Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Cas Wepener en Nicolette Bester vertel meer oor dié vertoning by vanjaar se Woordfees: "Ons is in Kruiskerk op Stellenbosch. Ons luister nie net na “Sonvanger nie”. Ook “Ons Vader”, “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, “Praat ek mense eng’le tale” en “Toe vind ek jou” klink op. “Ave Maria” van Franz Schubert word soos ʼn rooiwyn uit Boergondië versny met Madonna se “Like a prayer.”" Foto's: Gys Loubser.

By Woordfees 2025 | Zoid Psalm (vir elektriese kitare met orrelspel)

Dis Sondagaand. Sy glimlag breed, is verby tagtig, en swaai haar selfoon met die liggie wat brand bokant haar kop saam met honderde ander van alle generasies terwyl elektriese kitare die akkoorde tussen “So-o-on-on-vanger” en “Ek vra jou mooi, laat hom weer vir my kom skyn” op die verhoog vlak by die doopvont speel. Die ruimte dreun vanaand, nie net weens die drie kitare en die tromstel nie, maar ook die kerkorrel en ʼn vleuelklavier wat saam speel. Cas Wepener en Nicolette Bester vertel meer. Foto’s: Gys Loubser.

 

Dit is Zoid Psalm by Woordfees. 

Die vorige dag tydens die vertoning van Ek is nie Danie het akteur Albert Pretorius na aanleiding van digter Danie Marais se werk vir Charles Bukowski aangehaal: “A poet needs pain like he needs a typewriter.” En uit ʼn gedig van Marais bygevoeg: “maar niemand gebruik meer tikmasjiene nie”. Karen Zoid het na Covid besef sy sluk ʼn paar pille te veel elke dag. Genadiglik het sy nog ʼn kitaar gehad. En in die konsistorie van die NG kerk Bloubergstrand, so hoor die gehoor, het sy tydens byeenkomste van Narcotics Anonymous (NA) wonderwerke beleef. Soos iemand eens op ʼn keer getuigend bely het – of Hy regtig water in wyn verander het, dit moet ek erken, dit weet ek nie. Wat ek wél weet, is dat Hy in my huis whisky in melk en brood en skoolfondse verander het. 

Ons is in Kruiskerk op Stellenbosch. Ons luister nie net na “Sonvanger nie”. Ook “Ons Vader”, “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, “Praat ek mense eng’le tale” en “Toe vind ek jou” klink op. “Ave Maria” van Franz Schubert word soos ʼn rooiwyn uit Boergondië versny met Madonna se “Like a prayer.” Soms is dit sekulêre woorde wat gesing word op heilige melodieë en soms word heilige woorde weer op maat van sekulêre musiek gesing. 1 Korintiërs 13 se woorde oor die liefde en hoop en geloof trou nogmaals met Beethoven se Ode tot Geluk. Deurgaans klink die evangelie en van liefde, vergifnis en genade op, soos in Bronski Beat se “Smalltown Boy” waar die seun weens homofobiese redes die huis verlaat: “Pushed around and kicked around, always a lonely boy… Run away, turn away, run away, turn away, run away (To your soul).” En by baie van ons is die openingstoneel van die film “Kanarie” geaktiveer.

Foto: Gys Loubser

Show of erediens?

Tussendeur die musiek deel Karen haar storie. Met waardering vir mense soos haar pa. Hy is in die gehoor. Stefan, ʼn tokkelok wat ook die koster van Kruiskerk is, het in die voorafgaande week baie moeite gedoen om te sorg dat die orrel wat probleme gee reggemaak word. Hy is vorentoe geroep en Karen vra vir ds. Elmarie Dercksen van Bloubergstrand om vir Stefan te bid terwyl Rock & Roll- en orrelklanke soos wierook om die dominee se woorde hang.

Wat het ons op Sondagaand 19 Oktober in Kruiskerk op Stellenbosch beleef? Was dit ʼn show of was dit ʼn erediens? Wanneer word ʼn show ʼn erediens? Ons weet wel wanneer ʼn erediens ʼn show word! Hierdie belewenis, hierdie vertoning, het wel na liturgie geneig. Karen Zoid het onlangs, so vertel sy vir ons, ʼn PhD verhandeling oor die geskiedenis van die orrel in Suid-Afrika gelees. Sy deel met die gehoor waar die orrel oorspronklik vandaan kom, en dit is nie heilige ruimtes nie. 

Saam met die orrelis is die liturge vanaand oor rock stars. En wie is die rock stars, oftewel liturge, vanaand? Ja, daar is natuurlik Karen Zoid. Maar wanneer jy klaar na haar vertellings geluister het, na haar belewenis van die mense van NG kerk Bloubergstrand, dan dink jy dominees Elmarie Dercksen en Stefan de Klerk is óók rock stars. En Werner, die ou wat in die kroeg was toe hy gehoor het daar is oudisies in die kerkgebou vir ʼn koor wat in ʼn Karen Zoid show gaan optree en vanaand ons oë wasig sing met sy bas stem. En almal in die koor. En Salomé van Wyk wat die orrel speel waarin liedere uit die Liedboek van die Kerke geblend word met die melodieë van die Stones. Hierdie rock stars was almal ook liturge wat die voorhangsel wat soms tussen heilig en profaan hang met woord en klank geskeur het. Sela!

Gys Loubser

Lof én klag

Zoid Psalm is klaar. Stefan sluit die kerkgebou. Dis Maandagoggend. Dis ʼn nuwe week. Gisteraand was goed. Daardie kitare en orrel sit nog in ons lywe en ons weet Maandae is eintlik ook Sondae en gisteraand was dit Maandag tot Saterdag en meer. Ons wonder oor die week, sien op teen alles wat voorlê, maar ons hoor weer hoe Karen Zoid Laurika Rauch se “Op Blouberg se strand” as tegelyk ʼn Lof- én Klagpsalm gesing het: “Goeie môre my sonskyn/ Goeie môre my kind/ Kom ons draf langs die strand/ Kom ons ry op die wind/ Die sand sal ons skroei/ En die strale sal brand/… Maar…” 

Dankie Karen, en dankie Bloubergstrand, en dankie Werner en Stefan en Salomé en die tannie met haar selfoonliggie. Dankie vir daardie “maar”. 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top