Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NG Gemeente Philippolis: Leraar Vastetermynpos (twee jaar)

Dié advertensie verteenwoordig die standpunte van die adverteerder en nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Vakature: Leraar Vastetermynpos (twee jaar)

Wie is ons?

NG Gemeente Philippolis is geleë in Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat – ’n karaktervolle Suid-Vrystaatse dorp waar ’n ryk geskiedenis en die lewe van vandag op ’n besondere manier bymekaarkom. Ons bediening strek oor die dorp en omliggende plase.

Ons is ’n klein plattelandse gemeente met diep wortels in hierdie gemeenskap. Ons koester dit wat oor baie jare hier opgebou is, maar leef ook met die uitdagings en nuwe moontlikhede van gemeentewees in ’n veranderende konteks.

Die bediening

In biddende afhanklikheid wag die kerkraad aansoeke in van ’n gelegitimeerde predikant van die NG Kerk wat die ampspligte volgens Artikel 9 van die Kerkorde sal verrig. Emeriti wat steeds met energie en entoesiasme in die bediening wil staan, is ook welkom om aansoek te doen.

’n Besonderse deel van die bediening is Bergmanshoogte, ’n wyk van NG Gemeente Philippolis wat met ’n eie wykskerkraad en eie eredienste funksioneer. Die leraar is ook verantwoordelik vir gereelde Woord- en sakramentbediening en begeleiding van die wykskerkraad.

Ons soek ’n leraar wat lief is vir mense en tuis kan wees binne ’n plattelandse gemeenskap; wat waarde heg aan Woordverkondiging, pastorale versorging en persoonlike kontak met dorp- en plaaslidmate. Wat lidmate kan toerus en aanmoedig om hulle gawes uit te leef. Ons soek ook iemand wat sensitief oor historiese, kulturele en gemeenskapsgrense heen kan bedien en met kreatiwiteit en hoop saam met die gemeente kan dink oor getroue en volhoubare bediening.

Dienstermyn en vergoeding

Die pos is ’n vastetermynpos vir twee jaar, met die moontlikheid van verlenging vir ’n derde jaar, volgens die toepaslike kerkordelike bepalings.

Die vergoedingspakket is op aanvraag beskikbaar en sluit onder andere ’n ruim pastorie in. Die samestelling van die pakket en diensvoorwaardes sal met die suksesvolle kandidaat onderhandel word.

Aansoeke

Aansoekers word versoek om die volgende in te dien:

  • ’n Bondige CV van hoogstens drie bladsye.
  • ’n Motivering van hoogstens 500 woorde waarin die kandidaat iets vertel van sy/haar roeping, bedieningservaring en belangstelling in die bediening binne ’n kleiner plattelandse gemeente.
  • Kontakbesonderhede van drie referente.
  • ’n Skakeling na ’n onlangse preek, indien beskikbaar.

Stuur aansoeke na: ngphil@vodamail.co.za

Sluitingsdatum: 20 NOVEMBER 2026.

Diensaanvaarding: 1 Februarie 2027(onderhandelbaar).

Navrae: Ds LJ Scheepers – 072 115 0057. Oudl N Janse van Rensburg – 083 229 2976.

Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n beroep uit die ontvangde aansoeke uit te bring nie.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top