Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Verstaan die Ou Testament: Die weerloosheid van vroue

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ons het onlangs opnuut bewus geword van hoe weerloos vroue in ons samelewing is. Tans leef vroue aan die Oos-Rand in vrees, maar dit is eintlik waar vir alle vroue in die hele Suid-Afrika. Vanjaar moes ons ook hoor van een van ons susterskerke wat nog steeds nie so ver kan kom om vroue as predikante te orden nie. ’n Kerk wat vroue van die kansel af hou, bedoel dit nie as geweld nie. Maar dit bevestig, al is dit onbedoeld, ’n wêreld waarin mans vanselfsprekend die laaste woord het, en dit is dieselfde wêreld waarin geweld teen vroue gedy. Dit is die wêreld van patriargie.

My gunsteling definisie van feminisme wat toegeskryf word aan Marie Shear is ietwat tong in die kies: “Feminism is the radical notion that women are people.” Dink die Bybel wat in ʼn patriargale wêreld ontstaan het ook dat vroue mense is? Wel, soort van soms. Die Bybel is veelstemmig.

Aan die donker kant is die Bybel vol verhale wat vertel van ʼn patriargale wêreld waar mans mag uitgeoefen het oor vroue en waar vroue gesien is as die besittings van mans. Dink maar aan die tiende gebod! Die vrou word saam met die huis, die slawe en die plaasdiere gekategoriseer.

Aan die ander kant is daar die eerste skeppingsverhaal wat duidelik sê dat die mens, manlik en vroulik, na die beeld van God gemaak is (Gen 1:27). Of Paulus wat ʼn ou doopformule aanhaal wat aanspraak maak daarop dat almal kinders van God is en dat daar nie meer “Jood of Griek, slaaf of vryman, manlik of vroulik is nie” (Gal 3:28). Maar dieselfde Paulus maak ook vroue stil in 1 Korintiërs 14:34-35. En die priesterlike skrywers van Genesis 1 heg baie meer waarde aan mans as aan vroue (Lev 12:4-5). Veelstemmig inderdaad!

So, wat het in kerke gebeur wat wel vroue orden en hulle toelaat om te praat? Die verandering is soortgelyk aan die verskuiwing in die kerk se siening oor slawerny wat ook maar relatief onlangs (ongeveer 200 jaar gelede) gebeur het. Kerke het begin verstaan dat patriargie (soos slawerny) eintlik teenstrydig is met die evangelie. Wat is dan die evangelie?

“Alle mense is na God se beeld gemaak. Alle mense se verhouding met God het skeefgeloop. Jesus se lewe, dood en opstanding maak ʼn nuwe verhouding met God moontlik vir alle mense! Alle mense!”

En vroue is ook mense.


Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top