7 Junie | Ds Alex skryf oor die hoekom van die plan om 175 km te hardloop
Verander 'n lawwe draffie na 'n lewensveranderende pelgrimstog...
Volgende Vrydag het ek die geleentheid om 'n hele paar van my belangrikste belangstellings en fokusse in een mandjie te pak.
Ek is iemand wat in God glo, my geloof en die Bybel is vir my belangrik, dit gee vir my ‘n rede om te bestaan. Ek is baie lief vir my vrou en kinders, hulle is ‘n bron van vreugde. Ek het goeie vriende wat my aanvaar met al my vreemdhede (en ek aanvaar hulle s’n). Ek is mal oor hardloop, let op dat ek nie gesê het dat ek mal is en dus hardloop nie. En dan hou ek vreeslik baie daarvan om te reis. Om nuwe of ou plekke opnuut te sien en te beleef.
Ek het die geleentheid om al hierdie elemente saam te gooi en iets te beleef wanneer ek en my vriend Le Roux (Schoeman) van ons kerkgebou Op-die-Berg, na Sutherland se kerkgebou toe hardloop.
Ons moet iets doen ...
Die rede vir hierdie wedloop van 175km oor 4 dae is omdat Le Roux een dag vir my gesê het: “Kerkbode (waar hy tans werk) is hierdie jaar 175 jaar oud. Ons moet iets doen of
iewers heen hardloop.” Ek begin toe op Google Maps rondspeel en sien toe dat die Karoo-pad tussen Op-die-Berg en Sutherland presies 175 km is. Ek glo nie in toeval nie… Hierdie pad moet dus, vanjaar nog, gehardloop word.
Dit is wat ons gaan doen van Vrydag 14 tot Maandag 17 Junie. ‘n Ander vriend van ons, John, gaan by ons aansluit vir die laaste skof teen die Verlatekloofpas op. Hy het ongelukkig eers ‘n afspraak met die stukkie pad tussen Durban en Pietermaritzburg.
My lieflike vrou en kinders is die ondersteuningsgroep vir hierdie uitstappie en gaan met ‘n voertuig elke nou en dan vir ons die nodige verversings en aanmoediging bring. Ek kan nie dink wat my met meer vreugde sou vul oor ‘n Junie-langnaweek nie.
Jy kan wel vra waar pas geloof in hierdie langpad in en dan sal ek dit antwoord deur te sê: Wanneer jy met geloofsoë kyk sien jy vir God raak in mense en die wêreld rondom jou. Deur met ander oë te sien word hierdie nie net 'n lawwe draffie deur 'n stukkie van die Karoo nie, maar dit word ‘n pelgrimstog wat jou lewe kan verander.
Haastige pelgrimstog?
Mark Nepo het gesê: “To journey without being changed is to be a nomad. To change without journeying is to be a chameleon. To journey and be transformed by the journey is to be a pilgrim.”
Ons gaan pelgrims wees in die volgende week, want ons weet nie wat vir ons voorlê nie. Ek weet wel dat ons uitgedaag gaan word deur die weerselemente en die afstand. Ek weet dat ons versorg gaan word deur mense wat ons liefhet en ander mense wat ons met gasvryheid gaan ontvang. En ek weet dat ons vir God in al hierdie dinge gaan beleef, want Hy is teenwoordig en openbaar Homself aan ons in die gewone en vreemde van elke dag.
Voor 'n groot hoeveelheid van ons op wintervakansie-togte vertrek, wil ek jou nooi om met ander oë na jou reis te kyk. Nooi God om jou te help om opnuut te sien en te beleef dat enige reis jou kan verander, mits jy ontvanklik is. Dit geld vir ‘n reis van 175km of een van jou huis na die winkel op die hoek… - AlexC
DJI_0070
Donasieveldtog: Groot dank aan ons ondersteuners
podcast-kerkbode
PODSENDING | Kerkbode op 175: ’n Unieke blik op als van Runderpes, maanlanding, eerste demokratiese verkiesing en teologiese meningsvorming
DSC09964
Wat ons met dié dokumentêre video beoog
DSC09847
13 Julie | Ds Alex Clark skryf oor die roete (175 km): Vêr, stadig ...en wonderlik!
Scroll to Top