Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jaco Strydom gesels met Johan Erasmus, een van die stigters van Betereinders … ‘dié ouens wat swart en witmense kry om saam potholes reg te maak. En op Geloftedag laertrek met al daai taxi’s en Fortuners en Isuzubakkies in die plakkerskamp. En dan binne-in daai laer braai en saam sokkerspeel.’ Foto’s: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Johan Erasmus: Om eenvóúdig kerk te wees


Hy was dertien, die dag toe hy saam met ’n groep tienerseuns rondgeloop het op ’n oom se plaas, op soek na avontuur. “Ons kom toe af op ’n paar Zoeloeseuns met ’n kruiwa, wat hout steel. Toe gooi ons hulle goed om en stamp hulle rond, want ’n mens kan mos nie sommer net op ’n ou se plaas wil hout steel nie,” vertel Johan.

Maar later daardie middag, terug by die plaashuis, toe hulle dit vir die boer vertel, hoor hulle die seuns het toe al die tyd toestemming gehad.

Johan sê hy kon daai aand nie slaap nie. Tot vandag spook dit by hom. Hy sal nooit die deurmekaar kyk van vernedering in die een seun se oë vergeet nie. Na hulle hom rondgestamp het, het die ou net daar op die grond gesit en opkyk.

Geborg

“Ek het ’n gelofte aan die Here gemaak, nie voor my geveg met die Zoeloe’s nie, maar ná dit,” sê hy. “Ek het daai aand in my bed gehuil en gebid vir vergifnis.”

Vandag nog is dit een van die oomblikke wat hy die duidelikste onthou van sy jeug. Een van die groot draaipunte in sy lewe.

Oor nog ’n draaipunt en Betereinders

Nou die dag hoor ek ’n ou by ’n braaivleis praat. “Dis mos nou dié ouens wat swart en witmense kry om saam potholes reg te maak. En op Geloftedag laertrek met al daai taxi’s en Fortuners en Isuzubakkies in die plakkerskamp. En dan binne-in daai laer braai en saam sokkerspeel,” sê die ou toe die naam, Betereinders, opkom.

En dis ’n goeie opsomming, maar hulle doen ook meer as dit. Betereinders versprei byvoorbeeld ook Farmer Starting Kits, maak video’s oor versoening en fasiliteer dikwels gesprekke en reël byeenkomste waar van die mees uiteenlopende mense in Suid-Afrika na mekaar se stories kan luister, en mekaar beter kan leer ken – en ’n lot ander goed. En Johan Erasmus en Schalk van Heerden is die twee ouens wat die Betereinders-beweging begin het, en steeds aan die stuur daarvan staan.

Lees ook: Jaco Strydom gesels met Schalk van Heerden en die brûe wat hy bou

’n Ander draaipunt in sy lewe was sy pa se skielike dood aan ’n hartaanval toe hy twaalf was.

Geborg

“Dit het tot ’n groot mate gemaak dat ek op die pad is waar ek vandag is. My naïwiteit so ’n bietjie gesteel. Ek het skielik begin dink oor die lewe, eerder as om net te lewe. Vir lank was ek iets tussen ’n ateïs en ’n agnostikus, ek weet nie eintlik wat nie. Maar dit was daai vrae, dink ek, wat my uiteindelik in die filosofie en teologie laat belangstel het.”

Geloofspad tot by Dialogue Community

Aanvanklik wou hy na skool teologie studeer. Maar, soos dit daai jare op Potchefstroom gewerk het, moes hy eers ’n paar vrae voor die kuratorium-ooms beantwoord. Toe die een dosent vra, waarom hy juis teologie wil studeer, was sy antwoord: “want ek wil sien of dit waar is.”

Dit was die verkeerde antwoord, toe gaan swot hy geskiedenis en filosofie.

Maar later, na ’n honneurs in filosofie, keer Johan wel terug na teologie en doen ’n meestersgraad. En nou is hy besig met ’n PhD waarin hy veral fokus op die teologie van Miroslav Volf, en wat dit vandag vir ons in Suid-Afrika kan beteken.

Dié teoloog, oorspronklik uit Kroasië en vandag professor by Yale in die VSA, het ’n groot invloed op Johan se eie teologie. Hy het hom al ’n paar keer in persoon ontmoet en Volf het ook al by hulle geloofsgemeenskap genaamd, Dialogue Community, via Zoom gepraat.

“…En op Geloftedag laertrek met al daai taxi’s en Fortuners en Isuzubakies in die plakkerskamp.”

Ek vra hom uit oor hierdie “Dialogue Community”, waarvan hy die leier is – wat Sondae bymekaarkom in ’n gebou wat lyk soos ’n bomskuiling, by die Pretoria Rugbyklub.

Geborg

“Dit is ’n klein multikulturele gemeente van so net oor die 100 lidmate. ’n Morsige kerk met meestal Afrikaners maar ook Venda’s, Kongolese en selfs ’n Engelsman hier en daar. Van die mense is meer gereformeerd, ander meer charismaties – en ’n paar is nie seker of hulle Christene is nie. Die meeste van die tyd is ons egter nie self seker van wat ons doen nie. Skeptiese mense sal soms sê hulle is teen ‘georganiseerde geloof’ … niemand kan ons daarvan beskuldig dat ons ‘georganiseerd’ is nie!” sê hy.

Nog iemand wat ’n groot invloed gehad het op Johan se geloofspad, is Roedolf Botha, tans ’n NG dominee by Oosterlig Gemeente. Hulle twee het destyds saam die gespreksgroep begin, wat later Dialogue Community sou word.

Ons gesels oor die kerk in Suid-Afrika vandag. Wat pla hom?

“Dit pla my dat kerkmense net soos die res van die wêreld lyk, daar is nie regtig iets vreemds aan ons lewe nie. Dit lyk maar soos die standaard middelklas sekulêre persoon s’n. En net so terloops, ek sê dit van beide die konserwatiewe en liberale vleuels van die kerk.”

Lees ook: Johan van der Merwe: ’n Jaar van herorganisasie vir die NG Kerk?

Wat sien hy in die kerk wat hom hoop gee?

“Ek het nou al ’n paar video’s vir Betereinders gemaak waar ons Suid-Afrikaanse goeienuusverhale versamel. En ek het al baie konferensies aanmekaargesit wat hierdie stories lugtyd gee. Dit is nooit my bedoeling wanneer ek die stories soek nie, maar byna sonder uitsondering, is dit Christene wat die werk doen. Volgelinge van Jesus, met diep Christelike oortuigings.”

Geborg

Johan en sy vrou Loraine, ’n dosent by The Open Window Institute, woon met hulle twee seuns, Louwtjie en Eben, in Erasmuskloof in Pretoria. Hy is ’n tentmaker wat onder andere toere oorsee reël. Hoofsaaklik skooltoere na Europa, maar ook meer godsdienstige toere na die Midde-Ooste.

Hy gesels oor sy liefde vir die natuur, vertel hoe hy byvoorbeeld graag saam met ’n groep vriende op wilde riviere roei. “Ek is op my gelukkigste as ek met ’n vlieghengelstok in rivier in die Drakensberge kan staan. Daar is waarskynlik niks lekkerder as om wilde forel in kristalhelder strome te probeer vang nie.”

Na ons geprek wens ek meer kerkmense wil na dié ou luister. Nooi hom om by jou kerk te kom praat! Johan Erasmus is ’n man sonder pretensie en sy hart is op die regte plek. Hy en sy dialoog-gemeenskap wys dat dit vandag heeltemal moontlik is om eenvoudig kerk te wees, oor kultuurgrense heen, sonder ’n gebou, ’n koster, ’n kerkorde … selfs sonder ’n dominee.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.