Daspoort op 100 jaar: ‘Ons bestaan om die Here te aanbid’

Nog nooit het ons groot welvaart beleef nie. En dit is goed so, skryf ds Eddie de Waal in hierdie berig ter viering van die NG Kerk Daspoort se 100ste bestaansjaar.

Op Sondae hoor ons Daspoort in Pretoria se verjaarsdae vir die week wat kom. Dan nooi ons ook tagtig en ouer om op te staan. Elke keer is ons die Here dankbaar om hulle nog by ons te hê. Ook op die Sondag voor 24 Februarie: “Elkeen wat vandeesweek 80 of ouer word, staan ’seblief.” En dan staan … álmal. Want vanaf die jaar 2003 is ons gemeente ouer as tagtig, en elkeen daarom tagtig plus — of ons nou vyftien is of vyf en sewentig.

En in 2022 is ons weer reg om almal op te staan — nie net oor ons ouer as tagtig is nie, maar omdat ons 100-jariges word. Want Daspoort is van 1922 af al hier! Honderd jaar gelede word Daspoort-gemeente gestig in ’n westelike en armer deel van Pretoria. Ons eerste leraar is ds Krige wat 26 jaar – tot 1948 – in Daspoort dien en ’n aantal beroepe van die hand wys voor hy uiteindelik na Boksburg toe aanneem.

Groot sukses het ons al beleef – sukses soos ons wonderlike Expo’s tussen 2002 en 2010 – maar ook by dié is ons geloof getoets en het ons deeglik geleer dat ’n bouery net slaag as die Here die bouwerk doen, skryf ds Eddie de Waal.

Ds Frans Cloete volg ds Krige op, en dan kom ds Malcolm Retief. In di Cloete en Retief se tyd is daar drie afstigtings uit Daspoort – afstigtings kompleet met bruidskatte – na Booysen (waarheen ds Cloete gaan), Pretoria-Tuine, en Wonderboompoort (in Mountain View).

In ds Retief se tyd ruil ons ’n aantal erwe vir ’n lang, breë strook mielieland. Die mielieland word ’n straat, en die straat kry die naam “Ds Krigelaan”. Na ds Retief volg di Piet Grobler, Jan Nel en Sarel Norval; dan di Frikkie Bezuidenhout, Pieter Jacobsz, Casper Kruger, Gerard Booy, Paul le Roux, Emile Naudé, Eddie de Waal en Lood Oliver.

Op hierdie verjaarsdagkoek pryk die name van Daspoort se leraars sedert 1922. Die foto is geneem tydens die gemeentes se Eeufeesdiens en die onthulling van die 100-jaar gedenksteen einde Februarie 2022. Foto’s: Verskaf

Vanaf die vroeë jare sestig tot 2013 is medeleraarskappe die reël in Daspoort – nie oor enige standhoudende welvaart nie, maar oor ons hoë lidmatetal. Van 2009 af is albei leraars tentmakers, en ná 2013 beroep ons nie weer ’n tweede leraar nie. Nog nooit het ons groot welvaart beleef nie. En dit is goed so. Ons bly die Here in die oë kyk en ons is dankbaar dat die skakelaar wat ons gemeente na auto-pilot toe kan laat oorgaan, óf gebreek óf weggelaat is.

Daspoort se ‘wyse manne’ is vlnr Willie Erasmus (83), Johan Broodryk (89) en Dewald de Beer (83).

Daspoort se koster, Hester van der Westhuizen (83).

Daspoort se eie kunstenaar, Zander “Choppie” Fourie, op die toneel.

Groot sukses het ons al beleef – sukses soos ons wonderlike Expo’s tussen 2002 en 2010 – maar ook by dié is ons geloof getoets en het ons deeglik geleer dat ’n bouery net slaag as die Here die bouwerk doen. Ons bestaan om die Here te aanbid en om namens Hom hulp en hoop te gee aan elkeen wat Hy op ons pad stuur. Groot en sterk is ons nie, maar ons weet die Here Jesus se krag kom juis tot volle werking as ons swak is. Mag die Here ons bestaan seën, sodat ons gemeente ’n rede sal wees waarom daar altyd gelowiges in ons deel van die stad is wat Hom eer.

Die NG Kerk Daspoort soos hy deesdae lyk.

Word 'n vriend van Kerkbode