Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

AFRIKAANS
Skrywer: FM Gaum
Afrikaans-1.jpg

AFRIKAANS. CJ Langenhoven* het oor Afrikaans ’n uitspraak gemaak wat in ’n stadium dikwels aangehaal is: “Afrikaans is die enigste witmanstaal in Suid-Afrika wat nie klaar van oorsee af gekom het nie”. Dis natuurlik nie korrek nie – Afrikaans kan nie ’n “witmanstaal” genoem word nie. NP van Wyk Louw* het dit anders gestel: “Afrikaans is die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.” Van Wyk Louw se “definisie” is klaar beter – maar daar ontbreek ’n belangrike element. Afrikaans se vroegste spore lê in Arabiese letters in die Kaap – toe Kaapse mense uit onder meer Maleisië Afrikaans daar geskryf het. Daarom sou ’n mens kon sê Afrikaans is die taal wat Wes-Europa, Maleisië en Afrika verbind en ’n brug vorm tussen die groot helder Weste, die eksotiese Maleisië en die magiese Afrika. Die taal word deur ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking gepraat en/of verstaan, soos ook elders in die wêreld waar Afrikaanssprekendes hulle in “verstrooiing” bevind. Dit het ontwikkel tot ’n eersterangse taal wat in die kombuis en die sitkamer en die studeerkamer gebruik kan word. Een van die groot bakens in die relatief kort geskiedenis van Afrikaans, was die eerste volledige vertaling van die Bybel* in Afrikaans wat in 1933 verskyn het.

Soos Duits of Engels het Afrikaans ’n politieke “verlede”, wat egter nie toegelaat mag word om sy hede en sy toekoms te belemmer nie. In die hedendaagse Suid-Afrika, met elf amptelike tale dog ’n sluipende verengelsingsproses, word Afrikaans ongetwyfeld bedreig.

Nog sienings:

  • Op die (Kaapse) spoor van Afrikaans” deur Michael le Cordeur, Die Burger, 19 Augustus 2023:

Die eenvoudigste stelling oor die herkoms van Afrikaans, is dat die taal ontstaan het toe die Khoi-Khoi en die slawe Hollands moes aanleer om in ’n groeiende kolonie in interaksie met mekaar en die vryboere te funksioneer. Khoi-woorde soos dagga, kierie, kamma, hoeka, kwagga, aitsa, eina, bietjie-bietjie en nou-nou word vandag steeds in Afrikaans gebruik. Mettertyd is onderskeidelik Kaapse Afrikaans (die slawe), Oranjerivier-Afrikaans (Khoi-Khoi) en Oosgrens-Afrikaans (Vryburgers) gepraat.

Die Koran was een van die eerste Kaapse Afrikaanse geskrifte. Die oudste vertaalde Afrikaanse teks, die Bayan al-Din (uiteensetting van die Moesliem-geloof), is geskryf deur sjeg Abu Bakr Effendi.

Waar variante van Afrikaans vroeër as minderwaardige vorme van die taal gesien is, is dit nie meer die geval nie. “Standaard-Afrikaans” is egter steeds belangrik en noodsaaklik veral bv ten opsigte van akademiese en ook openbare media. Almal moet soms van dieselfde bladsy kan sing. Standaardtaal mag egter nie in beton gegiet wees nie. Taal is dinamies. Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Die taal het ontwikkel uit ’n verskeidenheid bronne en sy wortels lê versprei oor drie vastelande, Europa, Asië en Afrika.

  • “Afrikaaans as geloofstaal” deur Nelis Janse van Rensburg, eKerkbode, 21 Julie 2023:

Geloofshuise word ook in taal gebou. Geloof gebeur immers in taal. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons geloofshuis begin met ’n Woord van God, vir mense.

Afrikaans is gebore in Afrika. Dit het aan mense identiteit gegee.Dit het vir sommige ’n medium van mag en dwang geword.Watter simboliese betekenis het Afrikaans nou vir ons tyd? Is dit ’n taal van vergifnis?

Die agenda van die kerk is nie om ’n taal te bevorder nie. Ons agenda is om diensbaar te wees. Maar daar is geen diensbaarheid sonder ’n taal nie. Afrikaans het reeds die taal van versoening begin word in ons land. Terwyl die Afrikaanse kerke saam met Afrikaans gegroei en ontwikkel het, laat ons nie deel wees van dié wat oor Afrikaans ’n taal- en kultuurpessimisme koester nie. Laat ons nou eerder die krag van hierdie taal benut om wonings op te rig waarin die rykdom van mense in ons land kan tuiskom. Afrikaans moet en kan ’n deurslaggewende rol speel om te genees en te versorg, te herstel en op te rig, vorentoe te gaan, God se toekoms tegemoet.

 

R250,00

Christelike Kernensiklopedie

Wenner van die Ds Pieter van Drimmelen-medalje! Hierdie unieke ensiklopedie spog met grootse statistieke. Dit het 3250 inskrywings, 1248 volkleur bladsye en 163 medewerkers (waaronder teoloë, historici, literatore en joernaliste). Die medalje is toegeken aan die hoofredakteur, dr. F.M. Gaum

Vriende van Kerkbode

Raak ’n vriend van Kerkbode

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus
Scroll to Top