Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Met biddende afhanklikheid nooi die kerkraad van NG Gemeente Boshof alle gelegitimeerde proponente, predikante en emeritusleraars uit om aansoek te doen vir die onderstaande pos.
Vakature: Voltydse leraar vir ’n vaste termyn (drie jaar)
Sluitingsdatum: 30 Junie 2026.
Dienstermyn: Vaste termyn (drie jaar).
Gemeenteprofiel: Boshof-gemeente is ’n hegte plattelandse gemeente wat in 1856 gestig is. Die dorp is geleë in die Wes-Vrystaat; 55 km van Kimberley en 120 km van Bloemfontein. Boshof is ’n diverse, maar sterk landbougerigte gemeenskap. Volgens die databasis van die gemeente is daar tans 533 lidmate – waarvan 38,5% bo die ouderdom van 60 is, 17,7% tussen die ouderdom van 46-59, 24,2% tussen die ouderdom van 19-45 en 19,5% tussen die ouderdom van 0-18 versprei oor sewe plaaswyke en sewe dorpsgroepe met een leraarspos. Huis Goedversorg, sentrum vir bejaardes, se inwoners skakel ook as lidmate in by die gemeente. Alhoewel die gemeente hoofsaaklik uit ouer persone bestaan, raak jonger gesinne toenemend deel van die gemeente.
Leraarsprofiel: Die kerkraad is op soek na iemand, lojaal teenoor die NG Kerk en kerkverband, wat met energie en entoesiasme die gemeente kan opbou deur persoonlike kontak met lidmate en die breër gemeenskap. Die persoon moet aanpasbaar wees op die platteland en moet kan inskakel by alle ouderdomsgroepe. Hy/sy moet kan saamwerk in groepsverband, maar ook outonoom kan funksioneer. Evangelisasie en pastorale versorging moet voorrang geniet. Innoverende maar Woordgetroue prediking is vir die gemeente baie belangrik. Ervaring of opleiding in berading sal voordelig wees.
Pligte: Soos omskrywe in Artikel 9 van die Kerkorde.
Vergoeding:
Beginskaal volgens sinodale riglyne. ’n Ruim pastorie word voorsien, tuin en onderhoud ingesluit.
Aansoek/navrae:
Volledige CV, minstens vier verwysings en kontaknommers.
Voltooide vraelys (beskikbaar by die kerkkantoor). Vraelys kan aangevra en aansoeke ingedien word by ngkerkboshof@gmail.com of op 064 690 1618.
Kerkkantoor: Mary van Rensburg – 064 690 1618.
Beroepingskommissie se voorsitter: Ds Lindo Pieters – 067 530 6738.
Leierouderling: Andrie de Kock – 082 345 8990.
Diensaanvaarding: So gou as moontlik.
