Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

FEESTE IN DIE NUWE TESTAMENT*.
Skrywer: GF Wessels
Screenshot 2025-07-30 at 12.26.20
FEESTE IN DIE NUWE TESTAMENT*. Die feeste in die Nuwe Testament is hoofsaaklik Joodse* feeste wat in die Ou Testament* en ook in hedendaagse Judaïs­me* ’n belangrike rol speel. Vir die Christelike* tradisie is die Pasga* (pesach) belangrik. Deur die eet van die Pasgamaal* (Mark 14:1) word die bevryding uit Egipte* herdenk. Gedurende hierdie feesmaal stel Jesus* die Nagmaal in: soos God Israel* deur die uittog uit Egipte van slawerny* verlos, verlos Hy sy volgelinge deur Jesus se dood* en opstanding* van son­de* en dood*. Die Pasga is, saam met sja­vuot en sukkot, een van drie pelgrimfeeste waarvoor Jode*, as dit moontlik was, na Jerusalem* gereis het. Die Johannes*-Evan­gelie verwys vier keer (4:45; 5:1; 6:4; 12:1) na Jesus wat die Pasga in Jerusalem gevier het. Die Christelike Paasfees val ongeveer op dieselfde tyd as die Joodse Pasga. Vyftig dae ná Pasga volg Pinkster* (He­breeus*: sjavuot), tradisioneel ’n dankseggingsfees vir die oes (Eks 23:16; 34:22). Dit word in Grieks* pentekosté (= 50) genoem, want Pinkster volg 50 dae (7 weke plus een dag) ná Pasga. Dis betekenisvol dat die Heilige Gees* juis op dié dag uitgestort is. Die Gees samel die “vrugte” van die evangelie*verkondiging in en bring geestelike vrugte in gelowiges* voort. Die Christelike Pinksterfees* val ongeveer op dieselfde tyd as die Joodse sjavuot. Die jaarlikse Joodse feesseisoen begin met die Nuwejaarsfees, rosj hasjana, op 7 Tisjri (September/Oktober). Rosj hasjana word nie in die Nuwe Testament vermeld nie, maar die blaas van die rams­horing op die fees, om Israel tot inkeer te roep, is ’n motief wat telkens aangetref word (Matt 24:29-31; 1 Tess 4:16). Tien dae ná nuwe jaar is die Groot Versoendag*, jôm kippoer, die dag waarop die hoëpriester* in die Allerheiligste* ingegaan het om offers as versoening van Israel se sondes* te bring. Heb 8–10 verwys na die Versoendag in die argument dat Jesus* se soendood die finale offer* was wat alle tempeloffers vervang. Op die Versoendag kon net die hoëpriester in die Allerheiligste ingaan; deur Jesus se offer het gelowiges “vrye toegang tot die heiligdom” (Heb 10:19) van God se teen­woor­digheid. Vyf dae ná die versoendag volg die Loofhuttefees*, sukkot. Dit herdenk God se sorg oor Israel gedurende die tog deur die woestyn. Sukkot is die meervoud van sukka, hut/skuiling (Lev 23:33-36). Volgens Joh 7:37 het Jesus op “die laaste dag, die groot dag van die Huttefees” uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” Sy woorde moet verstaan word teen die agtergrond van die gebruik dat ’n priester* seremonieel water uitgooi op hosjana rabba – die sewende feesdag en be­kend as die groot dag van die fees. Die eerste geslag Christene* het die Joodse feeste gevier, omdat die Messias* gekom het en weer kom. Dit blyk ook uit ander verwysings: Paulus* verwys na die verwydering van suurdeeg en die geslagte Paaslam (1 Kor 5:6) – verwysings wat net sin maak indien Korintiese gemeentes, met Joodse en nie-Joodse gelowiges, die Pasga minstens geken en waarskynlik gevier het. In 1 Kor 16:8 laat Paulus die Korintiërs* weet dat hy “tot Pinkster” in Efese sal bly, waaronder hy die viering van die Joodse sjavuot verstaan. Vir verdere lees: J Limburg 1987. Judaism: An introduction for Christians. Minneapo­lis: Augsburg. M & Z Glaser 1987. The Fall Feasts of Israel. Chicago: Moody.  

R250,00

Christelike Kernensiklopedie

Wenner van die Ds Pieter van Drimmelen-medalje! Hierdie unieke ensiklopedie spog met grootse statistieke. Dit het 3250 inskrywings, 1248 volkleur bladsye en 163 medewerkers (waaronder teoloë, historici, literatore en joernaliste). Die medalje is toegeken aan die hoofredakteur, dr. F.M. Gaum

Vriende van Kerkbode

Raak ’n vriend van Kerkbode

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus
No data was found
Scroll to Top