Plastiekbesoedeling is een van die fokuspunte van die ekologietaakspan se werk. En daar is lank nagedink oor hoe die taakspan vir gemeentes kan help in hulle eie kontekste, berig Fay van Eeden uit KwaZulu-Natal.
Die noordkus van Natal het omtrent afge-show. Dit was ’n pragtige sonskyndag toe ons by ons blyplek in Ballito stop. Dit was my eerste in-persoon ekologietaakspanvergadering en ek het gewonder wat om te verwag.
Die taakspan bestaan uit agt predikante wat die verskillende sinodale streke verteenwoordig, asook ’n paar lede wat vir spesifieke sake op die span dien. Die taakspan se werksaamhede vloei uit ’n opdrag van die Algemene Sinode se sitting in 2023, naamlik dat ’n permanente taakspan vir ekologie aangewys word met die taak om ’n teologiese raamwerk rondom ekologie op te stel wat gemeentes kan help om binne hulle spesifieke konteks teologies verantwoordelik met die omgewing om te gaan.
Dr Barry Tolmay, sameroeper van die taakspan, het nie gras onder sy voete laat groei nie en ons het dadelik begin. Na die deel van ons roepingsverhale as kenmekaar, fasiliteer Ou-Testamentikus prof Willie van Heerden van Noordelike sinode ’n eerste sessie waarin daar verder gesels en nagedink word oor die teologiese raamwerk wat as fondament vir die res van die vergadering se nadenke dien. Met ons teologiese raamwerk in gedagte het Johan West, Wes-Kaap se verteenwoordiger, ons gehelp om na te dink oor die belang van water en gelowiges se roeping om water te bewaar.

Die taakspan is opgewonde oor die praktiese moontlikheid wat by die volgende sitting van die Algemene Sinode sal dien. Naas water- is plastiekbesoedeling ’n ander fokuspunt van die taakspan se werk. Daar is ook lank nagedink oor hoe die taakspan vir gemeentes kan help om na te dink oor plastiekbesoedeling in hulle eie kontekste.
Die agenda het darem ook tyd gemaak vir meer as teorie. Ons het ’n herwinningsprojek by een van Durban se riviermonde besoek en ’n lesing deur ’n omgewingskundige oor die gesondheid van riviere in die Kloofarea bygewoon. Die hoogtepunt was ’n oopsee-snorkelsessie. Die oopsee-avontuur het nie net gesorg vir besondere dolfynbesigtiging nie, maar ook vir ’n hele klomp groen-teoloë (in die letterlike sin van die woord).

Terug van ons avontuur sluit Francesca de Gasparis, uitvoerende direkteur van SAFCEI by ons aan. Francesca deel met ons die belangrike werk wat SAFCEI (Southern African Faith Communities’ Environment Institute) doen. SAFCEI is ’n multi-geloof omgewingsgeregtigheidsorganisasie wat godsdienstige leiers en gemeenskappe regoor Afrika bemagtig om aksie te neem oor klimaat-, voedsel- en dieregeregtigheid. Hulle werk vir etiese, gemeenskapsgeleide klimaatoplossings – soos hernubare energie en agro-ekologie – terwyl hulle ekologies skadelike projekte soos kern- en fossielbrandstowwe teenstaan.
Ds Fay van Eeden is predikant by NG Stellastraat en ’n eko-blogger.
