Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Elmarie Jooste is die kommunikasiebeampte van die Noordelike Sinode. Sy was een van die deelnemers by vanjaar se skryfslypskool (28-30 Julie) onder leiding van Kerkbode en die NG Kerk se Taakspan Navorsing. Hierdie skrywe is deel van 'n reeks wat insigte uit die jongste navorsing ontgin.

Kerkspieël 2026: Ses tendense uit jongste kerklike opname

Die jongste Kerkspieël-opname van die NG Kerk, waaraan 67,6% van gemeentes deelgeneem het, teken ’n bemoedigende prentjie: al hoe meer gemeentes beskryf hulleself as groeiend, finansies is gesonder as in die vorige twee opnames, en erediensbywoning het verbeter.

Sou jy die jongste resultate (2026) vergelyk met dié van 2018 en 2022, is daar ’n paar tendense wat opval.

 

  1. Meer gemeentes sê hulle groei

Waar net 34% van gemeentes in 2022 hulleself as “groeiend” of “dinamies groeiend” beskryf het, het dié syfer in 2026 gestyg tot 47%. Terselfdertyd het die persentasie gemeentes wat sê hulle is “krimpend en/of sterwend” gedaal van 10% (2022) na 7% (2026) – laer as in 2018.

Die groep wat beskryf word as besig met “instandhouding/oorlewing” het ook afgeneem, van 56% na 46%.

 

  1. Finansies verbeter

In die algemeen lyk gemeentes se finansiële posisies beter. In 2026 het 11% van gemeentes rapporteer dat hulle inkomste bo die inflasiekoers groei. Dit is effens hoër as die 7% in 2022. Minder gemeentes beskou hulle finansiële situasie as ’n “ernstige bedreiging” vir voortbestaan. Dit het gedaal van 19% (2022) na 15% (2026).

Die 2026-gemeente-opname (Kerkspieël) is pas voltooi en tweederdes van al die gemeentes in die NG Kerk het daaraan deelgeneem. Hierdie opname word sedert 1981 elke vier jaar voltooi en gee veral ’n prentjie van wat met gemeentes in die kerk gebeur; hoe hulle as geloofsgemeenskappe leef en hoe die bediening oor tyd verander het.

 

  1. Erediensbywoning: die kentering ná Covid

Een van die duidelikste tekens van herstel is erediensbywoning. In 2022, kort ná die grendeltydperke, het 68% van gemeentes gesê hulle in-kerk-bywoning is swakker as voor Covid. In 2026 verlaag dié persentasie tot 40%. ’n Derde van gemeentes wat aan die opname in 2026 deelgeneem het, beskryf hulle erediensbywoning as “beter” as voor Covid (33%), ’n verbetering van 13% (2022).

 

Wanneer aanlyn én persoonlike bywoning saam gereken word, sê byna die helfte van gemeentes (45%) hulle totale bywoning is nou beter as voor die pandemie – teenoor slegs 25% in 2022.

 

  1. Tegnologie: WhatsApp floreer, e-pos kwyn

Tegnologiegebruik in gemeentes het ook verander. Byna alle gemeentes (99%) gebruik nou SMS of WhatsApp om met lidmate te kommunikeer.

In die 2026-opname is vir die eerste keer gevra of gemeentes kunsmatige intelligensie in administrasie en bediening gebruik en 24% maak wel so.

Interessant genoeg het die gebruik van e-pos as kommunikasiemiddel skerp gedaal, van 54% (2022) na 38% (2026), terwyl elektroniese nuusbriewe se gebruik toegeneem het na 54%.

 

  1. Gasvryheid: ’n waarskuwingsteken

Nie alle tendense is egter positief nie. Alhoewel meer gemeentes sê hulle beoefen doelbewus ’n kultuur van gasvryheid (75%, op van 69%), het die persentasie gemeentes wat aktief nuwe mense in die gemeenskap opsoek, gedaal van 51% na 38%. Programme om kerklos of kerkvervreemde mense te besoek en te nooi, het ook afgeneem, van 21% na 14% – ’n moontlike aanduiding dat gemeentes se interne prosesse herstel, maar hulle uitreik na buite bly nog agterweë.

 

  1. Senior bediening staan sterker

Die persentasie gemeentes met ’n georganiseerde seniorbediening het gegroei van 54% (2022) na 62% (2026), en spesiale pastorale sorg vir huisgebonde en verswakte bejaardes word nou deur 65% van gemeentes aangebied.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top