
2 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK).
Skrywer: AF Nel

2 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK). Hoewel die gemeente* in Korinte/Korinthe die produk van Paulus* se prediking* in die plaaslike sinagoge* was (Hand 18:1-11), word algemeen aanvaar dat die meerderheid van die gemeente bekeerlinge uit die heidense* wêreld* was. ’n Gedeelte van die gemeente het aan ’n Joodse kolonie in die hawestad behoort. Die brief* is waarskynlik tussen 55 en 56 nC geskryf.
Korinte was ’n hawestad met gepaardgaande heterogene standaarde en gedrag. Daarom waarsku Paulus ook teen die gevaar dat hulle hulle unieke identiteit as tempel* van God kan prysgee deur met die heidene* te vermeng (6:14-18). Hy roep die gemeente op om finansiële ondersteuning vir die armes in Jerusalem* te gee (8–9).
2 Korintiërs is een van ten minste drie briewe wat Paulus aan dié gemeente geskryf het. Een van hierdie briewe het verlore gegaan. Ná sy eerste brief aan die Korinte het daar ernstige spanning in die gemeente ontstaan oor Paulus se gesag* as apostel*. Iemand het ’n persoonlike aanval op Paulus gemaak (2:5-11). Daarna bring hy ’n pynlike besoek aan Korinte (2:1). Sy sg “tranebrief”, wat verlore gegaan het, was die gevolg van hierdie besoek (2:4; 7:8).
Nadat hy by Titus* gehoor het dat die ergste krisis verby is (7:6-16), skryf hy 2 Korintiërs 1–9, waarin hy met die gemeente praat. Hy antwoord op beskuldigings van traagheid en onopregtheid en dat hy nie geestelik genoeg is nie (2:17; 3:1-18; 4:2-6). Ongelukkig breek daar weer onenigheid uit. Sommige van hierdie teenstanders was Jode* (11:22). Paulus antwoord sy teenstanders direk in 2 Kor 10–13. Die duidelike toonverandering tussen 2 Kor 1–9 en 10–13 het tot die idee gelei dat 2 Korintiërs dalk ’n samevoeging van ’n paar briewe is.
Die verdediging van Paulus se apostelskap* is een van die sentrale temas in die brief – indien nie dié sentrale onderliggende tema nie (2:14–7:16; 10:1–13:10). Paulus se eie verstaan van sy apostelskap is ’n venster waardeur die brief gelees kan word. Paulus het sy apostelskap verstaan as dat God hom as apostel* aangewys het. Dit het sy teenstanders nie aanvaar nie. Hoewel Paulus as ’n buitengewone leier in die kerk* bekend was (12:12), was hy fisiek swak (10:10). Sy teenstanders kon van mening gewees het dat sy fisieke swakheid juis illustreer dat hy nie ’n kragtige apostel is nie.
Die doel van die brief is duidelik: Paulus wil die vertroue in hom herstel en die verdeeldheid heelmaak. In die proses gebruik hy verskillende beelde om die gemeente se eenheid* te benadruk. Die metafoor van ’n huishouding is een daarvan. Hy het die gesag van God ontvang om hierdie huishouding op te bou (12:19), nie af te breek nie. Hy plaas hierdie tema vóór en ná die verdediging van sy apostelskap (10:8; 13:10).
Binne hierdie huishouding is Paulus ’n dienaar* (3:3, 6-9; 4:1; 5:18; 6:3-4; 11:23). Sy gesag word egter ook bevestig deurdat hulle soos sy kinders in hierdie huishouding is (6:13; 12:14). Daarom moes hulle aan hom gehoorsaam wees (2:9; 10:6).
R250,00
Christelike Kernensiklopedie
Wenner van die Ds Pieter van Drimmelen-medalje! Hierdie unieke ensiklopedie spog met grootse statistieke. Dit het 3250 inskrywings, 1248 volkleur bladsye en 163 medewerkers (waaronder teoloë, historici, literatore en joernaliste). Die medalje is toegeken aan die hoofredakteur, dr. F.M. Gaum
Vriende van Kerkbode
Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus
Vriende van Kerkbode
Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus
Vakatures


FEBA Radio SA: Digitale bemarker
12 Junie 2026

NG Kerk Sinode Hoëveld: Algemene kantoorbestuurder
11 Junie 2026

Vakatures

NG Kerksondermure: Jeugwerker – Tienerbediening
16 Junie 2026

FEBA Radio SA: Digitale bemarker
12 Junie 2026

NG Kerk Sinode Hoëveld: Algemene kantoorbestuurder
11 Junie 2026
