godsdienstige liedere geskryf.  
ABIB
Skrywer: EE Meyer
ABIB is die oorspronklike Kanaänitiese* naam vir die eerste maand (Maart/April) in die antieke kalender*. Later word hierdie maand Nisan genoem. Dit is die maand waarin die uittog* uit Egipte* plaasgevind het. Die Fees van die Ongesuurde Brode* asook die Pasga* of Paasfees word in hierdie maand gevier (Eks 13:4; 23:15; 34:18; Deut 16:1).  
ABIGAIL
Skrywer: A Daniels
ABIGAIL beteken “my pa se blydskap”. Twee vroue het hierdie naam gehad: 1. Die vrou van Nabal* in Moan, wat sy boerdery in Karmel* gehad het (1 Sam 25). Abigail het ’n goeie verstand gehad en was ’n mooi vrou. Ná Nabal se dood het sy die vrou van Dawid* geword. 2. ’n Suster van Dawid (1 Kron 2:16-17).  
ABIHU
Skrywer: EE Meyer
ABIHU is een van die vier seuns van Aäron* by Eliseba (Eks 6:23). By Sinai2* word Abihu saam met sy broer Nadab* en hulle pa Aäron en sewentig leiers afgesonder om met Moses* die berg uit te gaan (Eks 24:1-9). Abihu het as priester*1 opgetree (Eks 28:1; Num 3:3), maar sterf saam met sy broer Nadab toe hulle in Lev 10 “ongeoorloofde vuur” vir die Here* aanbied.  
ABIJA
Skrywer: A Daniels
ABIJA beteken “my vader is die Here*”. Daar is nege verskillende verwysings na persone met hierdie naam (1 Sam 8:2; 1 Kon 2:24; 14:1-18; 1 Kron 3:10; 7:8; 24:10; 2 Kron 29:1; Neh 10:7, 12:4 en 7). Die bekendste was Abija, die seun en opvolger van Rehabeam* (2 Kron 11:20–14:1). Hy het 14 vrouens gehad. Hy was die pa van 22 seuns en 16 dogters.  
ABIMELEK
Skrywer: A Daniels
ABIMELEK beteken “my pa is koning”. Daar is vyf verskillende verwysings na persone met die naam Abimeleg. 1. ’n Tydgenoot van Abraham* (Gen 20). 2. ’n Koning van die Filistyne* (Gen 26), en kom voor in die verhaal van Isak*. 3. Die derde word in Ps 34 genoem. Dis dieselfde persoon wat in 1 Sam 21:10-22 as koning Akis van Gat* aangedui word. 4. Die seun van Gideon* (Rig 9) wat drie jaar lank ’n monargie in Israel*2 probeer vestig het (Rig 9:22). 5. ’n Priester, seun van Abjatar* (1 Kron 18:16).  
ABINADAB
Skrywer: A Daniels
ABINADAB beteken “my pa is ruimhartig”. Daar is drie verskillende verwysings na persone met hierdie naam: 1. ’n Inwoner van Kirjat-Jearim* in wie se huis die ark*2 van die verbond 20 jaar gestaan het (1 Sam 7:1-2). 2. ’n Seun van Isai* toe Samuel* vir Dawid* as koning gesalf het (1 Sam 7:8). 3. ’n Seun van Saul* (1 Sam 31:1-2).  
ABIRAM
Skrywer: A Daniels
ABIRAM beteken “my pa is die verheerlikte een”. Daar is twee verwysings na persone met die naam Abiram: 1. Een van die leiers van ’n opstand teen Moses* en Aäron* wat priesterlike gesag gesoek het (Num 16:9-11). 2. Die seun van Giël, wat gesterf het toe sy pa die fondamente van Jerigo* gebou het (1 Kon 16:34, vgl Jos 6:26).  
ABISAG
Skrywer: LJ Claassens
ABISAG is ’n mooi Sunammitiese vrou wat volgens 1 Kon 1 gebring is om die bejaarde koning Dawid* geselskap te hou. Sy word die koning se persoonlike versorger, maar die teks maak dit duidelik dat hulle nie seksuele omgang gehad het nie. Abisag bevind haarself midde-in ’n stryd rondom die opvolger van koning Dawid. Adonia*1, Salomo* se teenstander om die koningskap, vra naamlik kort ná Salomo se troonbestyging of hy wat Adonia is met Abisag kan trou. Adonia rig sy versoek tot die koninginmoeder Batseba* wat spesiale toegang tot koning Salomo het. Salomo sien die versoek van sy broer om met die vrou van die vorige koning te trou as ’n aanslag op sy koningskap. Die gevolg van hierdie insident is dat Salomo opdrag gee dat Adonia vermoor word ten einde enige teenstanders uit die weg te ruim.  
ABISAI
Skrywer: A Daniels
ABISAI se naam het die volgende moontlike betekenisse: “(my) pa is Isai*” of “(my) pa bestaan”. Hy was die oudste seun van Seruja, die suster van Dawid* en broer van Joab* en Asael (2 Sam 2:18). Hy was hoof van ’n groep van drie onder Dawid se “magtige manne” (2 Sam 23:18). Abisai se beste karaktertrekke was sy onwrikbare lojaliteit en getrouheid aan Dawid. A Daniels
ABJATAR
Skrywer: EE Meyer
ABJATAR was die seun van Agimelek*1 en was saam met hom priester* in Nob. Hy was die enigste een wat die slagting in Nob oorleef het en het daarna by Dawid* aangesluit. Hy het die skouerkleed saamgeneem (1 Sam 22:19-23; 23:6-9). Later, wanneer Dawid aan die vlug is vir Absalom*, stuur hy vir Abjatar saam met sy seun Jonatan*, die ark*2 en Sadok* terug om sy sake te behartig (2 Sam 15:25-29). Abjatar word uiteindelik vir hierdie lojaliteit beloon en as priester (saam met Sadok) aangestel (2 Sam 20:25). Wanneer Salomo* later aan bewind kom, verban hy vir Abjatar na sy grond by Anatot*, omdat hy eerder Adonia*1, Salomo se broer, ondersteun het (1 Kon 1–2). Daar word verkeerdelik na hom verwys as die hoëpriester* in Mark 2:26, terwyl dit eintlik gaan oor die insident met sy pa, Agimelek, in Nob (1 Sam 21:1-6).  
ABNER
Skrywer: A Daniels
ABNER. Sy naam beteken “(my) pa is ’n lamp”. Hy was die hoof van Saul* se leër (1 Sam 14:50). Abner was vir Saul wat Joab* vir Dawid* was. Ten spyte van die baie oorloë wat Saul geveg het, hoor ’n mens min van Abner. Hy word nie eens genoem in die vertelling oor die veldslag by Gilboa* nie. Hy onderneem om Is-Boset* onder sy vlerk te neem ná Saul se dood. Hy word uiteindelik vermoor deur Joab en sy broer Abisai* in Hebron*, omdat hy hulle broer Asael doodgemaak het tydens die oorlog in Gibeon* (2 Sam 3:22–4:1).  
ABORSIE
Skrywer: L Kretzschmar
ABORSIE is die doelbewuste verwydering van ’n lewende fetus uit die baarmoeder van die ma, met die wete dat die fetus nie daarbuite kan lewe nie. ’n Spontane aborsie word ’n miskraam genoem. In die jongste tyd het die mediese tegnologie dermate gevorder dat aborsies veiliger gedoen kan word, en die wetgewing wat al hoe meer toegeeflik raak, het aborsies in talle lande gewettig. Vóór die aanvaarding van die wet op die beëindiging van swangerskap (1996) was aborsies in Suid-Afrika onwettig. Dit kon slegs deur ’n geneesheer in bepaalde omstandighede gedoen word. Sedert 1996 kan ’n aborsie gedurende die eerste twaalf weke van swangerskap op versoek van die vrou deur ’n geneesheer of ’n vroedvrou gedoen word. Ná die dertiende week mag slegs ’n geneesheer dit in gespesifiseerde omstandighede doen. Histories was die Christendom* teen infantisiede (doodmaak van ’n kind) en teen aborsie op grond van die heiligheid* van menslike lewe wat na die beeld* van God geskep is. Moderne teoloë is verdeeld oor die vraag of aborsie soms geoorloof kan wees. In die jongste jare het drie standpunte na vore getree:
  1. Die Katolieke Kerk* staan die pro-lewe-standpunt voor saam met baie ander Christene* wat aan die absolute reg op lewe van die kind of fetus glo. Hulle sê dat aborsie op moord neerkom, omdat die fetus van die oomblik van bevrugting ’n lewende wese is. Hulle verwys na tekste soos Ps 139:13-16 en Jer 1:4-5.
  2. Aan die ander kant van die spektrum is die pro-keuse-siening wat deur minder Christene voorgestaan word. Hulle glo dat die verwagtende vrou – sonder om selfs die (vermeende) pa of ander familielede te raadpleeg – die reg het om te besluit of sy geboorte aan die kind wil gee of nie.
  3. ’n Derde groepering Christene stem wel toe tot beperkte, buitengewone en terapeutiese aborsie as die minste van twee euwels. Hulle glo dat aborsie geregverdig is wanneer, bv, die voortgesette swangerskap die gesondheid en lewe van die ma bedreig, wanneer dit duidelik is dat die baba met ernstige verminking gebore sal word of wanneer die swangerskap die gevolg van verkragting of bloedskande is.

 

ABRAHAM / ABRAM
Skrywer: LH Joubert
ABRAHAM / ABRAM was ’n aartsvader* van Israel*2 (Gen 12–25). Hy was die seun van Tera*, afkomstig uit Ur* van die Galdeërs* (Noord-Mesopotamië). God roep hom uit Haran* met die opdrag om na Kanaän* te trek. God beloof aan hom ’n land, ’n nageslag en dat al die volke van die aarde in hom geseën sal word. Abraham is bekend as ’n man van geloof*. Hy het die Here* gehoorsaam toe hy weggetrek het na ’n vreemde land en was later bereid om sy seun Isak* te offer*. Sy verhaal het ook episodes van twyfel, waar hy leuens vertel oor sy verbintenis met Sara* en instem om ’n kind, Ismael*, by Hagar* te verwek omdat Sara kinderloos bly. God sluit ’n verbond* met Abraham en bevestig sy beloftes. Sy naam word verander van Abram na Abraham (“vader van baie”). Op ’n hoë ouderdom word hy en Sara die ouers van Isak. Abraham was ’n ryk man en het ’n semi-nomadiese leefstyl beoefen. Sy godsdiens was nie gebind aan ’n georganiseerde kultus (= stelsel van godsdienstige oortuigings en meegaande ritueel) nie. Die volk Israel se identiteit is nou verbind aan die God van Abraham. Sy roeping* is die begin van God se verbondsgeskiedenis met Israel en die wêreld. Abraham is ’n belangrike historiese en teologiese persoonlikheid in die Judaïsme*, Christendom* en Islam*. In die Nuwe Testament* word God se roep van Abraham en sy reaksie daarop deur Paulus* voorgehou as die model van geloof (Gen 15:6; Rom 4:1-3). Hy word ook beskryf in die sg galery van geloofshelde (Heb 11:8-12, 17-19). Daar is al baie geskryf oor die historisiteit van Abraham. Daar is geen verwysings na hom buite die Bybelse* literatuur nie. Met die hulp van argeologie* en die bestudering van die sosiale en kulturele gebruike wat in Genesis* voorkom, word hy in die Middel-Bronstyd tussen 2000 en 1700 vC geplaas.

 

ABRAM
Skrywer:

ABRAM. Kyk by: Abraham

ABSALOM
Skrywer: A Daniels
ABSALOM beteken “pa van vrede”. Hy was die derde seun van Dawid* by Maäka, ’n dogter van koning Talmai van Gesur (2 Sam 3:3). Hy is in Hebron* gebore en het op ’n vroeë ouderdom na Jerusalem* gekom, waar hy die grootste deel van sy lewe deurgebring het. Hy het in ballingskap gegaan in Gesur, nadat hy vir Amnon* vermoor het wat Tamar2* verkrag het (2 Sam 13:23-39). Ná ’n komplot verklaar hy homself tot koning en Dawid moes uit Jerusalem vlug. Absalom is uiteindelik deur Joab* en sy wapendraers gedood na nóg ’n opstand teen Dawid (2 Sam 18:1-17). Die nuus van Absalom se dood het Dawid hewig ontstel, sodat hy herhaaldelik uitgeroep het: “My seun, Absalom, my seun, my seun” (2 Sam 18:33). A Daniels
ABSOLUSIE
Skrywer:
ABSOLUSIE. Kyk by: Vryspraak.
Scroll to Top