Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tussenin: Zander van der Westhuizen oor ‘Let them’ en ‘Let me’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Die pad kruin gereeld voor my. Die vaste lyn is duidelik en dit is weens verskeie redes nie ’n goeie plek om verby te steek nie. Die dubbelwatrok maak stadig sy verskyning op die horison van die warm Karoo. Die pad is in albei rigtings besig. Almal wil by die see uitkom of hulle vrag in die noorde kry.

LEES OOK: Tussenin: Zander van der Westhuizen oor die krag van oomblikke van konneksie

Agter die dubbelwatrok is ’n string karre. Jy kry die versigtige bestuurder wat eerder sal wag tot die pad ’n dubbelbaan word. Dan kry jy die bestuurder wat mooi beplan om op die oopste stuk pad verby te steek. Sommiges gee nie eintlik om om agter die trok vas te sit nie – hulle kuier te lekker. En dan … Dan is daardie daai ou. Die een met die vinnige motor, die splinternuwe Toyota of die superaangejaagde enjin. Hy sal die vragmotor verbysteek op die kruin van die pad. Hy steur hom nie aan die vastelyn of aan my wat van die teenoorgestelde rigting op pad is nie.

LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen oor die vreemde vrede van nie te weet nie

Ek sien hom aankom en verminder my spoed. Ek wys ligte soos hy my net-net mis – hoogs de hel in vir sy ego. Hy antwoord met ’n middelvinger by sy venster uit.

Die gesin slaap. Ek moet wakker bly. Die voertuie bly van voor af aankom. Tussenin vind ek dit sinvol om ’n potgooi te luister. Almal praat oor die nuwe boek Let them. Ek sien dit in die boekwinkels en kry nie tyd om dit te lees nie. Gelukkig is daar ’n paar episodes wat die boek vir jou opsom beskikbaar.

LEES OOK: Badisa in rou na kollega saam met haar kinders in botsing sterf

Die beginsel van die boek is sekerlik goed: “Laat hulle toe om te doen en te wees wat hulle wil”. Moenie dat ander mense jou beïnvloed nie. As hulle wil kwaad wees vir jou – laat hulle kwaad wees. As hulle jou nie uitnooi na ’n naweek weg nie – laat dit so wees. Moenie vashaak in die spiraal van jaloesie, oorweldigende negatiewe denke en aanhoudende vergelyking met ander nie.

Ek kan aan verskeie situasies van die afgelope tyd dink wat my só laat vashaak het. Ek sukkel dikwels om dit te laat gaan.

Die ander kant van die muntstuk word ook bespreek: “Let me”. Hierdie beginsel plaas die klem op jou behoeftes. Jy moet gelukkig wees. Jy moet niks doen om ander te beïndruk nie. Jy moet net dit doen wat jy wil. Hou op om goed vir ander te doen net omrede jy wil hê hulle moet van jou hou. Doen net goed wat jou gelukkig maak.

Die woord “ek” word orals in die boek se beginsels gebruik en nog ’n ou in ’n nuwe Ford mis my net-net van voor af.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Sanré Benadé, die dominee wat groot dinge met min regkry

Die pad is lank en my gedagtes dwaal. Ek onthou hoe ek jare terug vir ’n geestelike begeleidingsessie by Mary Fischer instap. Ek vertel haar hoe ongelukkig ek voel en hoe ek wens ek kan meer gelukkig wees. Na my baie lang monoloog en haar geduldige luister antwoord sy met ’n paar woorde wat ek nie hier volledig kan beskryf nie. Ek kan dit wel opsom met: “What is happiness anyway? Just do what the Lord called you to do and that should be enough for you”.

Ons lewe in ’n wêreld waarin die klem al hoe meer op die “ek” geplaas word. Aan albei kante van debatte gaan dit oor ego’s. Jy sien dit in die groeiende polarisasie van ons tyd. Jy sien dit in die “woke”-kultuur oorsee. (Waarvan ons in Suid-Afrika eintlik nog nie naastenby ’n idee het nie – al gooi konserwatiewes, wat nie onlangs oorsee gereis het nie, die woord so maklik rond.)

Die padstal aan my linkerkant lyk aantreklik, maar daar is te min parkeerplek. Ek ry verby en dink aan Jesus. In sy wêreld was daar nie voertuie, hoofweë en roekelose bestuurders nie. Daar was sinagoges, geleerdes, ’n markplein en selfs dissipels vol van ego’s. Jesus het geantwoord met liefde.

Nog ’n kruin is op die horison. Nog ’n vragmotor begin stadig maar seker duidelik word. Nog ’n ou met ‘n ego is in my baan.


Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top