Johan Van der Merwe

Hoe ons trou, kom ’n lang pad!

Die NGK, saamwoon en die huwelik het onlangs weer na ’n debat tydens die Sinode van Wes-Kaapland die nuus gehaal. Reaksie op en die beriggewing oor die debat toon duidelik dat daar baie wanpersepsies bestaan oor wat ’n huwelik is en waar ons manier van trou vandaan kom.

Die NGK het by verskeie geleenthede in die verlede besluite oor die saak geneem. Die besluite van die Algemene Sinodes van 2011 en 2013 gee erkenning aan die feit dat “die huwelik soos ons dit vandag ken die produk van eeue se ontwikkeling is”, maar stel dit dan duidelik: “Die Algemene Sinode is nogtans daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewe in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ’n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as wettige huwelik.”

Hierdie besluite maak dit duidelik dat die huwelik soos ons dit vandag ken nie pasklaar uit die hemel kom nie. Terwyl die beginsel dat ’n huwelik ’n vaste verbintenis tussen ’n man en ’n vrou is, vas staan, het hierdie beginsel deur die eeue in verskillende gebruike ’n kon­krete gestalte gekry.

In Suid-Afrika is die manier van doen grotendeels gebou op die standpunte van die Reformatore. Daarvolgens moes huweliksgebooie onder meer vir drie agtereenvolgende Sondae in die kerk afgelees word (volgens die voorskrif van Calvyn) voordat die huwelik kerklik ingeseën is. Hierdie wetlike vereiste is eers in 1970 met die Wysigings­wet op Huwelike verander. Volgens die Algemene Sinode van 1974 moes die voltrekking van ’n huwelik egter steeds twee weke voor die tyd van die kansel bekendgemaak word.

Die Kerkorde van De Mist het in 1804 bepaal dat die distrikslanddros huwelike bevestig waarna dit kerklik ingeseën kon word. Na beswaar is daar in 1806 besluit dat “ordained ministers” ook as huweliksbevestigers kon optree. Dit het aan predikante ’n juridiese en kerklike rol gegee en het die weg gebaan vir die wyse waarop huwelike vandag deur predikante bevestig kan word.

Die geskiedenis toon duidelik dat daar deur die eeue nooit ’n vaste model was waarvolgens huwelike bevestig is nie. Hoe dit gebeur kom ’n lang pad. Dit is feite wat nie uit die oog verloor mag word nie.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

“Een liggaam en een Gees”: Maak dit saak?

Die moontlikheid dat die grootste gemeente van die NGK uit die verband wil tree het tonge behoorlik los. Dit is ook goed en reg so, want die eenheid van die NGK is op die spel. Dat hierdie eenheid nog altyd vir die NGK baie belangrik was, maar ook baie broos is, blyk duidelik uit die ge­skie­denis.

Die NG Kerk is in 1862 deur die bekende Loedolff-saak verskeur. Ou­derling HH Loedolff het tydens die sitting van die sinode in 1862 beswaar gemaak teen die afgevaardigdes van gemeentes buite die grense van die Kaap­kolonie. Loe­dolff was ’n bekende ondersteuner van die liberale rigting terwyl die afgevaardigdes van buite die grense bekend was vir hulle regsinnigheid. Op 26 November 1862 het die Kaap­se Hooggeregshof ten gunste van die klaers beslis en moes die afgevaardigdes van buite die Kaapkolonie die vergadering verlaat. Daarmee is die een­heid in die NGK verbreek.

Dit sou ’n honderd jaar neem voordat hierdie eenheid in 1962 herstel is. Op 14 Oktober 1962 het die eerste Algemene Sinode van die NGK in die Groote Kerk in Kaapstad vergader. Die verskeurdheid wat in 1862 ontstaan het, het so tot ’n einde gekom. Dat hierdie ’n lang gekoesterde ideaal was wat gestalte gekry het, word bevestig deur die leuse van die Algemene Sinode soos wat dit op die kerkseël verskyn: “Een liggaam en een Gees” (1 Kor 12:13).

Die feit dat dit ’n 100 jaar geneem het om die eenheid te herstel wys hoe be­langrik dit vir die NGK was. Dit het volharding en visie gevra om die strewe na eenheid op kerkvergadering na kerkvergadering lewendig te hou. Hierdie taak is natuurlik deur Afrikanernasionalis­me wat tydens die vorige eeu ’n sterk motiverende krag was, aangehelp. Aan die ander kant getuig die lang en moeisame proses ook van die broosheid van die eenheid. Die broosheid is en word gevoed deur die groot teologiese diversiteit in die NGK. Beskuldigings van liberalisme en fundamentalisme wat in die huidige debat heen en weer geslin­ger word is niks nuut nie. Die “ons” en “hulle” wat in gesprekke en nuusberigte opduik is nie vreemd nie. Dit dui nie alleen op die vreemde teologiese mengsel waaruit die NGK bestaan nie, maar ook op standpunte wat die eenheid van die NGK in die afwesigheid van Afrikanernasionalisme in sy wese bedreig.

Maak hierdie eenheid regtig nog in die NGK saak? Dit is die groot vraag. Is die strewe na een liggaam en een Gees nog sterk genoeg om fundamentele verskille te oorbrug? ’n Honderd jaar se moeisame strewe na brose teologiese eenheid beantwoord die vraag. Ons mag mekaar nie sonder meer los nie!

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Die skepping skreeu om genade

Die onlangse vloede in Mosambiek en KwaZulu-Natal het twee sake opnuut beklemtoon. Eerstens het die groot aantal mense wat tydens die vloede gesterf het die kerk gekonfronteer met die broosheid en die nietigheid van die mens en van lewe. Dit is niks nuut nie. Deur die eeue het lewensverlies tydens natuurrampe die mensdom diep geraak en tot aksie gedring. Die geskiedenis wys dat die NG Kerk nie hiervan uitgesluit was nie.

Tweedens is die tonne en tonne rommel wat op strande uitgespoel het ’n aanduiding van die feit dat ons ook hier aan die suidpunt van Afrika op die drumpel van ’n reuse-ekologiese ramp staan. Bykans 300 ton rommel is in die omgewing van die Durban-hawe deur vrywilligers opgetel. Refilwe Mofokeng, ’n navorser in mariene biologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal het hier­oor opgemerk: “Mense sal baie gou hulle verbrui­kerspatrone moet veran­der. So nie, gaan die lewe op aarde vir mens en dier onleefbaar word.” Met reg sou ’n mens kon sê: Die skepping skreeu om genade. Die NG Kerk het ook in die meer onlangse verlede op hierdie nood­roep gereageer.

Tydens die Algemene Sinode van 2013 het die NG Kerk ’n belangrike dokument met die titel: Ter wille van die aarde en haar bewoners as raamwerkdokument aanvaar. Daar is onder meer be­­sluit om lidmate, gemeentes, ringe en si­­no­des aan te moedig om in hulle funksionering en bediening:

  • ’n lewe van eenvoud te omhels.
  • temas rondom die omgewing en leefstylverandering deel te maak van die liturgie en kategese.
  • ’n profetiese stem te laat hoor ten opsigte van die uitbuiting van natuur­like hulpbronne en praktyke wat klimaatsverandering bevorder.

In 2015 het die Algemene Sinode lidmate, gemeentes, ringe en sinodes op­nuut aangemoedig om: “’n profetiese stem te laat hoor waar die welwese van God se huishouding in gedrang kom.” Die sinode het dit ook aan die Projekspan Ekologie opgedra om materiaal beskikbaar te stel wat gemeentes en lidmate kan begelei om ekologies sensitief te leef. Alhoewel hierdie besluite lof verdien, is dit nie die papier werd waarop dit geskryf is, as dit nie in die wel en wee van lidmate ’n werklikheid word nie.

Die vloede het die verwoesting van die skepping wat tans op ongekende skaal plaasvind opnuut onder die vergrootglas geplaas. Op grondvlak is dit onteenseglik ’n uitdaging aan elke gemeente om die saak met groot erns en dringendheid aan te pak. Die besluite is geneem, hulpbronne is beskikbaar – dit kort net hande en voete. Die skepping skreeu om genade – gaan die NGK daad­werklik help?

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Só klink die Roepingsverklaring steeds

Ons het ’n Here. Ons is hier. Ons is sy kerk. Met hierdie woorde is die Roepingsverklaring wat deur die Algemene Sinode van die NGK in 2002 aanvaar is, afgesluit. In ’n ver­kiesingsjaar met baie beloftes waarvan die meeste leeg gaan bly, is dit goed om hierdie verklaring weer te besoek.

In die Verklaring word die NG Kerk tot drie belangrike sake verbind:
Eerstens verbind die kerk haarself opnuut aan die Here wat die kerk meer as 350 jaar gelede hier geplaas het. Die sinode bevestig dat dit die roeping van die NGK is om as kerk die Woord van die Here tydig en ontydig te verkondig en om orals van die hoop wat in die kerk leef, getuie­nis af te lê.
Tweedens verbind die NGK haarself opnuut tot die kontinent van Afrika, in besonder tot Suider-Afrika. Op ’n kontinent en in ’n land wat gebuk gaan onder geweld, armoede, vigs en ’n gebrek aan respek vir mense, diere en die omgewing wil die NGK ’n verskil maak. Daarom is die kerk daartoe verbind om mee te werk aan oplos­sings vir ons samelewing. Die NGK sal vir die owerheid bid en is verbind tot diens aan die gemeenskap.
Derdens verbind die NGK haarself tot groter eenheid met ander kerke en wil die kerk deur die versterking van ekumeniese bande met ander Christene hande vat om ons lande op te bou en om pynlike omstandighede te verlig.

In die slotparagraaf van die Verklaring het die sinode gemeentes opgeroep om by die genesing van Suidelike Afrika betrokke te raak. Terwyl dank aan die een kant uitgespreek word vir die toewy­ding van baie lidmate en vir talle po­­sitiewe aksies wat oral in gemeentes aan die gang is, word die NGK as ge­loofs­gemeenskap aan die ander kant ook met die volgende woorde uitge­daag: “Kom ons wys die wêreld opnuut dat ons as sout van die aarde en lig vir die wêreld God se koninkryk wil laat kom.”

Baie water het sedert 2002 in die see geloop en vir baie inwoners van Suid-Afrika het die droom van ’n reënboog­nasie net ’n droom gebly. Die Roepingsverklaring van 2002 bied ’n roetekaart vir lidmate en gemeentes van die NGK om Suidelike Afrika vir al sy inwoners ’n beter plek te maak. Dan hoef dit nie vir politici, politieke partye, ’n verkie­singsuitslag of ’n regering te wag nie, want ons het ’n Here. Ons is hier en ons is sy kerk.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Die doop is nie kinderspeletjies nie

Die NG Kerk is weer in die nuus – hierdie keer oor ’n dominee wat “afgedank” is omdat hy nie met die “doopleer” van die kerk saamstem nie. Reaksie op hierdie gebeure was soos te wagte uiteenlopend! Ongelukkig getuig baie van die kommentaar van grootskaalse onkunde oor die NG Kerk se verbondsteologie en die manier waarop dit in die kerk se reëlings oor die doop neerslag vind.

Terwyl ander kerke anders oor die doop mag oordeel beskou die NG Kerk as gereformeerde kerk die doop nie bloot as ’n ritueel wat op ’n lukraak wyse deur enige iemand bedien kan word nie. Dit is ’n sakrament wat saam met die nagmaal deel vorm van die genademiddele wat deur die kerk bedien word. Binne die gereformeerde tradisie word ’n persoon slegs een keer en deur ’n predikant gedoop – of as baba of by bely­de­nis van geloof. Die kerk se verbintenis aan hierdie leer het niks met liefdeloosheid of ’n drakoniese verknogtheid aan reëls of dogma te doen nie. Die integriteit van die kerk as gereformeerde kerk kom egter deur die bediening van die doop op die spel. Wat die kerk glo moet die kerk leef!

Deur die jare het veranderende omstandighede si­no­des uitgedaag om verskillende besluite oor die doop te neem. Die bediening van die doop aan kinders in pleegsorg (1994), die doop van kinderhuiskinders (2002) en die doop van kinders uit die buiteland (2002) is van die belangrike besluite wat geneem is. Die Algemene Sinode het selfs ook besluit dat doopgetuies gebruik kan word wanneer doopouers nie ge­regtig is om op die doopvrae te antwoord nie.

Tydens die Algemene Sinode van 2011 is belang­rike besluite oor doopherdenking of doopherinnering geneem. Die besluit het dit duidelik gestel dat doopviering nie as ’n weerdoop geïnterpreteer mag word nie. Die sinode van 2013 het gemeentes aan­gemoedig om lidmate gereeld kans te gee om hulle doop op sinvolle wyse op verskillende maniere te herdenk. ’n Gravamen (beswaarskrif) waarin versoek is dat weerdoop toegelaat moet word het in 2015 voor die Algemene Sinode gedien. Dit is van die hand ge­wys en die sinode het besluit om die moontlikheid van ’n sogenaamde belydenisdoop wat in praktyk nie anders as ’n herdoop verstaan kan word nie, nie verder te oorweeg nie.

Alhoewel die NG Kerk in die verlede – soos ook nou – dikwels in die spervuur beland het oor die doop, is die verbondsdoop wat gebou is op die verbonds­teologie van die kerk onlosmaaklik deel van die gereformeerde erfenis van die NG Kerk. Daarom is die doop nie kinderspeletjies nie.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

LEES OOK: Só glo kerk oor die doop.

Sonder sy siel is die kerk dood

Calvyn het gesê: “Die Woord is die siel van die kerk.” Miskien is dit die rede waarom die Algemene Sinode sedert sy ontstaan in 1962 belang­rike besluite oor die saak geneem het. Die interpretasie van die Woord en die gesag wat daaraan toegeken is, was nog altyd ’n belangrike saak in die kerk. Dit is daarom met goeie rede dat gesê word dat Skrifgesag in die tyd waarin ons leef die spreekwoordelike olifant in die kamer van die NGK geword het. Dat daar met hier­die olifant geworstel word, blyk uit besluite van on­langse Algemene Sinodes:

In 2004 het die Algemene Sinode ’n verklaring goedgekeur wat na gemeentes en ringe vir bespreking verwys is. Daarin is dit onomwonde gestel dat die NGK bely dat die Bybel die Woord van God is en dat dit daarom gesag het, betroubaar is, duidelik is en voldoende is. Dit sou nie beteken dat lidmate hulle denk­vermoë moes opoffer, dat die Bybel beskou kon word as ’n eksakte handboek of dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens alles onmiddellik en selfstandig kon begryp nie.

In 2013 is hierdie verklaring opgevolg met ’n be­sluit waarin die kerk se standpunt oor die gesag van die Woord as die enigste norm vir ons geloof herbevestig is. Die sinode het ook beklemtoon dat “Skrif en Belydenis” binne hulle historiese konteks gelees en met verantwoorde hermeneutiek vertolk moes word sodat die kerk die leiding van die Heilige Gees vir die tyd kon hoor.

Terwyl die gesag van die Woord nooit openlik be­vraagteken is nie, het die hermeneutiese vertolking van die Woord in die verlede dikwels storms veroorsaak.

Die feit dat die NGK apartheid teologies uit die Skrif gemotiveer en regverdig het, het ’n pynlike reg­stelling in 1986 geverg. Dit het in 1987 tot kerkskeu­ring en die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk gelei. Besluite oor die toelating van vroue tot die amp, kinders se deelname aan die nagmaal en die 2015-besluit oor selfdegeslagverbintenisse is nog enkele voor­beelde.

Dat die Algemene Sinode in die verlede die erns en kompleksiteit van hierdie saak verstaan het, word be­vestig deur die bewoording waarmee die 2013-besluit afgesluit word: “Die Sinode besef dat baie lidmate geweldige onsekerhede op baie vlakke beleef en wil lidmate verseker van deernis met hulle situasie. Die Sinode wil ook lidmate en leraars daarop wys dat, juis wat ons van die Bybel en Belydenisskrifte as antwoord hierop glo, ons weerhou van fundamentalisme (aan die een kant) en vrysinnigheid/radikale sekularisme (aan die ander kant).”

Hoe die Algemene Sinode in 2019 met die “siel van die kerk” gaan handel, gaan deurslaggewend wees vir die pad vorentoe. Gee die NGK sy siel prys, is die kerk dood.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Die Algemene Sinode: Is die vervaldatum op hande?

Die sewentiende gewone vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk vind vanaf 6-11 Oktober 2019 in Boksburg plaas. Dit is die grootste vergadering van die kerk waar al die gemeentes van die kerk verteenwoordig word. Anders as by streeksinodes, stuur elke gemeente egter nie afgevaardigdes nie, maar word gemeentes indirek deur hulle onderskeie sinodes verteenwoordig. Dit is waarskynlik die enkele grootste rede waarom al meer stemme opgaan wat meen dat die Algemene Sinode soos ons dit nou ken die einde van sy rafkleeftyd bereik het. Hierdie standpunt word verder versterk deur besluite wat deur die Algemene Sinode geneem is wat groot spanning in gemeentes veroorsaak het.

Die ontstaan van die Algemene Sinode help ons verstaan dat die vergadering as uitdruking van die een­heid in die NG Kerk, tog ’n rol het om te speel. Die eerste vergadering van die Algemene Sinode is op 14 Oktober 1962 in die Groote Kerk in Kaapstad deur prof EP Groenewald geopen. Dit was presies ’n 100 jaar nadat die eenheid in die NG Kerk deur die Loe­dolff-saak in die Hooggeregshof in Kaapstad verbreek is.

Vanaf 1907 het die Raad van Kerke gehelp om die onderlinge band tussen die verskillende provinsiale sinodes van die NG Kerk in stand te hou. Dit is ook waar die ideaal van ’n herstelde kerkverband lewend gehou is. Een van die groot struikelblokke op pad na een herstelde kerkverband was Ordinansie 7 van 1843. Op 3 Maart 1961 is die ordinansie deur ’n privaatwet op die NGK deur die parlement herroep. Die Goewerneur-generaal van Suid-Afrika het Wet 22 op 27 Maart 1961 onderteken. Dit het beteken dat die Kaapse sinode nou saam met die ander provinsiale sinodes tot een Algemene Sinode kon toetree.

Die eenheid wat so tot stand gekom het word verwoord in die leuse van die NGK: “Een liggaam en een Gees”.

Dit is hierdie eenheid wat te midde van die groot diversiteit in die NGK as ’n kosbare skat opgepas moet word. Die Bybelse opdrag tot eenheid soos wat dit in die belydenisgrondslag van die NGK beskryf word maak dit ononderhandelbaar. Die sigbare gestalte van eenheid begin immers in eie kring! Die werksaamhede en die mandaat van die Algemene Sinode mag dalk verander maar die vervaldatum mag nie op hande wees nie.

In die volgende maande sal ons in die rubriek te­rug­­gaan na die verlede en enkele belangrike en soms omstrede besluite van die Algemene Sinode herbesoek. Die verlede help ons dalk op die pad vorentoe.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

‘Ons wou bloed keer …’

“Ons wou bloed keer” en “Ek het my vin­ger op die sneller gehad.” Dit is die woorde van onderskeidelik ds Freek Swa­nepoel, ’n vorige moderator van die NG Kerk, en genl Constand Viljoen, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag. Die spanning in hierdie stelling is ’n aanduiding van hoe naby Suid-Afrika in 1994 aan die rand van ’n burgeroorlog was. Dit vertel ook die onbekende verhaal van die NG Kerk se belangrike rol in die soeke na vrede.

Die vrylating van mnr Nelson Mandela en die opheffing van die verbod op die ANC in 1990 het Suid-Afrika op ’n nuwe koers geplaas. Terwyl die nuwe koers die politieke kookpot in Suid-Afrika byna laat oorkook het, het die leierskorps van die NG Kerk ’n deurslaggewende rol gespeel om gemoedere te kalmeer sodat ’n vreedsame verkiesing in April 1994 kon plaasvind.

Tussen 1990 en 1994 het die Dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie onder meer vier keer vir Mandela ontmoet. Tydens hierdie gesprekke was mediasie tussen strydende groepe, die rol van die Afri­kaner in die “nuwe” Suid-Afrika en die soeke na ’n vreedsame oplossing vir die land telkens op die agenda.

Gesprekke is egter nie net met die ANC gevoer nie. Aan die ander kant van die politieke landskap het ’n groot groep konserwatiewe Afrikaners gedreig om die verkiesing van 1994 omver te gooi. Hulle was goed georganiseer onder leiding van Viljoen wat na bewe­ring ’n mag van 50 000 man onder leiding van vyf ge­neraals landswyd ontplooi gehad het. Hulle het gewag op die bevel om die verkiesing te ontwrig.

Viljoen was egter ook ’n ouderling-afgevaardigde op die Algemene Sinodale Kommissie. Dit het die deur oopgelaat om gewelddadige verset te ontmoedig. Na afloop van ’n vergadering met sy generaals op De Deur in April 1994 het Viljoen in sý woorde besluit “om die honde los te laat”. Daar sou geen verkiesing op 27 April 1994 wees nie. Intensiewe vredesamespre­kings het hom op 23 April 1994 van besluit laat ver­ander en die verkiesing kon voortgaan.

2019 is weer ’n verkiesingsjaar en emosies gaan weer hoog loop. Miskien moet Kersfees 2018 die vertrekpunt wees van ’n nuwe besluit om in 2019 vir vrede te werk, om voort te bou op die werk wat die kerk se leierskorps destyds gedoen het. Hierdie keer is dit die uitdaging aan elke lidmaat en elke predikant in elke gemeente van die NG Kerk wat met Kersfees die koms van die Vredevors gaan vier.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

“Pas op, hier kom die NG Kerk!”

Johan van der Merwe

Die mense van Suid-Afrika verskeur mekaar omdat hulle kwaad is! Kwaad oor die verlede, kwaad oor wat tans aan die gebeur is en miskien sommer reeds irrasioneel kwaad vir die toekoms ook.

In hierdie woedende samelewing is een van die grootste uitdagings aan die NG Kerk om nie sy roeping tot versoening te versaak nie. In elke gemeente moet elke lidmaat voortdurend daaraan herinner word! Dit is nie net die kerk se Bybelse opdrag nie, maar ook deel van ons getuienis uit die verlede.

Op 19 November 1997 het ds Freek Swanepoel die NG Kerk tydens ’n openbare getuienisgeleentheid van die Waarheid-en-Versoeningskommissie in Oos-Londen verteenwoordig. Ten spyte van die feit dat verskeie lede van die ASM ’n sterk voorbehoud oor die kerk se betrokkenheid gehad het, het ds Swanepoel volgehou dat die kerk nie moes gaan bieg nie, maar moes gaan getuig! Met toestemming van die ASM moes ds Swanepoel sy eie getuienis opstel.

In sy getuienis het ds Swanepoel beklemtoon dat die NGK verbind was tot versoening en dat die kerk dit saam met ander wou aanpak. Hy het versoening as die opbou van mense gedefinieer. In praktyk het dit beteken dat die verkondiging van die evangelie steeds voorrang moes geniet maar dat dit ook moes lei tot die ontwikkeling van mense en hulle praktiese lewensomstandighede.

Hy het verder beklemtoon dat persoonlike kontak ’n voorvereiste vir versoening is en dat die NG Kerk bereid sou wees om sy lidmate aan te moedig om oor kleurgrense heen verhoudings te bou.

Ds Swanepoel het sy getuienis afgesluit met Hebreërs 12:14: “Beywer julle vir vrede met alle mense.”

Nadat baie vrae gevra is en ’n lang bespreking gevolg het, het aartsbiskop Desmond Tutu in sy reaksie op die getuienis gesê: “Ek het lus om vir die duiwel te sê: Pasop, hier kom die NG Kerk! Dit is geweldig om julle hier by ons te hê. ’n Groot stuk genesing het reeds hier begin plaasvind. Ek is bly julle is deel van hierdie proses van versoening.” Ná ’n gebed deur ds Swane­poel, het Tutu opgestaan en hom omhels!

Wanneer ons op soek na antwoorde terugblaai deur die geskiedenis, het die NG Kerk as kerk die eise van die roeping tot versoening ná 19 November 1997 miskien duideliker verstaan soos wat gemeentes dit in Coligny in 2018 duideliker verstaan en soos wat honderdduisende lidmate van die NG Kerk dit elke dag duideliker moet verstaan.

Dit is nie maklik nie. Versoening is egter die enigste salf wat die wonde wat deur woede veroorsaak is, genees. Kry ons dit beter reg, word Desmond Tutu se woorde dalk waar!

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Dankie tog vir die olifant

“Daar is ’n olifant in die kamer van die NGK” lees ek onlangs – “en dit is Skrifgesag”.

Dit is die olifant wat tot die kerk se ondergang gaan lei, word verder beweer. Hierdie stelling word met ­goeie rede gemaak. Die verskillende standpunte oor apart­heid in die sestigerjare, die stryd oor die Belhar­bely­denis en die jongste verskillende interpretasies van die Bybel oor selfdegeslagverbintenisse bevestig die feit dat die verstaan en uitleg van die Bybel opnuut in die spervuur is.

Tog is dit niks nuuts nie. In die meer as 350 jaar van die NGK se geskiedenis was daar nog altyd omstredenheid oor hoe ons die Bybel moet verstaan. Terwyl sommige lidmate die Bybel byna meganies as die Woord van God wil verstaan, word dit deur ander be­vraagteken.

Hierdie twee groepe hou verband met twee teologiese strome wat histories deel van die NGK is. Willem Nicol beskryf dit in sy boek Godsdiens wat werk as ’n meer piëtistiese hantering en verstaan van die Bybel. Dit staan teenoor ’n meer liberale interpretasie waarin die Bybel sterk histories-krities gelees word.

Hoewel die Loedolff-saak van 1862 van die eerste ernstige aanduidings van hierdie verdeeldheid was, is die verskil in die dertigerjare van die vorige eeu op die spits gedryf in die saak teen prof Johannes du Plessis van Stellenbosch.

Nadat die Ring van Stellenbosch Du Plessis in Maart 1930 geskors het, het hy hom na die Kaapse Hooggeregshof gewend om teen sy skorsing te appelleer. Op 15 Januarie 1932 is uitspraak in sy guns gele­wer. In November 1932 is hy egter deur die Kaapse Sinode van sy pos onthef.

De Kerkbode het “met beklemmende besorgdheid de droewige verdeeldheid die er in de kerk ontstaan, gadegeslaan.”

Hierdie verdeeldheid oor die verstaan van die Bybel het nie verdwyn nie. Dit was dalk deur die wolk van Afrikaner-nasionalisme minder sigbaar – maar dit was en is steeds deel van die NGK. Die vraag is of dit regtig die olifant in die kamer is wat die einde van die NGK gaan beteken? Dit kan dalk wees.

Aan die ander kant kan die olifant ook ’n teken wees van die erns wat die NGK deur sy geskiedenis met die Bybel gemaak het. Dat daar in die verlede foute gemaak is en vandag steeds gemaak word met die verstaan van die Bybel, kan nie ontken word nie. Dit beklemtoon egter die feit dat die beginsel van sola scriptura deel van die DNS van die NGK is.

Miskien kan ons dan eerder dankbaar wees dat die olifant nog in die kamer is!

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Die hoop beskaam nie …

Die hoop beskaam nie. 350 jaar Gereformeerd.” Dit was die bewoording op die feesembleem waarmee die NG Kerk sy 350ste bestaansjaar in 2002 gevier het.

Tydens die feesjaar is onder meer teruggekyk na tye toe die NGK as werktuig van God teleurgestel het. In die woorde van ds Kobus van der Westhuizen het die kerk soms sy roeping nie reg vervul nie, die Woord nie reg verstaan en toegepas nie, nie gehoor gegee aan teregwysings nie en kerklike sake nie altyd op ’n kerklike wyse hanteer nie.

Aan die ander kant is daar met dankbaarheid feesgevier oor die positiewe invloed wat die NGK as gereformeerde kerk oor 350 jaar in Afrika uitgeoefen het.

Sedert 2002 het daar spreekwoordelik baie water in die see geloop. Hoe sou ’n getuigskrif van die NGK se doen en late nou daar uit sien? Die doemprofete sal waarskynlik die ondergang van die NGK luidkeels aankondig en voorspel dat daar geen toekoms vir die kerk meer is nie. Diegene met blinddoeke aan sal die foute wat gemaak is en steeds gemaak word ontken en bly hamer op en teruggryp na ’n gereformeerde erfenis asof dit die alfa en die omega is.

Waarskynlik is die beste getuigskrif eerder te vind by honderdduisende lidmate en honderde predikante wat te midde van die fanfare oor die huidige toestand van die kerk ongestoord voortgaan om kerk van Jesus Christus te wees. Dit is die mense wat die roeping wat hulle as gelowiges van die lewende Here ontvang het uitleef in die omgewing waar hulle woon en werk: die onderwy­sers, staatsamptenare, soldate, ambagslui, dokters, pro­kureurs, boere en noem maar op, seniorlidmate en jongmense wat soos miljoene voor hulle erns maak met die Bybel as die Woord van God en wat daarna streef om daarvolgens te leef.

Dit is gelowiges wat ’n verskil maak in die dorp of die voorstad waar hulle woon. Dit is die predikante wat hulle met erns bemoei met die Woord en die lief en leed van hulle lidmate. Dit is die mense wat die NG Kerk in die woorde van Veltkamp deel maak van die kerk as kunswerk van die drie-enige God op aarde.

Soos enige kunswerk, sal die kunswerk ook blootgestel wees aan kritiek, en sal dit nooit foutloos wees nie. Dit sal egter altyd van die wêreld ’n beter plek maak.

Dan beskaam die hoop nie – ook nie vir die NG Kerk nie.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Woorde roep maar dade trek

1986 sal in die geskiedenis van die NG Kerk ’n rooiletterjaar wees. Tydens die Algemene Sinode in Kaapstad is besluit om af te draai van die apartheidspad af.

Ja vir oop deure en oop lidmaatskap, ’n hernude fokus op die eenheid van die kerk en ’n nee vir apartheid het die kerk op ’n nuwe pad geplaas. Tydens die Algemene Sinode van 1990 is dit duideliker gesê en tydens die Rustenburg-kerkeberaad in November 1990 het prof Willie Jonker dit onomwonde gestel: “Ek bely voor u en voor God nie net my eie sonde en skuld nie, en my persoonlike verantwoordelikheid vir die politieke, sosiale, ekonomiese en strukturele onregte waaronder u en ons hele land nog ly nie, maar plaasvervangend waag ek om dit ook namens die NG Kerk te doen, waarvan ek ’n lidmaat is en vir die Afrikaners. Ek het die vryheid om dit te doen, want die NG Kerk het apartheid op sy afgelope Algemene Sinode tot sonde verklaar en sy eie skuld van nalatigheid erken dat hy nie lank gelede daarteen gewaarsku en homself daarvan gedistansieer het nie.”

Die Kerkbode van 16 November 1990 het só berig: “Vir die NGK is die belydenis oor apartheid ’n oom­blik van bevryding.” Dat hierdie bevryding eg was, word bevestig deur die toespraak van mnr Nelson Mandela tydens die Algemene Sinode van 1994 en die voorlegging deur ds Freek Swanepoel aan die Waarheid-en-Versoeningskommissie in Oos-Londen op ­19 November 1997.

As daar dan in 2018, 28 jaar later, steeds ’n beroep op die NG Kerk gedoen word om hom te bekeer, is die vraag: “Wat het fout gegaan?” Miskien is daar nie duidelik genoeg gesê wat gebeur het nie. Moet dit dan weer en weer herhaal word?

Miskien is daar ’n beter uitweg. Miskien moet dit wat in NG gemeentes gelééf word harder en duideliker vertel word: Verhale soos dié van veeartse wat saam met die NG Kerk in Steynsrus omsien na die gemeenskap se donkies, muile en perde, dié van groentetonnels by ’n NG kerk op Lydenburg, die van versoening onder leiding van ’n NG predikant in Coligny in Noordwes en van eenheid en samewerking tussen gemeentes van die NG Kerk en die VGK in Lynnwoodrif en Nellmapius in Pretoria – om maar enkeles te noem.

Dalk sal hierdie verhale oor die doen en late van lidmate in gemeentes van die NG Kerk die oproep om belydenis vir eens en vir altyd stilmaak – want woorde wek maar dade trek.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Dit is tyd om die pawiljoen stil te speel

“Hoe gaan die vyandige en raserige skare julle beïnvloed?” Hierdie vraag is onlangs aan die afrigter van ’n bekende rug­byspan gevra. Sy antwoord was: “Ons gaan doen wat ons die beste doen. Ons gaan die pawiljoene stil speel.”

Hoe is dit op die NG Kerk van toepassing? Die afgelope dae en weke word daar fel uit die pawiljoene geskreeu – die hardste deur hulle wat die reëls die slegste ken. Terwyl sommige meen dat die NG Kerk aan die ondergaan is en dat die kerk se finale val onafwendbaar is, vra ander die vraag of daar nog iets goeds uit die NG Kerk kom. “As ek kon sou ek elke NGK-gebou in die land afbrand,” skreeu nog iemand op sosiale media. Die hofsaak waarin die kerk hom tans bevind is natuurlik petrol op ’n vuur wat reeds hoog brand!

Hoe sou die kerk hierdie luidrugtige en dikwels vyan­dige skare kon stilmaak? Miskien moet die kerk die voorbeeld van die rugbyspan volg en voortgaan om te doen wat die kerk deur sy gemeentes die beste doen – deur te antwoord op die roeping wat die Here vir die NGK gegee het, deur in 2018 waarlik ’n kerk te wees wat op elke dorp en in elke voorstad ’n verskil maak.

Dit is niks nuuts nie. Deur die veelbewoë geskie­denis van die NG Kerk het lidmate in gemeentes ten spyte van baie gebreke dit nog altyd reggekry om ’n verskil te maak in die lewe van miljoene mense.

Dit was nie foutloos nie, want die NG Kerk bestaan ook uit mense. Soms was daar ’n spreekwoordelike aanslaan, soms is ’n skop pale toe verbrou en soms is daar selfs ’n wedstryd verloor tot groot genot van hulle wat skreeu en jou – maar die NG Kerk het aanhou speel, het aangehou om te doen wat hy die beste doen – om kerk van Jesus Christus te wees.

Die evangelie wat in die 17e eeu aan die suidpunt van Afrika geplant is, is in die 19e eeu met bloed en trane die binneland ingedra. In die eerste dekades van die 20ste eeu was dit die NG Kerk wat gekeer het dat hierdie land oor die afgrond van armoede stort en in die laaste twee dekades van die 20ste eeu het leiers uit die NG Kerk gehelp om te keer dat die land deur ’n politieke rewolusie verswelg word.

Dat daar baie in die geskiedenis van die kerk is om oor te skreeu en te jou kan deur niemand ontken word nie. Daar is egter baie meer om oor te juig – dit mag nie verswyg word nie. Daarom is dit tyd om pawiljoene stil te speel.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Luister weer na die stem van Cottesloe

Die Cottesloe-beraad het van 7-14 Desember 1960 in Johannesburg plaasgevind. Dit was ’n direkte gevolg van een van die donkerste dae in die geskiedenis van Suid-Afrika – die gebeure te Sharpeville op 21 Maart 1960, toe die polisie tydens ’n betoging 69 mense doodgeskiet het.

Díe kerkeberaad, wat op inisiatief van die Wêreld­raad van Kerke plaasgevind het, het veral die Afrikaanse kerke in Suid-Afrika uitgedaag om te besin oor die verhouding tussen die verskillende rasse in Suid- Afrika.

In ’n verklaring wat ná die beraad uitgereik is, is onder meer aandag gegee aan onbillike diskriminasie, stemreg aan al die inwoners van die land, die ont­wrigting wat trekarbeid op die gesinslewe gehad het en die reg van alle burgers van ’n land om grond te besit. Die verklaring het ook bevestig dat niemand op grond van ras of kleur van enige kerk uitgesluit kon word nie.

Deur die Cottesloeverklaring is die NG Kerk gekon­fronteer met sy teologiese steun aan die destydse Nasionale Party-regering. Ongelukkig het die negatiewe reaksie waarmee die verklaring ontvang is, die stem van Cottesloe in die kerk stilgemaak. Sinodes van die kerk het die verklaring in 1961 verwerp. Dit het die etiket van apartheidsvennoot finaal om die kerk se nek gehang. Wat ’n groot ekumeniese deurbraak kon wees, het ’n doodloopstraat geword.

Alhoewel hierdie etiket sedert 1986 met Kerk en Samelewing stukkie vir stukkie formeel deur die NG Kerk afgehaal is, word die kerk steeds gekonfronteer en uitgedaag met die werklikhede van die tyd waarin ons leef. Die Marikana-slagting van 2012, omgekeerde rassisme en die dreigende chaos oor die onteiening van grond sonder vergoeding, is enkele sake wat ons dwing om weer helder en duidelik na die stem van Cottesloe te luister.

In die kerk se pogings om missionaal kerk te wees sal daar pynlik eerlik gevra moet word in hoe ’n mate die omstandighede in die land ’n laer-mentaliteit by lidmate en in gemeentes laat herleef waar nuwe rassisme gekweek en gekoester word. Die ons-en-hulle-debatte gaan die kerk niks help nie.

Oop deure en oop lidmaatskap en mooi teologiese besluite oor missionale kerkwees moet juis nou lei tot oop harte. In 1960 het die NG Kerk ’n reuse-geleentheid deur sy vingers laat glip. Wat op die oomblik in Suid-Afrika aan die gebeur is, is ’n nuwe geleentheid wat die kerk nie durf misloop nie.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

En toe praat die Bybel Afrikaans …

Die jaar 1933 sal vir altyd in die geskiedenis van die NG Kerk die jaar wees waarin die Bybel begin “Afrikaans praat” het. Die feestelikhede het op 29 Mei 1933 begin met die aankoms van 10 000 Afrikaanse Bybels wat in Brittanje gedruk is.

Dit het op 27 Augustus 1933 ’n hoogtepunt bereik toe die Bybel in Bloemfontein deur die drie Afrikaanse kerke in gebruik geneem is. Hierdie Bybel in Afrikaans was die 182ste volledige Bybelvertaling in die wêreld. Die kerk het hom daarmee losgewikkel uit die kloue van die Nederlandse Statenbijbel wat deur die eeue die Bybel was wat deur die kerk hier gebruik is.

Verhoef skryf tereg hieroor: “Daar kan vir ’n kerk en taalgemeenskap geen groter lig op die reispad as ’n vertaling van God se Woord in die moedertaal op die reispad wees nie.” Die belangrikheid van hierdie stelling word beklemtoon deur die feit dat die 1933-vertaling nie die laaste was nie. Dit is opgevolg met ’n hersiene vertaling in 1953 en ’n nuwe vertaling in 1983. Die groot verskil tussen die 1933-vertaling en die 1983-vertaling was die feit dat eersgenoemde ’n letterlike vertaling was terwyl laasgenoemde die teks meer idiomaties weergegee het.

Sedertdien het baie water in die see geloop en het verskeie alternatiewe Afrikaanse vertalings verskyn. Daar word ook onverpoos gewerk aan ’n amptelike nuwe vertaling van die Bybel.

Wat beteken dit alles in 2018? In ’n tyd waarin beide die Bybel en Afrikaans onder druk is? Is dit dalk net in belang van die kerk om hierdie twee kleinode te koester. Te maklik word die gesag van die Bybel afgewater en word daar gesê dat ons net maar Jesus se liefde in die samelewing moet uitleef – so asof die twee in stryd is met mekaar. Laat die kerk dit toe, beland ons weer in die tyd voor die Reformasie.

In ’n wêreld waarin Afrikaans al minder as omgangs­taal welkom is, is dit net so maklik om dit eenkant toe te skuif vir “praise” en “worship” en ’n mengelmoestaal wat veral vir die jeug meer verstaanbaar sou wees.

Miskien is dit nodig dat die NG Kerk ernstig nadink oor die belang van die Bybel in Afrikaans. Dit word die beste saamgevat deur die doelstelling van die vertalers van die 1983-vertaling: “Alle Afrikaanssprekendes, hier of in die buiteland, moet in staat wees om die groot dade van God in Christus deur die Heilige Gees in hulle eie taal te lees en te hoor.”

So verstaan, moet die kerk sorg dat daar nooit ’n dag kom waarin die Bybel ophou Afrikaans praat nie.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vasgevang in die kloue van armoede

Volgens die welvaartindeks van die Wêreldbank, leef meer as die helfte van Suid-Afrika se inwoners onder die broodlyn. Hierdie statistiek raak elkeen wat hier woon – ook die kerk. Saam met die inwoners van hierdie land sit ook die NG Kerk (NGK) vasgevang in die kloue van armoede.

Die geskiedenis van die NGK leer ons dat dit niks nuuts is nie. In die vorige eeu het die “verskroeideaarde-beleid” tydens die oorlog van 1899-1902, die Rebellie van 1914, die Groot Griep van 1918, en die depressie en droogte van 1927-1933 ’n wesenlike rol gespeel in die verarming van Afrikaners. Gaandeweg het hierdie proses van verarming bekend geword as die “Armblankevraagstuk”. Die gebeure het die NGK geroep om betrokke te raak by die opheffing van men­se en die bestryding van armoede.

Hoewel ’n reeks armoedekongresse vanaf 1893 tot 1923 plaasgevind het, het armoede in omvang toegeneem. Die Carnegie-verslag het hierdie proses bevestig deur aan te toon dat die hoeveelheid armes van 80 000 in 1916 tot 300 000 in 1930 toegeneem het. Iets moes gedoen word.

Die eerste stap was ’n Volkskongres van 3-5 Oktober 1934 in Kimberley. Dit is opgevolg met ’n Kerkkongres van 6-7 Oktober 1934. Belangrike besluite wat hier geneem is het gelei tot die stigting van die Departement van Volkswelsyn, opleiding van maatskaplike werkers en werkverskaffing aan mense wat nie werk gehad het nie.

Die Hugenote Kollege in Wellington het ’n onmisbare rol gespeel in die opleiding van Christelike maatskaplike werkers. Vennootskappe tussen die staat, die kerk en private welsynsorganisasies het verder gehelp met die oprigting van kinderhuise en tehuise vir bejaardes.

Die NG Kerk het so ’n bepalende rol gespeel om die nood van mense op alle vlakke van die samelewing te verlig. Met hierdie hulp kon baie lidmate hulleself gaandeweg loswikkel uit die kloue van armoede.

In 2018 is die uitdaging aan elke gemeente van die NG Kerk soveel groter want die armoede is soveel meer. Die gevaar bestaan dat die massiewe golf van armoede kan lei tot volstruistaktiek – dat gemeentes gewoon hulle kop in die sand kan steek en kan maak of die probleem nie bestaan nie – en dit mag nie! Die geskiedenis daag gemeentes van die NG Kerk uit om betrokke te raak by al die mense van ons land se stryd teen armoede.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.