Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Een van die merkwaardigste dinge van Enrique Hermanus is waar hy kies om te woon. ’n Paar jaar gelede het hy die visie gekry om ’n huis te begin vir hawelose mense, en saam met hulle ingetrek. Die huis is in Pastoriestraat, Bellville en behoort aan die NG Moedergemeente, skryf Jaco Strydom.

Jaco Strydom gesels met Enrique Hermanus – ’n jong stem om na te luister

Enrique Hermanus is ’n jong stem in die kerk wat gehoor moet word. Hy het onlangs ’n toekenning gekry as een van die Mail & Guardian se twee honderd jongmense wat die grootste verskil in Suid-Afrika maak. As jy sy storie hoor, of ’n kans kry om hom dop te hou, sal jy verstaan waarom.

Letterlik oral waar ek die afgelope tyd beweeg, duik sy naam op, die laaste tyd veral onder NG dominees in die Kaap.

Enrique het onlangs sy vier en twintigste verjaarsdag gevier, maar moenie dat sy ouderdom jou bluf nie, hy is een van daai ouens wat dit regkry om ’n groot klomp lewe in ’n kort leeftyd in te pak. Dit is merkwaardig hoeveel projekte hy al van die grond af gekry het, van straatskoonmaakinisiatiewe tot skaakklubs en opvoedkundige vakansieprogramme by skole waar kinders min geleenthede het.

Hy werk tans by MES in Kaapstad waar hy ’n program gefokus op mense in nood bestuur, is ’n leier by die Mercy Ministry van El Shaddai Christian Church en word toenemend genooi om by gemeentes en skole te praat.

Enrique vertel van ’n klomp inisiatiewe wat meestal deur jongmense self bedryf word. Onder andere ’n voedingskema, wat hy en ’n plaaslike dominee van Durbanville gemeente begin het. Tot op hede het hulle al meer as 200 000 etes aan mense in nood voorsien.

Dit is vir hom belangrik dat Christene in eenheid saamwerk om die gemeenskap te dien.

PODSENDING:

“So, flip, ek weet man, daar is ’n geskiedenis van onderdrukking en allerhande verkeerde dinge in die NG Kerk. Maar ek sê jou, by die NG Kerk met wie ek vandag te doen kry, ervaar ek net vryheid, liefde en dominees wat regtig ’n hart het vir die gemeenskap,” sê hy.

Een van die merkwaardigste dinge van Enrique Hermanus is waar hy kies om te woon. ’n Paar jaar gelede het hy die visie gekry om ’n huis te begin vir hawelose mense, en saam met hulle ingetrek. Die huis is in Pastoriestraat, Bellville en behoort aan die NG Moedergemeente.

Enrique praat met die grootste respek oor sy mede-huismense, almal uit ’n hawelose en verslawingsagtergrond en vertel van die belangrike lewenslesse wat hulle by mekaar leer.

Waarom het hy besluit om dit te doen?

Hy het God se roeping veral op drie plekke ervaar: toe Leona Pienaar, die CEO van MES, hom vir ’n tyd lank saam met haar gesin in hulle huis laat woon het, die woorde van Jesus in die Evangelies en in die woorde van ’n hawelose man.

Enrique vertel hoe hy op ’n dag afgekom het op ’n teks wat aan sy binnekant geruk het, dit was die verhaal in Lukas waar Jesus vir ’n ou wat hom wou volg sê: “Jakkalse het gate om in te bly, en voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het nie eers ’n plek om my kop neer te lê nie.”

Vir Enrique, wat op daardie stadium reeds besondere empatie vir hawelose mense gehad het, was dit nou ’n uitgemaakte saak. Hy sê hy het by homself gedink, as die God van die heelal so naby aan die aarde geleef het, wil hy as Jesus-volgeling dit ook probeer.

’n Ander insident het dit bevestig. In daardie tyd het hy die fliek The Joker gekyk en besef watter groot invloed omstandighede en geestesgesondheid op mense se lewe het.

“Ek het die fliek gekyk, en toe is ek by ’n robot en daar is ’n hawelose man. En ek sê vir hom, meneer honestly, I believe you, I believe in your story, I believe you can make something of your life, man! En hy kyk vir my, en hy bly vir ’n oomblik stil en toe sê hy: ‘My vriend, as jy in my omstandighede was, sou jy dieselfde doen.’ En ek was like, sjo, you’re probably right, sir.” Die man se woorde het groot impak gehad op Enrique en sy lewe finaal in ’n nuwe rigting gestuur.

’n Mens ontdek God se wil, “hoor sy stem” in die Bybel, in die gemeenskap van gelowiges, in die natuur … maar veral ook tussen die armes en mees weerlose mense in die gemeenskap. Dit is Jesus wat gesê het, Ek was honger, dors, ’n vreemdeling … en vir sover julle dit vir die geringstes gedoen het het julle dit vir My gedoen. Hy nooi ons eintlik uit om Hom daar raak te loop. Moeder Teresa het destyds daarvan getuig, so ook St Franciskus van Assisi – en so ook Enrique Hermanus.

Kort daarna besluit hy om by MES se Drop In Centre in die Kaap te begin werk. Vandag motiveer hy almal wat hy raakloop om ook soos Jesus, húlle lewe te gee, vir hierdie stukkende wêreld.

Enrique is nie naïef oor die uitdagings en kompleksiteit van ons tyd nie. Hy verstaan van stoei met God in die donker. Daar was ’n tyd toe hy selfs erg geworstel het met selfdoodgedagtes. “Ek is al jare lank op psigiatriese medikasie,” sê hy.

Waaraan hou jy vas as dit rof gaan? vra ek.

Hy vertel van Jane Marczesksi (Nightbride) se woorde op haar blogpost voor haar dood, dit vat sy idees oor sy verhouding met God in ’n stukkende wêreld die beste saam: “Before she died, she published this blogpost titled, ‘God is on the bathroom floor’. In the blogpost she quotes Carl Jung, ‘The reason why modern man does not see God is because he is not prepared to look low enough.’ He is well and truly God, He is in a beautiful sunrise, an orphan’s smile, a friend’s hug, a mother’s touch. And He is on the bathroom floor. It’s the heart of where we find our true self and where we find God. So the bathroom floor is beautiful. It’s our hearts’ cry for a desperate longing to know …”

Enrique is ’n hoogs intelligente, buitengewoon well spoken jong man, met ’n erg aansteeklike passie, maar op die ou einde is dit sy lewenstyl wat gewig aan sy woorde gee.

Na ons gesprek wonder ek hoe anders die kerk, en die wêreld, sou wees as meer mense die evangelie soos díe ou sou verstaan. As dit die reël in die kerk was en nie die uitsondering nie. Dalk kan Enrique Hermanus, die jong man van El Shaddai Christian Church, ons help.

 


Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-jeughuise.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top