Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

1 EN 2 TESSALONISENSE/THESSALONISENSE (BYBELBOEKE)
Skrywer: J Punt
Screenshot 2025-07-30 at 12.26.20
1 EN 2 TESSALONISENSE/THESSALONISENSE (BYBELBOEKE). Tessalonika was die hoofstad van die Romeinse provinsie Masedonië* (Kyk by: Romeinse Ryk), en Paulus* het daar aangekom uit Filippi* met die Via Egnatia (Hand 17:1-9). Paulus se prediking* van Jesus* as gesalfde (Kyk by: Salf) Here*, het positiewe reaksie gehad en gelei tot die bekering* van veral talle heidene*, tot ont­steltenis van die Jode*. Die skerp woorde teen Jode (1 Tess 2:13-16) moet verstaan word binne die konteks van vurige teenstand teen Paulus se werk in hierdie gebied (vgl Hand 17:5) en nie as tydlose verdoeming van Jode nie. Immers, sommige Jode word van spesifieke oortredings beskuldig wat nie teenoor Rom 11:25-32 staan nie. In teenstelling met Hand 17:4 het die gemeente* wat in Tessalonika ontstaan het, hoofsaaklik uit heidense bekeerlinge bestaan (1 Tess 2:14). 1 Tessalonisense is waarskynlik Paulus se heel vroegste brief* – en dus een van die vroegste Christelike geskrifte – en kan teen 50/51 nC gedateer word. Die opsomming in 1 Tess 1:9-10 is waarskynlik die oudste Christelike verkondiging aan heidene* wat vandag beskikbaar is. Alhoewel Silvanus (Kyk by: Silas) en Timoteus* saam met Paulus as outeurs aangedui word (1 Tess 1:1), is Paulus duidelik die skrywer en hooffiguur in 1 Tessa­lonisense met verwysings na sy aanvanklike prediking* en hande-arbeid (2:1-11), sy behoefte om die gelowiges* in Tessalonika te besoek (2:18), en sy verblyf in Atene* (3:1). 1 Tessalonisense kommunikeer as ’n regte brief* en nie ’n tegniese rede nie, en bestaan naas ’n kort inleidende (1:1-5) en slotgedeelte (5:25-28) uit twee hoof­ge­deeltes wat die brief min of meer in twee verdeel. In 1:6–3:13 bespreek Paulus sy verhouding met die gemeente* en verdedig sy integriteit, terwyl hy in 4:1–5:24 die gelo­wiges aanmoedig om volgens die wil* van God te lewe in die wete dat Christus* se wederkoms* enige oomblik kan gebeur. Die brief roep heidene op tot geloof* in die lewende God eerder as om gode se afbeel­dings te dien, vermaan hulle om op gepaste wyse te lewe, en vertoon elemente wat ti­pies is van bemoedigende en teregwysende briewe van daardie tyd. Dit kan na aanlei­ding van die antieke retoriek as delibe­ratiewe of besluitnemingsliteratuur geklassifiseer word. Paulus se gedagtegang moet liefs aan die hand van Tessalonika se konteks verstaan word. Meer spesifiek: Die invloed van filosowe* belig Paulus se outobiografiese beskrywing (2:1-12) en die paranese (4:1-12); Dionisius* en Kabirus se kultusse plaas Paulus se aanwysings oor seksuele etiek (4:1-9) in konteks, en die openbare kultusse help om die eiesoortigheid van die eskatologiese* aanduidings (4:13-18) te verstaan. Alhoewel daar drie belangrike Christologiese* gedeeltes voor­kom (in 1:10, 4:14 en 5:9-10), ontbreek Paulus se teologiese en linguistiese materiaal wat in die later briewe gevind word, soos die gebruik van die Ou Testament* of verwysings na Ou-Testamentiese persone, verwysings na die tora*,  regverdiging* deur die geloof*, en die doop* en nag­maal*. Die gemeente* het skynbaar nog ’n heel informele leierskap gehad (1 Tess 5:12). 2 Tessalonisense is volgens sommige navorsers deur ’n onbekende gelowige en ’n ondersteuner uit die Paulus- groep geskryf. Waarskynlik gebruik hy 1 Tessalo­nisense as grondpatroon vir sy brief, beide wat struktuur en inhoud betref, om met ’n spesifieke situasie van vervolging in Mase­donië* (2 Tess 1:4, 6-7) te handel. Die brief se hoofgedeelte bestaan uit drie afdelings wat onderskeidelik ’n danksegging vir standvastigheid van die gelowiges is (1:1-10), die opgewondenheid oor die openbaring van die nabye wederkoms bespreek (2:1– 3:5), en ’n oproep tot die lesers rig om nie ledig en sonder dissipline te lewe nie, maar eerder Paulus se voorbeeld tydens sy verblyf daar na te volg (3:6-16). Pogings om Paulus se outeurskap van 2 Tessalonisense te verdedig, berus meestal op die aanname van sosio-historiese veranderings in Tessa­lonika, of selfs dat verskillende groepe aan­gespreek word in die twee briewe. Die outeurskap van Paulus self kan egter moeilik ge­handhaaf word in die lig van linguïsties-literêre gegewens (woordeskat, styl, gebrek aan persoonlike warmte) en teologiese argumente (andersoortige eskatologie, Christologie, teologie, en die klem op die navolging van tradisie*). Die verwysing na Paulus se onder­tekening (2 Tess 3:17) as teken van egtheid strook nie met ander gevalle waar Paulus doelbewus sy merk laat nie (1 Kor 16:21; Gal 6:11; Filem 19). Die outeur van 2 Tessalonisense herinterpreteer die Paulus-tradisie in terme van die apoka­liptiese* eskatologie* ter ondersteuning van die getrouheid van Christene wat vervolg word.

R250,00

Christelike Kernensiklopedie

Wenner van die Ds Pieter van Drimmelen-medalje! Hierdie unieke ensiklopedie spog met grootse statistieke. Dit het 3250 inskrywings, 1248 volkleur bladsye en 163 medewerkers (waaronder teoloë, historici, literatore en joernaliste). Die medalje is toegeken aan die hoofredakteur, dr. F.M. Gaum

Vriende van Kerkbode

Raak ’n vriend van Kerkbode

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus
No data was found
Scroll to Top