Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Michelle van Tonder skryf: Ná my verkiesing as moderator van die Hoëveld Sinode tydens die sinodesitting in Oktober 2026, het ek begin nadink oor die veranderinge wat ek oor die jare in die kerklike strukture beleef het.
In 2009 is ek, as derdejaar-teologiestudent en ouderling van die Studentekerk in Bloemfontein, tot die Moderamen van die Vrystaatse Sinode verkies. Dit was vir my ’n besondere geleentheid om op dié manier blootstelling aan die breër kerklike strukture te kry. Ek het ervaar dat ek met openheid ontvang is as iemand wat ’n nuwe ontwikkeling in die kerklike leierskap verteenwoordig het.
Hier is hoe daardie prentjie destyds gelyk het.

Wat my die afgelope paar weke opgeval het, is hoe duidelik die verandering oor die afgelope 15 jaar sigbaar geword het. En daarmee verwys ek nie net na die kleredrag nie!
Hoe die prentjie nou lyk …

Nuutverkose Sinodale Dienskommissie (SDK) van die Hoëveld Sinode – Oktober 2026
Dit is duidelik: Die NG Kerk het saam met die tyd beweeg en ek het hierdie beweging oorwegend positief beleef.
Ek besef egter dat daar baie ander mense is wie se ervaring nie dieselfde as myne was nie. Sommige moes met seerplekke, trane, afgunstige en neerhalende stemme en blikke probeer om ’n plek in die kerk en in leierskapsrolle te vind. Ek is daarom besonder dankbaar teenoor dié wat voor my gekom het en deur hulle eie uitdagings en volharding die pad vir my help gelyk maak het.
Wat ek as teologiestudent en later as leraar beleef het, was talle geleenthede om my gawes uit te leef, blootstelling aan geleenthede vir groei, asook ondersteuning en mentorskap om in my roeping te groei en dit uit te leef. Ek het deur die jare verskeie mentors gehad – vanaf my skooljare, deur my universiteitsopleiding, in die gemeentes waar ek gewerk het en ook op die kerklike komitees waarop ek gedien het.
Waarom is hierdie belangrik?
Wanneer ek hieroor nadink, bring dit twee dinge by my na vore. Eerstens, ’n diepe waardering en begrip vir dié wie se ervaring van die kerk nie so positief soos myne was nie. Tweedens, ’n opregte hoop vir die kerk se toekoms.
Dit lyk vir my asof ons al hoe meer ’n Bybelse prentjie van kerkwees en kerklike leierskap begin weerspieël. Dink maar aan die vroue wat leidende rolle in die verkondiging van die evangelie gespeel het, soos die Samaritaanse vrou (Joh 4), Maria Magdalena (Joh 20), Lidia (Hand 16) en Priscilla (Hand 18), om maar ’n paar te noem. Dink aan jongmense soos Timoteus, en selfs die seuntjie met die broodjies en vissies. Dink aan mense uit verskillende volke en kulture, soos Rut en Simon van Sirene. Dink aan ouer mense soos Abraham en Moses. Dink aan mans soos Paulus, Petrus, Johannes en Matteus ens.
Die Bybel is vol voorbeelde van hoe God mense met verskillende agtergronde, ouderdomme, gawes en lewenservarings roep en gebruik om sy koninkryk te dien. Dit lyk vir my of die NG kerk nou vir oud en jonk, vir man of vrou wat geroepe voel om te dien, die geleentheid en ruimte gee om met hulle gawes en passie te dien. Wanneer ek na die foto van die kerklike leierskap kyk waarvan ek onlangs deel geword het, is dit juis hierdie prentjie wat ek raaksien. Dit maak my hart warm en bly, want dit getuig vir my dat roeping in die kerk nie in die eerste plek na jou uiterlike kyk en vra of jy ‘reg en bekwaam’ lyk nie. Dit vra eerder of jou hart brand vir die werk waartoe jy geroep is.
Daarom glo ek dat die Here enige mens kan gebruik en dat Hy jou deur sy Gees toerus vir die werk waartoe Hy jou roep. En dan voel ek ’n bietjie soos Ester: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” (Ester 4:14).
Ds Michelle van Tonder is predikant van die NG Gemeente Kempton-Kruin en voorsitter van die Sinodale Dienskommissie van die Hoëveld Sinode.
