Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die rooitapyt is letterlik op 15 November uitgerol ter viering van die 100ste bestaansjaar van die Murray Teologiese Kollege op Morgenstersendingstasie in Zimbabwe. Hier is Susan Murray
Die rooitapyt is letterlik op 15 November uitgerol ter viering van die 100ste bestaansjaar van die Murray Teologiese Kollege op Morgenstersendingstasie in Zimbabwe. Dit is die geboorteplek van die Reformed Church of Zimbabwe. Hier is Susan Murray, weduwee van die laaste prinsipaal wat deur die NG Kerk gesekondeer is. By haar is eregaste waaronder drr Rangarirai Rotoro, Daniel de Wet en Nico Mostert asook Ilse Wiid wat aan die Murrays verwant is. Foto: Heléne Meissenheimer

Teologiese kollege met NG wortels in Zim se eeufeesviering kyk beide vorentoe en terug

“Makorokoto!” Met hierdie Shona woord vir veels geluk het dr Daniel de Wet van die NG Kerk se Getuienisaksie op 15 November die Murray Teologiese Kollege met hulle eeufeesviering geluk gewens. 

De Wet het dié kollege op Morgenstersendingstasie beskryf as die geestelike en akademiese enjinkamer van die Reformed Church of Zimbabwe (RCZ). Die leraars opgelei by hierdie eertydse “leraarskool” op Morgenstersendingstasie het die geestelike leierskap gelewer vir ’n eie gereformeerde kerk vir Zimbabwe. 

Geboorteplek van die RCZ

Die kollege is vernoem na die eerste hoof, ds Henry Murray (snr). Vandag is dr Simbarashe Munamati, ’n oud-student, aan die stuur – een van vyf prinsipale wat hier hulle teologiese opleiding ontvang het. In sy termyn is begin om teologiese graadkursusse aan te bied wat geakkrediteer is by die Reformed Church University. Sedert die eerste Murray was daar 13 prinsipale waarvan agt vanuit die NG Kerk was en vyf uit die RCZ. 

Dit is ook waar die eerste Bybel in Shona vertaal is.

RCZ moderator dr Ezekiel Baloyi het genoem dit is die geboorteplek van hierdie NG susterkerk wat vandag meer as 1 miljoen lidmate het.

Pioniers se nasate vier saam fees

Met die hulp van vennote soos Getuienisaksie, die NG Kerk in Vrystaat en oorsese organisasies soos die Nederlandse Gereformeerde Zendingbond (GZB) asook RCZ gemeentes en lidmate is die rooi tapyt dus op hierdie sonnige Saterdagoggend uitgerol. Letterlik. Markiestente, trompoppies, kore, ook vanaf die bekende Chopota Skool vir Blindes en meer as 3000 etes was alles deel van die aansteeklike vreugde.

Baloyi en De Wet was onder die talle sprekers by die luisterryke viering wat alumni, vennote, kerkleiers en duisende lidmate gebring het na die koppie waar die pioniersendeling Andries (Andrew) Adriaan Louw in 1891 sy ossewa uitgespan het. 

Sy kleindogter, Marianna de Jager, was ook daar. Dit is waar sy grootgeword het. Ook nasate van Murray en latere prinsipale by die kollege het gekom. Susan Murray, weduwee van die laaste NG prinsipaal, ook Henry, het ’n groep gebring waarvan ek en my ma, Mientjie Uys, deel was. Haar pa en my oupa is prof Willie van der Merwe wat van 1948-1958 hoof van die kollege en sendingstasie was.

Susan Murray, weduwee van die laaste prinsipaal wat deur die NG Kerk gesekondeer is by Mariana de Jager, kleindogter van die pioniersendeling Andries (Andrew) Adriaan Louw. Foto: Royal Pictures
Ek by my ma, Mientjie Uys onder die foto van haar pa en my oupa, prof Willie van der Merwe wat van 1948-1958 hoof van die kollege en sendingstasie was.

Feesbundel vertel die storie

Die storie word vertel in ’n feesbundel, The Morning Star Arises: Murray Theological College Centenary 1925–2025*. Dié glanspublikasie, met 11 medeskrywers en samesteller dr Isabel Murray, is ’n NG Kerk Argiefpublikasie. De Wet het vertel die titel kom uit 2 Petrus 1:19 en spreek direk tot die kollege se missie om soos ’n lamp in die donker te skyn. “Dit is ’n baken van hoop”, het hy gesê.

Baloyi het gesê hy bid dat dieselfde God wat hierdie uitstekende idee begin het dit vir die volgende 100 jaar ook aan die gang sal hou. “Mag dit leraars lewer wat Barth en ander teoloë kan aanhaal dog op ’n manier dat tieners hulle sal verstaan …” het hy bygevoeg.

  • Navrae: Die boek kos R480. Kontak dr Diederick Basson by die NG Kerk Argief op e-pos argief@kaapkerk.co.za 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Teologiese kollege met NG wortels in Zim se eeufeesviering kyk beide vorentoe en terug”

  1. Shalom
    This is the Lord’s doing for sure. Of all the above said things let God be glorified forever more 🙏 His love endures forever. I was not there on the day of celebrations but watched in amazement what has doing and will continue to do for His Church.

Comments are closed.

Scroll to Top