Dié advertensie verteenwoordig die standpunte van die adverteerder en nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Vastetermyn voltydse kontrak (drie jaar)
Sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Julie 2026.
In biddende afhanklikheid van die Here stel die kerkraad van NG Gemeente Paardekraal-Monument in Krugersdorp (Wesrand) bogenoemde vakature bekend en nooi gelegitimeerde leraars van die NG Kerk uit om vir die pos aansoek te doen.
Die kerkraad skep hiermee, in ooreenstemming met Reglement 16 van die Kerkorde van die NG Kerk, ’n voltydse vastetermynpos vir ’n tydperk van drie (3) jaar.
Ons is op soek na ’n leraar met ’n pastorale hart en gevestigde bedieningservaring wat saam met ons:
- na God wil luister;
- geestelike onderskeiding wil beoefen;
- in geloof wil groei;
- mense wil toerus vir dienswerk;
- en ’n missionale leefwyse wil uitleef.
Gemeenteprofiel
NG Gemeente Paardekraal-Monument is ’n tradisionele, toegewyde NG gemeente wat lief is vir die Here. Ons groei in geloof deur die Here se leiding en glo dat ons uit die ervaringe op ons pad kan leer. Ons bly nederig om by God en mekaar te leer, in liefde te groei en mekaar op te bou in ons geloofsreis sodat die wêreld Christus deur ons kan leer ken. Verdere geloofsgroei word gestimuleer deur die uitbreiding van kleingroepe en Bybelstudiegroepe.
Prediking moet God se Woord vir mense toeganklik maak en daarom Skrifgetrou, deurleef, toepaslik en aktueel wees om by te dra tot geloofsvorming en -verdieping. Gepaste musiekbediening as deel van lofprysing is vir ons belangrik. Ons begeleiding wissel van tradisionele orrelspel tot Clavinova en kitaar.
’n Groot aantal van ons lidmate is ouer en het behoefte aan pastorale bediening en persoonlike kontak. Die leierskap is jonk, passievol en dinamies.
Gemeentebetrokkenheid vind plaas deur vrouediensaksies, Bybelstudie en barmhartigheidsprojekte.
Ons missionale hartklop vind praktiese neerslag in die voorsiening van weeklikse maaltye aan inwoners van Appelpark, die maandelikse verskaffing van toiletware aan Tower of Life-manskuiling en Luipaardsvlei Tehuis vir Bejaardes, asook die ondersteuning van die kinders van Bethany House deur onder andere fondsinsamelingsprojekte.
Ons is ’n sosiale gemeente wat graag saam kuier, soos gesien in die entoesiastiese bywoning van ons sop-en-sjerrie-aande, pretaande, basaar, opelug nagmaal en saamkuier oor ’n koppie tee na die diens.
Bedieningsfokus van die vastetermynpos
Die fokus van die vastetermynpos is:
- Skrifgetroue Woordbediening;
- pastorale versorging en teenwoordigheid;
- geloofsvorming en dissipelskap;
- ontwikkeling van kleingroepe en gemeentebou;
- toerusting van gelowiges vir dienswerk;
- en verdieping van die gemeente se missionale betrokkenheid.
Leraarsprofiel
Ons soek ’n leraar wat:
- ’n opregte, lewende en persoonlike verhouding met die drie-enige God het wat sigbaar word in Woordbediening, pastorale sorg en die toerusting van gelowiges vir hulle dienswerk in die wêreld;
- gemaklik in spanverband saamwerk met die kerkraad en bestaande gemeentebedieninge;
- inisiatief neem om nuwe bedieningsgeleenthede te ontwikkel en voortbou op die bestaande karakter van die gemeente;
- alle pligte soos uiteengesit in Artikel 9 van die Kerkorde sal nakom.
Ervaring as enkelleraar in ’n gemeente sal tot aanbeveling strek.
Algemene inligting
Vergoeding: Tot en met kerfvlak ses (ATP-riglyne) – onderhandelbaar volgens sinodale riglyne. Pastorie: Beskikbaar.
Gelegitimeerde leraars word genooi om aansoek te doen. Alle aansoeke sal nagegaan word om te verseker dat aan die vereistes van die Kerkorde voldoen word.
Vra asseblief ’n aansoekvorm aan by die voorsitter van die pre-advies kommissie, Cornell Solomon (cornellsolomon2@gmail.com) en stuur die voltooide vorm saam met ’n verkorte CV (maksimum drie bladsye) na dieselfde eposadres.
Navrae
Voorsitter van die pre-advieskommissie Cornell Solomon 083 388 3999.
Voorsitter van die kerkraad Janus de Jager 082 855 9908.
POPIA-verklaring
Deur vir hierdie pos aansoek te doen en jou CV saam met die aansoekvorm in te dien, bevestig jy dat jy jou persoonlike inligting vrywillig verskaf het en dat die inligting volledig en akkuraat is.
Die Pre-Advieskommissie van NG Gemeente Paardekraal-Monument onderneem om, in ooreenstemming met die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting, 4 van 2013 (POPIA), hierdie inligting slegs te gebruik met die oog op die aanstelling van ’n leraar in die gemeente. Die inligting sal nie aan enige derde partye bekend gemaak word nie.
Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
