Tussenin my Facebook-nuusvoer verskyn daar skielik advertensies vir nuwe Bybelmateriaal. ’n Sekere “ds Joubert” vertel ’n hartroerende verhaal oor hoe kinders in die kerk nie werklik die Bybel ken nie en ook nie sinvolle antwoorde oor hulle geloof kan gee nie. Die antwoord lê in ’n produk wat jou kind sal help om op ’n visuele manier werklik die Bybel te verstaan. As jy op die skakel klik neem dit jou na ’n ander platform waar jy moet betaal. Mense lewer oor-en-weer kommentaar en deel die nuwe produk.
LEES OOK | Zander van der Westhuizen: Toe begin die Camino my vang …
’n Paar dae later stuur Stephan Joubert vir my ’n boodskap. Hy kom op plekke waar mense reeds begin het om geld te spandeer op dié nuwe materiaal. Maar wie is dié “ds Joubert”? Dit lyk verdag. Ons sal plan moet maak.
Sedertdien is die aap uit die mou. “Ds Joubert” is vals. Die identiteit – wat nou onder verskeie ander profiele en name bly opduik – is doelbewus geskep. Die teks is KI-gegenereerde langvorm-“authority persuasion”, gebou op emosionele retoriek wat mense maklik raak en oortuig. Die webtuiste (soos kollega DJ Muller tereg uitwys) is ’n “white-label”-blad, en selfs baie van die kommentaar is kunsmatig geskep om gesprek te simuleer en geloofwaardigheid te bou.
LEES OOK | Zander van der Westhuizen: Om nee te sê vir lui wysheid en Christen-clichés
Valse profiele, algoritmes en die invloed van tegnologie is nie meer iets wat net in Engels en oorsee gebeur nie. Iemand buit nou selfs die Afrikaanse Christelike mark met KI-gedrewe sosiale media uit. En dit is duidelik: almal wat op “die kerk het nie my kind die Bybel korrek geleer nie”-wa wil spring, het vir dié storie geval.
Met dié wete dat die wêreld op ons voorstoep is, luister ek onlangs na die podsending “The Diary of a CEO”, waarin Steven Bartlett in ’n episode met Ian Bremmer gesels – die politieke wetenskaplike wat bekend is vir sy ontleding van geopolitiek en wêreldrisiko’s.
LEES OOK: Zander van der Westhuizen: Oor die profesie van pizzaverkope
In die onderhoud sê Bremmer: “I worry the most about people getting programmed. I’m not worried about artificial general intelligence; I’m worried about human beings becoming more computer-like.”
Wat hy verder verduidelik is dat mense al hoe meer op hulle fone en rekenaars leef – en dat dié toestelle ons waarskynlik meer vorm as wat ons dit vorm. Tegnologie moet die mens help. Ons moet dit beïnvloed en beheer. Nie anders om nie.
LEES OOK: Zander van der Westhuizen: Gelykenis van die prater en die grassnyer
Om ’n gesprek met iemand te voer, bly die mees menslike ding. Wanneer iemand voor jou sit en julle mekaar in die oë kyk, gebeur daar iets eg. Maar sodra daardie gesprek deur platforms en algoritmes begin loop, begin dit iets van sy menslikheid verloor.
Bartlett sê dit is juis hoekom gesprekke met werklike mense – in persoon – vandag só belangrik is. Al verskil hy dikwels van die mense wat voor hom sit, bly daar altyd iets van die persoon wat hy kan waardeer en probeer verstaan – selfs wanneer hulle perspektiewe wyd uiteenloop.
Dít gebeur nie in die kommentaar onder sosialemediaplasings nie. Ons het interaksies via platforms – aan die anderkant van algoritmes. Ons vorm menings oor mense sonder om hulle te ken of te sien. Ons baseer maklik wat ons glo op wat ons dink “die waarheid” is – sonder om dit direk te hoor by ’n mens wat voor jou sit.
Ons onderskat die waarde van menslikheid. Ons besef nie hoe egtheid, outentieke eerlikheid en selfs ons swakhede – wat deur ons foute deurskemer – vandag ons bate is nie. In ’n wêreld waarin jy selfs vir intelligensie begin betaal – waar lande reeds handel dryf in kunsmatige intelligensie – is menslikheid van onskatbare waarde.
LEES OOK | Zander van der Westhuizen: Ons móét kan speel en verbeel
Is dit nie die hart van ons teologie nie? God het tog mens geword. Menslikheid is deur God omhels. Jesus se bediening verander mense want Hy kyk hulle gebrokenheid in die oë en ontmoet hulle daar waar hulle leef.
Hou vas aan jou menslikheid. Jy het dit meer nodig as wat jy dink.
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

Dankie Zander. Ek vra weer, “Waar is die kuns in kunsmatige intelligensie?” Dit raak al hoe moeiliker om die waarheid raak te sien. “AI” raak al hoe beter. Ons moet ons gawe van onderskeiding ontwikkel. (Spreuke 2:6, 3:5-6, Efesiërs 4:11-32 ens)