Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sanré Benadé is die enigste dominee by Kandelaar-studentegemeente in Potchefstroom. Foto's: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Sanré Benadé, die dominee wat groot dinge met min regkry

Sy is sekerlik die alleen-dominee in die land met die grootste gemeente en hulle besit nie eens ’n gebou nie! Dit was my eerste gedagte toe ek ’n paar weke gelede by die kerk instap. Die tipiese ou kerkgebou – wat hulle by ’n buurgemeente huur – was so vol dat almal nie inpas nie. ’n Klomp mense het buite voor ’n groot skerm gesit.

“Gewoonlik het ons twee dienste, maar dis eksamen,” verduidelik Sanré.

Soms hou hulle erediens in die Noordwes-Universiteit se amfiteater, want dis lekker om almal nou en dan saam in ’n diens te hê. Meer as 2 000 studente woon die erediens by. Dikwels ook studente van buite die gemeente – en buite die kerk.

Sanré Benadé is die enigste dominee by Kandelaar-studentegemeente in Potchefstroom en dis merkwaardig. As ’n reël kry studentegemeentes min inkomste uit offergawes, omdat die meeste lidmate nog nie voltyds werk nie. Hulle is afhanklik van sinodale bydraes. Dink ’n bietjie aan die baie dominees by Universiteitsoord by Tuks of Kruiskerk op Stellenbosch – waar heelwat minder studente op ’n Sondag bymekaar is.

Erediensgetalle is nie alles nie. Ek weet.

Die gemeente het ’n hart vir die wêreld. Weekliks is studente betrokke by drie kinderhuise, ’n ouetehuis en ’n klomp ander gemeenskapsprojekte, onder andere in die swart gemeenskap Ikageng. Deur die loop van die jaar is daar ’n legio stranddiensspanne en agt korttermynuitreike, plaaslik, maar ook op ver plekke soos Indië en Sri Lanka.

Tussenin gebeur die “gewone domineedinge”: vergaderings, berading, admin, troues …

“Hoe doen jy dit alles?” vra ek.

“Ons is ’n gemeente vir studente, deur studente,” sê sy en vertel hoe die studente self ’n klomp verantwoordelikheid neem vir die onderskeie projekte.

Sanré se energie en passie is aansteeklik. Sy is lief vir die Here, vir die kerk en vir die wêreld.

“My eerste memories as kind is van die tyd toe my pa sendeling was in die Caprivi. Ons het gereeld in die veld en villages gebly,” vertel sy.

As kind het sy saam met hom ook sendelinge in ander lande besoek en gedink sy wil self eendag een word. Haar pa, dr Tinus Benadé, is steeds haar grootste mentor. Hy is tans predikant by ’n gemeente op Thabazimbi.

Lees ook: Teologiese kollege met NG wortels in Zim se eeufeesviering kyk beide vorentoe en terug

“My ma is ook ’n groot inspirasie in my lewe, ek onthou hoe sy as onderwyseres haar klaskamer as haar sendingveld beskou het en met soveel liefde en passie ’n Gr R-juffrou was,” sê sy.

Terwyl ons gesels is dit opvallend hoe positief sy oor die lewe en die kerk is. Maar daar is ook uitdagings.

“Dit is ’n unieke bediening met unieke uitdagings en vreugdes. Ek dink nie daar is nog so ’n gemeente wat nie gekoppel is aan ’n residensiële gemeente nie. Daarom is daar eintlik elke vier jaar nuwe gemeentelede, maar dit maak die gemeente baie veerkragtig op ’n manier.”

Sy word toenemend bewus van neo-konserwatisme op kampus. Daar is toenemend studente wat weer wil kerkwees “soos in die ou dae”. En daarmee bedoel hulle nie die eenvoud van die vroeë kerk nie. Hulle verlang na ’n “ons-mense-eerste-kerk” waar mans die gesag dra.

Sy sal byvoorbeeld ’n manskoshuis besoek en dan sal ’n student opstaan en vra hoe “sy as ’n vrou” dit uit die Bybel regverdig om met hulle oor die Here te praat. Sê die Bybel nie vrouens mag nie in die openbaar praat nie!

In die breër kerkomgewing beleef sy die teendeel, haar kollegas uit ander NG gemeentes aanvaar haar heeltemal en moedig haar aan. Daar is ook gemeentes, onder andere NG Oosterlig in Pretoria, wat haar en haar bediening ondersteun.

Lees ook: Jaco Strydom gesels met Johan Erasmus: Om eenvóúdig kerk te wees

“Ek het voorheen al wonderlike kollegas gehad wat ook vir my mentors was en is. Mense soos Frans Burger, wat my geleer het hoe om studente regtig lief te hê. En Marius de Beer wat steeds vir my ’n mentor is wat vir my gewys het hoe dit lyk om iemand se hande sterk te maak en in liefde aanspreeklik te hou. Dan is daar die sendelinge wat ek ontmoet het, te veel om op te noem, maar hulle het ’n ongelooflike impak op my geloof en persoon gehad,” sê sy.

“Waaraan hou jy vas as dit rof gaan?” vra ek.

“Ek hou vas aan die mooi verhale. Getuienisse van mense se eie belewenisse maar ook die vrug wat ek sien in mense se lewe wanneer hulle hulleself oopmaak vir God se liefde. Ek hou vas aan my mense wat so onselfsugtig lief het. En aan my eie ontmoetings met Jesus wat keer op keer weer voor my kom staan met sy hand uitgestrek – ’n uitnodiging om saam met Hom die lewensdans te dans.”

Sanré is besig. Behalwe vir predikantwees, boer sy ook met ’n paar beeste op hulle familieplaas. Vir ontspanning hou sy van reis.

“As ek die geleentheid het, is ek op pad iewers heen. Ander kulture en maniere van doen is vir my heerlik om te ontdek. ’n Vliegtuig of lughawe vol vreemde klanke en verskillende mense, elkeen op pad êrens heen, maak ’n groot klomp energie los.”

Nou, weke na my besoek aan Kandelaar-studentegemeente, dink ek steeds dikwels aan Sanré se bediening. “Laat ek ooit weer ’n dominee hoor kla!” sê ek nou die dag vir iemand toe ons oor haar gesels.

Die vroeë kerk het die gawe gehad om baie te doen met min, en dis iets wat die groter kerk vandag ook by Sanré Benadé kan leer.

 

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en  die NG Kerk Villieria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Jaco Strydom gesels met Sanré Benadé, die dominee wat groot dinge met min regkry”

  1. Tonette Carstens

    Ds Sanré Benade het n besonderse gawe ontvang vir haar bediening.Ons dogter was keelvol vir ons plaaslike NG Kerk en het geswerf , totdat sy by Sanré en Kandelaar gemeente gekom het. Sondagaand 8 uur kerk diens, vir ons as ouers is dit vreemd, die jonges gryp dit aan. Menige diens is gedeel deur Youtube.Dankie ds Sanrë. Seën, voorspoed, vrede. Tonne liefde, van dankbare ouers.

  2. Annelie Naudé

    Ek het Sanré (in Hong Kong) in 1992 leer ken, toe sy nog ‘n klein dogtertjie was. Oor die jare was dit kosbaar om te sien hoe sy groei in haar hart vir Jesus en sending. Haar ouers is besonderse mense: nederig, lief vir mense en die nasies. Dankie Sussa vir wat jy doen. Jy is geseënd om ‘n seën te wees.

Comments are closed.

Scroll to Top