Daar bestaan aansienlike verwarring tussen die moontlike mediese voordele van spesifieke kannabinoïede en die gesondheidsrisiko’s wat met ontspanningsgebruik van kannabis gepaardgaan, hoor Fanie Heyns by ’n kenner in hierdie ondersoek na Suid-Afrika se kannabis-ekonomie.
Teddy Dan is die bestuurder van die Cape Weed Lovers Market in Albertweg, Woodstock, een van talle soortgelyke besighede in die Moederstad wat lyk soos iets tussen ’n kroeg en ’n apteek. Hulle het twee kategorieë van klante, verduidelik hy aan Kerkbode. Die een groep is mense wat dagga vir medisinale doeleindes gebruik. Die ander is lede van ’n soort “sosiale klub”, wat toegang tot dagga kry. Niemand jonger as 21 word toegelaat om ’n kontrak met die klub te sluit nie weens die negatiewe impak wat dit op hulle breinontwikkeling kan uitoefen, volgens Dan.
Die Konstitusionele Hof het in 2018 privaat gebruik gedekriminaliseer. Die regering, tesame met ’n magdom rolspelers (van landbou tot medici tot handel), werk egter nog aan ’n behoorlike riglynraamwerk vir die kannabisbedryf en probeer ’n balans tussen ekonomiese potensiaal en veiligheid vir die publiek vind, blyk dit uit ’n persverklaring oor die sitting van die portefeuljekomitee van handel, nywerheid en kompetisie wat in Maart vanjaar namens die voorsitter, Mzwandile Masina, uitgereik is.
Hoewel private gebruik van kannabis regtens toelaatbaar is, is die kommersiële handel in kannabisprodukte grootliks verbode in Suid-Afrika, wat daartoe lei dat die mark oorheers word deur onwettige handel. “Skattings wat voor die (portefeuljekomitee van handel, nywerheid en kompetisie) komitee gedoen is, dui daarop dat die onwettige mark vir kannabis in die land in die omgewing van R36 miljard kan wees, terwyl die wettige mark aansienlik kleiner is,” luidens die verklaring.
Ben Stevens, redakteur van die businessofcannabis.com-webwerf het in April vanjaar berig dit is tans ingevolge Artikel 21 van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe vir dokters moontlik om by die Suid-Afrikaanse mediese produkte-beheerliggaam (SAHPRA, South African Health Products Regulatory Authority) aansoek te doen vir spesiale toestemming om toegang tot ongeregistreerde medisyne, soos kannabis, vir individuele pasiënte.
Sommige kleinhandelwinkels het wederregtelik probeer om onder ’n breër interprestasie van hierdie bepaling te funksioneer en dit effektief as ’n algemene kleinhandellisensie te hanteer.
Die Artikel 21-magtiging is egter spesifiek gemik op en derhalwe van toepassing op indviduele pasiente. Dit stel in die vooruitsig en vereis die medewerking van ’n geregistreerde dokter. Dit maak geen voorsiening vir algemene kleinhandelverkope aan die publiek nie. Desnieteenstaande floreer ondernemings, wat hierdie papierdun regstoegewing misbruik, steeds in die land se grys of skadu-ekonomie, volgens Stevens van businessofcannabis.com.
Praat ’n mens met mense binne Suid-Afrika se daggabedryf, hoor jy dikwels die klem op die wye toegang tot inligting eerder as bangmaakstories. Dagga kan verslawend wees, maar nie elkeen wat dit gebruik sal ’n afhanklikheid ontwikkel nie,” sê Andrew Macfarlane. Hy is die skakelbeampte van Rolling Stoner, ’n tydskrif en webwerf wat kannabisvriendelik is. Dit is nie behulpsaam om jongmense bang te maak of te veroordeel oor hulle keuses rakende dagga nie, meen hy. “Gee hulle geloofwaardige inligting, verduidelik die risikos en help hulle om ingeligte besluite te neem.”
Wat is kannabis?
Volgens dr Lisa Dannatt, ’n Kaapse psigiater wat fokus op die verslawingsveld, kom kannabis van plante wat algemeen beskryf word as Cannabis sativa, indica en ruderalis. Die twee belangrikste kannabinoiïede is kannabidiol (KBD) en tetrahidrokannabinol (THK). THK is die belangrikste psigo-aktiewe chemiese stof wat verswakte oordeel, bedwelming en psigotiese simptome kan veroorsaak. KBD veroorsaak nie die “hoë gevoel” of bedwelming van THK nie, en gesuiwerde farmaseutiese KBD het voordele getoon vir sekere epilepsiesintome, volgens Dannatt.
Dr Lize Weich, ’n psigiater by Stikland-hospitaal en senior dosent aan die Universiteit Stellenbosch se departement van psigiatrie, waarsku oor die verband tussen dagga en psigoses.
Psigose is ’n toestand waarin ’n persoon kontak met die werklikheid verloor, byvoorbeeld deur stemme te hoor of oortuigings te ontwikkel wat nie met die werklikheid ooreenstem nie.
“Navorsing het ’n duidelike verband tussen kannabisgebruik en ’n verhoogde risiko vir psigotiese versteurings, insluitend skisofrenie, gevind. Die risiko blyk hoër te wees by mense wat op ’n jong ouderdom met kannabisgebruik begin, daagliks kannabis gebruik, produkte met ’n hoë THK-konsentrasie gebruik, of ’n persoonlike of familiegeskiedenis van psigose het. Dit beteken nie dat almal wat kannabis gebruik psigose sal ontwikkel nie. Altesame 8 tot 14% van skisofreniegevalle kan voorkom word indien kannabisgebruik uitgeskakel sou kon word,” volgens Weich.
Kannabisgebruik word ook met depressie, angs en selfmoordgedagtes verbind, veral onder jongmense.
Die bewyse is egter minder afdoende oor die mate waarin kannabis hierdie probleme direk veroorsaak, aangesien mense wat reeds emosionele probleme ervaar ook meer geneig kan wees om kannabis te gebruik, sê Weich.
Waarvoor werk dit?
Navorsing oor medisinale kannabis is aansienlik meer beperk as waarvan die algemene publiek bewus is, volgens Weich.
Die meeste navorsing bestaan uit klein studies. Gevolglik is daar nog nie voldoende bewyse oor die veiligheid en doeltreffendheid van langtermyngebruik van kannabis nie.
“Daarbenewens is farmaseutiese produkte wat kannabinoïede bevat nie dieselfde as kruie-kannabis nie. Die meeste navorsing is gedoen op farmaseutiese kannabinoïede en nie op kruie-kannabis nie. Ons moet ook nie ontspanningsgebruik van kannabis met die medisinale gebruik daarvan verwar nie,” maan Weich.
“Desondanks is daar wydverspreide gebruik van kruie-kannabis en kannabisolies vir medisinale doeleindes. Dit gebeur dikwels op aanbeveling van iemand sonder mediese kennis, op grond van hoorsê of weens onakkurate inligting wat op sosiale media versprei word,” maan Weich.
Die gebruik van kannabis is egter nie sonder risiko’s nie. Medisinale kannabis word ook dikwels gestaak weens newe-effekte, soos geheue- en konsentrasieprobleme, sedasie, duiseligheid of psigiatriese simptome by kwesbare individue. Dit kan onder meer angs, paranoia en psigotiese simptome insluit.
Moontlike mediese indikasies vir die gebruik van kannabis sluit volgens Weich die volgende in:
- Chroniese neuropatiese pyn: Studies het egter bevind dat die voordele baie beperk is en dat newe-effekte algemeen voorkom.
- Erge naarheid en braking as gevolg van chemoterapie wat nie op gewone behandeling reageer nie: In sulke gevalle kan Dronabinol en Nabilone, wat farmaseutiese kannabinoïedprodukte is, gebruik word.
- Spastisiteit wat met veelvuldige sklerose verband hou: Nabiximols, nog ’n farmaseutiese kannabinoïedproduk, kan hiervoor gebruik word.
- Sekere vorme van behandelingsweerstandige epilepsie. Dit sluit spesifieke epilepsiesindrome soos Lennox-Gastaut-sindroom in.
Daar is tans nie voldoende wetenskaplike bewyse om die gebruik van kannabis vir enige geestesgesondheidsaanduidings, soos angs, depressie of posttraumatiese stresversteuring (PTSV), te ondersteun nie.
Daar is ook geen bewyse dat dit die uitkomste van kankerbehandeling kan verbeter nie, beklemtoon Weich.
Verslawend of nie
“Amerikaanse beramings dui daarop dat sowat drie uit elke tien mense wat kannabis gebruik, in ’n stadium kannabisgebruiksversteuring (middelafhanklikheid, Engels: cannabis use disorder) ontwikkel. Dit beteken nie dat almal van hierdie individue ’n ernstige verslawing ontwikkel nie. Die versteuring wissel van lig tot ernstig,” volgens Weich.
Dit is volgens Weich belangrik om te verstaan dat ’n chemiese stof nie noodwendig veilig is bloot omdat dit natuurlik voorkom nie. Die uitwerking daarvan hang af van die dosis, konsentrasie, toedieningsroete en die individu wat dit gebruik.
THK is die belangrikste bestanddeel wat vir die bedwelmende effek en baie van die bekende psigiatriese risiko’s verantwoordelik is.
KBD het ’n ander profiel en het nie dieselfde bedwelmende uitwerking nie. Die probleem is dat kommersieel beskikbare KBD nie deur SAHPRA, die medisynebeheerowerheid, gereguleer word nie en nie voldoen aan die Departement van Gesondheid se regulasies oor hoeveel KBD en THK in produkte wat as KBD verkoop word, toegelaat word nie.
Die samestelling van kommersiële kannabisprodukte is nie altyd betroubaar nie.
“In ’n onlangse studie waarby ek betrokke was en waarin nege monsters getoets is, het slegs twee aan die regulasies voldoen. Een monster het THK-konsentrasies bevat wat 22 keer hoër was as die toegelate vlak, en twee monsters wat as THK-vry gemerk was, het wel THK bevat,” het Weich gewaarsku.
Raad oor dagga
Mense moet volgens Weich nie die wettiging of dekriminalisering van kannabis interpreteer as bewys dat dit veilig is nie.
“Ek sal veral kinders en adolessente afraai om kannabis te gebruik, gegewe hulle kwesbaarheid vir die uitwerking daarvan op breinontwikkeling en geestesgesondheid,” maan Weich.
“Ek sal mense ook afraai om kannabis as ’n vorm van selfmedikasie vir angs, depressie of slaapprobleme te gebruik. Hoewel iemand aanvanklik verligting kan ervaar, beteken dit nie noodwendig dat die onderliggende probleem behandel word nie. Gereelde gebruik kan tot afhanklikheid lei en verdere probleme veroorsaak.”
’n Teologiese perspektief
Ds Nelis Janse van Rensburg, voormalige moderator van die algemene sinode van die NG Kerk, sê ondanks die feit dat die Konstitusionele Hof ruimte geskep het vir die gebruik van dagga maak dit die gebruik daarvan nie noodwendig vanuit ’n Christelike perspektief aanvaarbaar nie.
“Vir Christene is daar ’n verdere vraag naamlik watter soort lewe Christus van hulle verwag. Die vraag is dan: Kan die gebruik van dagga versoen word met ’n lewe van navolging van Christus?” sê Janse van Rensburg.
Hy verduidelik voorts die uitgangspunt vir die leef van ’n Christelike lewe is nie dat daar wette gemaak word vir alles wat mag en nie mag nie. Wette is dikwels soos stomp voorwerpe wat nie die genuanseerdheid van die lewe verreken nie. Die oortuiging dat ons ’n eenvoudige reël kan neerlê wat alle mense en alle omstandighede op dieselfde manier beoordeel, staan bekend as wettisisme. Daarteenoor staan individualisme: die oortuiging dat my persoonlike vryheid die enigste oorweging is wat saak maak.
“In plaas van ’n wettiese óf individualistiese benadering te volg, vra Christene eerder op watter manier Christus se volgelinge floreer. In Johannes 10 vers 10 sê Jesus immers Hy het gekom sodat hulle (sy skape wat Hy beskerm) lewe kan hê en dit in oorvloed.
“Dit beteken nie dat Hy altyd alles moontlik vir mense oorvloedig wil gee nie, maar dat Hy wil hê dat mense sal floreer en dus die beste weergawe van sy droom vir mense sal wees. Dan is die vraag of dagga mense kan help om te floreer.
“Paulus skryf in 1 Korintiërs 6:12: “‘Alles is my geoorloof’, maar nie alles is voordelig nie. ‘Alles is my geoorloof’, maar ek sal my deur niks laat oorheers nie.” Mense floreer nie net omdat hulle die vermoë het om te doen wat hulle wil nie; dit is ook die vermoë om nie ‘n slaaf van begeertes of gewoontes te word nie wat mense laat floreer,” voeg Janse van Rensburg by.
Hy meen dat verslawing aan middels dus nie gelowiges help om te floreer nie.
Janse van Rensburg sê mense floreer beslis ook nie wanneer hulle iets gebruik wat hulle vermoë om helder te dink of hulle oordeelsvermoë, of reaksietyd of onderskeidingsvermoë inkort nie, of selfs net die risiko loop om dit te doen nie. Dit is nie ’n aanduiding van die geluk wat navolgers van Jesus nastreef nie.
Navolgers van Christus floreer ook nie wanneer hulle enigiets doen wat ander mense se lewe in gevaar stel nie. Hulle verantwoordelikheidsbesef as rentmeesters van hulle én ander se liggaam, gawes en goed verhoed dat hulle nie hulleself of ander blootstel aan skadelike praktyke of risikos nie, verduidelik hy.
Die moontlikheid dat hulle gemanipuleer of hulle getuienis gekompromiteer kan word wanneer hulle onder die invloed van enige middel of substans is, laat vir Christene genoeg rooiligte aangaan om daarvoor nee te sê.
Prof Danie Veldsman, emeritusprofessor in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria, sê die feit dat die konstitusionele hof dagga gedekriminaliseer het, beteken nie dat die gebruik daarvan skielik veilig is nie. “Daar skort niks met ’n bul nie, en ook nie iets met ’n glaswinkel nie. Maar ’n bul in ’n glaswinkel is nie goed nie, en so is dit met dagga.
“Die gebruik van dagga is na my oordeel ’n slegte ding om te doen, dis ongesond en hou slegte risiko’s in. In ’n geloofskonteks moet mense aangemoedig word om dit nie te gebruik nie. Hulle moet opgelei word oor die skadelikheid en nagevolge daarvan.
“In ’n verhouding met God moet ons lewensfokus die goeie wees, dit wat iets van ons geestesgesondheid kan bewerkstellig. En ons moet wegbly van kortpaaie na goed wat vir ons skadelik is,” het Veldsman gesê.
Fanie Heyns is ’n vryskutjoernalis.
