Lourens Bosman

Peiling: Hoe lyk die toekoms van die NG Kerk?

Ons is bemoedig deur terugvoer op laasweek se vraag wat gehandel het oor die eksterne uitdagings wat die NG Kerk moet hanteer.

Met die aanloop tot die Algemene Sinode van 6 tot 11 Oktober vanjaar wil ons graag jou stem hoor oor sake wat by die vergadering bespreek gaan word.

Hierdie week se vraag gaan oor uitdagings wat van binne die kerk self kom. Wat is die grootste interne uitdagings wat die kerk moet hanteer? Dink aan uitdagings wat gemeentes raak soos veroudering, finansies of relevante prediking. Op breë kerklike vlak is moontlike uitdagings die verskillende teologiese strome in die Kerk en hoe ons die Bybel verstaan, hofsake tussen lidmate en die sinode of die publieke beeld van die kerk.

Neem gerus deel by die peiling of kommentaarafdeling hieronder en hou kerkbode.co.za dop vir die volgende vrae wat ook hier gepubliseer sal word.

Vrouedag: ‘Televisie, selfone is deesdae kinderoppassers’

“Teesakkies weet nooit hoe sterk hul­le is voordat hulle in warm water beland nie.”

Judy van Rooyen, wat die verwelko­mings by die Vrouedaggeleentheid doen, haal Eleanor Rooseveldt onder groot gelag aan. Vrouedag word jaarliks deur Skuilkrans-gemeente in die ooste van Pretoria en Dameskring VisiePlus aangebied. Vanjaar op 17 Augustus 2019 is dit die 20ste bestaansjaar van hier­die geleentheid waar ongeveer 160 vroue uit Skuilkrans, Mamelodi en Eer­sterus, asook gaste uit ander gebiede, mekaar ontmoet.

Elmien Botha se tong-in-die-kies tema HOOP is nie ’n HOOP Tupperware deksels nie, spreek ’n ernstige on­der­werp aan. “Ons samelewing het on­ge­duldig met stadige mense geword,” sê Elmien. “Daar is min gevoel vir depressielyers, bejaardes en bedelaars. Die tegnologiese rewolusie het kinders se veerkragtigheid weggeneem. Televisie en die selfoon het oppassers geword terwyl ma kosmaak na werk.” Elmien vra of ons nie eerder na werk met ons kinders in die tuin behoort te speel en brood en koffie vir aandete behoort te eet nie?

“Ons ontneem ons kinders van hoop,” sê sy. “Dit doen ons met ons ne­gatiewe praatjies rondom die braai­vleisvure. Ons moedig ons kinders aan om elders werk te gaan soek omdat daar nie ’n toekoms in hierdie land is nie.”

Hoe moet ons dan optree? “Ons moet vir ons kinders hoop gee deur ons Christenskap uit te leef. Ons moet vir hulle die hoop van Romeine 5:3 gee,” sê Elmien. “… swaarkry kweek volhar­ding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie …”

Elmien vertel dat sy grootgeword het in ’n huis waar goeie waardes en Christenskap ononderhandelbaar was.

’n Middag vol verrassings word afge­sluit met ’n puik vertoning deur die Eer­sterus-Baldansgeselskap.

Hou dop en leer

Die Taakspan Jeug van die Wes-Kaapse Sinode het ’n hulpmiddel ontwikkel wat gemeentes kan gebruik om hulle plaaslike jong volwassenes beter te verstaan en beter te bedien, vertel MARILEEN STEYN.


Dié hulpmiddel kom in ’n tyd wat daar groeien­de kommer is oor die tempo waarteen jong vol­was­se­nes die NG Kerk verlaat. Gemeentes word genooi om deur middel van observasie en onderhoude die jong volwassenes beide binne en buite hulle gemeente beter te leer ken en verstaan.

Annalet Slazus

Ds Annelet Slazus, van NG gemeente Wellington-Oos, vertel: Toe ek gevra is om jong volwassenes in ’n sosiale ruimte (soos byvoorbeeld ’n koffiewinkel, gym of kroeg) dop te hou, was dit ’n geleentheid vol verras­sings. In Janua­rie 2019 het ’n groep belang­stellende pre­dikante by Com­mu­nitas in Stel­len­bosch saam­gekom om te kyk hoe hulle jong volwas­senes in hulle gemeenskappe kan bedien.

Deel hiervan was ’n opwindende opdrag om uit te gaan, ’n plek te soek waar jongmense bymekaarkom of uithang en tussen hulle middagete te eet. Tydens die ete moes ons die jong volwassenes observeer, en sekere vrae oor hulle beantwoord.

Een van die mees verrassende en verfrissende waar­nemings is egter reg deur die bank opgemerk: Die meeste jong volwassenes was baie sosiaal en dus ook baie min op hulle selfone of op sosiale media. Oor die algemeen was dit slegs diegene wat alleen was, wat op hulle fone was.

’n Eenvoudige oefening, soos die een waaraan ons deelgeneem het, het vir baie van ons hoop gegee deurdat ons die jong volwassenes nie net met nuwe oë kon sien nie, maar ook opnuut kon dink oor die geleent­hede wat ons het om hierdie jong volwassenes te bedien.

Marileen Steyn

Marileen Steyn, jeugwerker by NG gemeente Saldanha, vertel: Een van die verrassende (en tog nie so verrassende nie) ont­dekkings was hoe die verskillende groepe se waar­nemings van mekaar verskil het. Ons is dikwels geneig om van jong volwassenes as ’n homogene groep te praat wat almal dieselfde dink, doen en is. Maar in ons groep het ons beleef dat ’n mens daarteen moet waak om veralgemenings te maak.

Dit was ook die mening van ’n kelnerin in een van die restaurante aan twee van die predikante: Moenie jou aannames oor die jong werkendes in jou omge­wing net op een of twee ruimtes baseer nie. Wees se­ker dat jy op verskillen­de plek­ke, na ver­skillende groe­pe kyk.

Kyk na jong volwassenes in ’n plaaslike sosiale ruimte in jou gemeenskap bv ’n koffiewinkel of ’n gym.
  • Wie is in die ruimte? Hoe lyk hulle in terme van ouderdom, geslag, ras, beroep en kleredrag?
  • Hoe lyk die ruimte? Be­skryf die atmosfeer, spyskaart, kos, mu­siek en dekor.
  • Watter rol speel tegnologie in hulle samekoms?
Gaan gesels met ’n jong volwassene (wat nie in die kerk betrokke is nie) by hulle werk.
  • Vertel my van jou werk? Hoekom doen jy dit? Hoekom het jy dit gekies?
  • Vertel my van jou passie? Hoe sien jy jou passie? Waar het jy jou passie/roeping ontdek? Hoe en waar maak jy ’n verskil?
  • Hoe groei jy? Waarna kyk/luister jy om te kan groei? Wie gee vir jou advies of is ’n voorbeeld vir jou? Hoe maak jy besluite?
Eet saam met ’n groep jong volwassenes wat aktiewe lidmate is.
  • Wie is die jong volwassenes?
  • Waaroor praat hulle? Watter temas en stories kom na vore?
  • Hoe praat die jong volwassenes oor die kerk? Wat­ter temas is vir hulle belang­rik?
Drink ’n koffie saam met ’n jong volwas­sene wat in die gemeente is, maar nie ’n aktiewe lidmaat is nie.
  • In watter ruimtes voel jy veilig? Waar hang jy graag uit?
  • Hoe beleef jy God? Waar voel jy naby aan God? Watter rol speel die Bybel en/of gebed of ander gewoontes in jou lewe?
  • Wat dink jy oor die kerk?
Ons wonder …
  • Wat in hierdie proses het jou verras?
  • Watter aannames is bevestig?
  • Wat maak jou opgewonde en laat jou droom?

Stuur jou antwoorde na jeug@sun.ac.za

Salarisse: ‘Die bediening is ’n lewensoffer’

Dit lyk of die Bybel uiteenlopende standpunte oor predikante se vergoeding het. 1 Ti­moteus 5:17-18 stel dit onomwonde: “Die ouderling wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee, want die Skrif sê: ‘Jy mag nie ’n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie’. En ook: ‘Die arbeider is geregtig op sy loon’.” Paulus verduidelik in 1 Kor 9:14: “So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang”. Hy gebruik ook verskeie voorbeelde om sy punt te illustreer (1 Kor 9:7): “Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant ’n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie?”

Maar dan is daar ook ’n ander kant. In dieselfde 1 Korintiërs 9 skryf Paulus (v12b): “Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie.” In vers 18 voeg hy dan by: “Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kos­te­loos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.” In 2 Korintiërs 11:7 verklaar Paulus aan die Korintiërs: “Sonder vergoeding het ek die evangelie van God aan julle verkondig.”

Predikante se bediening is inder­daad ’n lewensoffer in diens van die versoe­ning van Jesus Christus. Filippense 2:5 roep predikante op om dieselfde gesindheid as Jesus te hê wat Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem. Vergoedingsbeginsels vir predikante behoort altyd benader te word van­uit die unieke aard van die posisie van die predikant, naamlik ’n geroepene wat in diens van Jesus Christus is. Die­nend – nie ter wille van vergoeding nie, maar dienend as slaaf wat geroep is om te doen wat hy/sy doen en dankbaar lewensbrood ontvang as beloning. Die predikant leef met die opdrag en belofte van Hebreêrs 13:5: “Hou julle lewe vry van geld­gierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’”

Lees ook: HOE MOET PREDIKANTE SE SALARISSE WERK?

Dit is nie gepas dat predikante aanspraak maak en allerlei eise stel oor vergoeding (of salarisskale) asof dit iets is wat hulle verdien nie. Die predikant, as geroepene in diens van Jesus Christus, behoort nooit gesien te word as iemand wat bloot werk om ’n salaris aan die einde van die maand te kry nie. Van­uit die predikant se roeping be­skou, word die arbeidsverhouding waarin die predikant staan dus eerstens gesien as ’n verantwoordelikheid teen­oor God, en dan sekondêr as ’n werkgewer / werknemer verhouding. Die feit dat sekulêre wetgewing bestaan om diens­ver­hou­dinge te reël, mag predikante nie verlei om dit as die basis van hulle verhou­ding met die kerk te beskou nie.

Oor die jare was daar dikwels op­roepe van predikante om vanuit ’n sentrale fonds vergoed te word. Die motivering is dikwels direk uit die Bybel: “Julle wat nou oorvloed het, (moet) dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig.” (2 Kor 8:14). Hierdie voorstel­le vir ’n sentrale fonds kan egter om verskeie redes nie slaag nie:

Die somme klop nie. ’n Haalbare mo­del kon oor al die jare nog nie voorgelê word nie. Wes-Kaap se sinode het pas (Mei 2019) weer so ’n voorstel ontvang, maar die uitnodiging om die somme te maak, het tot dusver op niks uitgeloop nie.

Met die verstaan van die presbite­riale kerkregeringstelsel van die NG Kerk dat die plaaslike gemeente ecclesia completa (volledig kerk) is, bepaal gemeentes self hulle diensverhouding met die predikant. In ’n episkopaalse kerkregeringstelsel (soos die Katolieke Kerk) kan elke detail vanuit ’n sentrale punt beheer word – ook wie wanneer en waarheen verplaas word.

Lewensonderhoud verskil van plek tot plek, van kultuur tot kultuur en gemeenskap tot gemeenskap. Die predikant behoort die konsekwensies te aanvaar soos dit vergestalt word in elke bedieningsomgewing (gemeente of streek).

Uiteraard is daar deernis met gemeentes en predikante wat swaarkry. Die ring en sinode behoort inderdaad in sulke omstandighede betrokke te raak en deur visitasie seker te maak dat Artikel 13 van die Kerkorde nagekom word: “Die gemeente in wie se diens ’n predikant staan, sien om na sy / haar geestelike, emosionele en fisieke behoeftes, is medeverantwoordelik vir sy/haar bedieningsontwikkeling en is verantwoordelik vir sy/haar lewensonderhoud soos ooreengekom.”

Ds Bossie Minnaar is die Saakgelastigde van die NG Kerk in SA (Wes-Kaapland).

Soms moet iemand jou hand vashou

“Ek kry die arme kind so jammer,” sê tannie Lien­tjie by ons Bybelstudiebyeenkoms. “Die hospitaal het haar met ’n hand vol pynpille en ’n voorskrif huis toe gestuur. Hulle kan niks meer vir haar doen nie.”

Die “arme kind” is ’n alleenmens, ’n jong vrou in haar middel dertigs. Haar naam is Lizaan. Sy bly in die losieshuis, langs tannie Lientjie. Sy is ’n enigste kind, albei haar ouers is vroeg oorlede. Sy het op ’n plaas bui­te Brits grootgeword en, soos dit maar by alleenkindertjies is, was sy gereeld in die veld doenig met haar eie verbeeldingspeletjies.

Sy het ure lank alleen in haar ka­mer gelê en lees. Haar ma kon nie voor­bly om storieboeke uit die dorp se biblioteek aan te dra nie.

Lizaan het in Hillbrow beland om­dat daar goedkoop verblyf is en omdat sy ’n werkie by ’n kroeg kon kry. Die salaris was nie te waffers nie, maar sy kon darem kop bo water hou.

Toe word sy siek. Eers was daar die nagsweet en die knaende moegheid. En die swelsel in haar nek. Die diagnose was uiteindelik kanker in haar limfkliere. Reeds ver gevorder én versprei. Sy kon nie meer werk nie. Haar werkgewer het haar gehelp om ’n ongeskiktheidstoelae te kry. Dit betaal darem die huur.

Die chemoterapie het nie juis gehelp nie. Daar was ’n operasietjie om ’n buisie aan te bring wat die vog in haar longe help dreineer.

Tannie Lientjie sê: “Elise, jy het mos ook kanker gehad. Wil jy haar nie kom moed inpraat nie?”
So gaan ek na Lizaan toe.

Die gemmerkat skuur vriendelik teen my been toe die deur vir my oop­gemaak word. Iewers uit ’n hoek kom die vrolike gefluit van ’n budjie. Die gordyne is diggetrek, die kamer is donker en koud.
Lizaan is steeds ’n alleenmens.

Op die tafeltjie langs haar bed sien ek ’n doktersvoorskrif vir ’n klómp medisyne.

Ek vra of ek die medisyne vir haar kan gaan haal.

Onverwags bars sy in trane uit. Ná ’n ruk kry sy dit uit: “Dis die lys goed wat die hospies gaan nodig hê om my hier te kom help om nie te veel pyn te hê wanneer dit … na die einde toe gaan nie.”

Ek weet van die groot werk wat die hospiesvrywilligers doen. Hoe hulle ook die morfien se dosisse kom aanpas. Soms hou hulle ’n hand vas.

Ek bel ’n LiG-leser vir wie ek ken. Haar man is ’n apteker. Ek vertel haar van die sterwende vrou in die koue, donker kamer. Die medikasie word feitlik onmiddellik afgelewer.

Lizaan wil niemand by haar hê nie. Net tannie Lientjie, en ek. Sy vra of tannie Lientjie asseblief ’n ekstra sleutel vir haar kamerdeur sal laat maak. Sy is bang sy sterf en niemand kan binnekom nie.

Soms het sy baie pyn. Die vog bou in haar longe op. Die morfien laat haar droom. Die einde is nie meer ver nie. Sy wil net haar gemmerkat en haar groen budjie by haar hê wan­neer sy sterf.

Tannie Lientjie moet vir haar uit haar gunstelingboek voorlees – Eleanor Oliphant is completely fine. Sy het die boek by haar werkgewer die kroegeienaar gekry. Hy het gesê: “The girl in this book is like you, very alone.”

Wil sy dan nie iets uit die Bybel hoor nie? Kan ons nie vir haar bid nie?

Nee, sê sy. “Nee, ek ken Jesus baie goed. Hy is my lewe lank reeds my enigste Vriend. Ek het niks meer om vir Hom te vra of te vertel nie. Hy ken my hart en my gedagtes. Ek is reg om na Hom toe te gaan.”

So kom slaap tannie Lientjie by haar. Sommer op die vloer, sommer op ’n dun matrassie. Soms hou sy Lizaan se hand vas. Soms vryf sy haar rug. Gereeld lees sy vir haar voor uit haar gunstelingboek.

Lizaan is completely fine.

▶ Elise Bosch is die stem vir weerlose mense wat in Hillbrow woon. Sy getuig gereeld van Jesus se wonderwerke in ­hierdie swaarkrymense se lewe.

  • Hierdie rubriek het oorspronklik in Kerkbode se susterpublikasie LiG se Julie 2019-uitgawe verskyn. Die September-uitgawe van LiG is nou op die rakke.

Hoe moet predikante se salarisse werk?

Cobus van Wyngaard van Sunnyside, Pretoria, skryf:

Ek was ’n finale jaar student toe ek die eerste keer afgevaardig word na ’n sinodesitting. Ek het maar net geluister. Die sinode moes onder andere ’n voorstel dat die salariskas gesentraliseer word oorweeg. Ek onthou van die argumente, hoe duidelik dit vir my was wat die regte pad sou wees, en my eie skok toe die sinode uiteindelik daarteen besluit.

Wat moet ons daarmee maak as twee gemeentes etlike kilometers van mekaar af bestaan, en die een ’n besluit kan neem om hulle predikante substansieel bo skaal te betaal, terwyl ’n ander hul predikant ver onder die skaal betaal? Wat sê dit oor ons kerkbegrip? Ons kan hoeveel mooi dokumente skryf oor die kerk, maar as iemand sou wou vra hoe ons in die NG Kerk oor “kerk” of “verband” dink, is dit werklik die dokumente wat die hardste praat? Of is dit die wyse waarop ons ons bronne met mekaar deel? Die wyse waarop ons bedieningsuitdagings saam in die oë kyk?

Hoe klink ons publieke stem in ’n wêreld van ekonomiese uitsluiting wanneer die inkomstevlakke van gemeentelede bepaal hoeveel tyd die plaaslike dominee tot haar of sy beskikking sal hê om voor te berei vir Sondag se preek, of selfs óf daar iemand sal wees om mense pastoraal te versorg? En dan het ons nog nie geraak aan die komplekse vraag of predikante in lae sosio-ekonomiese omgewings nie in werklikheid meer komplekse en drukkende werksomgewings het nie.

Natuurlik moet ons kerk wees in ryker omgewings ook. Maar as die konkrete realiteit van hoe poste en salarisse werk konstant kommunikeer dat die kerk se teenwoordigheid van groter belang is waar daar meer geld beskikbaar is, dan moet ons lank stilstaan by die vraag wat dit beteken om kerk te wees, of om ’n kerkverband te wees.


Moet die kerk herbesin oor predikante se salarisse soos 'n leser in 'n brief argumenteer?

Kyk na die uitslag

In gesprek met Jesus

Boomwortels in die hemel deur Pierre du Plessis
Uitgewer: Lux Verbi, 2019


Pierre du Plessis, 2018-wenner van die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir sy debuutwerk, Jesus ruik na mirre en stof, se nuutste pu­blikasie kom draai dinge onderstebo – oftewel, hy verken hoe Christus dit doen.

Deur die kontoerlyne van die ko­ninkryk van die hemel te verken in vars, toeganklike taal, wys die skrywer ons op Jesus se radikale gelykenisse en die implikasie daarvan vir ons verhou­dings. Die leser word uitgenooi om “wortels uit die keiser se ryk uit te trek en diep in die hemel in te grawe sodat die vrugte op die aarde maklik bereikbaar sal wees”. Die boek se oorsprong en gespreksgenote is “uit die rou materiaal van die lewe”.

Die drie afdelings, Ek en God, Ek en myself, en Ek en my dorp, ondersoek met egtheid vrae oor selfbeeld, gebed, roeping, geld, jammer-sê, en nog vele meer.

Boomwortels in die hemel is ’n po­ging om in gesprek te wees met die radikale boodskap van Jesus. Tog slaag dit daarin om nie te veel van die leser te verwag of te veronderstel nie. Alhoewel die boek in gesprek is met deurleefde ervarings, veral uit die skrywer se eie lewe, behou dit ’n inklusiwiteit deur die leser toe te laat om self die implikasies van God se nuwe wêreld uit te pluis in hulle eie lewe.

Gevolglik sal lesers self moet besluit tot watter mate die boodskap van hierdie boek hulle sal ontwortel binne hulle eie konteks. Daar wag beslis ’n verras­sing op beide lesers wat leef en glo met baie geloofsekerheid, én die wat vervreem of verveel is deur Jesus se boodskap oor die koninkryk van die hemel.

Ds Louis van der Riet is ’n predikant by NG Kerk Parke in Kraaifontein.

PEILING: Rol en roeping van die kerk?

Hoe lyk die toekoms van die NG Kerk? Jou opinie maak saak, skryf Lourens Bosman.

Die NG Kerk is by ’n kritieke draaipunt in sy lang geskiedenis. Die wêreld om ons en die kerk self is besig om diep veranderings te ondergaan en dit is nodig dat ons besluite sal neem wat gaan oor die koers en rigting van die NG Kerk.

Die volgende vergadering van die Algemene Sinode gaan nadink oor die rol en roeping van die kerk. Ons wil graag jou stem hieroor hoor. Die eerste vraag gaan oor die impak van veranderings in die samelewing op die NG Kerk. Watter veranderings in die samelewing stel die grootste uitdagings aan die kerk? Neem gerus deel by die peiling of kommentaarafdeling hieronder en hou www.kerkbode.co.za dop vir die volgende vrae wat ook hier gepubliseer sal word. – Dr Lourens Bosman, Algemene Bestuurder: Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk. 

Kersfonds: Dís hoe ons ’n verskil kan maak

‘Impak’ is die wagwoord.

Dis wat jy deesdae oor en oor in die gange van nierege­ringsorganisasies hoor wanneer daar oor fondswerwing ge­praat word. Hoe (be)wys jy aan mense dat jy hulle geld goed gebruik en dat dit inderdaad die tipe verskil in mense se lewe maak wat hulle in die eerste plek oortuig het om minder vir hulleself oor te hou.

My doelwit met vanjaar se Kersfonds is om seker te maak dat die geld waarmee lesers ons so getrou vertrou tot maksimum impak gebruik word. En dat ons ook weer dáárdie stories vertel.

Die geskiedenis van hierdie Kerkbode-inisiatief is dat geen administrasiefooie gehef word nie en dat die totale bedrag wat ingesamel word onder kin­derhuise van die NG Kerkfamilie gedeel word. Ons staan vas hierby en verskerp die fokus deur direk te skakel met instansies om hulle nood en hoop eerstehands te hoor. Deur te praat met mense soos Riana Furniss van Steinthal-kinderhuis bui­te Tulbagh in die Wes-Kaap, wat aan ons gesê het: “Die graad van gebrokenheid onder kinders het 100% toegeneem”. Dis mense soos Riana wie se hande ons wil sterk maak. En in hierdie ruimte sal ek – vir die oorblywende ses uitgawes van Kerkbode in 2019 – lesers vertel hoe die geldinsameling vorder.

Jeanne van Niekerk

As jy kinders se lewe wil aanraak, vra ons dat jy oorweeg om ’n bydrae tot hierdie fonds te maak. – Jeanne van Niekerk, Kersfondsbeampte.

Betalingsopsies

Opsie 1: Betaal asseblief die bedrag direk in ons bankre­ke­ning. Die Kersfonds se bankbesonderhede is: Rekening in naam van: Kerkbode-Kersfonds Bank: Absa Rekeningnommer: 044306417 Takkode: 632005

Opsie 2: Skakel vir Jeanne van Niekerk, tel 021 8648 252, verskaf u bankbesonderhede en sy sal die bedrag van u reke­ning verhaal.

‘Dán bly net afgewaterde Christelike sousie oor’

Stefaan de Jager van NG Gemeente Humansdorp-Oos skryf:

Die postmoderniste se uitgangspunt is dat daar geen absolute waarheid bestaan nie en so gesien kan die Bybel dus ook nie as absolute Woord van God verkondig word nie. Dit is dan ook nie meer moontlik om God se wil uit die Bybel te ken nie, aangesien die Bybel hoogstens die onsekere woorde van mense oor God is.

Al wat vir die postmoderne “teoloë” oorbly is ’n afgewaterde Christelike sousie wat oor die heidendom gegooi word om mense in hulle verlorenheid te laat goed voel. ’n Kollega uit Nederland verwoord dit treffend deur op te merk dat “daar géén ‘Boodskap’ oorbly behalwe ’n goedaardige oproep dat Jesus met sagte skaapogies almal oproep om lief en dierbaar te wees vir mekaar, want dit is wat God wil! ’n Humanisme word so nagestreef sonder spesifieke geestelike Christelike inhoud.”

Sola Scriptura, die Woord alleen, word vir ’n pot lensiesop van sola mensewoorde alleen verruil.

Amptelike nuus, 16 Augustus 2019

NG KERK

Beroep: Prop Arline Meyer na Pierre van Ryneveld; ds Pieter Retief van der Merwe na Olifantsfontein.

NOORD-KAAPLAND

RINGSVERGADERING

Die 60ste gewone vergadering van die Ring van Upington het op 6 Aug 2019 te Louisvale plaasgevind. (Ds Theunis E Smit, Ringskriba, 25.07.2019).

NOORDELIKE SINODE

RINGSVERGADERING

Hiermee kennisgewing van die 81ste vergadering van die Ring van Pietersburg/Polokwane wat plaasvind op 18 Aug 2019 te NG Pietersburg-Noord. (Ds JM Bezuidenhout, 25.07.2019).

OOSTELIKE SINODE

RINGSVERGADERING

Hiermee kennisgewing dat die ringsitting van die Ring van Silverpark plaasvind op 14 Aug 2019, vanaf 16:00 te NG gem Premiermyn, Cullinan. (Ds Chris Lötter, Ringskriba, 30.07.2019).

EMERITAAT

Ds Ulrich Konrad Trümpelmann emeriteer op 31 Aug 2019 by die NG gem Malelane. Sy afskeids­preek het plaasgevind op 9 Junie 2019. (A Steenkamp, Saakgelastigde, 05.08.2019).

Stuur Amptelike Nuus na Lida Viljoen by lida@tydskrifte.co.za

NG Kerk Ficksburg

Vakature: Leraar
Sluitingsdatum: 18 September 2019


Aansoeke word deur die NG gemeente Ficksburg ingewag vir ’n voltydse leraarspos.

Gemeenteprofiel:

Ons is ’n plattelandse gemeente in die Oos-Vrystaat met ongeveer 350 betrokke lidmate (belydend en doop). Ficksburg is ’n dinamiese gemeente wat teologies progressief dink.

Leraarsprofiel:

Die ideale leraar beskik oor die volgende kwaliteite:

  1. Goeie prediker.
  2. Vermoë om jong volwasse lidmate te mobiliseer.
  3. Sterk leierseienskappe aan die dag lê.
  4. Energiek en teologies progressief.
  5. Goeie verhoudings kan handhaaf en gemeenskapsbetrokkenheid uitleef.

Pligte: Soos onderhandel met die bestuurspan.

Vergoeding en Voordele:

Verkieslik tot vlak 5 van die huidige sinodale skaal onderhandelbaar. Subsidie met eie huisvesting.

Aansoeke:

Aansoekers word versoek om die bestuurspan van ’n elektroniese CV te voorsien (met twee verwysings) en dit te versend na n.g.kerk@telkomsa.net

Diensaanvaarding: So spoedig moontlik soos met bestuurspan onderhandel.

Sluitingsdatum: 18 September 2019.

Vir enige navrae kontak: Retha Geldenhuys, 051 933 4959. NG Kerk Ficksburg, Kerkkantoor. E-pos: n.g.kerk@telkomsa.net

NG Thaba Nchu-Tweespruit

Die kerkraad van Thaba Nchu-Tweespruit wag in afhanklikheid aansoeke in vir die onderstaande pos.

Vakature: Vastetermynpos – drie jaartermyn
Sluitingsdatum: 30 Augustus 2019.


Gemeenteprofiel:

Hierdie Oos-Vrystaatse plattelandse gemeente het 88 belydende en 28 dooplidmate. Die eredienste word weekliks roteer tussen Thaba Nchu en Tweespruit. Ons sien onsself as ’n geloofsfamilie wat geroep is om ’n verskil te maak in die multikulturele samelewing. Ons eredienste het ’n informele en vernuwende styl met ’n fokus op lofprysing en aanbidding. Onder leiding van die vorige leraar en met behulp van ’n jeugbedieningsgroep, het daar ’n mooi kinderbediening ontwikkel onder die breër gemeenskap. Ons sou wou sien dat hierdie bediening verder uitgebrei word. Gemeentelede bestaan uit boere, besigheidsgroepe en dorpenaars. Daar is ’n eweredige verspreiding wat ouderdom betref.

Leraarsprofiel:

  • Iemand met ’n lewende verhouding met God en wat geroepe voel vir die bediening hier in ons gemeente. Proponente, leraars sowel as emeriti is welkom om aansoek te doen.
  • Verhoudings is vir ons gemeente baie belangrik, daarom sal ons baie bly wees indien die leraar en sy/haar gesin dit sou oorweeg om op Tweespruit te kom vestig en deel van die gemeenskap te word. ’n Behuisingstoelaag sal beskikbaar wees.

Vergoeding en voordele:

  • Dit is nie ’n voltydse pos nie, daarom sal die vergoeding asook werksure onderhandel word.
  • Gemeentevoertuig is beskikbaar vir amptelike gebruik.
  • Behuisingstoelaag sal onderhandel word.

Aansoek:

Sluitingsdatum: 30 Augustus 2019.

Navrae:

Telefonies – Administratiewe beampte: J Claassen by 051 963 0441, kantoorure 8:00-15:00 of 082 311 8015 of dr Danie Kleynhans by 083 305 2058 (Konsulent).

Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.

NG Kerk Kanoneiland

Vakature: Leraarspos
Sluitingsdatum: 13 September 2019


Tentmakerleraar of vastetermynpos waarvan werksure en termyn onderhandelbaar is met die opsie om te verleng.

GEMEENTEPROFIEL:

Kanoneiland is ’n plattelandse gemeente langs die Oranjerivier geleë, ongeveer 30 km vanaf Upington in die Noord-Kaap. Die gemeente bestaan uit 230 belydende en 81 dooplidmate.

LERAARSPROFIEL:

  • Die posbeskrywing sluit die primêre funksies van ’n predikant in soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde.
  • Leersuiwerheid in alle fasette van gemeentewerk en persoonlike opbou van die gemeente.
  • Kontak deur middel van Bybelstudie, huisbesoek en pastorale besoek.
  • Troues en begrafnisse hanteer soos van tyd tot tyd benodig word.
  • Die applikant moet betrokke wees by gemeente-organisering en -funksies.

DIENSVOORWAARDES EN VERGOEDINGSPAKKET:

Vir Tentmaker – aantal werksure sal onderhandel word. Vergoeding op pro rata basis ooreenkomstig werkure gekoppel aan sinodale skale.
Vir vastetermyn – aantal werksure en salaris onderhandelbaar.
’n Ruim pastorie is beskikbaar.

AANSOEKE:

Stuur volledige CV met ’n onlangse foto, met minstens drie verwysings na die skriba, Annelene Goussard, NGKerkkanoneiland@vodamail.co.za

Sluitingsdatum: 13 September 2019.

NAVRAE:

Pieter du Plessis (Voorsitter van kerkbestuur) 082 557 9734.
Ds Renier Lourens (Konsulent) 071 591 7013.

Die kerkraad behou die reg voor om, sonder opgaaf van redes, geen aanstelling te maak uit die aansoeke ontvang nie.

NG Kerk Knysna

Vakature: Voltydse leraar
Sluitingsdatum: 30 September 2019


Hiermee maak die kerkraad van NG Kerk Knysna in vertroue op ons Here die vakature van voltydse leraar bekend.

GESKIEDENIS EN GRENSE: Ons gemeente is in 1851 van George afgestig om veral die boswerkers in die Knysnabosse beter te kon bedien. Sedertdien is twee dogtergemeentes van Knysna afgestig, naamlik McLachlan, nou Plettenbergbaai, in 1930 en Karatara in 1951. Die grense van die gemeente is tans van die monding van die Goukammarivier by Buffelsbaai al met die Homtinirivier tot by die kruin van die Outenikwaberge, dan oos­waarts tot ’n punt wat lynreg suidwaarts deur die Garden of Eden sny tot by die see.

ONS VISIE EN WAARDES: As God se huisgesin, stap ons in die voetspore van die Vader en bedien mekaar en ander met liefde. Die res van ons waardes kan by www.knysnakerk.com gelees word.

GETAL LIDMATE: Belydend 939; dooplidmate 215.

EREDIENSTE: Daar word tydens skoolkwartale twee oggenderedienste gehou. Die ­diens in die kerkgebou is tradisioneel en die diens daarna in die kerksaal (Kruiskerk) het ’n meer informele aanslag.

LERAARSPROFIEL:

  • Goeie verhoudings met alle generasies.
  • Aanpasbaar by die verskillende spiritualiteite in die gemeente.
  • Passievolle dissipelmaker wat die gemeente begelei om hulle geloof prakties binne, sowel as buite die gemeente uit te leef.
  • Hy/sy moet interkerklik (veral ook met VGK) kan saamwerk om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
  • Verkieslik binne die ouderdom van 36-45 jaar.

FOKUSAREAS VAN DIE POS:

Fokus op gesinsbediening, waarin jeugbediening gaan resorteer. Opleiding en toerusting van lidmate is ’n primêre verantwoordlikheid.

VERGOEDING: Volgens sinodale skaal en ’n pastorie word voorsien.

AANSOEKE:

Stuur asseblief ’n CV van nie meer as vier bladsye nie, insluitend drie referente en volledige kontakbesonderhede. Sluit by die CV ’n bladsy of twee in van hoe jy jou bediening sal inrig om die fokusareas in Knysna te bereik. Die kandidaat moet ’n gelegitimeerde predikant van die NG Kerk wees.

Rig die aansoek aan die voorsitter van die Pre-advieskommissie by: ngknysna@telkomsa.net
Kandidate kan gevra word om ’n onderhoudsgesprek met die Pre-advieskommissie te
hê, sowel as om ’n erediens in Knysna te kom lei.

Sluitingsdatum: 30 September 2019.

NAVRAE: Voorsitter van die Pre-advieskommissie: Alma Botha, almabotha10@gmail.com

DIENSAANVAARDING: 1 Januarie 2020.

STERK AANBEVELING: Meyers Briggs/Keirsey-profiel.

Die kerkraad behou hom die reg voor om geen aanstelling te maak nie.

Getuienis van ander se lewe

Heilige oomblikke. Dit lê aan die hart van menswees: die reeks onherroeplike gebeure en tydsgrepe in die verloop van elkeen se le­wenstorie. Die moment van belofte voor die kansel; die tyd in die hospitaal met ’n pasgebore baba; die ruk langs ’n siekbed; die tydstip waarin ’n laaste asem uitgeblaas word; en die tye van saamwees by ’n familie en gemeenskap wat van ’n geliefde afskeid neem. As predikante word ons dikwels in hierdie heilige oomblikke van vreugde, van ’n nuwe begin, van hartseer en van verlies – die mees intieme ruimtes van die lewe – ingenooi en toegelaat om getuies van God se teenwoordigheid te wees.

Die skielike en tragiese dood van die jong Matiestudent, Leandró Hopley, het weer hierdie voorreg van dominee-wees aan my duidelik gemaak. Ek het vir Lean­dró as graad 8 en 9 seun in Huis Hugenoot, die koshuis van Hugenote Hoërskool in Wellington, leer ken en as ek my oë vir ’n oomblik toemaak kan ek vir jong Leandró voor my sien staan: Hierdie on­deunde seun met ’n vonkel in die oog en ’n breë glimlag wat jou altyd met ’n grappie en ’n druk by die trappies van die kos­huis ingewag het. Hy was ’n seun wat uit sy pad gegaan het om met ’n borrelende vreugde vir ’n kamermaat, ’n klas­maat en ’n vriend wat swaarkry, lig te wees.

Maandagaand (30 Julie), vyf dae voor sy roudiens, kon ek saam met ’n klomp van Leandró se matriekklasmaats, on­der­wysers en vriende, die lewe van Leandró en die maniere waarop hy ons elk­een aangeraak het, tydens ’n liturgiese diens in herinnering roep en vier. In hierdie heilige ruimte waar almal se hartseer en trane nog vlak lê, kon ek hoor van Leandró-vreugde wat hy aan almal rondom hom uitgedra het. Hierdie vreugde waarvan hy oorgeborrel het, het elkeen in sy omtrek belangrik laat voel en wanneer hy jou êrens by die skool of kampus sou raakloop, het die blydskap waarmee hy jou ontvang het, jou laat voel asof jy presies die persoon was wat hy nou wou sien. In die woorde van een van sy vriendinne: “He made everybody feel like a somebody.”

Na afloop van die samekoms vertoef ek nog ’n paar minute in die stoelsirkel wat uitgepak is en word ek diep bewus daarvan dat die herinneringe wat in hier­die oomblik gedeel is die storie van Leandró en wat hy vir ons elkeen bete­ken het, lewend hou. Dit is ’n storie wat ons daaraan herinner dat die lewe nie net uit grootse gebeurtenisse be­staan nie, maar dat daar in elke moment van saamwees iets van die Ewigheid kan deurskemer; dat elke oomblik inder­daad heilig is. Soos CS Lewis skryf: “For the Present is the point at which time touches eternity.”

Ds Angelique Havenga is jeugleraar by die Moedergemeente Stellenbosch.