Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Tussenin die e-posse, WhatsApps en oproepe ontsnap ek vir ’n oomblik in my eie gedagtes. Ek onthou hoe ek as kind vir ure op die enkeltou-plankie sou swaai wat met ’n stewige knoop aan die groot bloekomboom voor ons huis vas was. Die momentum van die swaai, die aanhoudende skop teen die stam en die in-die-rondte-draai was voedsel vir my verbeelding.
LEES OOK | Tussenin: Zander van der Westhuizen oor ‘Let them’ en ‘Let me’
In my kop het ek planne gemaak, myself ingeleef in verskillende scenario’s en myself verbeel hoe die dae sou uitspeel. Nuwe idees. Nuwe lokvalle in die koppies agter ons huis vir potensiële vyande. Nuwe boomhuis-uitbreidings en ander maniere om die ritslyn te verbeter.
Verbeelding is krities vir baie aspekte van jou lewe – iets wat jou onderskei van die gewone.
Die nuwe animasiefilm David is ’n meesterstuk gebore uit ons eie bodem. Ek reël ’n onderhoud op lug met Brent Dawes (mederegisseur en skrywer) om oor die film se sukses te gesels.
LEES OOK | Zander van der Westhuizen oor die krag van oomblikke van konneksie
Onderhoude kan soms werk van ’n omroeper vra. Sommige gespreksgenote reageer maar beperkend en dan is dit werk om die onderhoud sinvol en aan die gang te hou. En dan kry jy soms daai juweel. Jy gesels met iemand wat natuurlik die gesprek aan die gang kan hou en wat dit vul met sinvolle inhoud, want hulle weet waarvan hulle praat.
Brent Dawes was so ’n gespreksgenoot.
Hy vertel hoe Phil Cunningham (mederegisseur en skrywer) in Zimbabwe grootgeword het. Hy het die Here leer ken op die Zambezirivier. Hier in die skepping het hy die Skepper ontdek. As kind het hy al in die krag van stories begin glo. Hy kon droom oor moontlikhede om stories te vertel. Hy kon sien hoe verhale, soos dié van Dawid, mense inspireer as dit visueel vertel word.
Verbeelding.
Baie jare later het hy ’n animasie-ateljee in Kaapstad begin. En na jare se werk aan hierdie verbeeldingryke visie om die verhaal van Dawid te vertel, het die film uiteindelik die lig gesien. Dit is geskep deur honderde kunstenaars uit verskeie lande.
Brent vertel hoe mense van ateljees soos Dreamworks hulle genader het om deel van die projek te wees. Soos wat mense begin sien het dié film is nie die gewone “lae-begroting” geloofsgebaseerde projek nie, maar iets wat bedoel is om te kompeteer met ander animasiefilms in die mark, het al hoe meer kom aanklop om te help.
Die wêreldbekende gospelsanger Phil Wickham en selfs die Grammywenner Lauren Daigle het deel van die span geword.
’n Zambezi-rivier-droom het verander in ’n internasionale sukses wat die verhaal van die Bybelse Dawid vir ’n hele nuwe generasie hervertel het.
Dit is die krag van verbeelding.
Die e-posse hoop weer op en my Google-kalender raak voller. Ek staar na die skerm voor my en wonder hoeveel van dit wat ons in die kerk doen, verg nog verbeelding. Ek sien soveel gemeentes en predikante wat nie meer verbeelding het nie.
Alle navorsing wys dat verbeelding een van die belangrikste aspekte van leierskap is. Trouens, leierskap sonder die vermoë om te droom en verbeeldingryk te inspireer is myns insiens nie ware leierskap nie. Kan ek waag – om te preek sonder die verbeeldingryke hervertel van ’n Bybelse narratief – is nie vandag meer inspirerende prediking nie.
Ons as predikante moet by uitstek verbeeldings kan aangryp, gemeentes kan lei en stories kan vertel.
Dalk moet ons minder e-posse lees en vir skerms staar. Dalk moet ons meer swaai in die bloekomboom, droom oor nuwe stories en groter planne maak.
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.
