Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

TUTU, DESMOND MPILO
Skrywer: PGJ Meiring
Tutu1.gif
TUTU, DESMOND MPILO (1931–2021) is in Klerksdorp gebore. Hy is as onderwyser opgelei en het ’n paar jaar skoolgehou voordat hy die roeping om priester*2 in die Anglikaanse Kerk* te word, ontvang het. Ná sy teologiese opleiding in Johannesburg en Londen, het hy akademiese poste aan die Federal Theological Seminary (Fort Hare) en die universiteite van Botswana, Lesotho en Swaziland beklee, voordat hy as mededirekteur van die teologiese opleidingsfonds van die Wêreldraad van Kerke* na Enge­land verhuis het. In 1975 was Tutu terug in Suider-Afrika, eers as diaken*2 van die katedraal in Johannesburg en toe as biskop* van Lesotho. In 1978 is hy as algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK)* aangewys, en het die werk wat hy as kerkleier en as stryder teen   apartheid* verrig het, onder die aandag van die wêreld gekom. In 1984 is die Nobel-vredesprys aan hom toegeken. In 1985 is hy as biskop van Johannesburg verkies. ’n Jaar later (1986) het die mantel van aartsbiskop van Kaapstad op hom geval. Sy aanvaarding by die Rustenburg-kerkeberaad* van prof Willie Jonker* se belydenis oor apartheid het ’n wye rimpeleffek gehad. In 1995 het pres Mandela* hom aangestel as voorsitter van die Waarheids-en-Versoeningskommissie*. Tutu was die prediker by die begrafnis van dr Beyers Naudé* en het ook opgetree by die begrafnis van Jonker. Vyftig eredoktorsgrade is aan hom toegeken (onder andere van die universiteite van Harvard, Oxford, Cam­bridge, Columbia en Pretoria). Hy is ’n ge­wilde skrywer wie se boeke wêreldwyd gelees word. Onder dié boeke tel Crying in the Wilderness (1982), Hope and Suffering (1983), The Rainbow People of God (1994), An African Prayer Book (1995) en No Future without Forgiveness (1999). In 2006 het hy in ’n versoenende gebaar ingewillig dat sy naam aan dié van Andrew Murray*2 verbind word in die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir Christelike en teologiese publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, en in 2014 dat dieselfde gebeur met die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk in ’n amptelike taal van die land. (Kyk by: Andrew Murrayprys.) Tutu word onthou vir sy innige geloofs- en gebedslewe, sy warm menslikheid én sy vrolike humorsin. (Kyk ook: Teologie: verskil tussen “Westerse” teologie, Afrika-teologie en Swart-teologie.)
VRAAGGESPREK MET DESMOND TUTU Frits Gaum het in November 2001 vir Kerkbode ‘n onderhoud met aartsbiskop-emeritus Desmond Tutu gehad. Ek het aartsbiskop-emeritus Desmond Tutu die week van sy sewentigste verjaarsdag in Kaapstad besoek. Vrolik en hartlik, soos altyd. En dan skielik ernstig en ergerlik oor sommige dinge. “Ons het mekaar laas gesien toe ek en lede van die Wes-Kaapse Moderatuur van die NG Kerk ‘n memorandum aan u as voorsitter van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) kom oorhandig het …” “Ja,ek was bly dat die NG Kerk van hulle laat hoor het. Daar was ook voorleggings deur die Ring van Stellenbosch en later deur ds Freek Swanepoel … hy was toe mos moderator van julle Algemene Sinode.”   Die NG Kerk het ‘n hele klomp probleme met die WVK gehad, maar daar was mense wat besef het ons kan nie stilbly en niks sê nie. Op die ou end … ja, ek is bly dat die NG Kerk op verskillende maniere van hulle laat hoor het. Anders sou dit baie sleg gewees het. Maar voordat ons dáárby kom: baie geluk met u eerste sewentig jaar! Dankie! My ouma het my destyds die naam “Mpilo” gegee wat “lewe” of “goeie gesondheid” beteken. Maar as kind het dit nie gelyk of ek ‘n danige lang lewe sou hê nie. Ek het tering gehad en twee jaar in ‘n hospitaal deurgebring. Maar my ouma se wens het waar geword: ek het nie net gesond geword nie, maar jare der jare is by my lewe gevoeg.   Waaroor is u die dankbaarste as u oor die sewe dekades terugkyk? Dat ons vry geword het. Dat ons ‘n “normale” land geword het – met baie probleme, ja, maar ons is nie meer ‘n abnormale samelewing met eersteklas- en tweedeklas- en derdeklas-mense nie. Waaroor ek in my lewe die blyste was? Dalk was dit dié dag toe ek die eerste keer pa geword het. Dit was vir my ‘n absolute wonderwerk. Ek het so ‘n bietjie soos God gevoel – en dit is mos so, God laat ‘n mens toe om medeskepper te wees, om lewe voort te bring …   En waaroor is u die jammerste? Dat dit vir baie mense in ons land so lank gevat het om te verstaan wat dit beteken om méns te wees. Te lank het miljoene mense in ons land hulleself nie regtig beskou as volledige mense nie, hulle het minderwaardig gevoel … maar, nou ja, God het sy tyd. Madiba sou dalk nie gewees het wat hy is as dit nie vir die 27 jaar in die gevangenis was nie. Ons moet wag dat die volheid van die tyd aanbreek. Maar vir baie van ons was dit so lank, te lank. Nog ‘n ding waaroor ek jammer is, is dat die waarheids-en-versoeningsproses geloop het soos dit wel geloop het. Die witmense was bra lou oor die hele saak. Ons was almal ‘n verskriklike ramp gespaar, en tog was mense onwillig en traag om hulle met mekaar te versoen en die geleentheid om vrede met mekaar te maak, aan te gryp. Die wit leiers het die wit gemeenskap gefaal. Die wit leierskap moes gesê het: “Ons is baie gelukkig. Dit kon ‘n Midde-Ooste gewees het, dié. ‘n Kookpot wat nooit tot rus kom nie. Maar nou het ons die kans om blywende vrede te maak. Kom ons gebruik dit!” In plaas daarvan is die WVK gesien as ‘n heksejag. Dis ‘n jammerte dat die kans om te heel en om finaal van die skuld van die verlede ontslae te raak, nie goed genoeg gebruik is nie.   Waaroor is u die bekommerdste as u dink aan die Suid-Afrika waarin ons nou (in 2001) leef? Oor die armoede. Dis ‘n  tydbom. Dis nie ‘n wit/swart-probleem nie – daar is ook swartes wat baie ryk is en dis daarom ook ‘n swart/swart-probleem. Die misdaad in Suid-Afrika het ook met armoede te doen. Dit hou die groot gevaar van onstabiliteit in. Dis tragies dat mense se lewens so min werd geword het in ons land. Dis ‘n ernstige fout in ons samelewing dat ons nie meer waarde heg aan menselewens nie. Ons het gestry teen die ongeregtighede van apartheid. Nou moet ons stry teen die devaluering van mense se lewe. Alle redes wat aangevoer word waarom mense se lewens in ons land so min werd geword het, is vir my onaanvaarbaar. Ja, en dan HIV/vigs. Armoede en HIV/vigs is ons hoofprobleme. En dis enorme groot probleme. Maar soos met die oorgang na ‘n nuwe bedeling in Suid-Afrika, kan ons ook in ons stryd teen armoede en vigs – en in die oorwinning daarvan! – ‘n voorbeeld vir die res van die wêreld wees.   Vervul die Anglikaanse Kerk, waarvan u aartsbiskop was, op die oomblik hulle roeping in Suid-Afrika? Ja, ek dink die Anglikaanse Kerk plaas die klem op die regte plek. Armoede, vigs … die kerk gee aandag aan dié ellendes. Maar hulle onthou ook dat dit uiteindelik gaan om die regte verhouding met God. Geen probleem kan suksesvol aangepak word as die verhouding met God nie reg is nie.   Wat sou u oor die NG Kerk sê? Julle kerk het ‘n Jaar van Hoop gehad en baie aandag gegee aan armoede, versoening en die herstel  van morele waardes. Dis natuurlik iets wat dekades lank moet voortduur. In die hele versoeningsproses in Suid-Afrika het die NG Kerk ‘n geweldige groot bydrae om te lewer. Julle het dit al gedoen … Beyers Naudé is in die NG Kerk gekweek! Ek twyfel nie daaroor dat die Gees van God in die NG Kerk werk nie.   U is ‘n wenner van die Nobelprys vir vrede – wat sê u van die aanvalle op Amerika die 11de September 2001 (*sien: Nine-eleven [9/11]: 11 Septemer 2001) en hulle reaksie daarop .. en Afghanistan, Irak? Ek het die grootste simpatie met die Amerikaners wat geliefdes in daardie verskriklike aanvalle op 11 September verloor het. Maar die Amerikaners het nou die geleentheid om te wys dat hulle grootheid ‘n grootheid van die gees is en nie van militêre mag nie. Die Amerikaners het op 11 September ontdek dat hulle ook, soos ons almal, kwesbaar is. Die vraag is: sal hulle, en ons, sekuriteit deur militêre wraakaanvalle kry? Egte sekuriteit is nie te kry deur die loop van ‘n geweer nie. Die Amerikaners se grootheid moet ‘n morele, etiese grootheid wees. Dán sal hulle regtig die naam supermoondheid werd wees.   Die aanvalle op Amerika is toegeskryf aan Islam-fundamentaliste. Wat is Christene se verantwoordelikheid teenoor Moesliems? Hoe voel u oor sendingwerk onder hulle? Die beste manier om sendingwerk te doen, is om te wys hoe besonders Christene is. Wat het mense in die vroeë kerk na Christene toe getrek? – Die feit dat hulle mekaar liefgehad het en daardeur ‘n voorbeeld aan almal gestel het! Dit was die beste advertensie vir Christenskap. Ons moet meer soos Christus wees, dan sal ons mense – ook Moesliems! – na ons, en na Hom, aantrek.   Is Jesus Christus na u mening die een en enigste weg na God toe? Christus is die hoogtepunt van God se openbaring aan die mens. Maar dit is nie vir my om te sê dat Hy die enigste weg na God toe is nie. Hoe kan ek weet wat God se besluit is? Maar Christus is uniek, die hoogtepunt van die maniere waarop God met mense kommunikeer. So sien ek dit.   Het u ‘n boodskap vir die mense van Suid-Afrika? God beskou ons as vennote. God se droom is dat daar nie buitestaanders sal wees nie, en dat ons almal God se medewerkers in hierdie land sal wees. Dis ons almal se land.   (Kerkbode, 16 November 2001)

R250,00

Christelike Kernensiklopedie

Wenner van die Ds Pieter van Drimmelen-medalje! Hierdie unieke ensiklopedie spog met grootse statistieke. Dit het 3250 inskrywings, 1248 volkleur bladsye en 163 medewerkers (waaronder teoloë, historici, literatore en joernaliste). Die medalje is toegeken aan die hoofredakteur, dr. F.M. Gaum

Vriende van Kerkbode

Raak ’n vriend van Kerkbode

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus
Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.