Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ek het gevoel dat die Heilige Gees my lei om teologie te studeer. Ek het in 2020 besluit om erediensbevoegdheid te studeer by Hugenote Kollege, ek het ook terselfdertyd die NG Kerk se kerkeie opleiding voltooi. Nadat ek hierdie studies in 2022 voltooi het (Cum Laude), het ek besluit om my BTh deur SATS (South African Theology Seminary) te studeer, vertel Lé-Roy Hugo Wentink van Welkom.

Reeks oor roepingsverhale: ‘My lewenspad tot hier’

Lé-Roy Hugo Wentink van Welkom skryf: Ek is op 29 September 1995 in Welkom in die Vrystaat gebore. Ek het hier in Welkom my matriek voltooi en bly nog al die pad hier. Ek is Maart 2021 met ’n beeldskone vrou getroud. Sy is ’n arbeidsterapeut hier in Welkom. Ons het ’n dogtertjie van 15 maande.

My roepingsverhaal

Vandat ek kan onthou het my pa baie gedrink. Dit het net erger geword namate ek ouer geword het. Hy sou, as hy dronk is, my en my ma gedurig emosioneel afgekraak het. My ma se broer het gedurende daardie tyd die rol van ’n pa in my lewe begin vervul. ’n Jaar na my ma se hartoperasie het my oom egter selfdood gepleeg wat regtig moeilik was om te verwerk.

Toe ek 13 jaar oud was, het my ouers geskei as gevolg van my pa se drankprobleem. Die egskeiding het baie negatiewe finansiële gevolge in my, my ma en my broer se lewe meegebring.

Ek het gesukkel om God in my lewe raak te sien en te verstaan, en wou nie regtig iets met die Here te doen gehad het nie. In 2011 nadat my ma besluit het om ons kerk toe te vat, het ek Jesus as my Verlosser aanvaar terwyl ons by ’n klein gemeente naby ons woonstel ingeskakel het. Hier het my verhaal saam met die Here begin. Een van die goed wat werklik vir my uitgestaan het is dat ek begin ontdek het hoe lief die Here my het. My vriende en onderwysers het op hoërskool begin raaksien dat ek ’n roeping het om die evangelie te verkondig. Gedurende my hoërskooljare het vriende en onderwysers my dominee genoem op skool, ek moes gedurig open by die skool en ander geleenthede. Daar het mettertyd ’n sterk begeerte en oortuiging in my hart begin groei om as predikant vir die Here te werk. In hierdie tyd het ek by die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Riebeeckstad-Erfdeel se jeugbediening betrokke geraak en ek het die jeugleier van die gemeente vir ongeveer twee jaar gehelp met die tienerbediening.

Na skool kon ons dit egter glad nie bekostig om universiteit toe gaan nie, en ek moes direk na skool begin werk, sodat ek finansieel kon bydra vir ons gesin. Ek het werk gekry as administratiewe klerk by ’n verhuringsmaatskappy, maar het voortdurend by die werk ook die Here voluit gedien en van Hom getuig. Ek het myself oortuig ek sal nog eendag vir die Here werk.

Einde Desember 2015 het die jeugleier van Erfdeel-gemeente saam met sy ouers na Vanderbijlpark verhuis en die gemeente het sy pos geadverteer, ek het aansoek gedoen en dit voel vir my against the odds het ek die werk gekry. In 2016 het ek begin as jeugwerker by Erfdeel-gemeente waar ek werksaam is saam met die leraars en personeel. Gedurende hierdie tyd by Erfdeel-gemeente het ek opnuut oortuig geraak van my roeping. Ek het ook oortuig geraak dat ek deur my gebrokenheid en onvolmaaktheid mense van God se volmaakte liefde kan vertel. Ek het God as Vader leer ken, en werklik God se onbeskryflike liefde ervaar.

Alhoewel ek die tieners baie geniet het, voel ek dat ek mettertyd ’n groter passie en liefde vir die gemeente begin ontwikkel het. Ek geniet dit om in God se Woord te wandel en soveel van die Here deur sy woord te leer en dit aan die gemeente te deel. Hoe meer en dieper ek in God se Woord begin delf het, hoe meer wou ek weet en leer en hoe meer het hierdie passie vir God se Woord begin ontwikkel.

Ek het gevoel dat die Heilige Gees my lei om teologie te studeer. Ek het in 2020 besluit om erediensbevoegdheid te studeer by Hugenote Kollege, ek het ook terselfdertyd die NG Kerk se kerkeie opleiding voltooi. Nadat ek hierdie studies in 2022 voltooi het (Cum Laude), het ek besluit om my BTh deur SATS (South African Theology Seminary) te studeer. Ek het ook al hoe meer preekbeurte gekry in die gemeente, asook begin uithelp met besoeke, begrafnisse ens. Terwyl ek met my BTh besig was, het ek ook met Grieks en Hebreeus begin by Hugenote Kollege. Ek het in 2024 my Grieks 1 en Hebreeus 1 voltooi (Cum Laude). Einde 2024 het ek my BTh by SATS voltooi (Cum Laude). Ek het in einde 2025 my Nagraadse Diploma by die Universiteit van die Vrystaat voltooi, en ek beoog ook om hierdie jaar my Grieks 2 en Hebreeus 2 te voltooi. Ek is intussen gelegitimeer as diensleraar van die NG Kerk. Erfdeel-gemeente het my ook as diensleraar beroep.

*Hugenote Kollege vier in 2026 haar 75ste bestaansjaar as ’n hoëronderwysinstelling. Om dit te gedenk, nooi hulle teologiestudente van al die opleidingsentra wat NG predikante oplei om die verhaal van hulle roeping te vertel. Hierdie skrywe is deel van die reeks artikels wat Kerkbode publiseer.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top