Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Johan van der Merwe: ’n Jaar van herorganisasie vir die NG Kerk?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Dit is 2024. Onwillekeurig wonder ’n mens of dit ’n jaar van verleentheid of ’n jaar van geleentheid vir die NG Kerk gaan wees? Wanneer daar teruggeblaai word deur die geskiedenis is dit duidelik dat beide moontlik is. Drie belangrike gebeure staaf hierdie stelling:

 

200 jaar het verloop sedert die eerste Algemene Kerkvergadering (sinode) van die NG Kerk in 1824 plaasgevind het. Hierdie gebeure was ’n belangrike mylpaal in die totstandkoming van kerkverband in Suid-Afrika en was die begin van ’n reis waartydens die NG Kerk haarself dikwels moes herorganiseer. In 1862 is die eenheid versteur deur die Loedolff-saak en dit sou ’n eeu neem om die verband te herstel in die vorm van ’n Algemene Sinode wat in 1962 tot stand gekom het. Sowat 200 jaar na die eerste uitdrukking van kerkverband is die kerkverband van die NG Kerk soos ons dit tans ken weer onder druk. Vanjaar, 2024, kan ’n jaar van groot verleentheid word, as daar toegelaat word dat die eeue oue verband verbreek word, of dit kan ’n jaar van ongekende geleentheid word, indien die NG Kerk daarin kan slaag om die verband op so ’n wyse te herorganiseer dat onderlinge bande steeds behoue bly.

50 jaar gelede het die NG Kerk tydens die Algemene Sinode van 1974 Ras, Volk en Nasie as amptelike standpunt van die kerk goedgekeur. In dié dokument is die kerk se ondersteuning van apartheid teologies uiteengesit en dit sou die kerk agt jaar neem voordat daar in 1982 besluit is om dit hersien. Die geskiedenis oordeel fel oor hierdie gebeure as van die NG Kerk se grootste verleenthede. Daarom sal die kerk ’n konstruktiewe rol moet speel om te keer dat lidmate van die kerk as gevolg van politieke en sosio- ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika migreer na ’n nuwe vorm van apartheid. Hoe die kerk in hierdie rol gaan slaag gaan bepaal of 2024 ’n verleentheid of ’n geleentheid gaan wees.

Dit is vanjaar ook 30 jaar sedert die vergadering van die Algemene Sinode in 1994. Hierdie vergadering het as die Sinode van Versoening bekend geword nadat mnr Nelson Mandela die NG Kerk tydens die vergadering uitgedaag het om deel te word van die versoeningsproses in Suid-Afrika. Miskien is dit in 2024 die grootste geleentheid op die pad van die NG Kerk – om in elke voorstad en in elke dorp nie net te keer dat apartheid weer kop uitsteek nie, maar om ’n rolmodel en ’n plek van versoening te wees in ’n land wat dreig om in stukke te skeur.

Hoe die geskiedenis oor 2024 gaan oordeel sal net die tyd leer? Mag dit ’n nuwe jaar vol ongekende geleenthede wees.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ook ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Johan van der Merwe: ’n Jaar van herorganisasie vir die NG Kerk?”

  1. Dankie vir die historiese perspektief wat inderdaad die Kerk uitdaag om te leer uit die geskiedenis en geleenthede aan te gryp.

  2. Lucas Janse van Vuuren

    Ek besoek en/of het kontak met verskeie denominasies. Daar is byna nie een denominasie in Suid Afrika waar Afrikaans sprekende mense inskakel wat nie ook lidmate het wat in die N G Kerk as baba’s gedoop is nie. Dikwels maak hulle deel uit van die leierskorps. In sommige gemeentes maak hulle selfs meer as die helfte van die lidmaattal uit…
    Wat ek maar wil sê is dat terwyl interne verdeeldheid oor ons identiteit voort woed in die N G Kerk die Gees van ons Here mense herorganiseer. Dit sien ‘n mens egter net raak wanneer jy na die verskillende denominasies se gemeentes saam as die kerk kyk en nie net deur ‘n rietjie na die N G Kerk alleen nie.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.