Die Meesterplan: God se missionale mense: voorsmaak of nasmaak? deur Frans Hancke
Uitgewer: info@dieplan.org, 2025
Resensent: Neels Loots
In sy werk Die Meesterplan begin Frans Hancke by die “Groot Toneel”: God se skeppings- en herstelplan. Daarna beweeg hy na die identiteit van God se missionale mense, hulle roeping, en die praktiese uitlewing daarvan in ’n missionale leefstyl: leitourgia (aanbidding), kerygma (verkondiging), koinonia (gemeenskap) en diakonia (dienswerk). Die boek eindig by dissipelskap en missionale leierskap.
Die uitgangspunt is dat sending nie eerstens ’n aktiwiteit van die kerk is nie, maar voortvloei uit God se beweging na die wêreld toe. Hancke hanteer die Bybel as ’n groot verhaal van skepping, val, herstel en voleinding. Sy verstaan van ’n gemeente se identiteit as teken, instrument en voorsmaak van God se koninkryk is waardevol. Sy stelling dat die dimensies van die missionale leefstyl nie van mekaar geskei kan word nie, sluit aan by die NG Kerk se geïntegreerde verstaan van evangelisasie dat teenwoordigheid, woorde en dade nie geskei kan word nie.
Die volgende punte van nuansering is wel nodig: Hancke se gebruik van terme soos “God se plan” en “herstelplan” kan te sistematies en modelagtig voorkom. Mense se konteks kan misgekyk word. Hy kon minder teksverse gebruik het en hulle meer binne hulle eie konteks hanteer. Hancke verbind transformasie sterk met persoonlike vernuwing. Die gemeenskaplike fokus kon sterker navore gekom het. By diakonia kon sosiale geregtigheid, versoening, heling en die ekologie ook hanteer word.
Hancke se boek kan as ’n waardevolle praktiese hulpmiddel vir gemeentes gebruik word, mits dit saam met die NG Kerk se verstaan van evangelisasie gelees word. (Kyk gerus in hierdie verband na die boekie Deel die Goeie Nuus, gratis beskikbaar op die NG Kerk se webblad.)
Beskikbaar via info@dieplan.org.
Ds Neels Loots is ’n lid van die NG Kerk se Algemene Taakspan vir Evangelisasie.
