Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wentzel Greyling van Despatch vertel: Ek skryf in vir die KAST-kursus, dit staan vir Kerkgeakkrediteerde Sertifikaat in Teologie. Twyfelaar wat ek was, skakel ek my vorige predikant vir sy opinie. Na die gesprek het ek geweet God het ’n roeping op my lewe geplaas en ek moet getrou wees daarin.

Reeks oor roepingsverhale: ‘Kursus by Hugenote Kollege het ’n nuwe energie in my gewek’

Wentzel Greyling van Bothasrus-gemeente, Despatch, skryf: God se roeping het vroeg in my lewe begin. Reeds na belydenisaflegging het ek begin om katkisasie te gee. In dieselfde jaar is ek gekies as diaken. Dit was nog tydens die goeie ou dae waar ons Woensdagaande gemeentebidure gehad het. Gewoonlik is dit deur ons predikant of een van die ouderlinge aangebied. Die volgende jaar is ek toe ook daarby betrek, alhoewel ek nog maar ’n jong diaken, nuut in sy amp was. Ek het gereeld afgelos as die predikant of die persoon wat dit sou aanbied, nie beskikbaar was nie.

Later is ek gekies as ouderling. Weens finansiële druk kon ons nie meer twee predikante bekostig nie. Een van ons predikante het hom beroepbaar gestel. ’n Paar maande daarna is hy beroep. Hy het ’n pos in Parow in die Kaap aanvaar. Skielik was daar baie druk op ons predikant. Aflospredikante was skaars. Hy het my genader en gevra of ek sou belangstel om ’n sinodale predikingskursus by te woon. Ek was eers baie skepties, maar het toe besef wat die nut daarvan kon wees. Ek het die kursus gaan doen. Dit het hom die geleentheid gebied om te gaan rus of om jaarliks sy studies te gaan doen en VBO-kursusse (voortgesette bedieningsopleiding) te gaan bywoon wat uitstedig aangebied is.

Intussen het ek ’n nuwe werk begin en het byna dadelik bevriend geraak met mede-Christene rondom my. Ons het ’n geloofsgroep gevorm wat etenstye bymekaar gekom het. Dadelik het die groep begin groei en goed gevestig begin word. Ek het egter van werk verander en in ’n nuwe firma beland waar daar geen gevestigde groep was nie. My nuwe werkgewer was ook nie ’n Christen nie. Ons het egter ’n ander maatskappy uitgekoop en ek het bevriend geraak met iemand wat saam met my die produksie moes beheer en verantwoordelikheid aanvaar vir al die produkte wat ons vervaardig het.

Saam het ons begin om die werkers te bedien. Ons moes dit ook noodgedwonge doen in ons etenstyd. Eendag word ons beide ingeroep deur die direkteur van die maatskappy. Tot ons verbasing maak hy die voorstel dat ons Maandae en Vrydae die mense kon bedien voor werk. Hy was bereid om vyftien minute af te staan tydens werktyd. Hy het een week bedien en ek dan die volgende een.

’n Nuwe kampterrein het tot stand gekom waar jy jou karavaan kon gaan plaas en ’n afdak oprig en ’n erf bekom teen ’n klein bedraggie. Sonder om van mekaar te weet bekom ons beide ’n erf en met slegs drie erwe tussen ons. Die res van die mense is ook toe meeste kennisse en vriende. Ons word intussen beide bevorder en moet om die week verantwoordelikheid neem en toesig hou oor die produksienaweke. Ons besluit om kerk te begin Sondae in die oord. So het ek dan ook dienste gehou elke Sondag wanneer ek daar was. Later toe betrek ek hom en so kon ons elke Sondag ’n diens hou vir almal daar maar ook vir die besoekers. Later kon ek hom alleen los, sodat ek ook ons eredienste by my kerk kon gaan bywoon.

’n Nuwe era begin in ons as gesin. Die kinders moet hoërskool toe. Ons verhuis na Despatch en kry ’n huis binne loopafstand van die hoër- en laerskool. Ek beland in Bothasrus-gemeente. Daar het ek toe ingeskakel in ’n selgroep. Na ’n jaar word ek selgroepleier van my eie selgroep en die predikant vind uit dat ek die predikingsertifikaat verwerf het. Hy het my dadelik ingespan en ek is ook tot die kerkraad verkies. Hy wou nog altyd in die sendingveld wees en aanvaar ’n pos Botswana toe. Vir sewe jaar was ons sonder ’n predikant.

Uiteindelik beroep die kerkraad en ons kry ’n predikant. Eendag toe tree hy met my in gesprek en vertel my van die verwikkelinge wat plaasvind by Hugenote Kollege. Weereens was ek skepties: Aanlyn onderrig op my ouderdom, klink na moeilikheid. Nadat ons dit ’n saak van gebed gemaak het, vind ek my roeping. Ek skryf in vir die KAST-kursus, dit staan vir Kerkgeakkrediteerde Sertifikaat in Teologie. Twyfelaar wat ek was, skakel ek my vorige predikant vir sy opinie. Na die gesprek het ek geweet God het ’n roeping op my lewe geplaas en ek moet getrou wees daarin. Die eerste keer toe ek die studiegids oopmaak, lyk alles vreemd, want ek kom van ’n tegniese agtergrond.

Die klasse begin en ek word werklik verras. Die inhoud is interessant, opbouend en word op wonderlike maniere deur top dosente aangebied. Dinge wat ek oor gewonder het word oopgebreek, my kennis word verbreed. ’n Nuwe energie word in my gewek. My preekvoorbereiding bereik nuwe hoogtes. Navorsing word ’n plesier omdat dit so georden plaasvind. Ek word geleer hoe om my ritme optimaal te benut tot eer van God en sy koninkryk. Opnuut besef ek my rol in die kerkraad, in die gemeente en in die gemeenskap waarin ek woon en die gemeenskap rondom my. ’n Nuwe vriendekring wat omgee vir mekaar en mekaar help en ondersteun word met medestudente gevorm. Nie net het ek ’n mentor ontvang nie, maar ons is deel gemaak van ons ringsvergaderings elke week, wat ons ondersteun en bystaan en bemoedig.

Ek kry ’n geleentheid by die sinodesitting om te kan getuig watter belangrike rol ons as bedienaars kan speel in gemeentes, op verskillende gebiede om oorlaaide predikante geleenthede te bied om so ’n bietjie te kan rus en om nie so te sukkel om aflospredikante te vind nie. Weekliks herinner ek graag predikante as hulle sukkel om iemand te kry om hulle af te los en herinner hulle aan die moontlikhede wat Hugenote Kollege hulle en hulle gemeentes bied. Gelukkig luister hulle soms en het Hugenote drie nuwe kandidate vir volgende jaar.

Ek kan werklik net uit die diepte van my hart Hugenote Kollege, die dosente en koördineerders bedank vir die verskil wat hulle in my lewe en dié van my klasmaats gemaak het. KAST maak ’n verskil in ons lewe, ons maak ’n verskil in gemeentes, kerkrade en die breë gemeenskap.


*Hugenote Kollege vier in 2026 haar 75ste bestaansjaar as ’n hoëronderwysinstelling. Om dit te gedenk, nooi hulle teologiestudente van al die opleidingsentra wat NG predikante oplei om die verhaal van hulle roeping te vertel. Hierdie skrywe is deel van die reeks artikels wat Kerkbode publiseer.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top