Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NG Kerk

Johan van der Merwe | Nagedink oor 16 Junie: Dit was nie vergeefs nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

16 Junie behoort ’n rooiletterdag vir almal in Suid-Afrika te wees. Twee redes maak dit een van die belangrikste onthoudae in die geskiedenis. Die eerste, meer bekende rede, is die gebeure wat op 16 Junie 1976 in Soweto plaasgevind het. Tydens ’n jeugoptog teen die verpligte leer van Afrikaans in skole was die 12 jarige Hector Pieterson een van die eerste slagoffers. ’n Foto waar Pieterson deur Mbuyisa Makhubo gedra word het wêreldwyd opslae gemaak. Skielik was die Nasionale Party se beleid van apartheid groter onder die vergrootglas.

Die NG Kerk wat dié beleid ondersteun het, is ook nie gespaar nie. Wanneer ’n mens na vyftig jaar terugkyk was dit ongetwyfeld ’n katalisator in die stryd teen apartheid in Suid-Afrika.

Daar is egter ’n tweede, minder bekende rede waarom 16 Junie belangrik is. Tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog, het Lord Roberts op 16 Junie 1900 proklamasie 5 onderteken. Dit het die verskroeideaardebeleid wat deur die Britse magte uitgevoer is, afgeskop. Plaashuise is afgebrand en vrouens, kinders en plaaswerkers is na konsentasiekampe gestuur.

Ongeveer 48 000 mense, van wie die meeste vroue en kinders was, is in die konsentasiekampe dood. Meer as 230 plaashuise is net in November 1900 afgebrand. Teen 1902 was daar 150 000 vroue en kinders in die kampe en is daar volgens Britse statistiek bykans 30 000 plaashuise verwoes. Die verskroeideaardebeleid was die vernaamste rede waarom die boeremagte in 1902 oorgegee het. In die woorde van generaal Koos de la Rey: “Daar word gesê dat ons tot die bitter einde moet veg. Hou in gedate dat alles – vee, goedere, geld, vrou en kind opgeoffer is. Daar is mans en vrouens wat niks meer as blote vel oor hulle liggaam dra nie. Is dit nie die bitter einde nie?”

Wat sou hierdie gebeure vir die NG Kerk in 2026 in ’n verflenterde Suid-Afrika beteken? Miskien herinner 16 Junie die kerk opnuut aan haar openbare getuienis, aan haar roeping om hard en duidelik te praat wanneer dinge verkeerd loop in die samelewing – en miskien, meer belangrik, daag herinneringe aan die gebeure op die dag in 1900 en in 1976, die kerk uit om nie net te praat nie, maar ook te doen. Dit is die roeping van elke lidmaat van die NG Kerk in die werkplek, van elke gemeente op die dorp en in die voorstad, van elke sinode in die provinsies van ons land en van die Algemene Sinode om onreg aan te spreek, uit te wys, maar bo alles, om van hierdie land ’n beter plek te maak.

Die agenda van die afgelope Sinode van die Vrystaat, vertel die verhaal van ’n kerk wat hierdie roeping raakgesien het. As die hele NG Kerk op hierdie koers kan voortgaan, lei dit dalk tot die hergeboorte van die reënboognasie! Dan was 16 Junie nie tevergeefs nie.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Johan van der Merwe | Nagedink oor 16 Junie: Dit was nie vergeefs nie”

  1. Johannes Mouton

    Vir die eerste keer in 126 jaar hoor ons skielik dat 16 Junie gekoppel word aan die konsentrasiekampe. Waar kom dit nou skielik vandaan? Wat is die doel daaragter? Het dit dalk te doen met die neo-Afrikaner nasionalisme waarvan ons deesdae nogal baie hoor? Om dit te koppel aan 16 Junie 1976 is om die pyn van ons mede landgenote te ontken. Trouens, dit voel soos ‘n kaping van mense se seer. Ek sal heeltemal verstaan as swart Suid-Afrikaners ongemaklik, selfs kwaad is daaroor. En dit behoort veral nie deur ons kerk gelegitimeer te word nie. Dis net nie reg nie.

Comments are closed.

Scroll to Top