Christen en gay … in die NG Kerk

In Bloemfontein het ds Mias van Jaarsveld afgekom op ’n veilige hawe waar mense Christen én gay kan wees. Hy vertel hoe hy dit beleef het.


Kort nadat ek Bloemfontein toe getrek het, het een van my vriende my uitgenooi na ’n selgroep waarheen hy gaan.

“Jy moet saamkom.  Jy sal dit geniet.”

Woensdagaand verdwaal ek tot by die NG Gemeente in Uitsig, ’n woonbuurt aan die ander kant van die stad. In die kerksaal is daar ’n klomp rusbanke in ’n kring gepak. Ek herken ds Hein Kotze van die vorige jaar se sinode. Op die banke sit ongeveer 20 men­se, elkeen met ’n koppie koffie in die hand, meeste met ’n Bybel op hul skoot. Die atmosfeer was nie swaar nie, maar ek kon sien dat almal mekaar nog nie ken nie.

Ons open met gebed, en toe begin Hein uit die Bybel lees en gesels oor hoe ons na die Bybel kyk. Party sit en luister aandagtig. Party maak notas. Party vra vrae en party gee antwoorde. Party het meer gepraat as ander. Party het doodstil gebly. Dis maar soos by eni­ge ander Bybelstudie. 

’n Banier voor in die kerkgebou wat sê hoe die NG gemeente Uitsig-Bloemfontein haarself posisioneer.

Ná die Bybelstudie, word die vloer oopgemaak vir gesprek. 

“Ek is kwaad vir die kerk.” 

“Dit is my kind – niemand het die reg om haar te ver­oordeel nie.” 

“Ek haat dit om gebrandmerk te word.” 

“Ek verstaan nie hoe mense so kortsigtig kan wees nie.”

“My oom dink dis aansteeklik.”

“Ek is lief vir die Here, maar júlle kerk sê Hy is nie lief vir my nie.”

Die mense in hierdie selgroep wissel tussen gay paartjies en gay enkellopendes, gays wat kerklos is en gays wat toegewyde Christene is, ouers van kinders wat gay is en mense wat hul kennis oor die onderwerp wil verbreed. Daar word nie propaganda gepreek, geheime vergaderings gehou, planne beraam om die gaydebat in hul guns te swaai, of namens die kerk gepraat nie. Dit is bloot net ’n veilige ruimte waar gays saam Bybelstudie kan doen, sonder die vrees van verwerping, verguising of vooroordeel. 

“Ons is nie ’n gay gemeente nie; ons is ’n vriendelike gemeente met oop arms en ’n oop hart – enigeen is hier welkom,” sê Hein.

Na die eerste geleentheid is ek genooi vir ete saam met ’n paar van die manne – iets wat later ’n ritueel sou word. Ek sit saam met hulle om die tafel en gesels oor wie waar vandaan kom, en wat elkeen doen. Voor ete het ons gebid. “Dankie liewe Jesus vir die kos, en dat U vir ons so goed en lief is …” Aan tafel vra een van die manne: “Sien ons jou volgende week weer, dominee? Of is jy bang vir ons?” 

Ek hét die volgende keer gegaan. En die keer daarna. En die keer daarna. By elke byeenkoms kon ek sien dat die groep nie net gemakliker met mekaar word nie, maar ook met hulleself. Uitsig-Bloemfontein se byeenkomste op Woensdagaande het ’n ruimte geword waar gay mense hulleself kon wees, en baie mense se opinie oor die kerk het hiér verander. 

Hiér is ons welkom. Hiér kan ons gay én Christen wees – nie óf-óf soos baie mense dink nie. Hiér vind heling plaas, want wanneer ons omgaan met God se Woord werk die Heilige Gees mos. Hiér kan ons die vrae vra waarmee die dominees ons nie wil help nie.

Ek laat sak my kop in skaamte toe daar gepraat word oor dit wat van preekstoele – met die kansel­kleed “So spreek die Here, Here” – verkondig word. Dit ontstel my toe ek hoor wat dominees (party wat ek goed ken) al vir hierdie groep gesê het. 2016 se besluit het ook ter sprake gekom, asook die argumente wat téén gays gebruik word. Hierdie mense se menswaardigheid is aangetas. Ek vra myself: “Hoekom het ek nie vroeër iets gesê nie?” 

By die laaste byeenkoms het Hein gepraat oor geloofsekerheid. Geloof in Jesus Christus word die maatstaf van ons saligheid. Ons lees die bekende woor­de uit Romeine: Niks kan ons skei van die liefde van Jesus nie. Daarna het ons saam Nagmaal gebruik. Na die instelling van die tekens, gebruik ’n groep mense – party vir die eerste keer in jare, party vir die eerste keer in hul lewe – die tekens van Jesus se liggaam en bloed wat alle mense saambind tot een, nuwe geloofsfamilie. 

Jesus se liggaam is vir jou gebreek. 

Jesus se bloed het vir jou gevloei. 

Dankbaarheid. 

Verligting. 

Tevredenheid.

’n Heilige oomblik waar die inklusiewe liefde van Jesus Christus tasbaar is. 

“Jesus het vir my óók gesterf!” 

Dit is moeilik om dieselfde te kyk na die gaydebat noudat ek deel geword het van ’n groep gay gelowiges wat weekliks saam gesels oor die Here, en die mooiste verhale vertel van hoe God in húlle lewe al gewerk het. In twee maande het ek te doen gekry met van die mooiste en mees toegewyde Christene in Bloemfontein. Christene wat gay is. Gays wat in die NG Kerk wil hoort. 

Na die tyd gesels ek met een van my nuwe gay vriende: “As kerk maar net só kon wees.” 

“Nee, Mias, kerk kán so wees. Kerk móét so wees.”

– Ds Mias van Jaarsveld is ’n tentmakerleraar by die NG gemeente Heuwelsig in Bloemfontein.