
1 EN 2 KRONIEKE (BYBELBOEKE)
Skrywer: LC Jonker

1 EN 2 KRONIEKE (BYBELBOEKE). Vir baie lank was die Kroniekboeke ’n afgeskeepte deel van die Ou Testament*. Die rede daarvoor is waarskynlik omdat dit oënskynlik ’n herhaling is van die geskiedenis van Ou Israel* wat reeds in die Samuel*- en Koningsboeke* aan die orde gekom het. Alreeds in die laaste twee eeue vC het hierdie persepsie bestaan. Die Septuaginta*-vertalers (wat die Ou Testament* in Grieks* vertaal het) het die boeke Paraleipomenon (“die orige dinge”) genoem. Daarmee is gesuggereer dat Kronieke bloot ’n paar byvoegsels tot die ander geskiedenisboeke bevat.
In die afgelope twee dekades het Bybelwetenskaplikes al meer ontdek dat hierdie boeke ’n eie aksent wou plaas op die beskrywing van die geskiedenis. ’n Vergelyking van die Kroniekboeke met die Deuteronomistiese geskiedwerk* (veral Samuel* en Konings*) lewer interessante variasies op. Hierdie variasies het heel waarskynlik daarmee te maak dat die konteks waarin Kronieke tot stand kom, ’n andersoortige nadenke oor die verlede, en veral oor God se rol in die verlede, hede en toekoms, genoodsaak het. Daarom word die ouer geskiedenistradisies nie klakkeloos nagevolg nie, maar word die geskiedenis herskryf met die oog daarop om die hede beter te verstaan, en om die toekoms met meer moed tegemoet te gaan.
Kronieke, wat aanvanklik as een boek gefunksioneer het, is een van die jongste boeke in die Ou Testament. In die Hebreeuse* Bybel neem dit daarom ook die laaste plek in. Die Septuaginta het dit egter verskuif tot direk ná die Koningsboeke – ’n weerspieëling van die feit dat hierdie vertalers dit as blote toevoegsels tot die vroeëre geskiedenis beskou het. Die Septuaginta-volgorde word steeds in die meeste vertalings nagevolg.
Oorsprong en agtergrond: Kronieke kom tot stand ná die ballingskap* – heel waarskynlik teen die einde van die Persiese periode wat tot ongeveer 332 vC gestrek het. Die boek sluit in 2 Kron 36:22-23 af met ’n beskrywing van die proklamasie van Kores* waardeur die Joodse* ballinge toegelaat is om na hulle land terug te keer. (Hierdie gegewens ontbreek aan die einde van die Koningsboeke, omdat dié boeke waarskynlik tot stand gekom het vóór die einde van die ballingskap.) Daaruit kan afgelei word dat die periode van herstel en heropbou ná die ballingskap die agtergrond vorm waarteen die boek gelees moet word.
Kores van Persië het in 539 vC die magtige Babilon* verower en beheer oorgeneem oor die destydse Ou Nabye Ooste. In 538 vC het hy sy proklamasie uitgevaardig en kon die Joodse ballinge begin terugkeer. Die Persiese oorheersing sou vir ongeveer 200 jaar voortduur totdat die Grieke met Aleksander* die Grote se veldtogte in 332 vC die beheer sou oorneem.
Die Persiese beleid oor hulle verowerde gebiede was baie anders as dié van hulle voorgangers, die Babiloniërs* en Assiriërs*. Die Persiese heersers het groter verdraagsaamheid gehad vir die verskillende etniese groeperings en godsdienstige oortuigings wat in die magtige ryk verteenwoordig was. Daarom dat die Joodse* ballinge na hulle land kon terugkeer, en selfs met Persiese finansiële ondersteuning kon begin om die tempel* in Jerusalem* te herbou.
Die Persiese Ryk is in provinsies (“satrapieë”) georganiseer. Die Persiese provinsie Jehud is geproklameer in die omgewing van Jerusalem – ongeveer in dieselfde gebied waar die koninkryk van Juda* voorheen bestaan het. Hierdie provinsie vorm die geografiese agtergrond vir die Kroniekboeke.
In die tydperk van heropbou ná die ballingskap het die konflik tussen die verskillende dele van die Joodse priesterskap verskerp, en het die Sadokiete weer hulle magsmonopolie teenoor die Leviete* probeer vestig. Die Kroniekboeke se ontstaan is ook deeglik deur hierdie kultiese omstandighede beïnvloed.
Inhoud: Die Kroniekboeke val in ’n paar duidelike dele uiteen:
- 1 Kron 1–10: Hierdie gedeelte bestaan hoofsaaklik uit geslagsregisters waarmee die hele voorgeskiedenis van die Jode opgesom word. Interessant genoeg begin die geslagslyste met Adam*. Dit is dus duidelik dat die geskiedenis van die Jode ingebed word in die geskiedenis van die mensdom. Daarom meen uitleggers dat Kronieke nie net ’n herskrywing van die geskiedenisboeke Samuel en Konings is nie, maar dat dit eintlik die hele Pentateug* met die geslagsregisters in hoofstuk 1–10 wil opsom. Die posisie van die Levitiese families word baie duidelik deur die geslagslyste beklemtoon. Daar word duidelik gemaak dat hulle kragtens hulle familie-oorsprong ’n legitieme deel van die priesterskap is. Hoofstuk 10 handel oor Saul*, en vorm ’n oorgang na die geskiedenis van Dawid* wat hierna volg.
- 1 Kron 11–29: Hierdie gedeelte word aan die regering van koning Dawid gewy. Dit is duidelik dat Dawid as ’n ideaalkoning geag word. Nie net in die uitgebreidheid van die beskrywing is dit na te speur nie, maar ook in die inhoud. Wanneer Kronieke se beeld van Dawid met die beeld in Samuel en Konings vergelyk word, word dit duidelik dat die Kroniekskrywers doelbewus ’n positiewe beeld van hom wou voorhou deur die donker dele van sy geskiedenis (bv die episode met Batseba*) weg te laat.
- 2 Kron 1–9: Die volgende gedeelte handel volledig oor koning Salomo*. Dit is eweneens duidelik dat Salomo as ’n belangrike koning geag is. Die vertelling oor die tempelbou tydens sy regering funksioneer baie prominent.
- 2 Kron 10–36: Die geskiedenis van die verdeelde koninkryke Juda*4 en Israel*4 word in hierdie gedeelte vertel. ’n Betekenisvolle verskil met die beskrywing in die Koningsboeke kan egter opgemerk word. Die geskiedenis van hierdie tydperk word uit ’n suidelike perspektief vertel, dit wil sê: die koninkryk van Juda se koningshuise vorm die basis van die vertelling. Daar word wel na die konings van die noordelike ryk, Israel, verwys, maar altyd binne die konteks van die vertellings oor suidelike konings. Hoewel die beskrywing van die onderskeie Judese konings meestal ooreenstem met die beskrywings wat in die Koningsboeke gevind kan word, is daar tog ook merkbare verskille. Veral die beskrywings van Hiskia* en Josia* bevat heelwat veranderings. Dit is duidelik dat hierdie twee konings belangrik geag is. Hierdie gedeelte sluit af – anders as die Koningsboeke – met ’n vermelding van die proklamasie van Kores.
- Dit is duidelik dat die Kroniekboeke ’n universalistiese siening van God en hulle geskiedenis wil voorhou. Die boek begin met Adam, en sluit af met ’n proklamasie van die Persiese koning, Kores. In hierdie proklamasie word onder andere die volgende vermeld: “Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here, die God van die hemel, het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou” (2 Kron 36:23). Hierdeur word duidelik gemaak dat die Here God nie slegs jurisdiksie het oor Juda/Israel en hulle konings nie, maar ook oor die Persiese koning. Selfs die Persiese koning tree op in gehoorsaamheid aan hierdie God. Die redding wat uit die Dawidshuis verwag is, kom nou van ’n Persiese koning af wat God erken. (Die tweede gedeelte van die boek Jesaja* noem selfs vir Kores die Messias* – die gesalfde van die Here!) Kronieke maak dus duidelik dat die Jode ’n universele God dien.
- Die identiteit van God se volk ondergaan in hierdie tyd ’n drastiese aanpassing. Die Kroniekboeke kan gesien word as ’n poging om die geskiedenis te beskryf vanuit die hede van die Persiese tydperk, met die oog daarop om ’n nuwe identiteit onder God se volk te help skep. Voor die ballingskap is hulle identiteit as God se volk ten nouste gekoppel aan die bestaan van die tempel in Jerusalem en die Dawidiese koningshuis. Nou, in die Persiese tydperk, word hulle identiteit deur die Kroniekboeke omvorm tot ’n gemeenskap wat gebou is op die tora*, die wet van die Here*. As tora-gemeenskap vind hulle bestaansreg binne die Persiese koninkryk.
- Die Kroniekboeke bied ook ’n nuwe perspektief op die eenheid van God se volk. Voor die ballingskap was die volk in twee geskeur met die koninkryke van Juda en Israel. Hoewel die geskiedenis in Kronieke uit ’n suidelike perspektief beskryf word (en die posisie van die tempel in Jerusalem daardeur beklemtoon word), word die noordelike bevolking nie uitgesluit as van God se volk sprake is nie. Die begrip “die hele Israel” kom telkens voor. Daarmee word uitgedruk dat die ware, hele Israel weer ’n herstel beteken van die verskeurde Godsvolk.
- Kronieke verteenwoordig ’n versoenende houding oor die priesterskap. Hoewel die Kroniekskrywers geen geleentheid verby laat gaan het om die belangrikheid van die Leviete te beklemtoon nie, word dit nooit gedoen ten koste van die ander deel van die priesterskap nie. Kronieke probeer daarmee om versoening te bewerkstellig binne die godsdienstige leierskap te midde van die veranderde sosio-politieke omstandighede.
R250,00
Christelike Kernensiklopedie
Wenner van die Ds Pieter van Drimmelen-medalje! Hierdie unieke ensiklopedie spog met grootse statistieke. Dit het 3250 inskrywings, 1248 volkleur bladsye en 163 medewerkers (waaronder teoloë, historici, literatore en joernaliste). Die medalje is toegeken aan die hoofredakteur, dr. F.M. Gaum
No data was found
Vakatures


NG Gemeente Hennenman: Jeugwerker
3 Desember 2025

NG Gemeente Koës, Namibië: Vastetermyn kontrakpos vir twee jaar
3 Desember 2025

NG Kerk Daniëlskuil: Voltydse leraar
2 Desember 2025
Vakatures


NG Gemeente Hennenman: Jeugwerker
3 Desember 2025

NG Gemeente Koës, Namibië: Vastetermyn kontrakpos vir twee jaar
3 Desember 2025

NG Kerk Daniëlskuil: Voltydse leraar
2 Desember 2025