
OFFERS EN OFFERANDES
Skrywer: EE Meyer

OFFERS EN OFFERANDES speel ’n kardinale rol in die Bybel*, in beide Ou* en Nuwe* Testament. Hoewel die meeste Christene vandag dié manier van aanbidding as uiters vreemd beleef, het hierdie rituele ’n groot invloed gehad op die inhoud van ons geloof*. In Hebreeus* bestaan daar verskeie woorde (ten minste sewe) wat met “offer” of “slagoffer” of iets soortgelyks vertaal kan word, hoewel dit meestal moeilik is om die ideale woord in Afrikaans* te kry. In die meeste gevalle het dit beteken dat iets op ’n altaar* gebraai of heeltemal verbrand is. Die vernaamste teks wat aan ons voorskrifte oor hierdie rituele gee, is Lev 1–7. Daar is ander tekste ook, veral in sg priesterlike literatuur soos in Eksodus* en Numeri*.
- Die brandoffer (letterlik in Hebreeus: “wat opgaan”) is volledig op die altaar verbrand, soms saam met ’n graanoffer en drankoffer (sien Num 15:1-10). ’n Brandoffer kan ’n bees, skape, bokke of ’n duif wees (sien Lev 1).
- In Lev 2 word die graanoffer beskryf, maar in die res van die Bybel word hierdie Hebreeuse woord soms anders gebruik en dit beteken basies “geskenk”. Dit het gewoonlik bestaan uit meel gemeng met olyfolie en wierook (Kyk by: Reukoffer) en soms sout, en is meestal deur die priesters*1 geëet nadat ’n deel verbrand is.
- Dit is onseker of vredesoffer ’n goeie vertaling is vir die volgende offer, maar die Hebreeus beteken basies dit. Die 1983-Afrikaanse Vertaling is geneig om dit met maaltydoffer te vertaal. In Lev 7:11-18 word drie soorte onderskei, naamlik ’n dankoffer, ’n gelofte-offer en’n vrywillige offer. Hoewel die bloed van die dier meestal op die altaar gesprinkel word, kan die persoon wat die offer bring, die vleis eet. Soms kry die priesters ook ’n deel.
- Die reinigingsoffer beteken eintlik “sonde” in Hebreeus (en word as sondeoffer deur die 1983-Vertaling vertaal), maar dit het meestal te doen met ’n oortreding wat onwetend begaan is (sien Lev 4) of probleme met rein en onrein* (sien Lev 5:1-10). Dit word ook gebruik in die proses om weer rein verklaar te word (bv Lev 12, 14 en 15). Daar is verskillende offers vir verskillende persone soos priesters*, leiers, ’n indiwidu, die gemeenskap (Lev 5:1-13).
- Die skuldoffer is soms moeilik om te verstaan omdat dit vir soortgelyke oortredings gebruik word as die reinigingsoffer*. So word dit bv gebruik wanneer iemand ’n heilige voorwerp verkeerd gebruik het (Lev 5:14-16), of onbewustelik gesondig het (Lev 5:17-19), of vir die reiniging van ’n velsiektelyer (Lev 14:12-13).
- Slagoffer kom van die Hebreeuse woord “om te slag” af. Die Hebreeuse woord vir “altaar” word ook van hierdie wortel afgelei. Die soort diere wat meestal as slagoffers gebruik is, was bulle, bokramme of skaapramme. In alle gevalle moes hulle “volmaak” gewees het, dit beteken: sonder gebrek en nie gekastreer nie (behalwe by die “vrywillige gawes”, kyk by Lev 22:23). By sekere offers kon arm mense tortelduiwe gebruik en vir die “vredesoffer” kon ’n manlike of vroulike dier gebruik word.
R250,00
Christelike Kernensiklopedie
Wenner van die Ds Pieter van Drimmelen-medalje! Hierdie unieke ensiklopedie spog met grootse statistieke. Dit het 3250 inskrywings, 1248 volkleur bladsye en 163 medewerkers (waaronder teoloë, historici, literatore en joernaliste). Die medalje is toegeken aan die hoofredakteur, dr. F.M. Gaum
No data was found
Vakatures


NG Gemeente Philippolis: Leraar Vastetermynpos (twee jaar)
22 Oktober 2026

NG Toringkerk: Jeugkoördineerder/Diensleraar
22 Oktober 2026

NG Kerk Meyertonpark: Voltydse leraar
21 Oktober 2026
Vakatures


NG Gemeente Philippolis: Leraar Vastetermynpos (twee jaar)
22 Oktober 2026

NG Toringkerk: Jeugkoördineerder/Diensleraar
22 Oktober 2026

NG Kerk Meyertonpark: Voltydse leraar
21 Oktober 2026